blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaand se hoofartikel in Le Monde diplomatique: Spanning in Korea 2006-10-18
Ignacio Ramonet

*Redakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw, [email protected]

 

Nà die lansering van sewe missiele op 5 Julie deur Noord-Korea, is verskille ten spyte van herhaalde waarskuwings vererger deur Washington en Tokio op die Koreaanse skiereiland. Sonder dat dit ’n oortreding van internasionale wette was, kan hierdie missieltoetse – waaronder dié van die Taepodong-2 –missiel, wat teoreties in staat is om die VSA te haal maar in die See van Japan gesink het – veroordeel word, omdat hulle sekuriteit verder verswak in Noord-Oos Asië, potensieel een van die gevaarlikste streke ter wêreld.

      Pjongjang het hom nietemin ’n jaar gelede, op 19 September 2005, daartoe verbind om sy militêre atoomprogram te laat vaar. Hierdie besluit, wat binne die kader van onderhandelinge tussen ses lande (China, Noord-Korea, Suid-Korea, die Verenigde State, Japan en Rusland) aanvaar is, het heelwat hoop laat opvlam, veral in Suid-Korea.

      Sedert die hervestiging van demokrasie in die 1990’s het Seoul van die verbetering van verhoudings met sy noordelike buurman ’n prioriteit gemaak. Die besoek van die destydse Suid-Koreaanse president, mnr. Kim Dae-jung, aan Pjongjang en die ondertekening op 15 Junie 2000 van ’n gemeenskaplike verklaring met sy noordelike eweknie, mnr. Kim Jong-il, was ’n wending in inter-Koreaanse verhoudings.

      Die Suidelike owerhede maak staat op dialoog, interaksie – veral ekonomies – en die ontwikkeling van gemeenskaplike belange om die ongelykhede tussen die twee lande te verminder, konflikte te voorkom en ’n uiteindelike hereniging voor te berei. Sedertdien het handel tussen die twee lande 1 miljard dollar bereik, met Suid-Korea wat naas China Pjongjang se belangrikste handelsvennoot geword het. Noord van die 38ste breedtegraad is ’n spesiale ekonomiese strook geskep te Kaesong, waar Suidelike ondernemings gevestig is wat sowat agtduisend werknemers van die Noorde in diens het. In weerwil van hardnekkige hindernisse werk die twee partye ook aan die heropening van die Seoul-Pjongjang-spoorlyn, wat Suid-Korea se isolasie op land sal beëindig.

      Die situasie het egter baie vinnig versleg na die ooreenkoms van 19 September 2005, toe die Amerikaanse Tesourie finansiële maatreëls teen Pjongjang ingestel het onder die voorwendsel dat ’n bank van Macao, China (Banco Delta Asia) geld vir die rekening van Noord-Korea gewas het wat deur geen internasionale ondersoek bewys is nie. Onder intimidasie van Washington het die bank die afgelope Februarie meer as 24 miljoen dollar se Noord-Koreaanse bates bevries. Pjongjang het toe die deur op onderhandelinge toegeklap, sy reg op besit van kernwapens herbevestig en voortgegaan met die missieltoetse van 5 Julie, wat afgekeur is deur die Verenigde Nasies met inbegrip van China.

      Volgens Noord-Korea streef die Amerikaanse regering nie na ’n diplomatieke oplossing nie, maar jaag dit slegs een doel na: regimeverandering. In Suid-Korea onderskryf ’n deel van die owerheid hierdie gevoel.

      Tydens ’n ontmoeting op 14 September in sy woning in Seoul het oud-president Kim Dae-jung, argitek van die versoening met die Noorde en wenner van die Nobelprys vir Vrede in 2000, die missieltoetse afgekeur, maar gemeen dat Washington niks doen om die situasie te kalmeer nie: “Die Amerikaanse neokonserwatiewes wil nie vrede hê in hierdie streek nie,” het hy aan ons gesê. “Hulle is dogmaties. Hulle verdedig nie die VSA se belange nie, soos oud-president [Bill] Clinton, wat ons pogings vir vreedsame dialoog gesteun het, maar bly geobsedeer met ’n ideologie: dié van sanksies, wat nog nooit gewerk het nie, nóg teen Kuba, nóg teen Irak, nóg teen Afghanistan, nóg teen Iran. Hulle oefen druk uit op Tokio dat hy ook sanksies moet toepas (1), wat misverstande in die streek vererger. Laasgenoemde verskaf op hulle beurt weer ’n voorwendsel aan die Japannese regtervleuel om die herbewapening van Japan te eis. En dít laat China se wantroue toeneem. Dit is ’n baie gevaarlike spiraal.”

      Die Suid-Koreaanse president, mnr. Roh Moo-hyun, is nie ver daarvandaan om hierdie standpunt te steun nie. In sy gesprek met president George W. Bush op 15 September het mnr. Roh, wat sy groot Amerikaanse bondgenoot (2) tevrede moet hou, die drie kwessies onder debat tussen die twee lande deeglik verdedig. Hy het sy wens om in oorlogstyd bevel oor te neem oor die 30 000 Amerikaanse troepe wat in Korea gestasioneer is, herbeklemtoon; meer tyd gevra om die (baie ongewilde) vryehandelsooreenkoms met die Verenigde State te beding; en laastens geweier om sanksies teen Noord-Korea in te stel.

      Oor laasgenoemde wil Seoul nie toegee aan Washington se druk nie en wil hy ’n sekere mate van besluitnemingsonafhanklikheid behou. Soos mnr. Kim Dae-jung sê: “Ons wil nie ’n gedwonge hereniging soos in Viëtnam hê nie, en ook nie ’n ruïnerende hereniging soos in Duitsland nie. Mag Amerika ons toelaat om ons eie tydsame, vreedsame ritme na ’n gelukkige hereniging te volg.”

 

__________

(1) Op 19 September 2006 het Tokio nuwe finansiële sanksies teen Pjongjang ingestel. Feitelik bevries dit fondsoorplasings na Noord-Korea deur die ongeveer 300 000 Noord-Koreane in Japan.

(2) Seoul maak veral staat op Washington om mnr. Ban Ki-moon, Suid-Koreaanse minister van buitelandse sake, se kandidatuur vir die pos van VN-sekretaris-generaal, waarvan die verkiesing voor 31 Desember 2006 plaasvind, te steun.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=716
Artikel nagegaan:
    -