|
|||
Johan van Zyl
*Gemeenskapsekonoom
Die veelseggende regeringsoorsig “Towards Ten Years of Freedom (1994 to 2003)” lig twee belangrike kwessies uit.
Eerstens erken dit ruiterlik dat die verhouding van huishoudings wat in armoede leef van 28% in 1995, wat net onder die helfte van die bevolking verteenwoordig het, aangegroei het tot byna 33% in 1999, meer as die helfte van die bevolking. Sedertdien het die armoedesituasie toenemend vererger. Tweedens: “die vordering wat in die Eerste Dekade gemaak is, het die swakhede by verre oorskry. Maar as al die aanduiders dieselfde trajek moet volg, veral ten opsigte van die dinamiek van ekonomiese insluiting en uitsluiting, kan ons spoedig ’n punt bereik waar die negatiewes die positiewes begin oorskadu. Dit kan ’n bose kringloop van agteruitgang in alle sfere aandryf. Daar word verder ’n beroep gedoen vir “’n drastiese ingryping om die demokrasie te konsolideer en om burgers as begunstigdes van ’n groeiende ekonomie te integreer”. Dit gaan egter “’n raamwerk” vereis wat “’n gemeenskaplike toekoms definieer.” Dit is bepaald ’n ernstige en insiggewende waarskuwing oor Suid-Afrika se toekoms. ’n Diepgaande stelsel van ekonomiese beleidshervormings – “’n drastiese ingryping” - is dringend noodsaaklik. Die fokus moet daarop wees om ’n nuwe raamwerk vir die insluiting van alle landsburgers te vind. Die Oorsig swyg egter oor hoe dit gedoen moet word. Klaarblyklik is daar vir alle Suid-Afrikaners ekonomies en maatskaplik baie op die spel!
Suid-Afrika se grondliggende ekonomiese en maatskaplike probleme Die belangrikste en dikwels interafhanklike nasionale kwessies wat teenswoordig die doeltreffende ekonomiese insluiting van alle landsburgers verhinder, word hieronder uiteengesit.
(a) Hoë en toenemende vlakke van armoede en werkloosheid. Oor die afgelope dekade het werksgeleenthede met 12% verhoog, maar die ekonomies aktiewe bevolking het met 35% toegeneem. Die werkloosheidsgemiddeld is nou meer as 40%. In talle gemeenskappe is dit bo 50% en selfs 60%. ’n Veelseggender syfer is dat daar in baie townships en landelike gemeenskappe meer as 80% gesinne is wat aan geen betekenisvolle ekonomiese aktiwiteit deel het nie, nieteenstaande die aanwesigheid van een of meer volwassenes in die huishouding. (b) Plaaslike gemeenskapsekonomieë werk nie doeltreffend nie. As daar aanvaar word dat die breë sakesektor in die huidige eeu van globalisering nie meer soos in die verlede gebeur het vir almal werk kan of gaan verskaf nie, is daar nou vir plaaslike ekonomieë geen ander uitweg as om hul moue op te rol nie. Nogtans bly hulle egter uiters afhanklik van die eksterne moderne handelsektor van die ekonomie, dit wil sê vir werk, inkomste en selfs die verskaffing van die noodsaaklike goedere en dienste wat daagliks deur burgers op plaaslike vlak verbruik word. Wat ook al deur die plaaslike inwoners bestee word, vloei spoedig uit na eksterne winkels en ander kommersiële verskaffers. Enige nuwe besteding het weinig kans om intern in omloop te bly om sodoende verdere ekonomiese aktiwiteit te stimuleer. Kortweg is die plaaslike inkomstevermenigvuldiger baie laag. Om dit van ongeveer 1.3 na 4.0 te verhoog, wat ’n heel beskeie teiken is, sou die interne ekonomiese aktiwiteit van talle arm gemeenskappe verdrievoudig. Suid-Afrika se enorme gemarginaliseerde sektor van townships en talle landelike gebiede, die ander deel van Suid-Afrika se skerp dualistiese of dubbellaagekonomie, huisves sowat 75% van die bevolking, en die meeste van die werkloses en die armes. In werklikheid het hierdie mense feitlik ekonomiese gevangenes in hulle woonplekke geword. Analities gesproke is dit hierdie grondliggende kultuur van ekonomiese afhanklikheid, wat histories in en deur ons dualistiese ekonomie gegenereer is, wat die kernoorsaak uitmaak van die ontsaglike armoedevraagstuk in Suid-Afrika. Tensy hierdie strukturele kwessie en die verbandhoudende behoefte om meer selfstandige plaaslike gemeenskapsekonomieë te bou eerlik en drasties aangepak word, sal ons nooit daarin slaag om wydverspreide armoede in hierdie land uit te wis (en nie bloot te verlig) nie. Desnieteenstaande, as ons weet waarom ons arm is, kan ons iets positiefs daaromtrent doen. (c) Groot getalle ekonomies uitgeslote burgers. Teenswoordig het die meeste mense op grondvlak min invloed op hul eie ekonomiese en maatskaplike lotgevalle. Die besluitnemingsgaping tussen die amptenary en die mense wat hulle dien, het aansienlik vergroot. Dit is grotendeels die direkte resultaat van die regering se aandrang op dienslewering hoofsaaklik deur amptenare plus eksterne kommersiële diensverskaffers, d.w.s. die gewilde hedendaagse verskaffingskantbenadering. Die plaaslike bevolking kry min geleentheid om aktief betrokke te raak by die voorsiening in hul eie behoeftes. In weerwil van wat ons Grondwet beloof, geniet gemeenskappe geen basiese ekonomiese regte waarop hulle kan reageer of wat hulle vir hulself kan toeëien nie. Vir die meeste plaaslike dienste bly hulle ekstern afhanklik van die regering. Hierdie soort smoring van plaaslike inisiatief het ’n ernstige impak op ’n wye reeks sleutelaspekte van die gewone gemeenskapslewe, bv. plaaslike investering en werkskepping, die oprigting van nuwe plaaslike en streeksmarkte, asook plaaslike inwoners wat die verantwoordelikheid vir die bestuur van hul eie onderwys, gesondheid en die grootmaak van voorskoolse kinders op hulleself kan neem. Daar is ’n dringende behoefte aan hierdie soort aktiweiteite om die uiters verwaarloosde vraagkant van plaaslike ekonomiese ontwikkeling te stimuleer van deurslaggewende belang om dit ’n meer selfstandige en volhoubare proses te maak. (d) Wydverspreide misdaad en korrupsie. Johannesburg is reeds geëtiketteer as Misdaadstad van die Wêreld. Dis nouliks ’n titel om op trots te wees! Maar as die ernstige probleme van die ekonomiese uitsluiting van so baie gewone landsburgers soos hierbo geskets, opgelos kan word, sal dit betekenisvol daartoe bydra om hierdie moderne plaag te beveg. (e) Befondsing vir landsburgers om ekonomiese rolspelers te word. Om sowel nuwe uitdagings as verantwoordelikhede stewig in die hande van (plaaslike) gemeenskappe te plaas om gestalte te gee aan die regering se “drastiese ingryping” vir die bou van ’n nuwe “raamwerk vir ’n gemeenskaplike toekoms" sal aansienlike befondsing verg. Maar ’n belangrike punt wat geopper moet word, is dat ’n groot deel (indien nie die meeste nie) van hierdie befondsing reeds bestaan! In wese moet dit slegs herlei en in meer dinamiese en sosio-ekonomies doeltreffender kanale gestuur word. Om hierdie rede is dit nie ’n enorme bykomende finansiële las nie. In baie opsigte behels die groot uitdaging om ’n werklik ekonomiese demokrasie langs ons algemeen geslaagde politieke demokrasie te skep, dat ’n moedige nuwe rigting ingeslaan moet word ’n waaghalsige sprong na nuwe, innoverende beleide om ou en hardnekkige ekonomiese probleme die hoof te bied. (f) Demokraties/koöperatiewe eienaarskap die hoofweg na doeltreffende ekonomiese insluiting. Die eienaarskap van rykdom in Suid-Afrika is oneweredig en onbillik verdeel. Die besit van aandele en effekte deur hoofsaaklik die enkele gegoedes is hiervan ’n duidelike voorbeeld. Nogtans is dit heeltemal moontlik om konstruktief in die rigting van ’n omvattender ‘nasionale eienaarskapskultuur’ te beweeg. Die beroemde Mondragon-Koöperatiewe in die Baskiese provinsie in Spanje wys die pad vorentoe. Die voordele van so ’n proses van integrering van landsburgers as begunstigdes van ’n groeiende ekonomie (lees hierbo) behoort vanselfsprekend te wees. Dit kan gedoen word via (a) demokratiese of koöperatiewe eienaarskap van werknemers in die besigheidsektor en (b) eienaarskap van die gemeenskap deur koöperatiewe investeringsprogramme (KIP’s) op plaaslike vlak. Daar word later weer kortliks na hierdie belangrike oplossings teruggekeer.
3. Nuwe innoverende ekonomiese idees en beleidsbenaderings Die basiese gesigspunt op sosio-ekonomiese ontwikkeling en opheffing van al die mense van Suid-Afrika hier die vertrekpunt is meer in lyn met moderne volhoubare-ontwikkelingsdenke (vgl. die Johannesburgse Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling, 2002). Dit is in kontras met vandag se dominante neoliberale paradigma van ortodokse, konvensionele, neoklassieke ekonomie. Die belangrikste rede vir hierdie voorkeur lê vierkant in die praktiese domein. Die nuwe ontwikkelingsdenke kom bloot prakties veel nuttiger voor om ons langdurige strukturele probleem van die ekonomiese uitsluiting van soveel Suid-Afrikaners die hoof te bied (kyk die ‘sterk amptelike’ Regeringstandpunt hierbo).
Daarom word VIER nuwe beleidsbenaderings of beleidsdryfvere voorgestel: (a) Ontwikkeling gaan om mense en nie om objekte nie (b) Verkryging van ’n nuwe balans tussen globalisering en lokalisering in ons land (c) Nastreef van ’n doeltreffender, koöperatiewe, maatskaplik kompakte manier om die basiese ekonomiese regte van alle landsburgers te lewer wat in ons Grondwet ‘gewaarborg’ word. (d) Bevordering van ’n nuwe, lerende gemeenskap Hierdie nuwe beleidsriglyne word hieronder in breë trekke gegee. Die baie belangrike en dikwels onbekende implementeringsdetail, die ‘hoe’-sleutelaspekte sal tot ’n volgende keer moet oorstaan.
(a) Ontwikkeling gaan om mense en nie om objekte nie. Ontwikkeling is ’n proses van verandering wat binne mense plaasvind. Tensy mense innerlik groei en ontwikkel, kan daar geen (mensgesentreerde) ontwikkeling wees nie. Om ’n professionele kontrakteur van buite in te kry om huise, skole of klinieke te bou, met min of geen besluitnemingsinset deur die ontvangers nie, verteenwoordig ’n fokus op objekte. Dit was dikwels die konvensionele manier. Dit stimuleer wel ekonomiese groei, maar daar is geen ontwikkeling nie. Die sleutelverskil lê in aandag aan die proses. Projekuitkomste gemeet aan lewering deur die BBP-groei verkry, kan wel dieselfde wees. Maar regstreekse deelname deur die begunstigdes genereer ook ontwikkeling. Afwaartse besluitneming doen dit nie. Wat miskien van besondere betekenis vir Suid-Afrikaners is, is dat ’n fokus op mensgesentreerde ontwikkeling in ’n groot mate dieselfde basiese ideale nastreef as Ubuntu.
(b) ’n Nuwe balans tussen globalisering en lokalisering. Die Regering se belangrikste makro-ekonomiese beleid, GEAR (strategie vir groei, werkverskaffing en herverdeling), het baie nuttige steun aan besigheid in die moderne kommersiële sektor verskaf om sy mededingendheid in die nuwe geglobaliseerde ekonomie te verseker. Dit verontagsaam egter in ’n hoë mate Suid-Afrika se ander sektor, d.i. ons groot gemarginaliseerde of laer-gelaagde ekonomie. Hierdie benadering het ernstige implikasies vir die ekonomiese geleenthede en behoeftes van talle gewone burgers. Tuis het werkloosheid en armoede die hoogte ingeskiet, en sal dit voortgaan. Die belangrikste uitweg uit hierdie ernstige dilemma is ’n nuwe dryfkrag tot lokalisering. Dit sal die aktiewe bevordering van meer selfstandige en volhoubare werkende plaaslike ekonomieë inhou, d.w.s. VPEO (Volhoubare Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling) in plaas van die ortodokse PEA (Plaaslike Ekonomiese Afhanklikheid). So ’n benadering sal daarop ingestel moet wees om die plaaslike inkomstevermenigvuldiger aansienlik te verhoog. In werksterme beteken dit dat die talle lekkasies in enige plaaslike gemeenskapsekonomie toegestop moet word. Daar is baie maniere om dit te doen. Hedendaagse beleidsinstrumente of –tegnieke wat algemeen oorsee toegepas word, sluit in (a) die plaaslike produksie van baie lewensnoodsaaklikhede wat huidig van buite ‘ingevoer’ word, (b) bevordering van plaaslike bankwese, dikwels herinvestering van plaaslike spaarfondse in die plaaslike ekonomie, en (c) die instelling van plaaslike geldeenhede/betaalmiddele om met die vermenigvuldiging van plaaslike bestedingsrondtes te help voordat dit na die eksterne ekonomie wegsyfer. Belangrik is dat hierdie aksies toegepas kan word sonder dat goedkeuring of ondersteuning van die regering verkry hoef te word. ’n Innoverende manier om die doeltreffende ekonomiese insluiting van alle bewoners te verkry, is om mense op plaaslike vlak te bemagtig om vir hullesef hul basiese ekonomiese en maatskaplike regte te realiseer in ’n nuwe koöperatiewe, maatskaplik kompakte vennootskap met die regering (kyk hieronder). Dit sal natuurlikerwyse gebeur mits die meeste plaaslike ontwikkelingsinisiatiewe nie deur die regering beslis word nie, maar deur die plaaslike inwoners, met finansiële bemagtiging en beloning vir hulle dienste in die verband. (c) ’n Meer produktiewe, koöperatiewe wyse om die sleutel- sosio-ekonomiese regte te lewer wat in ons Grondwet ‘gewaarborg’ word. Die fundamentele basis van so ’n innoverende beleidsbenadering word vervat in die Suid-Afrikaanse Grondwet in sy ‘waarborg’ van die basiese ekonomiese regte van alle landsburgers. Teenswoordig is die regering veronderstel om al hierdie regte deur sy begrotingsbesteding te lewer. Maar hierdie ‘waarborg’ het dikwels beperkte operasionele impak gehad, gedeeltelik vanweë die gewone beperkings op begrotings. In die praktyk is daar doeltreffender maniere om die lewering van sosio-ekonomiese regte te verwerklik. Landsburgers behoort aktiewe en verantwoordelike vennote in ’n koöperatiewe leweringsproses te word, eerder as om verplig te word om passief uitsluitlik op die regering staat te maak om die taak te verig. Hulle moet feitelik doelgerig bemagtig word om dit te doen. ’n Regeringsmodel wat ’n reeks spesifieke programregte en -begrotings aan die plaaslike inwoners bied, is die manier om dit te doen. Plaaslike gemeenskapsgroepe kan byvoorbeeld by wyse van investeringsregte georganiseer en befonds word om oor verskillende soorte investeringsprojekte te besluit. Dit kan die plaaslike produksie van baie van die noodsaaklike goedere en dienste vergemaklik wat huidig van buite ‘ingevoer' word; in nuwe periodieke markte belê om handel te ondersteun en ook om kulturele gebeurtenisse op markdae te word en in nuwe plaaslike en tussenstreekse vervoer investeer. Soos vroeër aangedui is, kan gemeenskappe ook die plaaslike bankwese bystaan om plaaslike besparings in die plaaslike ekonomie terug te ploeg, en besluit om ’n plaaslike betaalmiddel aan te wend om plaaslike ekonomiese aktiwiteit regstreeks te stimuleer. Gerugsteun deur ander programregte met meegaande hupbronne kan plaaslike groepe ook nuwe verantwoordelikhede aanvaar om na hul eie gesondheid, onderwys en kindersorg om te sien. So ’n proses sal talle nuwe bestaansmoontlikhede en werksgeleenthede plaaslik skep, wat almal onder die besluitnemingsbeheer van die plaaslike inwoners ressorteer. Daar is werklik geen rede waarom die meeste arm gebiede nie binne sowat tien jaar sosio-ekonomies selfonderhoudende en lewenskragtige gemeenskappe kan word nie. ’n Besonder belangrike dimensie van hierdie benadering is die regte van eienaarskap. Daar is vroeër aangedui dat dit heeltemal moontlik is om in die rigting van ’n nuwe nasionale eienaarskapskultuur te beweeg, in plaas van die hedendaagse dominansie deur onbetrokke eksterne aandeelhouers. Die kuns is om demokratiese of koöperatiewe eienaarskap na te streef. Die belangrikste internasionale voorbeeld hiervan is die beroemde Mondragon-Koöperatiewe in Spanje. So ’n inisiatief sal twee breë implementeringsareas betrek, naamlik (a) groter werknemerseienaarskap in die besigheidswêreld, die koöperatiewe of demokratiese soort en nie die meestal mislukte individuele aandeelhoudingsopsies wat tot dusver aangewend is nie, en (b) plaasike inwonerseienaarskap via gemeenskapontwikkelingsassosiasies of GOA’s. Weereens is besonderhede belangrik, maar sal dit tot later moet wag. (d) Bevordering van ’n nuwe lerende gemeenskap. Op die oomblik is Suid-Afrika ’n gemeenskap waarin projekmislukking gewoon nie geduld word nie. Elke sodanige mislukking, hetsy deur regerings- skenkers- of gemeenskapsinisiatief, word gewoonlik ontken, toegesmeer of verberg. Die breë publiek kom selde of ooit agter die kap van die byl! Vergelyk so ’n benepe benadering nou met een waarby daar groter verdraagsaamheid teenoor plaaslike gemeenskappe geopenbaar word om ekonomieseregte-oplossings te verken en desnoods foute in die proses te begaan. Baie voordele kan daaruit voortkom, mits daar duidelik begryp word dat sulke mislukkings nuttige geleenthede bied om agter te kom waarom dinge verkeerd geloop het, om foute reg te stel en om dan hierdie bestepraktyk-inligting wyd onder alle belangstellende partye te versprei. Vir seker kan so ’n lerendegemeenskap-benadering baie beter aanklank vind by Suid-Afrika se basiese profiel van groot getalle ontwikkelende inwoners. Moet hulle steeds prakties geïgnoreer word in die grootste deel van Suid-Afrika se ontwikkelingsinisiatiewe? Ongetwyfeld sal die professionele sektor beswaar hê. Maar om sulke onkonvensionele hulpbronne aktief te betrek d.w.s. dié wat óf gratis, óf teen ’n veel laer prys verkry kan word as wat in die formele kommersiële ekonomie heers, is ’n besliste bonus. Die betrekking van hierdie hulpbronne plus toepaslike opleiding waaroor ook op plaaslike vlak besluit word kan slegs die grondliggende stremming van beperkte hulpbronne verlig. Dit maak groot fundamentele ekonomiese sin!
4. Enkele sleuteluitkomstes As die bostaande planne en benaderings doeltreffend geïmplementeer word, sal Suid-Afrikaanse burgers die volgende aansienlike voordele ervaar: · ’n Ware ekonomiese demokrasie waarin alle burgers aktief betrokke is by die daaglikse nastrewing van hul eie ekonomiese en maatskaplike regte, en die hulpbronne ontvang om dit te doen. · Opheffing van die plaaslike inkomstevermenigvuldiger met ’n faktor van drie binne sowat tien jaar wat moontik ongeveer 1% - 2% tot die jaarlikse BBP (Bruto Binnelandse Produk) kan bydra. · ’n Geleentheid om eienaarskap van die meeste van Suid-Afrika se hulpbronne en produktiewe bates te herwin as demokratiese sakewerknemer-eienaars en/of op plaaslike vlak as lede van geregistreerde koöperatiewe Gemeenskapsontwikkelingsassosiasies (GOA’s). Hierdie twee belangrike eienaarskapsprogramme is die sleutelvoertuie tot die verwerkliking van die “drastiese ingryping” waarvoor die regering gevra het om “’n nuwe raamwerk vir ’n gemeenskaplike toekoms” (kyk heelbo) tot stand te bring. · Aansienlike inkomsteopbrengste uit eienaarskap en/of belegging, in die vorm van wins en huur, sal tussen lede vloei, en nie as dividende aan afstandsbeleggers uitbetaal word nie. · Langs hierdie weg sal gewone mense leer om beleggingskapitaal en markte tot almal se voordeel aan te wend, eerder as tot die voordeel van die welvarende enkelinge. Lewenskwaliteitsoorwegings voortspruitend uit ’n egte mensgesentreerde ontwikkelingsbenadering sal die voorrang geniet bo vandag se eng materialistiese fokus op lewenstandaard. Dalk groei die ekonomie vinniger, tot ons verbasing, en beslis ewerediger as wat huidige beleide gaan toelaat. Maar bowenal sal die grootste remskoen van die ekonomiese uitsluiting van soveel gewone Suid-Afrikaanse landsburgers doeltreffend uit die weg geruim wees. |