blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Le Monde diplomatique: Finansiële wapens van massavernietiging 2006-10-18
Gabriel Kolko

*Historikus, skrywer van Another Century of War?, New York, 2004, en The Age of War, Boulder (Colorado): Lynne Rienner, 2006. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

Die sogenaamde “Bretton Woods”-stelsel met sy twee instansies – die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en die Wêreldbank – is tydens die Verenigde Nasies se konferensie in Julie 1944 gestig om ’n terugkeer te verhoed na die finansiële krisis van die jare 1920 en 1930, wat een van die hoofoorsake van die depressie, fascisme en die Tweede Wêreldoorlog was.

Maar in 1971 stort die stelsel in duie toe die VSA van die goudstandaard afstap. Sedertdien het oor die honderd krisisse van mindere of meerdere erns reeds die meeste van die IMF se lidlande getref.

Selde nog was die wêreld se finansiële stelsel so ondeursigtig. Daaglikse wisseltransaksies, wat enkele dekades gelede ongeveer soveel soos die kapitaal van een groot bank in die VSA beloop het, is nou gelykstaande aan die gesamentlike kapitaal van sy honderd voorste banke.

Die stropers van die finansiële wêreld bedink telkens nuwe “produkte” wat sowel state as internasionale banke uitoorlê. In Mei 2006 betreur die direkteur-generaal van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), Rodrigo de Rato, hierdie nuwe risiko’s wat aansienlik deur die swak dollar en die VSA se handelstekort verswaar word. Sy vrese weerspieël die nood, struktureel én intellektueel, wat tans die IMF skud.

Struktureel het die aangaan van krediet en lenings by die internasionale organisasie sedert 2003 aansienlik verlaag, van meer as 70 miljard tot om en by 20 miljard dollar einde Julie 2006, wat sy invloed op ontwikkelende lande se ekonomiese beleid beduidend verminder en sy inkomste laat daal het tot onder die perk wat deur sy hoë bedryfskoste geverg word. Die IMF erken dat hy “kwantitatief gemarginaliseer” is (1). Sy probleme spruit grootliks uit die verdubbeling, sedert 2003, van grondstofpryse wêreldwyd (olie, koper, silwer, sink, nikkel, ens.) waarvan ontwikkelende lande tradisioneel uitvoerders is, en wat hulle in staat gestel het om hulle skulde vooruit te delg en sodoende die IMF se inkomste te verminder.

Hierdie stygings gaan hand aan hand met die vinnige ekonomiese groei van China, Indië en ander lande, wat die vraag die hoogte in laat skiet – anders as in die dae toe die buitelandse handelsbalans deurgaans in ryk lande se guns getel het. Origens het die VSA se posisie ten opsigte van netto bates in die buiteland agteruitgegaan teenoor dié van Japan, opkomende lande in Asië en olie-uitvoerlande, wat hulle gesag afdwing en daagliks groter skuldeisers van Washington word. Die erosie van Amerikaanse tekorte dwing die dollar afwaarts: 28% teenoor die euro in slegs die tydperk 2001-2005.

Ook op intellektuele vlak keer die IMF en Wêreldbank vir hulle paaltjies ná die vloedgolf van finansiële ineenstortings in Oos-Asië, Rusland en elders tussen 1997 en 2000. Talle van hulle voorste leiers gee te kenne dat hulle nie meer geloof het in die klassieke ekonomiese leerstelling van laissez-faire, wat tot hier toe hul beleid gerig het nie. Menige erken nou dat hulle “kennis van ekonomiese groei uiters beperk is” en dat dit hulle tot “groter nederigheid” moet stem. Soos Stephen Roach, hoofekonoom van die bank Morgan Stanley, maan: die wêreld “het nog min gedoen om hom voor te berei op wat heel waarskynlik die volgende krisis mag wees” (2).

Die wesenlike aard van die wêreld se finansiële stelsel het bloedweinig te make met die deugdelike nasionale ekonomiese beleide wat die IMF as ideaal voorhou. Die bestuurders van beleggingsportefeuljes en groot banke het nasionale banke en internasionale organisasies na die kantlyn gedwing. Roekelose aandeelhandelaars het die voortou by tradisionele, versigtiger bankiers geneem, waar die koop en verkoop van aandele, effekte en andere byprodukte (3) groter winste moontlik maak, en aansienlik hoër risiko’s die reël geword het.

Hierdie konkelaars word op grond van hulle aangeduide winste vergoed – hetsy dié nou fiktief of werklik is – en hulle plaas gereeld die fondse wat in hulle instansie belê is, op die spel. Swak rente- en bankkoerse wat dit aanloklik maak om geld te leen aan verskansingsfondse en instansies wat in samesmelting en kooptransaksies spesialiseer, het aan hierdie akteurs vrye teuels gegee om die finansiële casino hulle speelplek te maak in die VSA, soos ook in Japan en elders. ’n String uiters bedenklike samesmeltings word opgedis wat vroeër as roekeloos bestempel sou gewees het. In sekere gevalle stel herkapitaliserings wat deur lenings gefinansier word (oftewel “hefboom-herkapitalisering” (4)) hulle in staat om vir hulself kolossale vergoeding en dividende toe te eien wat die maatskappy se skuldlas nog verder verhoog. Oor wat daarna gebeur, kwel hulle hulle nie ...

Sedert die begin van 2006 ken beleggingsbanke al meer lenings toe vir die aankoop van maatskappye, en verdring hierdeur die handelsbanke wat tot dusver hierdie aktiwiteit oorheers het. Ten einde groot marksegmente te bekom, is beleggingsbanke bereid om “gevaarlik te leef”, in die woorde van die bestuurder van leningsnoterings by Standard & Poor. Hulle begewe hulle in transaksies wat al hoe waaghalsiger raak. Dit is waarom “waarnemers ’n beduidende verhoging voorsien in die aantal skuldgeteisterde maatskappye wat insolvent gaan raak”, aldus die Financial Times verlede Julie (5). .

Maar aangesien daar al minder regsklousules is wat beleggers moet beskerm, bly daar ook minder moontlikhede vir uitleners oor om wanbestuurde maatskappye te dwing om hulle insolvent te verklaar. In die volle wete dat hul weddenskappe al riskanter raak, bewimpel die verskansingsfondse dit so dat dit heelwat moeiliker raak om die geld waarmee hulle spekuleer, te onttrek. Die operateurs herposisioneer hulle as tussengangers tussen tradisionele geldleners – nasionaal en privaat – en die markte; só word die wêreld se finansiële stelsel ’n rapsie verder gedereguleer, wat dit ’n nog makliker teiken vir krisisse maak. Op soek na hoë beleggingsuitkere gaan hulle al groter risiko’s aan om dit te bekom.

Die toestand raak so kommerwekkend dat die IMF in Maart 2006 buitengewoon baie reklame verleen aan ’n werk wat deur Garry J. Schinasi gepubliseer word, met die titel Safeguarding Financial Stability (6). Hierdie alarmistiese boek lê die IMF se vrese bloot met ’n magdom verontrustende besonderhede. In hooftrekke, die “deregulering en liberalisering” wat die Fonds en voorstanders van die “Washington-konsensus” (7) reeds dekades lank verkondig, het op ’n nagmerrie uitgeloop. Ongetwyfeld, verseker die skrywer, het hierdie beleid “fenomenale maatskaplike en privaat voordele” tot gevolg gehad (8), maar dit bevat ook “´n potensiaal (...) vir kwesbaarheid, onstabiliteit, voortdurende risiko en ongunstige ekonomiese gevolge”.

Voortreflik gedokumenteer kom Schinasi se werk tot die slotsom dat die irrasionele ontwikkeling van geglobaliseerde finansies, gekoppel aan deregulering, “die omvang van finansiële innovering uitgebrei het en die beweeglikheid van risiko’s vergroot het”. Garry J. Schinasi en die IMF staan ’n radikaal nuwe raamwerk voor ten einde die probleme wat waarskynlik mag opduik, nougeset dop te hou en te voorkom. Maar om dit reg te kry, moet daar eweveel “op geluk staatgemaak word” as op toepaslike beleid en marktoesig ... Daar was ’n tyd toe die ekonomie dit nie aan die geluk oorgelaat het om hom op die toekoms voor te berei nie.

Nog meer alarmisties is ’n studie wat deur deskundiges in die finansiële establishment saamgestel is, en wat op dieselfde tydstip verskyn en ook deur die IMF aanbeveel word. Dit ondersoek die swetterjoel probleme wat die liberalisering van wêreldfinansies teweeg gebring het. Die skrywers maak die gevolgtrekking dat “afsonderlike lande se finansiële stelsels al meer kwesbaar raak vir sistematiese risiko, wat op sy beurt ook al groter raak, en dus vir ’n toenemende aantal finansiële krisisse” (9). Bankdeskundiges van die ou skool deel toenemend die IMF se oortuiging dat hierdie onsekerheid aansienlik groter is as vantevore.

Argentinië se finansiële ineenstorting (1998) het gewys dat regerings wat die druk van die IMF en banke teenstaan, kan staatmaak op verdelings tussen die instansie se lidstate om die meeste van die buitelandse vereistes, indien nie almal nie, te ignoreer. Ongeveer 140 miljard staatseffekte in die hande van privaat skuldeisers en die IMF was op die spel, en het einde 2001 verval – die grootste insolvensie van ’n staat in die geskiedenis. Banke wat in die 1990’s die een lening na die ander aan Argentinië toegestaan het, het uiteindelik die gelag betaal.

Sedertdien, met die vinnige styging van grondstofpryse, het opkomende lande (China en die lande van Suidoos-Asië en Latyns-Amerika) in 2004 en 2005 groeikoerse beleef wat twee keer sterker as dié van die ryk lande was. Vanaf 2003 was hierdie opkomende lande die bron van 37% van alle direkte buitelandse beleggings (DBB) in ontwikkelende lande. China speel ’n groot rol in hierdie groei, wat ook beteken dat die IMF en die ryk bankiers van New York, Tokio en Londen aansienlik minder invloed as voorheen het. Om die waarheid te sê, ten spyte van hulle goeie voornemens om in die toekoms omsigtiger te werk te gaan ná die finansiële krisisse in die laat 1990’s in opkomende lande, was die blootstelling van banke aan die risiko’s van opkomende markte se aandele en obligasies nog nooit so groot nie, met die opbrengste wat hulle in sommige lande (soos die Filippyne of Zambië) bekom en die oormaat van likiditeit. Soos ’n handelaar dit stel, is dit “weer dieselfde deuntjie van voor af” (10).

Die toenemende kompleksiteit van die wêreldekonomie en eindelose onderhandelings by die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) kon nie ’n einde maak aan die subsidies en beskermingsmaatreëls wat in die pad van ’n vryhandelsooreenkoms staan en dit moeilik maak om dreigende handelsoorloë af te weer nie. Die aarde se ekonomie gaan nou gebuk onder die dreigement van ’n heelwat groter onstabiliteit – en groter gevare vir die rykes.

Die globale finansiële vraagstuk wat aan die ontwikkel is, word onoplosbaar vanweë die VSA se vinnig groeiende handels- en begrotingstekort. Sedert hy in 2001 sy amp betree het, het president George W. Bush met meer as 3 000 miljard dollar die federale leningsperk oorskry, om dit nou naby 9 000 miljard dollar te staan te bring. Terwyl die dollar sy waarde verloor, probeer die banke en operateurs hulle bates beskerm en lyk hoërisiko- finansiële avonture al hoe aanlokliker. Dit is ook waar dat Washington groter finansiële deregulering voorgestaan het lank voordat sy geldeenheid begin verswak het.

Daar bestaan ten minste 10 000 verskansingsfondse, waarvan vier-vyfdes in die Kaaimaneilande gedomisilieerd is. Maar 400 van hulle, wat elk ten minste een miljard dollar bestuur, hanteer onderling 80% van alle operasies. Daar bestaan tans geen manier om hulle te reguleer nie. Hierdie verskansingsfondse beheer meer as 1 500 miljard dollar se bates, en die daaglikse omset van hulle transaksies op oorkoepelende byprodukte beloop na aan 6 000 miljard dollar – die helfte van die VSA se bruto nasionale produk. In die euforiese klimaat van die afgelope vyf jaar het die meeste gewen, maar ander het verloor. In een jaar (van Augustus 2005 tot Augustus 2006) het byna 1 900 verskansingsfondse die lig gesien, maar 575 ander is weer gelikwideer. Die skattingsagentskap Standard & Poor sou graag hulle solvensie wou evalueer, maar het dit nog nie gedoen nie. Die grootstes onder hulle verklaar dat hulle rekenaarmodelle gebruik om hulle transaksies uit te voer.

In die derde kwartaal van 1998 kom die wêreldekonomie naby aan een van die ernstigste krisisse na die Tweede Wêreldoorlog toe Long-Term Capital Management (LTCM), ’n verskansingsfonds beroemd vir sy gebruik van wiskundige tegnieke wat deur twee Nobelpryswenners, Myron Scholes en Robert Merton ontwerp is, bankrot speel (11). Washington en Wall-straat se gesamentlike poging het ’n ramp afgeweer, maar verskansingsfondse het sedertdien heeltemal te groot geword om so maklik heringespuit te word.

In hewige onderlinge mededinging en as geswore kansvatters uiteraard, word hierdie fondse aangetrek deur afgeleide kredietprodukte (12) en ander maniere wat bedink word om geld te maak. Die mark vir hierdie produkte, wat in 2001 nog feitlik nie bestaan het nie, het redelik stadig ontwikkel tot in 2004 (toe dit 5 000 miljard dollar beloop het), voordat dit ’n stratosferiese hoogte van 17 300 miljard dollar teen einde 2005 bereik het. Die aantal finansiële instrumente was aan en markte vir kredietuitruilings (13) en dies meer begin reeds gestalte kry.

Niemand kan presies sê wat afgeleide kredietprodukte is nie. Nie eens Gillian Tett, verantwoordelik vir kapitaalmarkte by die Financial Times, wat immers ’n ondersoek daarna geloods het nie. Die produk is ongeveer ’n dekade gelede op die been gebring tydens ’n vergadering van sommige hoofde van die bank J.P. Morgan, in Boca Raton, Florida: so tussen twee cocktails deur en voor hulle mekaar in die swembad gestamp het, het hulle die ingewing gekry om ’n nuwe finansiële instrument te skep wat te ingewikkeld sou wees om maklik na te boots (kopiereg dek nie idees in die finansiële wêreld nie) en wat vir hulle heelwat in die sak sou bring.

Gillian Tett staan uiters krities teenoor ’n meganisme wat volgens haar dreig om ’n kettingreaksie van verliese op tou te sit en verskansingsfondse wat dit op dié mark gewaag het, te verswelg. “In hierdie tyd waarin likiditeit maklik bekombaar is,” word bankiers “ultra-kreatief [...] in hulle pogings om risiko te versprei nadat hulle dit in skywe en blokke verdeel het,” is haar slotsom in die Financial Times. Die invloedryke finansiële dagblad het daarbenewens die afgelope maande ’n reeks artikels oor hierdie “finansiële toorkuns” geplaas, waarin hy nie doekies draai om sy skepsis jeens die middele en mikpunte van hierdie innovasies nie (14).

Die lae rentekoerse het beleggers geïnspireer om met geleende geld op die markte te spekuleer, reken Avinash Persaud, ’n finansiële ghoeroe, en “´n pynlike vermindering van die skuldkoers wat so onvermydelik soos die dag op die nag volg [...]. Die enigste vraag is wanneer.” Vir verskansingsfondse, wat blitssnel ingewikkelder geraak het om hulle veiligheid te verseker, sal die uur van waarheid spoedig aanbreek en hulle “dwing om hulle mees likiede beleggings te verkoop”. “Ek sou nie ’n duit verwed op so ’n gelukkige einde nie,” verklaar Gillian Tett, nadat sy gekyk het na sommige laat pogings om hierdie fondse van hulle eie vergrype te red (15).



In die oë van die Amerikaanse belegger Warren Buffet, met sy binneblik op die wêreld van finansies, is kredietbyprodukte “finansiële wapens van massavernietiging”. Hoewel hulle in die teorie ’n versekering teen die risiko’s van niebetaling bied, moedig hulle nog groter waaghalsigheid en meer lenings aan. Enron (16) het ruimskoots daarvan gebruik gemaak, wat een van die geheime vir sy sukses was – en ook van sy uiteindelike bankrotskap met ’n gat van 100 miljard dollar. Met ’n totale gebrek aan deursigtigheid word krediet-byprodukte aan geen werklike toesig onderwerp nie. Talle van hierdie innoverende “produkte”, aldus ’n finansiële direkteur, “bestaan slegs in die kuberruim en is bloot slenters wat die superrykes help om belasting te ontduik” (17).

In werklikheid verstaan die grootkoppe van die bankwese en finansiële regulering self nie hoe die risiko-blootstellingsketting werk nie, en weet ook nie “wie besit wat” nie. Hierdie fondse gee voor om eerlik te wees. Nietemin word diegene aan die stuur daarvan se vergoeding bereken volgens die winste wat hulle aantoon, wat die neem van risiko’s impliseer. Baie van hulle versamel vertroulike inligting – ’n tegnies ontwettige praktyk wat nietemin gereeld plaasvind.

Oor die feit dat die gevare deurentyd toeneem, is daar eensgesindheid. Waar ’n mens lande se voortdurende begrotingstekort as gevolg van groeiende uitgawes en belastingkortings vir die rykstes opsy kan skuif, kan ’n mens nie dieselfde doen met die onstabiliteit van finansiële markte en grondstowwe nie. Laasgenoemde het reeds gelei tot ’n verlaging in die opbrengste van spekulasiefondse verlede Mei, waaronder die grootste meer as ’n jaar gelede. Verskansingsfondse bring nog aansienlike winste in, maar op ’n al gevaarliker wyse.

Die probleme is struktureel van aard, soos blyk uit maatskappye se hefboomkoëffisiënt wat op hulle aandeelkapitaalwinste oorgedra word, wat van vier na ses gestyg het sedert verlede jaar. Terwyl rentekoerse laag was, is hefboomlenings (16) as die oplossing voorgehou. En met verskansingsfondse en ander finansiële instrumente is daar nou ’n hele mark vir swak bestuurde, skuldgeteisterde maatskappye. Begin September 2006 kondig Ford Motor Company aan dat hy 7 miljard dollar per jaar verlies ly: sy aandelepryse skiet met 20% op. Selfs die reëls wat sommiges voorheen met kapitalisme vereenselwig het, soos wins, hou nie meer steek nie.

Die probleme, wat aan surrealisme grens, is ook inherent aan die spoed en kompleksiteit van hierdie finansiële operasies. Einde Mei maak die International Swaps and Derivatives Association bekend dat een uit elke vyf transaksies met afgeleide kredietprodukte te make het, en dat baie van hulle wat op miljarde dollars betrekking het, grootskaalse foute insluit wat in omvang toeneem hoe groter die transaksie is. Meer as 90% van alle kontrakte wat in die VSA gesluit is, is op papier aangeteken, dikwels los stukkies papier, en nie korrek geregistreer nie.

In 2004 sê Alan Greenspan, die destydse president van die Amerikaanse Federale Reserwe, dat hy “eerlik geskok” is deur hierdie toedrag van sake. Die eerste maatreëls om hierdie nalatigheid reg te stel word eers in Junie 2006 geskep, en skiet ver tekort om ’n verskynsel van so ’n omvang waar kolossale somme geld op die spel is, te kan oplos. Erger nog, vanweë deregulering en die toenemende aantal finansiële instrumente het dit onmoontlik geword om die broodnodige gegewens in te win of te kwantifiseer, en die werklikheid ontglip beide die banke en regerings. Dalk beleef ons ’n “nuwe era van finansies”, maar daar bestaan geen twyfel dat ons geblinddoek vorentoe tas nie.

So skryf Stephen Roach dan op 24 April 2006 dat ’n grootskaalse finansiële krisis aan die ontwikkel is en dat wêreldliggame (van die IMF en die Wêreldbank tot ander meganismes van die internasionale finansiële bestel) se hande afgekap is om dit die hoof te bied (17). Op sy beurt betreur die sekretaris van Hongkong begin Junie die gevare wat verskansingsfondse inhou. Terselfdertyd waarsku die hoofekonoom van die IMF, die ikonoklastiese Raghuram Rajan, teen die vergoedingstruktuur self van sulke fondse, wat tot die neem van al groter risiko’s aanleiding gee en so die ganse finansiële stelsel in gevaar stel. Einde Junie klink Stephen Roach nog meer pessimisties: “´n Sekere sin vir anargie” heers in akademiese en politieke kringe wat blyk “nie in staat te wees om te verklaar hoe die nuwe wêreld werk/inmekaar steek nie” (18). Dit is inderdaad ’n raaisel. Onlangs het die IMF self bereken dat daar sedert 2001 nog nie so ’n groot gevaar van ’n ernstige verlangsaming in die wêreldekonomie was nie, hoofsaaklik as gevolg van die val van die eiendomsmark in die VSA en in die meeste Wes-Europese lande. Roach voeg hierby die afskaling van werknemers se werklike inkomste en die ontoereikende koopkrag in die VSA (19). Maar selfs al sou die huidige welstandspeil volgende jaar voortduur, en dit blyk dat die deskundiges hulle almal misgis het, bly die transformasie van die wêreld se finansiële stelsel ’n feit wat vroeër of later rampspoedige gevolge gaan hê.

Die werklikheid ontglip aan enige kontrole. Die “omvang en die werkterrein van internasionale finansiële markte”, die “argitektuur” van die stelsel “het lukraak ontwikkel”, en die bykans niebestaande regulering daarvan is “ondoeltreffend”, aldus kundiges van die establishment (20). Die ekonomiese reëls van vroeër was veronderstel om ’n rugsteun te bied indien die wêreld se finansiële stelsel alle beperkings oorboord sou gooi. Dit het nie gebeur nie.

Finansiële liberalisering het ’n monster gebaar, en diegene wat beheermaatreëls oor winsmaking betreur, is nie aangewese om die veelvuldige probleme wat opgeduik het, op te los nie. Die Bank vir Internasionale Skikkings (BIS) se jaarverslag wat einde Junie 2006 gepubliseer is, verwys na die triomf van ekonomiese stropergedrag en neigings waarvoor dit “moeilik is om ’n logiese verklaring te vind”. Finansiële woekeraars het meer vindingrykheid aan die dag gelê as die tradisionele bankiers. “Gegewe die kompleksiteit van die situasie en ons beperkte kennis, is dit uiters moeilik om te voorspel waarheen dit alles sal lei,” (21) verduidelik die BIS, wat nie graag wil sien dat sy vrese paniek veroorsaak nie en dus nie-alarmisties probeer bly. Maar hy gee toe dat ’n “oerknal” die markte kan laat wankel en meen dat daar “verskeie redes is om oor ’n sekere vlak van wanorde bekommerd te wees”.

Ons verkeer nie tans in ’n toestand waar ineenstorting ’n sterk moontlikheid is nie, meld die verslag, maar dit is tog wys om “die beste te verwag, maar op die ergste voorbereid te wees”. En, gaan dit voort, waar globale ekonomiese neigings en “finansiële wanbalanse” die afgelope dekade toenemende gevare geskep het, “is dit dus noodsaaklik om te verstaan hoe ons hier beland het, ten einde die beste beleidskeuses te maak om die huidige risiko’s te verminder” (22). Die BIS is bekommerd, baie bekommerd.

Maar hierdie pessimisme spoor die aasvoëls van maatskappye en beleggingsbanke aan om nuwe instrumente te bedink om uit die dreigende ekonomiese ramp voordeel te trek – ’n krisis wat na hulle mening ’n kwessie van tyd eerder as beginsel is. Soveel te meer aangesien kundiges dit eens lyk dat insolvensies beduidend sal toeneem in die nabye toekoms. Daar is dus geld te maak. Met dié raak eksperte in onbetaalbare skuld en die herstrukturering van maatskappye wat bankrot is of op die punt staan om dit te wees, in al groter aanvraag in Wallstraat.

Die wêreld se finansiële stelsel steier onder die teenstrydighede; daar is ’n al groter wordende konsensus onder dié wat dit ondersteun en dié wat reken dat die status quo beide immoreel en die oorsaak van krisisse is. As ’n mens die instansies en figure moet glo wat vroeër die voorvegters daarvan was, wil dit lyk of die kapitalisme op die vooraand van ingrypende ontwrigting staan.

 

__________

(1) IMF Survey, New York, 29 Mei 2006, p.147 ; IMF in Focus, New York, September 2006, p.11.

(2) Roberto Zagha en ander, “Rethinking Growth”, Finance & Development, Washington D.C., Maart 2006, p.11 ; Stephen Roach, Global Economic Forum, Morgan Stanley, New York, 16 Junie 2006.

(3) Die beginsel van afgeleide produkte is om as beskerming te dien teen prys- en wisselkoersrisiko’s en is net soveel van toepassing op grondstowwe en geldeenhede as op aandele, obligasies ... Dit is ’n weddenskap op die toekoms wat groot wins kan inbring. Lees Ibrahim Warde, “La dérive des nouveaux produits financiers”, Le Monde diplomatique, Julie 1994.

(4) Sulke kapitaalverhogings maak dit moontlik om verslae met groot winste voor te lê waarvolgens vergoedings en dividende bereken word.

(5) The Financial Times, Londen, 17 Julie, 14 Augustus 2006.

(6) Garry J. Schinasi, Safeguarding Financial Stability: Theory and Practice, IMF, New York, 2006.

(7) Dié uitdrukking kom van die ekonoom John Williamson wat in 1989 die “aanbevelings” aan state so opgesom het, insluitend verlaging van belastings, liberalisering van die handel, privatisering en finansiële deregulering. Die IMF stel die toepassing van dié maatreëls as voorwaarde vir sy lenings: lees Moisés Naim, “Ordre du FMI, ‘Consensus de Washington’”, Manière de Voir, n°72, Desember 2003-Januarie 2004.

(8) Hierdie aanhaling asook die volgendes kom uit Garry J. Schinasi, Safeguarding Financial Stability, op.cit. pp.8, 14 en 17.

(9) Kern Alexander, Rahul Dhumale en John Eatwell, Global Governance of Financial Systems: The International Regulation of Systemic Risk, Oxford: Oxford University Press, 2005, p. 22 en passim.

(10) The Financial Times, 27 Julie 2006.

(11) LTCM het dit met 100 miljard dollar op die markte gewaag terwyl die fondse wat hy bestuur het ... 5 miljard werd was. Om te keer dat die stelsel in duie stort, het die Amerikaanse sentrale bank ’n inspuiting van 3,6 miljard dollar gegee.

(10) Soos met alle afgeleide produkte wed die operateurs op voorsienbare risiko’s, maar in hierdie geval is dit skuld/kredietbriewe (obligasies/effekte, skulde...) wat uitgeruil word.

(11) Die koper neem voor, in ruil vir ’n bonus, om die kliënt te vergoed indien daar verstek van betaling of selfs net ’n vermindering van die waarde van sy skuldenaar is.

(12) Gillian Tett, “The dream machine”, The Financial Times Magazine, Londen, 24-25 Maart 2006; The Financial Times, 10 en 19 Julie 2006, 14, 24 en 29 Augustus 2006.

(13) Financial Times, 23 en 24-25 Junie 2006.

(14) Enron, ’n energie-konglomeraat wat welbekend is in die finansiële wêreld, het in duie gestort toe sy rekeningkundige bedrog en binnehandel op die lappe gekom het ... Lees Tom Franck, “Enron aux mille et une escroqueries”, Le Monde diplomatique, Februarie 2002.

(15) Financial Times, 17 Julie 2006. Lees ook die uitgawes van 31 Mei en 8 Junie 2006.

(16) Sulke lenings maak dit moontlik om ’n maatskappy te koop met ’n baie lae kapitaalbelegging en lenings teen koerse wat laer is as die verwagte winsgewendheid.

(17) Global Economic Forum, Morgan Stanley, 24 April 2006.

(18) Global Economic Forum, Morgan Stanley, 23 Junie en 5 September 2006.

(19) Financial Times, 6 September 2006.

(20) K. Alexander, R. Dhumale en J. Eatwell, op. cit., p. 251.

(21) “76th Annual Report”, Bank vir Internasionale Skikkings, Basel, 26 Junie 2006.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=711
Artikel nagegaan:
    -