blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaand se hoofartikel: Misdaad 2006-10-18


Misdaad: Dit kan met stelligheid gesê word dat daar vandag nie nog ’n saak is waaroor alle wetsgehoorsame Suid-Afrikaners so sterk voel nie, en waarvan die vermindering soveel algemene instemming geniet nie. Ook Die Vrye Afrikaan het op 15 September 2006, kort voor die uitreiking van die jongste onaanvaarbare amptelike misdaadstatistieke, misdaad intiem gevoel toe die briljante digterpredikant, Stefan Louw (34), wat een van ons gereelde medewerkers en lid van ons kunsredaksie was, in ’n klaarblyklik impromptu daad in sy huis in Melville doodgeskiet is. Aan hom word hierdie uitgawe ook opgedra (kyk bladsye 3 en 24).

      Hoe diep ons rou en woede oor ons vriend ook loop, en hoe diep dit ook al by die derduisende slagoffers van misdaad en geweld landswyd loop, kan ons egter nie daarby vassteek nie. Om bloot te treur en te woed oor die oënskynlik onbeheerbare vlaag misdaad en geweld sal Suid-Afrikaners dompel in ’n staat van passiewe onttrekking, sinisme en nog verdere geweld. Wat vandag met ons land gebeur, vra meer as ooit dat ons as deelnemende demokrate die uitdaging aanvaar om insig in die krisis te soek en kollektief te handel om dit nie net te beëindig nie, maar ’n ander land te skep.

      As ons insig in die krisis van misdaad en geweld soek, is dit raadsaam om in die eerste plek kennis te neem van die reaktiewe, bevreesde gemoedstoestand wat kollektief op Suid-Afrikaners ’n houvas gekry het. Dit is hierdie gemoedstoestand wat mense laat vra vir die herinstelling van die doodstraf, die indiensneming van meer polisielede of die regering eensydig blameer omdat hy misdaad en geweld nie hokslaan nie. Hoe verleidelik hierdie reaktiewe stappe ook al is, is die feit van die saak dat dit hoegenaamd nie handel met dit wat mense in die eerste plek tot misdaad dryf nie – moet dit nogmaals uitgespel word dat niemand as misdadiger gebore word nie? – en in feite die krisis as gegewe aanvaar waarteen beter beskerming ons beste hoop is. In hierdie benadering skuil reeds die dodelike gees van burgerlike oorgawe aan die kruipende donker waarin ons mekaar se wolf word.

      Ofskoon geweld vanaf die vroegste Suid-Afrikaanse heugenis as funksie van die botsing van gemeenskappe – hetsy deur wit of swart kolonisasie vanuit onderskeidelik die suide en die noorde van die hedendaagse Suid-Afrika - ’n voortslepende probleem in die land is, kan daar geen twyfel wees nie dat die omvang van misdaad en geweld teen die agtergrond van die instelling van ’n minstens nominale grondwetlike demokrasie met beter ekonomiese groei as sedert die 1960’s ons geen ander keuse laat nie as om dit wat na 1994 gebeur het te verstaan as ons die spiraal wil deurbreek.

      Die volgende verskynsels dra almal by tot die toename van geweld en misdaad sedert 1994:

      1) Die onkritiese aanname deur Afronasionaliste en die korporatiewe sektor dat die heersende Westerse patroon van modernisering gebaseer op die industrialisering van alle dinge die beste toekoms vir Suid-Afrika inhou. Op basis van hierdie gedeelde aanname kon die ANC en die korporatiewe sektor in die middel 1990’s die veelberugte pakt vir ’n neoliberale ekonomiese benadering sluit, waarna alle terreine van die samelewing aan hierdie benadering onderworpe is en maatskaplike besteding besnoei indien nie verwaarloos is nie. Met die gevolg dat die elites van die staat en die korporatiewe sektor fabelagtig ryk geword het terwyl die oorgrote meerderheid Suid-Afrikaners in ’n staat van magtelose afguns en onvervulbare begeerte gedompel is en instellings van diens aan die burgery sienderoë in duie stort en middelmatig word.

      2) Die omvang van veral swart Suid-Afrikaners in leiersposisies se historiese vernedering en gepaardgaande obsessie met die herwinning van selfrespek selfs ten koste van redelikheid en billikheid. Die misbruik van regstellende aksie; die heimlike vertroeteling van Engels as magstaal; die enorme orgie van bandelose verbruik waaraan die swart middelklas in navolging en oorskryding van hul wit eweknieë meedoen; en, les bes, die verterende ambisie om die wêreld te wys wat gedoen kan word, en wat in ’n al hoe harder nasionalisme manifesteer. So boots die nuwe meesters hulle vorige meesters na, blind vir die vernedering en depressie waarin laasgenoemde vandag beland het, in die waan dat hulle kragdadigheid en wilsmatigheid die geskiedenis sal verander.

      3) Die volharding met ’n 19de eeuse industriële model waar deelname aan produksie beperk is tot die klein kring van besitters. In ’n era waar nuwe moontlikhede van deelname aan produksie deur nuwe tegnologie geskep word – beginnende by kulturele produksie danksy kommunikasietegnologie – klou die kring van besitters aan die kapitaal en tegnologie vas wat soveel meer mense in staat kan stel om deel te neem aan hulle eie simboliese en materiële heil. Hierdie onhoudbare toedrag van sake word gehandhaaf deur die verbete verheerliking van ’n mobiele, individualistiese, stedelike leefstyl wat nóg heilsaam, nóg op groot skaal vir almal beskore kan wees. Dit is veral hierteen wat massas mense in wanhoop reageer deur oor te gaan tot geweld, die misbruik van dwelms, drank, voedsel en “leefstylervarings”.

      Wat staan deelnemende demokrate te doen? Die enigste uitweg is dat die burgerlike samelewing in Suid-Afrika hermobiliseer word soos wat dit in die 1980’s gedoen is.

As eerste praktiese stap moet alle huidige vakante poste in die polisiediens en in die howe op meriete gevul moet word, en ook al die funksies in wetstoepassing wat tans nie na wense uitgevoer kan word nie ook met dringende suiwer meriete-aanstellings versterk word. Hoewel daar ’n belangrike plek is vir regstellende aksie kan so ’n beleid nie binne ’n konteks toegepas word wat ’n veiligheidskrisis slegs kan verdiep.

Wat die burgerlike samelewing betref, moet die stryd nie teen ’n stelsel geword word nie, maar vir ’n ander land. Drie oogmerke moet nagejaag word: eerstens die aanvaarding van ’n nasionale mediabeleid wat klem op skepping eerder as verbruik, uitvinding eerder as nabootsing plaas, en wat die verheerliking van geweld en seks vervang met beelde, klanke en idees wat Suid-Afrikaners kan begeester om met matigheid en durf ons diversiteit te leef.

      Tweedens die bevordering en uitbouing van alle inheemse tale tot op die hoogste moontlike vlak, nie teenoor nie maar in aansluiting by ons internasionale taal, Engels. Nie net sal dit deelname deur gewone Suid-Afrikaners aan hulle eie heil verhoog nie, maar ook oneindig meer vir die herwinning van ons selfrespek doen as maar net nog ’n haatdraende nasionalisme gebore in reaksie op koloniale vernedering.

      Derdens die afwenteling van kapitaal en besluitnemingsbevoegdheid na gemeenskappe op plaaslike vlak so ver as moontlik. Dit is eers as die finansiële en politieke middele in die hande van die burgery geplaas word, wat die staat en die korporasie hulle neiging tot elitisme sal staak en in ware vennootskap met die burgery tree. Dit is ook dan wat gemeenskappe van watter ligging, taal, kultuur of kleur ook al werklik in staat gestel sal word om aan mekaar te verskyn en saam te bou aan ’n waarlik plurale, selfstandige land wat uit eie bronne bewys dat ’n ander vorm van modernisering uit hierdie grond gebore kan word.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=710
Artikel nagegaan:
    -