blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vergiffenis: Dit skep vertroue 2006-10-18
Marinus Schoeman

*Medeprofessor in filosofie, Universiteit van Pretoria, en skrywer van Generositeit en Lewenskuns: Grondtrekke van ’n post-Nietzscheaanse etiek (Pretoria: Fragmente, 2004)

 

Enkele weke gelede ontketen oud-minister Adriaan Vlok se voetewassery ’n openbare debat wat steeds gevoer word. Maar wat sê die groot politieke denker, Hannah Arendt, pas 100 jaar gelede gebore, vir ons oor vryheid, vergiffenis en trou?

Vryheid is seker dié sentrale en oorkoepelende tema in die werk van Arendt, en as sodanig is dit verweef met al die ander aspekte van haar filosofie. Trouens, byna elke faset van Arendt se filosofie kan beskou word as ’n verdere verbreding van of uitbreiding op die tema van vryheid. Daarom is dit onmoontlik om hier alles wat Arendt oor vryheid te sê het in ’n enkele greep saam te vat. Ek sal slegs enkele grondlyne van Arendt se vryheidsbegrip kortliks aandui, en vervolgens aandag gee aan vergiffenis en trou, wat eweneens ’n belangrike rol speel in haar filosofie.

 

Vryheid

Uit die staanspoor moet dit duidelik gestel word dat Arendt vryheid nie beskou as ’n essensiële eienskap wat inherent is aan die menslike natuur nie. Die mens is nie “van nature” vry wanneer hy gebore word (soos Rousseau gemeen het) nie, maar hy word vir vryheid gebore. Vryheid word slegs ’n ervaarbare werklikheid daar waar mense handel, waar hulle hulself deur uitsonderlike dade en woorde onderskei van ander lewende wesens en uitstyg bo die sfeer van natuurlike drange en behoeftes. Daarby is handeling in die volle sin van die woord slegs moontlik in die openbare ruimte, die sfeer van die politiek. Vryheid is dus wesenlik ’n politieke fenomeen.

      In haar beroemde essay “What is Freedom?” formuleer Arendt haar oortuiging dat vryheid wesenlik saamhang met (politieke) handeling treffend soos volg: “The raison d’être of politics is freedom, and its field of experience is action ... If, then, we understand the political in the sense of the polis (die klassieke Griekse stad), its end or raison d’être would be to establish and keep in existence a space where freedom as virtuosity can appear. This is the realm where freedom is a worldly reality, tangible in words which can be heard, in deeds which can be seen, and events which can be talked about, remembered, and turned into stories before they are finally incorporated into the great storybook of human history.” (BPF 146, 154). (1)

      Om vry te wees is vir Arendt dieselfde as om in die openbaar saam met andere te handel. Die vryheid van handeling is egter ’n beperkte vryheid. Die feit dat dit plaasvind in die wêreld, dit wil sê in ’n netwerk van verhoudings wat gekenmerk word deur pluraliteit of veelvuldigheid (“the fact that men, not Man live on the earth and inhabit the world”, HC 7), het allerlei komplikasies tot gevolg. Vryheid is die vermoë om spontaan iets te inisieer, “to call something into being which did not exist before” (BPF 151). Dit geskied egter teen ’n prys, want die akteur behou geen beheer oor wat hy geïnisieer of begin het nie, wat onvermydelik ’n moment van kontingensie, van onvoorspelbaarheid – maar ook van onomkeerbare noodlottigheid of tragiek – in die spel bring: “men never have been and never will be able to undo or even to control reliably any of the processes they start through action ... And this incapacity to undo what has been done is matched by an almost equally complete incapacity to foretell the consequences of any deed or even to have reliable knowledge of its motives.” (HC 232-33) Vir Arendt beteken dit dat ons in die wêreld van handeling en politiek uitgelewer is aan ’n toestand van niesoewereiniteit (BPF 164; HC 234). Vryheid, wat die raison d’être is van handeling, is die presiese teendeel van soewereiniteit, outonomie, heerskappy en maakbaarheid.

      Die kontingensie van handeling, “its futility, boundlessness and uncertainty of outcome” (HC 195), gee aanleiding tot frustrasie en uiteindelik ook tot afkerigheid van en vyandigheid jeens handeling. Gesien vanuit die tradisionele standpunt wat vryheid gelykstel met soewereiniteit, is handeling noodwendig absurd en iets wat eerder vermy moet word: “It is in accordance with the great tradition of Western thought ... to accuse freedom of luring man into necessity, to condemn action, the spontaneous beginning of something new, because its results fall into a predetermined net of relationships, invariably dragging the agent with them, who seems to forfeit his freedom the very moment he makes use of it. The only salvation from this kind of freedom seems to lie in non-acting, in abstention from the whole of human affairs as the only means to safeguard one’s sovereignty and integrity as a person.” (HC 234)

      Volgens Arendt is die tradisionele vereenselwiging van vryheid met soewereiniteit (die outonomie van die subjek of moderne individu) ’n werklikheidsvreemde en ’n handelings- of politiekvyandige illusie. Gegewe die onbeheerbaarheid en onvoorspelbaarheid van handeling is dit verstaanbaar dat mense na so ’n illusie sal gryp, maar volgens Arendt is dit heeltemal onnodig en inderdaad verwerplik. Ons moet afsien van die droom van die mens as soewereine (outonome) subjek, en van die vraag na hoe hierdie droom in die praktyk verwesenlik kan word. Die vraag wat ons onsself eerder moet afvra, is “whether the capacity for action does not harbor within itself certain potentialities which enable it to survive the disabilities of non-sovereignty.” (HC 236)

 

Vergiffenis en trou

Dit bring ons dan by vergewing en belofte, wat albei deur Arendt beskou word as ’n remedie teen die onomkeerbaarheid en onvoorspelbaarheid van die prosesse wat deur handeling op dreef gebring word, en daarby ’n remedie “[which] does not arise out of another and possibly higher faculty, but is one of the potentialities of action itself.” (ibid.) Arendt verduidelik die remediërende werking van vergewing en belofte soos volg: “The possible redemption from the predicament of irreversibility – of being unable to undo what one has done though one did not, and could not, have known what he was doing – is the faculty of forgiving. The remedy for unpredictability, for the uncertainty of the future, is contained in the faculty to make and keep promises. The two faculties belong together in so far as one of them, forgiving, serves to undo the deeds of the past, whose ‘sins’ hang like Damocles’ sword over every new generation; the other, binding oneself through promises, serves to set up in the ocean of uncertainty, which the future is by definition, islands of security without which not even continuity, let alone durability of any kind, would be possible in the relationships between men.” (HC 237)

      Albei hierdie vermoëns is afhanklik van pluraliteit, van die teenwoordigheid van ander mede-akteurs, “for no one can forgive himself and no one can feel bound by a promise made only to himself.” Omdat albei ten nouste verbonde is met openbaarheid en pluraliteit, is hulle “proto-politieke” vermoëns. Arendt beskou Jesus van Nasaret as die “discoverer of the role of forgiveness in the realm of human affairs.” Die feit dat Jesus die waarde van vergewing binne ’n religieuse konteks ontdek en geartikuleer het, beteken nie dat dit nie ook in ’n sekulêre, politieke opset belangrik kan wees nie. In basiese vorm is die waarde daarvan reeds erken in die Romeinse beginsel om die lewens te spaar van diegene wat in oorloë verslaan en onderwerp is, en ook in die reg (prerogatief) van die staatshoof om ’n oortreder te begenadig deur sy doodsvonnis tersyde te stel. Die waarde van vergewing lê vir Arendt in die volgende: “[T]respassing is an everyday occurrence which is in the very nature of action’s constant establishment of new relationships within a web of relations, and it needs forgiving, dismissing, in order to make it possible for life to go on by constantly releasing men from what they have done unknowingly. Only through this constant mutual release from what they do can men remain free agents, only by constant willingness to change their mind and start again can they be trusted with so great a power as that to begin something new.” (HC 238-39)

      Hieruit is dit duidelik: daar kan volgens Arendt op aarde niks méér eties – en geen groter deug – wees nie as om die omstandighede te help skep waarin dit vir mense moontlik is om met hulle lewens aan te gaan, om met vrymoedigheid opnuut weer ’n begin te maak, om van plan te verander sonder die drukkende las van ’n skuldgevoel: “Without being forgiven, released from the consequences of what we have done, our capacity to act would, as it were, be confined to one single deed from which we can never recover; we would remain the victims of its consequences forever...” (HC 237).

      Die term vergewensgesindheid kan myns insiens eweseer aangedui word met die term generositeit in die Nietzscheaanse sin van gulhartigheid, grootmoedigheid en ruimgeestigheid. As sodanig beteken dit die presiese teendeel van wraakgierigheid. Arendt stem met Nietzsche saam dat wraaksugtigheid en nydigheid, gevoed deur ressentiment (haatdraendheid, verbitterdheid), die uiterste vorm van ondeug verteenwoordig. Soos Nietzsche meen ook sy dat die ondeugdelikheid van wraaksug veral dáárin geleë is dat dit uit sigself niks nuut of skeppend inisieer nie, maar bloot reaktief is. Die verskil tussen vergewensgesindheid en wraaksug word treffend soos volg verduidelik: [F]orgiveness is the exact opposite of vengeance, which acts in the form of re-acting against an original trespassing, whereby far from putting an end to the consequences of the first misdeed, everybody remains bound to the process, permitting the chain reaction contained in every action to take its unhindered course. In contrast to revenge, which is the natural, automatic reaction to transgression and which because of the irreversibility of the action process can be expected and even calculated, the act of forgiving can never be predicted; it is the only reaction that acts in an unexpected way and thus retains, though being a reaction, something of the original character of action. Forgiving, in other words, is the only reaction which does not merely re-act but acts anew and unexpectedly, unconditioned by the act which provoked it and therefore freeing from its consequences both the one who forgives and the one who is forgiven. (HC 240-41)

      Dit is voorts interessant dat Arendt straf beskou as ’n alternatief vir vergewing en nie as die teendeel daarvan nie. Beide straf en vergewing het ten doel om ’n einde te maak aan iets wat sonder ingryping eindeloos kan voortduur. Albei het egter ook hulle beperkinge. Hulle staan naamlik magteloos voor manifestasies van wat Kant die “radikaal bose” noem: dié oortredings wat in beginsel eintlik onvergeeflik en onstrafbaar is, omdat hulle so totaal buite die orde van menslike aangeleenthede en mag val.

      Ten slotte benadruk Arendt dat vergewensgesindheid, soos trouens enige egte deug, nie in ’n sentimentele, moralistiese sin verstaan moet word nie. Sy stel dit dan ook duidelik dat vergiffenis nie soos by Jesus en sy volgelinge vereenselwig moet word met gevoelens van “liefde” en “deernis” nie. Liefde is per definisie onwêrelds (“unworldly”) en onpolities, en kan dus nie as grondslag vir deugsame politieke handeling geneem word nie. Om te vergewe, is vir Arendt ’n kwessie van handeling. Dit is nie ’n saak van innerlike “gesindheid” nie, en ook nie bloot ’n reaktiewe optrede nie, maar ’n aktiewe ingryping waardeur iets nuuts geïnisieer word. Dit skep nuwe omstandighede waardeur mense die geleentheid kry om met vrymoedigheid weer te handel, om opnuut weer toe te tree tot die openbare lewe waar hulle aan andere kan verskyn en in woord en daad hulle unieke bydrae kan lewer tot “die groot gebeure” waarin die wêreld sig in sy nimmereindigende veelvoud aan ons vertoon. Juis om die wêreldgerigtheid van vergiffenis te benadruk, haal Arendt dit uit die “narrowly circumscribed sphere” van die liefde, en bring sy dit eerder in verband met iets soos respek oftewel eerbied: “Respect, not unlike the Aristotelian philia politiké, is a kind of ‘friendship’ without intimacy and without closeness; it is a regard for the person from the distance which the space of the world puts between us, and this regard is independent of qualities which we may admire or of achievements which we may highly esteem.” (HC 243)

      Vergewensgesindheid, soos deugdelikheid in die algemeen, spruit voort uit ’n “sorg vir die wêreld”. Om vergewensgesind te wees, beteken om ontvanklik te wees vir die wêreld en sy onuitputlike rykdom van betekenismoontlikheide. Dit impliseer ’n houding van ruimgeestigheid of respek teenoor andere: iedereen moet (minstens in beginsel) die reg gegun word om in die openbare sfeer te verskyn suiwer op grond daarvan dat hy ’n persoon is, dit wil sê sonder om van hom te verwag dat hy eers bewys moet lewer van sy verdienstelikheid. In hierdie sin geld vergewensgesindheid as basisdeug in die oë van Arendt. Dit is ’n onmisbare voorwaarde vir handeling en vir die instandhouding van die openbare sfeer, dit wil sê die sfeer van die politiek.

      Benewens vergewing is daar ook die vermoë om beloftes te maak. Die stabiliserende krag van die belofte word volgens Arendt van oudsher reeds erken as ’n sentrale faktor in die eties-politieke lewe van die mens. Daarvan getuig alleen al die groot verskeidenheid kontrakteorieë, minstens sedert die dae van die Romeine. Onderlinge beloftes of afsprake bewerkstellig wel ’n mate van sekerheid en voorspelbaarheid, wat egter hemelsbreed van dié van totalitêre regimes verskil vir sover dit nie berus op dwang en heerskappy nie, maar op vryheid wat gegewe is onder die voorwaarde van niesoewereiniteit. Wedersydse beloftes skep, soos vroeër reeds opgemerk, “eilande” of beperkte ruimtes van voorspelbaarheid en vertroue in ’n “see” van onbetroubaarheid en onsekerheid. Net soos by vergewing, het ons ook by die belofte te make met beperkte, streng afgebakende ruimtes, en moet ons ook hier nie misplaaste of oorspanne verwagtings koester nie.

      Ten slotte beklemtoon Arendt dat die beperkte soewereiniteit wat in die sfeer van handeling en politiek geld iets totaal anders beteken as die maakbaarheid en meesterskap (“mastership”) wat geld binne die domein van tegniese kundigheid of vaardigheid. Vir sover die etiese lewe van die mens méér behels as “the sum total of mores, of customs and standards of behavior solidified through tradition and valid on the ground of agreements, both of which change with time, it has, at least politically, no more to support itself than the good will to counter the enormous risks of action by readiness to forgive and to be forgiven, to make promises and to keep them.” Die trou wat met beloftes gepaard gaan, en die grootmoedigheid wat sig manifesteer in dade van vergiffenis, lê volgens Arendt aan die wortel van ’n waarlik etiese, deugdelike bestaan. Die mate van selfbeheersing, orde en stabiliteit wat deur belofte en vergewing geïmpliseer word, het egter niks gemeen met die ideaal van morele outonomie en morele “suiwerheid” nie. Die belofte en vergiffenis wat Arendt op prys stel, is konstituerend van duursame politieke gemeenskappe; beloftes bind die betrokkenes deur die tyd heen aan mekaar, en vergiffenis maak dit moontlik om daardie bande te verstewig en in stand te hou. Vir Arendt is belofte en vergewing gerig op gesamentlike handeling, op ’n politieke lewe waarin die politiek self (en dus ook vryheid) sentraal staan.

 

_________

(1) Afkortings wat in die teks gebruik word, is BPF vir Between Past and Future (1961) en HC vir The Human Condition (1958).

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=709
Artikel nagegaan:
    -