blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die beiteltjie klink ná in kabaret 2006-09-13
Hennie Aucamp

*Jongste digbundel Dryfhout (Kaapstad, Tafelberg, 2005)

Die Akademie het homself vereer toe dit die Hertzogprys vir drama in 2006 aan Deon Opperman toegeken het, want die Suid-Afrikaanse toneel sou aansienlik armer gewees het sonder Opperman se bydrae as dramaturg, toneelspeler, regisseur, kortom, toneelmens in die volste sin van die woord.

In ’n huldiging van Deon Opperman, “Deon se beiteltjie”, (De Kat, winter 2006), gebruik Liz Meiring Deon Opperman se respek vir N.P. van Wyk Louw se gedig “Die beiteltjie” (Nuwe verse) as vertrekpunt. In watter hoë mate Deon Opperman “Die beiteltjie” sy eie gemaak het, blyk uit ’n gedig van Opperman, “Die Plukker”, wat in 1995 in die herfsuitgawe van Lantern verskyn het. Hier, met verlof van Deon Opperman, volg die gedig:

 

Die Plukker

 

Ek sien ’n sonryp perske,

daar doer bo aan ’n tak,

hy groei daar en hy gloei daar,

vol sap en lig gepak.

 

Ek haal my hoogste trapleer,

want dit moet mens verstaan,

’n plukker moet sy klim ken

as hy ’n boord ingaan.

 

Ek dra my trapleer na die boom,

en plaas hom net mooi reg,

so met die eerste trapslag

klim ek die aarde weg.

 

Al hoër en al hoër,

op boontoe na die vrug,

al hoër en al hoër,

my mandjie op my rug.

 

Verby tak, blaar en wolke,

trap vir trap, dis ver,

verby die maan, verby die son,

verby planeet en ster.

 

So hoog klim ek dat onder

sien ek die heelal draai,

en bo my kop die goue vrug

waar hemelswinde waai.

 

Aan die toppunt van my leer

huiwer ek ’n ruk,

dis moeilik, selfs ’n kuns

om so ’n ding te pluk.

 

Dan reik ek uit en vat hom,

sy sap kan ek al proe,

laat val hom in my mandjie

en dra hom aarde toe.

 

Dié vrug deel ek met almal,

ek sê: neem, eet en glo.

hierdie stukkie perske

kom uit die boord daarbo.

 

Selfs met ’n eerste lees vermoed jy dat “Die Plukker” teen ’n bestaande teks klink, en dan besef jy dat “Die Plukker”, wat klein begin, maar geleidelik na kosmiese dimensie begin groei, “Die beiteltjie” as oermodel het; die hele gang, om J.C. Steyn by te haal, van klippie, oor rots, oor land, tot aan die heelal, word hier in ’n ander verband herhaal, maar met presies dieselfde stygende opwinding.

Vir die leser wat die hele avontuur van intertekstueel lees wil meemaak, volg nou die volledige teks van “Die beiteltjie”, met verlof van die literêre eksekuteurs van Van Wyk Louw.

 

Die beiteltjie

 

Ek kry ’n klein klein beiteltjie,

ek tik hom en hy klink;

toe slyp ek en ek slyp hom

totdat hy klink en blink.

 

Ek sit ’n klippie op ’n rots:

– mens moet jou vergewis:

’n beitel moet kan klip breek

as hy ’n beitel is –

 

ek slaat hom met my beiteltjie

en dié was sterk genoeg:

daar spring die klippie stukkend

so skoon soos langs ’n voeg:

 

toe, onder my tien vingers bars

die grys rots middeldeur

en langs my voete voel ek

die sagte aarde skeur,

 

die donker naat loop deur my land

en kloof hom wortel toe –

só moet ’n beitel slaan

wat beitel is, of hoé?

 

Dan, met twee goue afgronde

val die planeet aan twee

en oor die kranse, kokend,

verdwyn die vlak groen see

 

en op die dag sien ek die nag

daar anderkant gaan oop

met ’n bars wat van my beitel af

dwarsdeur die sterre loop.

 

’n Literêre snuffelaar sal nóg ’n literêre bron agter “Die Plukker” sien oprys, soos die plukker al hoër met sy trapleer na die uiteindelike perske klim, naamlik ’n onsterflike fragment van Sapfo, wat só klink in die Afrikaanse vertaling van prof. P.J. Conradie:

                Soos ’n soet appel rooi word op die punt van ’n tak

                Hoog in die top van die boom; die appelplukkers het dit vergeet –

Nee, hulle het dit nie heeltemal vergeet nie, maar hulle kon nie daarby

kom nie.

 

Terug na “Die beiteltjie”:

Dit het in Oktober 1949 onder die titel “Vir die speletjie” in Standpunte verskyn. Van Wyk Louw se voorlopige titel is van belang in soverre dit die spel beklemtoon; die ernstige spel. In een van sy essays loof Van Wyk Louw dan ook “die ligte, ligtende erns”. Is dit toevallig dat Louw dié gedig in die veertigerjare geskryf het toe Johan Huizinga se Homo ludens opgang gemaak het in literêre kringe? Huizinga se uitgangspunt, bondig saamgevat, kom hierop neer: As ’n kultuur homself te ernstig bejeën, en die perk van die spel verlaat, versaak dit sy eie heil.

Dit strek Deon Opperman tot eer dat hy Van Wyk Louw se spel met gedagtes en woorde tot in die fynste geledinge van sy vers gevolg het.

Maar Opperman slaan teen die einde ’n eie koers in in “Die Plukker”. Anders as Sapfo en Van Wyk Louw, vertoef hy nie in die esoteriese sfeer van hoër lugte nie; hy kom terug met sy vrug van groot waarde wat hy, Nagmaalsgewyse, met aardlinge wil deel. In dié sin is Opperman ook ’n erfgenaam van Albert Schweitzer, wat geglo het dat dié wat baie aan talent en genade ontvang het, dit met die medemens moet deel.

Daar word soms gesê dat “Die beiteltjie” van Van Wyk Louw op Afrikaans slaan. Só ’n vertolking vereng die betekenis van Van Wyk Louw se credo, want credo is “Die beiteltjie” beslis. Dit stel die geloof in die mag van ’n kunsmedium wat, as dit met respek gebruik en onderhou word, uiteindelik ontsaglike wêrelde van die gees kan verower. “Die beiteltjie” is ’n credo vir alle kunste en alle kunstenaars; en dieselfde kan van “Die Plukker” gesê word, met dié pluspunt, dat Opperman in die sleutel van die humanisme dink.

Toe ek “Die Plukker” in 1995 gelees het, wou ek my geesdrif daaroor onmiddellik met ’n gelykgestemde gees deel. Ek het Deon Opperman se teks “Die Plukker” aan Amanda Strydom gestuur, met dié opdrag: Maak ’n lied daarvan, en neem dit op in jou repertorium.

En Amanda hét. Saam met Lize Beekman het sy musiek geskryf vir “Die Plukker”, en dit spoedig op laserskyf opgeneem – Amanda Strydom: Vrou by die spieël (JNSD 43).

En nou moet die bloemlesers van Groot Verseboek en Poskaarte hulle kant bring, en “Die Plukker” van Deon Opperman ook vir ’n nie-kabaretgehoor bestendig. Dis ’n stralende vers – “’n goue glans tussen groen” (1) - wat ’n wins vir enige bloemlesing sal wees.

 

________

 

(1) Uys Krige, “Die Lied van die Lemoen”, Die goue kring. Kaapstad: Human & Rousseau, 1976 Dis opvallend dat Deon Opperman nie ’n appel of ’n lemoen as hemelvrug kies nie, maar ’n perske.

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=708
Artikel nagegaan:
    -