blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Dramatiese plan teen misdaad; Nuwe ministerie moontlik geskep 2006-10-18
Kleinjan Schietekat

“Die regering het die mense gehoor en besluit om tot aksie oor te gaan.” So sê ’n hoë amptenaar van die Presidensiële Beplanningseenheid wat pas in ’n eksklusiewe onderhoud met Die Vrypostige Afrikaan die aap uit die mou gelaat het oor wat die regering in die skild voer om misdaad nou eens en vir altyd hok te slaan. Die amptenaar het met ons gesels pas na afloop van ’n onlangse lekgotla van die kabinet, wat gehou is nadat daar by twee ministers se huise in die parlementêre woonkompleks in Grootte Schuur, Kaapstad, ingebreek is.

      “Ons het besef dat ons nie genoeg doen om met die mense van die land oor misdaad te kommunikeer nie. Baie mense verstaan byvoorbeeld nog nie dat misdaad die gevolg is van 350 jaar van apartheid en kolonialisme nie, net soos wat baie mense nog nie verstaan dat Suid-Afrika wel baie ander dinge het waaroor ons goed kan voel nie, soos nuwe swart miljardêrs, voorlopige vrede in verskillende Afrikalande waar ons help bemiddel, of suksesvolle nuwe Afrika-patatboere wat ons help om die stryd teen Vigs te wen.

      “Dit is vir die regering duidelik dat die meeste mense in die land nou verkeerdelik onseker en onveilig voel vanweë die media se oordrewe klem op misdaad, en daarom word dit oorweeg om ’n Ministerie van Onveiligheid en Onsekerheid te stig om dié persepsie reg te stel.

      “Een van die eerste take van so ’n ministerie sal wees om ’n kongres oor die korrekte vertolking en insameling van misdaadstatistiek te reël. Dit is byvoorbeeld nie seker of die definisie van dood waarmee statistiek tans ingesamel word, korrek is nie. Ons vrees dat die Westerse definisie van dood nog te swaar weeg in ons misdaadstatistieke. Diefstal moet ook herdefinieer word: die koloniste dink steeds dis diefstal wanneer die indigene terugneem wat eintlik aan hulle behoort. Daar is ook aanduidings dat mense die omvang van hulle eie dood oordryf ter wille van rassistiese publisiteit teen die regering. Hierdie is sake wat dringend aandag sal moet kry, want ook statistiek is nie neutraal nie en sal getransformeer moet word. Die nuwe ministerie sal waarskynlik die insameling van misdaadstatistieke op tender uitsit aan ondernemings van voorheen benadeelde groepe.”

      Volgens die amptenaar moet die Minister van Veiligheid en Sekuriteit se uitspraak dat die toekoms wat misdaad betref “rooskleurig” is, teen die agtergrond van hierdie aksieplanne gesien word. Die amptenaar sê dat “soveel dinge anders lyk as ’n mens net eers anders daarna kyk, en dat die noodsaak van ’n positiewe, patriotiese houding teenoor misdaad en statistiek nie genoeg beklemtoon kan word nie.”

      Hy vertel dat sy eie broer onlangs doodgeskiet is tydens ’n inbraak, maar dat ’n gesprek met ’n woordvoerder van die Trots Suid-Afrikaanse Veldtog hom gehelp het om in te sien “dat my broer in ’n sekere sin nie gesterf het nie, maar sy lewe gegee het vir die Nasionale Demokratiese Rewolusie wat nog nie afgehandel is nie. Ek is nou so begeester vir die Nasionale Demokratiese Rewolusie dat ek gereed is om nog broers en susters af te staan.”

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=712
Artikel nagegaan:
    -