blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


 
Eitemal, ons vroegste professionele liedteksskrywer 2006-09-13
Hennie Aucamp

*Jongste digbundel Dryfhout (Kaapstad, Tafelberg, 2005). Hierdie artikel het in Die Burger van 23 Junie 1981 verskyn as deel van ’n huldiging aan Eitemal met sy tagtigste verjaardag. Dit is op 25 en 26 Maart 2005 hersien en uitgebrei.

 

 

As baanbreker vir iets wat indertyd ’n volk genoem is – Afrikaanssprekend, let wel – het Eitemal, ofte wel J. du P. Erlank, onder groot druk “kultuurprodukte” gelewer, van referate op volksfeeste af tot by liedtekste vir die FAK se Volksangbundel. (Hoeveel jong mense weet nog dat FAK vir Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge staan?)

So baie van Eitemal se kultuurarbeid is deur die tyd ingehaal, omdat dit aan die politiek van ’n verbygegane era behoort. Wat eenmaal ernstig bejeën is, tref jou vandag as holle retoriek, maar in die 1930’s het die kultuurpolitieke toesprake van Eitemal ’n vonk geslaan uit die skares wat sy Dingaansdag-orasies bygewoon het. Hierdie toesprake het selfs tot die 1950’s geduur toe ek ’n student was op Stellenbosch.

As student van Eitemal het ek ’n ánder mens leer ken as die orator, naamlik ’n hoogs beskaafde man wat die Griekse Tragedie en Ibsen aan my voorgestel het in my Honneursjaar. Wel was ek, soos DJ Opperman, bewus van die spanning in Eitemal tussen nasionale strewes en universele waardes, maar in my omgang met Eitemal, later as student-assistent, het dié dualisme nooit ’n rol gespeel nie. Ek het net van Eitemal die Europese kultuurmens kennis geneem, en ontsaglik baie by hom geleer. Hy het my onder meer as skrywer help vorm, en respek vir woordgebruik en prosaritme by my gevestig. Sy kort, versigtige voorwoord tot my eerste bundel, Een somermiddag, het ’n groot verantwoordelikheid op my geplaas, want hy het dié orakelwoord gespreek: “Dít verwag ek van hierdie skrywer: Hy sal daardie latere, dieper dinge óf glad nie sê nie, óf net so eerlik en onbevange sê as hierdie eerste indrukke van sy jeug.”

Wat sou Eitemal in later jare van my (lied)tekste gedink het, talle uitgesproke eroties? Die urbane gees in hom sou dalk besef het dat ek Afrikaans na nuwe terreine wou neem, met woordskeppinge wat “nuwe gevoelighede” wil uitsê. Dit kan ook wees dat hy droewig sou gevoel het omdat ek in pienk en lila-areas inbeweeg het.

Die een stuk kultuurarbeid van Eitemal wat nie deur die tyd gekanselleer is nie, maar tot die huidige dag toe voortduur, is sy liedteksvertalings vir die FAK. Jong mense van die een-en-twintigste eeu het hulle herontdek, en sing hulle selfs op laserskywe, en Bambi heraktiveer hulle ook, sy dit by wyse van ironie. Bambi – die Nazi-suster van Evita Bezuidenhout – beskou die FAK-sangbundel as haar privaat-Bybel. Daar is natuurlik iets hoogs ambivalents omtrent Pieter-Dirk Uys se flirtasie met die Weimar-kultuur, ’n kwessie wat om nader ondersoek vra. Waar is jong M-studente met ’n kultuurpolitieke agtergrond?

’n Mens merk telkens hoeveel vreugde Eitemal aan sy FAK-arbeid gehad het. Hy het in sy beste liedtekste die digter in hom vrygestel – soos daardie “bange vlinder” waarvan hy in een liedteks skryf.

Enkele voorbeelde van Eitemal se FAK-werk:

As ek moeg word vir die lewe in die stad

Lok my die wandelpad

In die veld pluk ek ’n wandelstaf

Van die naaste doringboompie af,

En sing my wandellied

of:

Goud en silwer het ek lief,

met hul kartelrandjies –

Lank aan Pa my bedelbrief,

Kort bly die kontantjies.

Platsak sit ek tuis en kwyn,

En ek sien van verre

Net die maan se silwerskyn,

Goudlag van die sterre.

 

Dis miskien die allergrootste kompliment aan Eitemal dat mense vandag waarskynlik glad nie weet wie die pas aangehaalde woorde geskryf het nie. Vir hulle was die woorde altyd daar, onvervreembaar deel van die lied wat hulle sing; en hiermee word Mark Twain se uitspraak omtrent ’n volksliedjie bevestig: “A song that nobody ever wrote.”

Eitemal se liedtekste in die bekende FAK-volksangbundel moet teen twee agtergronde gesien word.

As voorsitter van die Johannesburgse Kunsvereniging (1928-1935) het Eitemal dikwels sangkompetisies vir solo- en koorsang gereël. Geskikte musiek moes uit nood vertaal word, en hiermee het hy sy leerskool as liedteksskrywer deurloop.

’n Tweede agtergrond is Eitemal se referaat “Kulturele betekenis van die volkslied” (kyk Die Huisgenoot van 29 Januarie 1932) wat by ’n Kultuurkongres in Desember 1931 gehou is. Dié referaat is ook ’n credo wat Eitemal se hele filosofie omtrent volksang binne die volkslewe uiteensit – “’n ritmies-melodiese vertolking van daardie volk se innerlike wese,” sê hy op een plek.

Daarom verset hy hom dan ook heftig teen “vreemde aangewaaide sentimentaliteite”, en teen die “oorryp produkte van ’n oorryp, dekadente beskawingslewe”.

Die ironie is dat so baie van die liedere wat in die FAK-bundel opgeneem is, uit Europese tale vertaal is, meestal uit Duits; ook die meerderheid van Eitemal se liedtekste. (Herskeppings of herdigtings sou ’n beter benaming wees as “vertalings”.)

Die Duitse Hoogromantiek, met sy hernieude belangstelling in die volkse, is ’n onloënbare kultuurelement in die Afrikaanse kultuurlewe van voor, tydens en selfs ná die Tweede Wêreldoorlog. Sekerlik het die Wandervögel-kultuur en die daaruitvolgende Hitler Jugend-kultus hul intrede gedoen in die stap- en piekniek-musiek van die Afrikaner; beslis in dié van my generasie. Male sonder tal het ek in my bergklimjare geluister “na my eie voeteval/op pad oor berg en dal”.

As gewikste redenaar kry Eitemal dit byna reg om die verduitsing van die Afrikaanse kultuur goed te praat. “Volksliedere,” sê hy, “is die grootste wêreldwandelaars,” waarmee hy op hul aanpasbaarheid aan nuwe kulture dui.

Die verafrikaansing van “Sarie Marais”, “Die brug op ons plaas”, “Wanneer kom ons troudag, Gertjie?” is dus vir Eitemal aanneemlik, want “selfs as ingeburgerde volksliedere is hulle frisser, gesonder, lewenskragtiger as sommige van die goedkoop ballademusiek . . . vandag.”

Of dié vertalings, mooi soos hulle is, die “tuisnywerheid” voldoende gestimuleer het, bly ’n ope vraag. ’n Veel sterker invloed op die tuisnywerheid was die Musiek & Liriek-beweging van die 1980’s, onder leiding van Merwede van der Merwe en Rosa Keet.

Daar is ’n sterk ooreenkoms tussen sommige gedigte in Weerklankies (1928) en Phaeton en ander verse (1931) en Eitemal se “toegepaste verse” (liedtekste), veral die sangerige verse wat soms met hul titel reeds hul singbaarheid verklaar, soos “’n Cabaretliedjie”, “’n Somerliedjie”, “Ligte liedjie”.

Dis tog jammer dat laasgenoemde lied later, in Jan Bouws se verwerking, as “Ou Magjaar se liedjie” bekend geraak het: die oorspronklike titel was minder dubbelsinnig. Eitemal het inderdaad, ná die lees van ’n bundel Engelse vertalings van Hongaarse (Magjaarse) volksliedjies, tot sy eie skepping gekom (“Ligte liedjie”); maar baie mense dink tot vandag toe dat Ou Magjaar ’n volksmens is, stellig bruin, baie soos “Ou Sagrys” en “Ou Flenterkatiera” van WEG Louw. (Interessant dat albei Louw-broers in die 1930’s tot die herontdekking van die volksliedjie gekom het – Duitse invloed?)

Die drinklied speel ’n opvallende rol in Eitemal se digwerk, en weer moet gevra word: Duitse invloed? Dink aan “Kom nou kêrels”, ’n tradisionele studentelied, verwerk deur Dirkie de Villiers, wat só begin:

Kom nou kêrels, laat ons sing,

Skuif die boeke nou opsy!

Al die bitter jermiades,

al die skandes en die skades

van die bloktyd is verby.

 

Talle van Eitemal se liedtekste was “blitsarbeid”, soos DJ Opperman Eitemal se opdragwerk noem. Soms, só het Eitemal hom in ’n gesprek met my herinner, het hy sommer ’n paar liedtekste op een aand geskryf. Enkele liedtekste toon dan ook spore van oorhaastigheid, soos ’n “magtige dreuning” wat “gesweef” kom, of die twee g’s wat onmiddelik op mekaar volg in die reël “Hoe sag gly ons bootjie”, en betekenisverwarring kan skep.

Die hang na die retoriese en die clichématige wat Eitemal se poësie soms ontsier, val minder op in sy liedtekste. Die clichématige is trouens tiperend van die meeste liedtekste, soos byvoorbeeld dié van Noël Coward, wat toevallig ook hoogs produktief was in die 1920’s en 1930’s. Dis of ritme en klank die clichématige in ’n liedteks demp of selfs besweer, soos in die volgende strofe van Eitemal:

Hoor die blomme en die blare

Bewend van die winter praat,

Doodgedoemde martelare,

Siek, en van die son verlaat.

 

Selfs met bogemelde toegewing moet erken word dat sommige van Eitemal se liedtekste reddeloos verouder het. Party van sy nasionale oproepe, nogal bombasties in aanslag, klink ver verwyder van die politiek van die nuwe millennium; en talle van Eitemal se liefdesliedjies is vir die eietydse smaak te onskuldig en simplisties.

Het dié vereenvoudiging dalk met die tipiese idealisme van die romantikus te maak? Ek herinner my hoe Eitemal op ’n BTK-toer in die 1970’s opgegee het oor jong BTK-lede, almal studente, wat dan ook “in hul erotiese lewe kerngesond” sou wees. (’n “Kerngesonde erotiese lewe” is natuurlik ’n verskuiwende begrip. Wat vir een mens ’n elikser is, is vir die ander gif; en so was dit van altyd af.)

Die (Suid)-Afrikaner het sedert 1931 (die jaar van Eitemal se referaat) ’n stadskultuur ontwikkel, plaasromantiek van die óú soort is vir altyd daarmee heen. Die volgende reël van Eitemal gaan hoegenaamd nie meer op nie: “Die liefde is nog ’n natuurlike uiting van somerwarme lewensvolheid, die beminde is ’n fris, gesonde Boerenooi, wat jy met ’n spogperd moet benader voor die huwelik, en met ’n rooiwielwa en ’n rooi span osse moet wegneem na die huwelik.”

Die verse en liedtekste waarin Eitemal op sy boertigste is, toon ’n veel sterker oorlewingsvermoë as sy sentimentele verse. Die ruie boerehumor van sy Wes-Transvaalse verhale in Skaduwees teen die muur weer vanself sedeprekery, en so ook die humor in byvoorbeeld die slotstrofe van “Die kreukels in haar rok”:

Ek ken ’n Boerenooi

Met wange glad te rooi,

Doedeldidado, doedeldidaho!

En oog wat nie meer jok

En kreukels in haar rok.

Doedeldidado, doedeldidaho!

                (Net jammer van die gejodel doer op die vlak van Wes-Transvaal.)

 

Daar is ook ander tekste in die FAK-sangbundel, van ander skrywers, wat nie rekening hou met die dilemmas van eietydse Afrikaanssprekendes nie; jong mense vir wie selfs Koos du Plessis se “Sprokie vir ’n stadskind” te romanties is.

Desondanks en desnieteenstaande kan eietydse liedteksskrywers baie van Eitemal, ons eerste liedteksskrywer, leer. Sy liedtekste is toeganklik en hoogs singbaar, en hieraan, onder andere, dank hulle hul oorlewing. Hoeveel van vandag se liedtekste gaan nog na sewentig jaar met oorgawe gesing word? (Laat maar vir een oomblik van die Duitse “bloudruk” vergeet word.)

Dis jammer dat Eitemal so skraps toegegee het aan sy “dekadenter” self; soms in “’n liedjie van verlange”, soms in ’n versigtige kabaretliedjie; dikwels in drinkliedere, soos in die volgende eieskepping:

Nog ’n skuinse grappie, kêrels,

Nog ’n glasie wyn,

En die gore werklikheid

Sal in mis verdwyn.

 

Vonkelwyn en skaterlaggies

Sprinkel oor ons leed,

Tot ons al die muf misérie

Om ons heen vergeet.

 

Styf gearm huis toe slinger

Onder singlawaai,

Wyl die dronk ou wêreld om ons

Rondomtalie draai.

 

Bogemelde gedig, “Drinklied”, pleit om toonsetting, selde deur wie, man of vrou, maar verkieslik uitgevoer deur ’n man, want manlike erotiek lê smeulend ingebed in hierdie “dekadente” teks.

Die tweespalt in Eitemal se psige is nooit bevredigend opgelos nie. Hy het, soos talle baanbrekers, voorrang verleen aan wat hy gevoel het sy openbare taak is, eerder as om te doen wat hy wíl doen en wat vir hom persoonlike plesier verskaf.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=706
Artikel nagegaan:
    -