|
||||
JWH Ferguson
* Sentrum vir Omgewingstudies, Universiteit van Pretoria
Wat is volhoubaarheid? Die begrip van volhoubaarheid kom uit die bewuswording daarvan dat mense natuurlike hulpbronne nodig het vir oorlewing. Hierdie hulpbronne wissel van skoon lug en water tot boustowwe soos hout en metaal. Hierdie bewussyn was nie altyd daar nie, maar het eers gedurende 1972 gestalte gekry toe verteenwoordigers van 28 lande, insluitende die VSA, bymekaargekom het vir die Stockholmse konferensie oor die menslike omgewing. Hierdie konferensie het die noodsaak beklemtoon van sterk optrede om skade aan die menslike omgewing te beperk. Een van die uitkomste van die konferensie was Earthwatch, ’n wêreldwye omgewingsopname. Die Stockholm-konferensie het daartoe gelei dat die Wêreldkommissie vir die Omgewing en Ontwikkeling van die VN in 1987 die sogenaamde Brundtlandverslag uitgebring het, genoem na Me. Gro Harlem Brundtland, die Noorweegse voorsitter van die komissie. Die Brundtlandverslag het beklemtoon dat baie armoede wêreldwyd meegebring word deur ’n verswakkende omgewing, en het volhoubare ontwikkeling gedefinieer as “ontwikkeling wat a) die behoeftes van die huidige geslag aanpak b) sonder om die behoeftes van toekomstige geslagte in gevaar te stel”. Daar is baie bykomende definisies vir volhoubaarheid, maar die meeste daarvan sluit hierdie twee beginsels in. Hierdie etiese reëls is ook beliggaam in die verskillende verdrae wat gesluit is tydens die spitsberade in Rio de Janeiro (die sg. Aardeberaad, 1992) en later in Johannesburg (2002). Die beraad in Rio de Janeiro het ’n breë raamwerk gestel vir ’n verskeidenheid van internasionale ooreenkomste. Die bekendste hiervan was die Konvensie oor Biodiversiteit, wat gehandel het oor die volhoubare benutting van en toegang tot biodiversiteitshulpbronne. Dis ironies dat die VSA tot op hierdie tydstip nog nie hierdie konvensie bekragtig het nie: 188 ander lande het wel. Die oogmerk van hierdie verdrae was om op internasionale vlak gestalte te gee aan beleidstellings wat volhoubaarheid inhou, soos verwoord in ’n dokument, Agenda 21. Die begrip volhoubaarheid is baie verbreed binne die Suid-Afrikaanse verband, gesien die politieke verlede van ons land. So byvoorbeeld verklaar die Nasionale Omgewingsbestuurswet (nr. 107 van 1998; NEMA) as een van sy grondbeginsels dat “ontwikkeling volhoubaar moet wees in soverre dit die maatskaplike, omgewings- en ekonomiese aspekte betref” (let op die volgorde), asook dat “alle omgewingsbestuur mense en hul behoeftes voorop (moet) stel en hul fisiese, sielkundige, ontwikkelings-, kulturele en maatskaplike behoeftes (moet) dien”. Die vraag wat ontstaan, is in watter mate die voldoening aan maatskaplike behoeftes die beskerming van die fisiese omgewing kan beïnvloed (voordelig of nadelig), en of die klem nie besig is om weg te skuif van ons onvervangbare natuurlike hulpbronne, wat die hoofdryfveer agter internasionale omgewingsbeleid sedert die Stockholm-konferensie was nie.
Ekonomiese ontwikkeling en volhoubaarheid
Paul Ehrlich, die bekende Amerikaanse bioloog, het ’n sterk argument daarvoor uitgemaak dat lande wat ekonomies onderontwikkel is, ’n baie kleiner per capita-effek op die omgewing het as ontwikkelde lande. Hierdie stelling is in ’n groot mate waar, want inwoners van sentraal-Afrika het nie luukse motorvoertuie met V8-enjins, dubbelverdiepinghuise of rekenaarspeletjies nodig nie, en daarom is hul per capita-omgewingsimpak baie laag. Byvoorbeeld, inwoners van Bangladesh gebruik sowat 144 olie-kg-ekwivalente per capita per jaar om energie te verskaf vir oorlewing, terwyl die vergelykbare syfer vir die VSA sowat 8 000 is, ’n vyftigvoudige verskil. Sommige mense romantiseer om hierdie rede onderontwikkeling. Wat waar is, is dat Westerse ekonomiese ontwikkeling ’n groot omgewingseffek het op enige land, selfs in die geval van onderontwikkelde lande. ’n Land soos die Verenigde Arabiese Emirate se per capita-energieverbruik het oor veertig jaar toegeneem van ’n syfer vergelykbaar met dié van Bangladesh tot 11 331, die hoogste verbruiksyfer ter wêreld. Die dryfveer hieragter was natuurlik die besteding van die reusagtige inkomste uit olieverkope gedurende hierdie tydperk. Die VSA het tans ook een van die hoogste per capita-omgewingsimpakte ter wêreld met betrekking tot energiegebruik, vrystelling van kweekhuisgasse en verskeie ander maatstawwe. Kapitalisme en in die besonder materialisme het dus ’n baie nadelige uitwerking op die volhoubaarheid van omgewingshulpbronne. Die vraag is in watter mate Westerse ekonomiese ontwikkeling gaan voortduur voordat ons natuurlike hulpbronne soos olie, goud, water en ander hulpbronne opgebruik is. ’n Ekonomiese groeikoers van 6% (soos die Suid-Afrikaanse regering in die vooruitsig stel) behels die ooreenstemmend versnelde gebruik van beskikbare omgewingshulpbronne. Dit is duidelik dat ekonomiese groei op sigself nie volhoubaar is nie. Die verantwoordelike langtermyndoelwit behoort ekonomiese hervorming te wees om ’n groter aantal mense van lewensmiddele te voorsien met die bestaande (of selfs ’n verlaagde) ekonomiese omset. Hierdie perspektief is nie gewild onder ekonome nie, maar dit het die afgelope dekade aanleiding gegee tot die vakgebied van ekologiese ekonomie (ecological economics). ’n Onlangse boek deur twee Suid-Afrikaanse ekonome, James Blignaut en Martin de Witt, (Sustainable Options, Juta 2004) beklemtoon die swakhede in die paradigma van aanhoudende ekonomiese groei: “a world posessed by the ideology of growth”. Dis boeiende leesstof.
Hoe kan volhoubaarheid bereik word?
Daar word natuurlik al lank gepraat oor die ekonomiese prosesse waardeur volhoubaarheid behaal kan word. Dit word algemeen aanvaar dat die impak van die ekonomiese proses op die omgewing nie ingesluit word by die pryse van produkte nie, wat ’n faling van die ekonomiese proses (market failure) tot gevolg het. Die koste van hierdie omgewingsimpak is ’n eksternaliteit, met ander woorde, dit word nie gemeet as deel van die konvensionele ekonomiese proses nie. Voorsiening rakende lugbesoedeling word nie ingereken by die vervaardigingsproses nie, waarskynlik omdat dit moeilik is om geldwaarde te heg aan skoon lug. Daar is twee basiese benaderings om markfaling te bekamp. Die konvensionele benadering is dié van omgewingsekonomie (enviromental economics) wat van die standpunt uitgaan dat volhoubaarheid behaal word deur die internalisering van die eksternaliteite, dit wil sê, deur prosesse soos besoedeling deel te maak van die kosteberaming van ’n vervaardigingsproses. Op hierdie manier betaal klante vir die omgewingseffek van produkte en kan die opruiming van die omgewing ekonomies bekostig word. Die populêre benadering van “morsjorskostes” (polluter-pays principle) volg regstreeks uit omgewingsekonomie en was die direkte dryfveer agter inisiatiewe soos die onlangse regulasies oor plastieksakke en is ook in die nasionale omgewingswetgewing ingebou. Omgewingsekonomie vertrek vanuit die aanname van ’n bestaande ekonomiese proses en hoe dit aangepas kan word om omgewingsimpak in berekening te bring. In teenstelling hiermee is die benadering van ekologiese ekonomie, wat uitgaan van die standpunt van omgewingsdienste (environmental services) wat bepaal of ’n ekonomiese proses hoegenaamd wenslik is. Omgewingsdienste sluit prosesse in soos die verskaffing van skoon water, bewaring van water (byvoorbeeld vleilande), skoon lug, vrugbare grond en biodiversiteit. Byvoorbeeld: volgens ekologies-ekonomiese beginsels word die wenslikheid van die aanbring van ’n plantasie op die Drakensbergse platorand bepaal deur die uitwerking wat dit gaan hê op die hoeveelheid en gehalte van water in die betrokke opvanggebied en die effek wat dit het op grondkwaliteit en biodiversiteit. Indien die omgewingskostes groter is as die voordele wat die plantasie as houthulpbron inhou, is dit nie wenslik om die plantasie te vestig nie. Die bekende versigtigheidsbeginsel (cautionary principle) waarvolgens ekonomiese prosesse nie aangepak word indien hulle nadelige omgewingseffekte nie gekwantifiseer word nie of groter is as hulle voordele) is nou verwant aan ekologies-ekonomiese beginsels. Die gemeenskaplike probleem vir sowel omgewings- as ekologiese ekonomie is ’n objektiewe ekonomiese waardebepaling van omgewingsdienste of die beskadiging daarvan, tans ’n aktiewe navorsingsveld.
Is internalisering prakties bereikbaar?
Die verskaffing van kernkrag as bron van energie kan as voorbeeld dien van die problematiek rondom die internalisering van omgewingskade. In hierdie geval is die koste van internalisering maklik berekenbaar: die koste van die veilige berging van kernafval. Die afval van kernkragsentrales word geklassifiseer in verskeie grade van skadelikheid. Die gevaarlikste afval is waarskynlik die plutonium-uitskot wat ’n halfleeftyd van etlike tienduisende jare het. Die radioaktiwiteit van hierdie afval is ’n gesondheidsrisiko vir mense en daarom word dit op “veilige” plekke geberg. Baie keer word dit geberg in “geologiese bergruimtes”, dit wil sê, ondergrondse bergplekke wat dieper lê as die gewone watertafelvlakke. Die sogenaamde korrelbed- modulêre reaktors (KBMR/PBMR) wat vir Suid-Afrika beplan word, het meer afval per kWh elektrisiteit as konvensionele kernreaktors, alhoewel dit ’n laer graad van radioaktiwiteit sal hê. Die internalisering van die hoë koste om die afval te berg, word op allerlei maniere bewerkstellig. Gewoonlik word die afval geberg deur staatsinstansies wat die waarborg lewer dat die afval op verantwoordelike wyse gehanteer word. In sulke gevalle word die kostes gewoonlik as deel van die belastingheffing ingewin. In sowel die VSA as Frankryk word ’n heffing van sowat 0.1 sent/kWh gehef (sowat 2% van die totale energiekoste aan die publiek). Die probleem is dat die enigste direkte kostedekking vir berging dié is wat tydens die opwekking van die elektriese krag geskied, terwyl daar elke jaar betaal moet word vir die berging van kernafval wat gebruik is om in die verlede krag op te wek. Indien die volle koste gehef sou word vir die berging van kernafval oor ’n tydperk van 40 000 jaar sal die koste per kWh geweldig hoër wees as wat tans betaal word. Ek het nog geen volledig uitgewerkte kosteskatting vir die ultra-langtermynberging van kernafval gesien nie, en die saak is tans baie kontensieus in die VSA en in Brittanje. Die gevolgtrekking is dat, waar ’n groot deel van die omgewings-eksternaliteite in die geval van kernafval relatief maklik berekenbaar is (oneindig makliker as die vrystelling van kweekhuisgasse), is daar nog nie die politieke wil om ’n algemeen aanvaarde en sistematiese metode te vind om internalisering van sulke kostes te laat plaasvind nie: dit plaas ’n vraagteken oor die volhoubaarheid van kernkrag.
Bestaan die politieke wil om volhoubaarheid te bereik?
’n Belangrike bron van kommer vir sover dit die omgewing betref, is die internasionale uitvoer van gevaarlike afval vanaf ontwikkelde lande na onontwikkelde lande. Laasgenoemde lande kan ’n bedryf uit afval maak deur dit teen betaling te ontvang en te berg. Natuurlik is dit ’n vuil spel, letterlik en figuurlik. Die Basel-Konvensie van 1989, met inbegrip van wysigings wat later aangebring is, plaas streng beperkings op die oorgrensbeweging van gevaarlike afval. Weereens het die VSA tot nog toe nie die konvensie bekragtig nie, terwyl die EU die konvensie in sy geheel in hul wetgewing ingebou het. Daarom is daar waarskynlik wel internasionale vordering op hierdie gebied. Die implementering van die Kyoto Protokol is ’n voorbeeld van die internasionale pogings tot volhoubare ontwikkeling wat moontlik kan misluk weens gebrek aan die volle saamwerking van alle partye. Die Kyoto Protokol is ’n internasionale verdrag waarin 162 lande onderneem het om teen 2008 hul vrystelling van sg. “kweekhuisgasse” (hoofsaaklik koolstofdioksied en metaan) te verminder tot 5% benede die die vlakke waarop dit teen 1990 was. Menslike vrystelling van kweekhuisgasse in die atmosfeer is hoofsaaklik die gevolg van die opwekking van industriële energie en is een van die belangrike faktore wat aardverwarming teweegbring. Lande wat die verdrag onderteken het, het by implikasie onderneem om hul industriële prosesse aan te pas om minder kweekhuisgasse vry te stel en om dus die koste van die vrylating van hierdie gasse te internaliseer. Die implementering van sulke veranderinge is duur en sal die pryse van energie beïnvloed. Die toestand word versleg deur die feit dat die koste van internalisering uiteindelik die vrystelling van kweekhuisgasse oor die afgelope 15 jaar en langer sal moet neutraliseer. Die Westerse wêreld het dus verskeie dekades “op skuld” geleef in terme van die internalisering van die skadelike uitwerking van kweekhuisgasse en die Kyoto Protokol verseker dat ’n deel van hierdie skuld nou ingevorder word. Die VSA en Australië het tot dusver in gebreke gebly om die verdag te bekragtig: hulle standpunt is dat die internalisering van die effekte van kweekhuisgasse te duur is en hul ekonomieë sal skaad. Die meerderheid van die besware wat die VSA opper oor die geldigheid van wetenskaplike teorieë oor aardverwarming het te make met die genoemde ekonomiese agenda. Die Europese lande het so sterk gevoel oor die implementering van die Kyoto Protokol dat hulle op eie houtjie voortgegaan het met die bekragtiging en implementering daarvan in hul eie lande, onafhanklik van die standpunte van die VSA en Austalië. Die bekragtiging daarvan deur Rusland het die finale stukrag verleen om die verdrag te in werking te stel in lande wat dit wel bekragtig het. 'n Duidelike voorbeeld van die gebrek aan wil om volhoubaarheid te bereik, is die geskiedenis van die oorbenutting van die wêreld se visbronne. In weerwil van die Internasionale Konvensie oor Visvangs en die Benutting van Mariene Hulpbronne (1958) sowel as uitvoerige wetenskaplike inligting en voorspellings oor die vernietiging van hierdie hulpbron is die meeste visbronne van die wêreld sódanig oorbenut dat hulle nie binne ons leeftyd na die oorspronklike vlakke van beskikbaarheid voor oorbenutting kan herstel nie. Die Voedsel- en Landbou-Organisasie (FAO) van die VN verklaar dat die meerderheid van die visbronne óf ten volle, óf oorbenut word en dat visvangste uit die see ondanks nuwe tegnologie sedert 1987 staties was. Verskeie visindustrieë in die noordelike halfrond het verdwyn. In hierdie gevalle het goeie wetenskaplike kennis nie die politieke wil aangewakker nie. Uiteindelik bepaal die aantal mense die hoeveelheid hulpbronne wat benodig word, synde dit binne ’n bepaalde land of wêreldwyd. Die beperking van bevolkingsgrootte is ’n baie onpopulêre onderwerp in die onderontwikkelde wêreld. Die vraag of volhoubaarheid van hulpbronne binne die bestaande kapitalisiese stelsel behaal kan word, kan nie met ’n duidelike “ja” of “nee” beantwoord word nie, maar hang grotendeels af van die lewenstandaard waarop ons staatmaak. Indien die materialistiese Amerikaanse leefstyl aanvaar word, is die moontlikheid van volhoubaarheid uiters skraal - trouens, die VSA eksploiteer op sommige maniere die dissipline wat ander lande aan die dag lê ten opsigte van omgewingsbenutting. Indien die Europese, meer besuinigende lewenstyl aanvaar word, asook die mentaliteit wat daarmee saamgaan, is daar ’n moontlikheid dat ons langer sal kan oorleef met die bestaande hulpbronne. |