| |||
Pieter Kapp
*Besoekende navorsingsgenoot, Departement Geskiedenis, Universiteit van die Vrystaat, [email protected]
Mense se toekomsverwagtinge is bepalend vir hulle optrede in die hede en hulle oordeel oor die verlede. Dit geld in mense se individuele lewens ten opsigte van hulle persoonlike welsyn en vooruitgang en geld ook eweseer in hul groepsverwagtinge en vooruitsigte.
Dit is die toekomsverwagting van ’n groep/gemeenskap/ kultuur/volk/staat wat die energie genereer om skeppend met die hede om te gaan in die geloof dat hulle daardeur ’n beter weg na die toekoms skep. Die geskiedenis van die Westerse beskawing is ondenkbaar sonder die stroom literatuur wat bedoel is om hierdie toekoms bepalend te beïnvloed. Die oorgrote meerderheid daarvan bly in die privaat domein van die skrywer(s) en die intellektuele gemeenskap. Enkeles word bepalende dokumente in die geskiedenis. Dit gebeur omdat dit wat oorspronklik vir ’n spesifieke individuele omstandigheid verwoord is, in die loop van die geskiedenis ’n veel wyer toepassing vind. Daardeur word dit manifestasies in die openbare domein. Dit funksioneer as ’n stel waardes en beginsels waaroor ’n bepalende konsensus gegroei het en wat daarom die besit van die groter eenheid word. Die status van so ’n verklaring of manifestasie word bepaal deur die mate waarin dit in die openbare domein – hoofsaaklik, maar geensins uitsluitend nie, die politieke terrein – inhoud aan verskillende beleidstandpunte kan gee. Talle volke en belangegroepe het sodanige manifeste wat hulle toekomsideale en posisionering verteenwoordig. Daar is egter drie sodanige stelle dokumente wat in die loop van die geskiedenis ’n buitengewone internasionale status en erkenning ontwikkel het. Elkeen het in die besondere omstandighede van sy tyd ontstaan, met ’n beperkte toepassing op net een belang, maar omdat die geskiedenis die beginsels daarin vervat voortdurend opnuut geïnterpreteer en veel algemener toegepas het, het dit die status van klassieke manifeste met internasionale betekenis en toepassing ontwikkel. Die eerste is die drie basiese manifeste of oktrooie waarop die Britse parlementêre monargie gebaseer is: die Magna Carta of Great Charter van 1215, die Petition of Rights (1415) en die Bill of Rights (1689). In die geval van die VSA is dit Declaration of Independence (1776) en die Bill of Rights wat die eerste twaalf artikels van die Amerikaanse grondwet soos in 1791 finaal bekragtig is, verteenwoordig en wat as die basis van die moderne republikeinse demokrasie dien. Die derde dokument is die Franse Verklaring van die Regte van die Mens (1789) wat die basis vorm van die klem op menseregte in die hedendaagse wêreld. Twee Westerse dokumente wat as manifeste ’n belangrike maar omstrede en veel minder algemeen aanvaarde rol speel, is Adam Smith se The Wealth of Nations (1776) wat die intellektuele basis van klassieke kapitalisme sou vorm en Karl Marx se Das Kapital (1848) wat die basis van die klassieke sosialisme en kommunisme sou vorm. Bogenoemde dokumente vertoon bepaalde gemeenskaplike kenmerke. Hulle begin almal as individuele klagtes, besware of verset. Dit ontwikkel vanweë bepaalde omstandighede spoedig tot algemene klagtes en verset wat dan op grond van algemene beginsels en belange verwoord word in eise of vereistes wat gestel word om te verseker dat soortgelyke griewe in die toekoms op billike en deelnemende wyse gehanteer sal word. Daardie eise en beginsels is aanvanklik net van toepassing op ’n geselekteerde groep – dit is eksklusief, maar word in die loop van die geskiedenis toenemend inklusief om alle belange te kan insluit.
‘n Afrikaanse tradisie?
Is daar in Afrikaans vir Afrikaners tekste/uitsprake/geskrifte wat beskou kan word as manifeste waarin hulle toekomsverwagtinge en die basiese beginsels van hoe die samelewing bestuur en ontwikkel behoort te word, verwoord word en wat die vermoë bevat het om van eksklusief na inklusief ontwikkel te word? Daar het nog altyd ’n boeiende debat geheers oor die vraag in hoeverre Afrikaners se denke oor hulle toekoms ’n historiese diepgang verteenwoordig. Hoewel Afrikaanse denke al lank besig is om so ’n proses te deurloop op grond van geskrewe bronne, is die einde van die debat nog nie sigbaar nie. Dit is trouens ’n ope vraag of die einde van so ’n debat ooit bereikbaar of wenslik is. Die pogings van enige groep/volk/kultuur/staat om hul eie toekomsideale en verwagtinge in ’n verklaring tot woorde en waardes te bring, hang nou saam met die vraag hoe hulle hulleself sien. Wat is hulle identiteit, wat is hul waardes en wat is hul belange op ’n gegewe tydstip? Vir Afrikaners het die vraag al so dikwels konkrete vorm aangeneem met vrae soos: Wie en wat is ’n Afrikaner? Wat is die verband tussen identiteit en nasionalisme? Hoe word verskillende identiteite in ’n gemeenskaplike omvattender bewussyn versoen of verteenwoordig? Wanneer het ’n Afrikaanse identiteit en Afrikaanse denke ontstaan? Is daar iets soos Afrikanerdenke? Op hierdie vrae is ’n verskeidenheid antwoorde gegee wat ter wille van hanteerbaarheid tot die volgende eenvoudige en basiese beskouinge gereduseer kan word:
· Die aanspraak dat so ’n bewussyn van eie identiteit en eie toekomsverwagting reeds vroeg in die Kompanjietyd onder die dominante Nederlandse koloniste ontwikkel het. Dit is soms teruggevoer na die instelling van die Vryburgers in 1657. Ander het dit gekoppel aan die verset van die koloniste teen Willem Adriaan van der Stel in 1706, en nog ander aan die verset van die Kaapse koloniste teen die onbevoegde bestuur van die VOC sedert 1779, in die geskiedenis bekend as die Patriotte-beweging, en koppel hierdie beweging dan aan die sogenaamde republikeinse strewe van Swellendam en Graaff-Reinet in 1795. In die geskiedskrywing word ook debat gevoer oor die vraag in hoeverre die Groot Trek ’n uitdrukking van ’n nasionale bewussyn by Afrikaners verteenwoordig. Die opstand teen die Britse anneksasie van die Transvaal in 1881 en die ontstaan en ontwikkeling van die Genootskap van Regte Afrikaners in 1875 en die Afrikanerbond in 1879 word almal as fases in hierdie ontwikkeling gesien. Elkeen van hierdie standpunte het sy bepaalde voorstanders wat daarin die werklike oorsprong van ’n Afrikaanse toekomsverwagting en toekomsideaal en die manifestering van ’n duidelike nasionale politieke bewussyn meen terug te vind. Elk van die ander mededingende groepe in die Suid-Afrikaanse samelewing speel dan ’n marginale rol in die ontwikkeling van hierdie bewussyn en word as probleme of uitdagings gesien wat gehanteer moet word. · ’n Tweede standpunt is dat identiteitsbewussyne, en die daarmee gepaardgaande vooropstelling van die eie groep se belange en toekomsverwagtinge, ’n moderne twintigste-eeuse politieke konstruksie is wat op die verlede teruggekaats word om eietydse magsbelange te dien. Oorspronge en tradisies word dan “uitgevind” of gebeure word so vertolk dat dit kan dien as bewys vir die ontstaan en ontwikkeling van so ’n strewe of bewussyn. · ’n Derde standpunt verwerp die gedagte dat toekomsideale uit idealistiese oorwegings van belangrike beginselsake soos vryheid, selfbeskikking, of demokratisering ontwikkel. Ras en klas is vir hierdie beskouinge die twee bepalende faktore op grond waarvan groepe hulself identifiseer. Dit is dus ’n klas of ’n rassebewussyn wat primêr bepaal hoe mense oor hulself en die toekoms dink en wat gewortel is in hulle sosio-ekonomiese posisie en verhoudinge.
Tien basiese “manifeste”
Die Afrikaner se vroeë geskiedenis is arm aan enige intellektuele inhoud van betekenis. Pogings om ’n Afrikaanse bewussyn ver terug te voer in die geskiedenis na byvoorbeeld die stryd teen Willem Adriaan van der Stel of die uitsprake van die onsekere karakter Hendrik Bibault is onoortuigend. Die koloniste in die VOC-tydperk het aan hulleself gedink as vry mense in ’n Hollandse samelewing, bestuur deur ’n onbevoegde handelsmaatskappy. Tog het die eerste tekens van ’n eie identiteitsbewussyn wel in hierdie tyd sy kop uitgesteek. Dit was egter die Britse oorname van die Kaap wat koloniale Afrikaners/Hollanders toenemend voor die vraag sou plaas: wie is ons en wat is ons rol en plek in hierdie samelewing? Soos in die geval van die klassieke Westerse manifeste het konflik die rede verskaf waarom mense oor hulleself en die toekoms moes begin dink en daarvan rekenskap gee. Dit was konflik teen die mag van die burokrasie, konflik teen die Britse mag en konflik met inheemse groepe oor grond en water en sekuriteit wat die lont van die selfondersoekproses na die toekoms aangesteek het. Die woelige geskiedenis van Afrikaners vanaf die 1830’s het eintlik ’n goeie teelaarde gebied vir die ontwikkeling van individuele standpuntstellings wat die potensiaal sou hê om uit te styg tot intellektuele erfgoed wat as bakens op die pad van Afrikanerdenke oor hulself beskou kan word. Watter tien dokumente/geskrifte/uitsprake sou histories as die betekenisvolste beskou kan word? Dit sal uit die aard van die saak van historikus tot historikus verskil. My persoonlike keuse sou die volgende wees:
1. Vier dokumente uit die tydperk 1779-1795 (die tydperk van die Amerikaanse en Franse Rewolusies en die Patriotteverset in Nederland) waarin die Kaapse koloniste in hulle versoekskrifte en verset duidelik ’n meer algemene denke verteenwoordig as die tradisionele partikuliere klagtes. In die Burgermemorie van 1779 word die kolonie as ’n burgerstaat (‘n staat waarin die belange van die burgers primêr is) beskryf en word geëis dat die burgers inspraak in die regering moet kry wanneer sake wat die burgery raak, ter sprake kom; dat hulle die reg moet hê om hul eie verteenwoordigers te kies en dat hulle groter vryheid in ekonomiese bedrywighede moet geniet. In die petisie van 1784 gaan hulle verder en beroep hulle op die Switserse, Nederlandse en Amerikaanse voorbeelde en stel dit as beginsel dat hulle staan op “het eene ontegenspreeklijke en onbetwisbare waarheid: dat alle beschaafden Volkeren des Aardbodens insonderheid der recht der Nature, onmiddelijk van God Almagtig hebben ontfangen wat die reg op sekuriteit van persoon en besit behels en wat deur die verteenwoordigers van “Volkstemme, geroepen en gesteld worden”. In die verklaring van die Extra Ordinaire Heemraad en Gecombinnerde Vergadering van Graaff-Reinet op 6 Februarie 1795 het hulle onderhorigheid aan die VOC opgesê. Swellendam het vier maande later verder gegaan en op 14 Julie 1795 verklaar dat hulle hulle nie langer as onderhorig aan die VOC beskou nie, maar as burgers van “ Ons Liewe Vaderland” die Vrye Republiek van Nederland. Denkbeelde uit Europa en die VSA, hoe beperk en oppervlakkig ook al begryp, het hul weg na die voorposte van die kolonie gevind. 2. ‘n Eiesoortige stel tekste is te vinde in die koerante van die jare 1828-1838, wat aantoon hoedat leidende Hollandse koloniste meer doelbewus aandag aan hul eie plek en rol in die Kaapse samelewing gegee het. Aanleidend hiertoe was die veroordeling van die koloniste se behandeling van die Khoi en veral John Fairbairn se skerp uitsprake teen die Hollandse koloniste in The South African Commercial Advertiser. Met die stigting van die koerant in 1824 het Fairbairn onderneem om niks te skryf wat wrywing tussen die Hollandse en Engelse koloniste kon veroorsaak nie. Teen 1831 het hy heeltemal hiervan afgewyk en die Hollandse koloniste in skerp taal veroordeel vir hulle gehegtheid aan hulle ou moederland en hulle bewustheid van hul Hollandse afkoms. ’n Aantal nuwe koerante het ontstaan waarin die ontluikende politieke bewustheid van ’n aantal Hollandse koloniste duidelik waargeneem kan word. Die koerant met die insiggewende naam De Zuid-Afrikaan het hom vanaf 1831 ten doel gestel om die belange van die Hollandse koloniste onder sy vleuels te neem en om ’n egte solidariteitsgevoel, gebaseer op wedersydse begrip en aanvaarding van mekaar, tussen Hollander en Engelsman te bou. Hoofartikels en briewe in dié koerant bied interessante leesstof oor hierdie ontwakende selfbesef by Afrikaners. Dit word veral geïllustreer deur die doelbewuste afwys van die naam kolonis en die gebruik van terme soos Zuid-Afrikaan, Afrikaan, Africanus en Africaner om hulleself te beskryf. In 1838 verskyn ’n koerant met ’n nog betekenisvoller naam wat veel weerklank in die Afrikaanse geskiedenis sou vind: De Ware Afrikaan ... Die spreuk van die Patriottebeweging van 1779 verskyn nou weer: Eendrag maakt magt. Die leuse van die nuwe koerant is Het Volk de Oorsprong van alle Magt. ’n Derde koerant wat ook in 1838 verskyn, De Meditator, het hom in reaksie op die veroordeling van die koloniste deur die Philip Fairbairn-groep en die Londense Sendinggenootskap ten doel gestel om ’n nuwe patriotisme by die koloniste te ontwikkel en hulle te laat besef dat hulle nie meer Engelse of Hollanders is nie, maar Suid-Afrikaners. 3. Uit die tydperk van die Groot Trek is daar vyf dokumente wat ook as manifeste van breër beginsels beskryf kan word. Die Manifes van Piet Retief (2 Februarie 1837) lê twee beginsels neer: sekuriteit van eiendom en persoon wat in die vorm van klagtes oor die gebrek daaraan in die Kolonie verwoord word (en dus die bekende patroon van die Amerikaans-Europese voorbeelde volg) en ’n verbintenis, in die enigste gedrukte weergawe van die Manifes soos in The Graham’s Town Journal gepubliseer, “ [to] uphold the principles of liberty.....no one shall be held in a state of slavery....a quiet life.....will not molest any people, nor deprive them of the smallest property....frame a code of laws”. Laasgenoemde word dan in drie latere manifestasies struktureel tot uitdrukking gebring. Eerstens, die eerste Voortrekker Grondwet van 2 Desember 1836 wat die beginsel van regering deur die volk en onderwerping aan die gesag van die staat behels. Tweedens, die Nege Resolusies van 6 Junie 1837 (ook bekend as die tweede Voortrekkerregering) waarin die beginsels vervat is dat die regering en die regspraak deur verkose verteenwoordigers, deur die volkstem aangewys, behartig moet word. Derdens, die Nege Artikels in ’n brief van Andries Hendrik Potgieter (3 Desember 1838) waarin hy die vryheidsbeginsel wat die Groot Trek ten grondslag lê, verwoord: “wy beschouwen ons als vrye burgers om te kunnen gaan waar wy verkiest sonder iemand te benadelen daar alle Nasies vrey seyn en gaat” en waarin hy verduidelik dat hulle die grondgebied waar hulle vestig, gekoop het van opperhoofde en konings. Vierdens, die Grondwet van die Republiek Natalia van 1838 waarin die kiem van die Amerikaanse demokraties-republikeinse stelsel van 1776 vervat is. Die regeringsmag word gesetel in ’n verkose Raad van Representanten en alle ampsdraers verbind hulle tot ’n bestuurstelsel waarin korrupsie en uitbuiting geen rol sal speel nie. Soos in die geval van die VSA, Brittanje en Frankryk was die toepassing van hierdie beginsels in die praktyk ’n saak wat met veel probleme en verdeeldheid gepaard gegaan het, wat impliseer dat die beginsels dikwels net beginsels was. Dit toon egter duidelik die basiese waardestelsels waarop hulle hulle sake gereël het. 4. Dat toekomsverwagtinge nie net op sekuriteit, bestuur en orde en dissipline gebaseer was nie, blyk uit ’n ander dokument wat die status van ’n manifes oor die toekoms verdien, omdat dit ’n beginsel vervat het wat ’n proses aan die gang gesit het wat tot vandag groot invloed uitoefen. Dit is die oproep van die Genootskap van Regte Afrikaners aan “al hulle landgenote”. Ook in hierdie dokument word die klagtes en besware eers gestel voordat by die beginsel gekom word. Al die klagtes handel oor die “wegneem van ons moedertaal” en dan word die beginsel gestel: “..as jy een volk syn taal afneem, dan maak jy hom tot een doofstomme; jy ontneem hom die wysheid van syn voorvaders wat bewaard is in al die spreuke, spreekwoorde, uitdrukkens ens”. Die manifes bevat dan ook ’n oproep “om same te staan ver ons taal deur dik en dun”. 5. Terwyl die toekomsverwagting soos deur Voortrekkers verwoord, in Transvaal en die Vrystaat tot Hollands/Afrikaner republieke gelei het, het die ontstaan van ’n taalbeweging soos die Genootskap van Regte Afrikaners in die Kaapkolonie uiteindelik ook na die politieke terrein deurgevloei. Die stigting van die Afrikanerbond sou in hierdie behoefte voorsien. Dié Bond het verskillende Grondwette in die loop van sy geskiedenis van 1879 tot 1911 gehad. Sy toekomsverwagting word in beginsel egter die beste verwoord in die manifes wat SJ du Toit op 20 Junie 1879 in Di Patriot gepubliseer het. In sy moderne Afrikaans het dié manifes verklaar: “Wat ons nodig het, is nie alleen ’n Genootskap om die regte van die Hollandse taal in die Parlement en op skool te handhaaf nie. Nee, ons moet hê: ’n Afrikanerbond waarin alle Afrikaners hulle sal tuis voel en tot heil van ’n Verenigde Suid-Afrika sal saamwerk; ... waarin geen nasionaliteit ons van mekaar skei nie, maar waarin almal wat Afrika as hulle vaderland erken sal saamwerk as broers van een huis, al is hulle van Engelse, Hollandse, Franse of Duitse afkoms;....[wat] voorsien dat in die onderwys die taal van alle dele van die bevolking gelyke regte in die skool, die kantore, die regbank en die parlement moet hê.” 6. Die traumatiese ervaring met die Anglo-Boereoorlog het genoeg omstandighede geskep om enige manifestasie van ’n positiewe toekomsverwagting en die formulering van ’n beginselriglyn vir so ’n toekoms by Afrikaners in die kiem te smoor. Die harde werklikhede het egter ook die belofte van ’n nuwe energie vir die toekoms bevat. ’n Dokument wat waarskynlik as ’n verteenwoordigende monster van hierdie hoop op opstanding te midde van die neerslagtigheid van nederlaag en verwoesting uitdruk, is die woorde van Waarnemende Staatspresident, Schalk Burger, van die Zuid-Afrikaansche Republiek by die sluiting van die Vrede van Vereeniging op 31 Mei 1902: “Broeders, wij staan bij het graf van ons Volk. Wij hebben de wapens neergelegd, en de strijd die dood, ellende en verwoesting aanbracht, beëindigd. Dog nu moeten wij een anderen strijd ingaan, veel groter en edeler. Het zal onze plicht zijn, door krachtsinspanning en opoffering te arbeiden aan het wederoprichten van ons volk, en hierin ligt een groot werk voor ons.” 7. ‘n Dokument wat die fundamentele beginsel vir hierdie weeroprigting sou neerlê, was genl JBM Hertzog se De Wildt-toespraak van 7 Desember 1914 waarin hy die beginsel gestel het dat versoening en samewerking in Suid-Afrika op die beginsel van Suid-Afrika eerste moet geskied. Dit het ’n politieke storm veroorsaak wat vir die daaropvolgende twintig jaar die verloop van die Suid-Afrikaanse geskiedenis ingrypend sou beïnvloed. 8. In dieselfde tydperk en te midde van ’n ander verwoestende burgeroorlog, die Eerste Wêreldoorlog in Europa, skryf ’n briljante en vroeg gestorwe jong teoloog en filosoof ’n teks wat vandag vrywel onbekend is. Dié teks verteenwoordig inderdaad die jeug se manifes vir die toekoms. Tobie Muller het pas teruggekeer van ’n besonder suksesvolle studieloopbaan in Skotland en Nederland. Op Stellenbosch het hy hom in hewige konflik met die gevestigde Nederlandse kerk en akademiese belange bevind oor sy pleidooie vir Afrikaans. In sy Geloofsbelydenis van ’n nasionalis het hy die negatiewe gees van sy tyd met ’n geesdriftige toekomsverwagting teengegaan. Hy skryf oor die selfvernietigende gebeure in Europa en die taalstrewe op Stellenbosch en verklaar dan: “Ek self sou my erfenis as lid van die Afrikaanse nasie vir geen ander burgerreg in die wêreld wil verruil nie ...... As jong nasie [in teenstelling met die gekwelde Europa] sien ons amper ons hele loopbaan tegemoet. ’n Jong volk leef vorentoe. Sy leuse is die hoop; geduld en moed sy wagwoorde; ’n jeugdige entoesiasme sy dryfveer; en sy ywer is nog ongekoel deur die ontnugtering van mislukking .... Laat Jong Suid-Afrika sy nasionale geloofsbelydenis onderteken, nie met sy naam, maar met sy lewe en dan het ons niks te vrees vir die toekoms nie.” 9. Tobie Muller se verwysing na die “ontnugtering van mislukking” sou dekades later sy merk laat op die oplaaiende frustrasies onder ewe jong vernuwende Afrikaners met die rassebeleid en situasie in Suid-Afrika. Die “soeke na geregtigheid” word die uitgangspunt van ’n “liberale nasionalisme” wat waarskynlik die beste verwoord word deur die jong Afrikaner-intellektueel en skrywer, NP van Wyk Louw. Sy woorde sou ’n nuwe manifes word vir die toekoms. In 1951 skryf hy, “jou politieke beskouing self kry waarde alleen deur die mate waarin jy hierdie waardes van ‘menslikheid’ en ‘geregtigheid’ in sy strewe opneem.” Vir die volgende vyftig jaar sou Afrikaners en Suid-Afrika met hierdie ideaal worstel. In die huidige tydsgewrig kom hierdie ideaal onder nuwe druk. 10. Die worsteling met hierdie toekomsideaal het tussen 1990 en 1996 tot die merkwaardige onderhandelingsproses gelei waardeur ’n magsgroep vrywillig van die mag afstand gedoen het ten einde groter menslikheid en geregtigheid moontlik te maak. Die magspel en uitdagende aksies van dié tyd het in talle woorde en uitsprake uitdrukking gevind. Ten opsigte van Afrikaners se toekomsverwagting is ’n uitspraak van FW de Klerk waarskynlik die beste manifestasie van hulle toekomsverwagtinge. In 1997, dit wil sê nadat hy uit die regering van nasionale eenheid getree het, het hy die volgende as toekomsideaal geformuleer: “Suid-Afrika het met sy oorgangsproses ’n ongelooflike prestasie gelewer waarop alle Suid-Afrikaners met reg trots kan wees. Al die betekenisvolle politieke groeperinge en leiers het hiertoe ’n wesenlike bydrae gelewer. Deur die volledige en volwaardige erkenning van hierdie bydraes, deur die nuwe waardering vir die kritiese funksie van opposisiegroeperinge as die waghonde van die demokrasie en deur die bevestiging en versterking van ’n ware burgerlike samelewing kan die proses van versoening se sukses verseker word. Ek glo ons kan en wil dit doen. Ons het die mensemateriaal en die wil en gees om dit te doen. Ons moet net die onderskeidingsvermoë om te sien hoe dit gedoen moet word, verskerp.”
Die verlede van die toekoms
Bogenoemde tien bousteentjies in Afrikaners se toekomsverwagting toon hoe hulle denke en waardes van die eenvoudige en basiese na die komplekse en omvattende ontwikkel het. Dit volg die basiese patroon van die beroemde en intellektuele Amerikaanse en Europese ontwikkelinge. Dit begin as persoonlike ontevredenheid en klagtes wat tot meer algemene griewe en standpunte ontwikkel. Dit groei tot die ontwikkeling van eise gebaseer op beginsels van algemene toepassing in die daaglikse bestuur en lewe. Dit begin as eksklusiewe aansprake gerig op die belange van ’n enkele heersende leierskap en gedy tot toenemend inklusiewe waardestelsels wat uiteindelike universele toepassing kan vind. Opposisie, konflik, uitdagende vraagstukke en verhoudinge, indringende en langdurige debat en intellektuele leierskap vorm die skering en inslag van die proses. Tussen formulering en aanvaarding en aanvaarding en toepassing lê egter ’n hele stuk geskiedenis. |