| ||||
Patrick Bond
* Direkteur van die Centre for Civil Society aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Jongste werk: Looting Africa: The Economics of Exploitation, London, Zed Books en Pietermaritzburg, University of KwaZulu-Natal Press, 2006
President Thabo Mbeki het onlangs in sy Nelson Mandela-Gedenklesing ’n pleidooi gelewer vir ’n “erbarmingsvolle samelewing”. Maar sy regering se optrede op die wêreldverhoog oor die afgelope jare is allesbehalwe erbarmingsvol of barmhartig. Etlike dekades gelede was die groot vraag in Suid-Afrika of die haaie in Pretoria – veral PW Botha, Pik Botha en hulle fantasie oor ’n ‘Konstellasie van Suider-Afrikaanse State’ die streeksvissies gaan oorheers. Vandag gons Afrika-elites van regeringsweë, groot sakeondernemings en die burgerlike gemeenskap oor die vraag: kan die verslae van die voortgesette APRM (African Peer Review Mechanism) vir NEPAD (New Partnership for Africa’s Development) nuwe lewe inblaas? Dalk moet ons dit anders stel: verleen die APRM en NEPAD aan Pretoria legitimering vir die fasilitering van ’n nuwe rondte neoliberalisme in Afrika? En dan moet ons verder vra: Is daar ’n alternatiewe benadering tot die opbou van streeks- en internasionale gemeenskapsolidariteit vir Suid-Afrika se subimperialisme? In werklikheid het Suid-Afrika se eie APRM-proses in 2006 in gebreke gebly om die woelinge en onrus weer te gee wat hier aan die kom is, soos byvoorbeeld deur polisieverslae van gemiddeld 16 protesaksies daagliks in 2005. Pretoria se ‘sanitised, self-assessment report’ voor die APRM, in die woorde van die Sunday Times (15 July 2006), het spesifieke verwysings na vorige skandale verwyder en geen fundamenteel oorspronklike voorstelle gemaak oor hoe dit aan die bevolking ’n duideliker stem wil toeken nie. Soos Paul Graham van die IDASA dit gestel het, toon die APRM-dokument wat in middel 2006 vrygestel is ‘… substantial alteration from the report discussed in Kliptown’ (voor 1700 afgevaardigdes), en gevolglik het “..a substantial amount of the texture of the debates..” in die slag gebly. “Whether participation in such efforts is worth the time and effort when so many other tasks are undone is a matter of debate…” Hy verklaar voorts dat wat in ’n Suid-Afrikaanse APRM-verslag moes gestaan het, ons nie hoef besig te hou nie, want woorde is slegs woorde. Om eerder te fokus op die strukturele funksies van NEPAD enersyds, en anti-neoliberale aktivisme andersyds, moet ons etlike kwellende, teenstrydige prosesse ondersoek wat oor die afgelope aantal jare die pas versnel het. Kortweg is die Suid-Afrikaanse regering se wêreldhervormingsvoorstelle totaal en al in die wiele gery, veral in die geval van die VN, die Wêreldbank, IMF (Internasionale Monetêre Fonds) en WHO (Wêreldhandelsorganisasie) waar Pretoria-politici sigbaar van die toneel begin sluip het. Dit maak weinig sin vir die burgerlike samelewing om hervorming langs hierdie weë te bevorder solank dit duidelik is dat president Thabo Mbeki in elke inisiatief misluk het teen wat hy ‘globale apartheid; noem. Terselfdertyd het Pretoria se eie subimperiale projek ook begin wankel, met dié dat vredesonderhandelings in Afrika onbetroubaar geblyk het, beskamende diktators hulle mag verstewig het en Johannesburgse kapitaal nie meer ruimte het om te akkumuleer nie.
Globale regeringsmislukking
Hoofsaaklik om hierdie probleme te verdoesel lewer Pretoria periodiek anti-imperialistiese retoriek. Greg Mills, in daardie stadium direkteur van die SA Instituut van Internasionale Sake, het dit as oppervlakkig soos volg beskryf: ‘I think there was a bluster by the South African government, or those associated near or around it, prior to the American invasion of Iraq in March last year (2003), but that was toned down fairly quickly by the South African government and most notably, president Mbeki. Really, there has not been much in the way of condemnation of the American position since March last year’. Inderdaad het Nelson Mandela in Mei 2004 sy aanval van Januarie 2003 op die krygsheer George W. Bush teruggetrek, ‘because the United States can play a very important role in promoting peace in the world, and this is the role which we would like the United States to play.’ Slegs ’n jaar later het Mbeki Bush besoek en hom die volgende meegedeel: “I appreciate very much the commitment you have demonstrated now for some years with regard to helping us to meet our own domestic South African challenges, as well as the challenges on the African continent.” In daardie stadium het die openbare samelewing in die VSA se sienswyse teen die aanwesigheid van Washington se troepe in Irak gedraai. Met herinneringe van die mislukte VSA-sending in Somalië het Mbeki Bush geweldig gehelp met sy aanbod van Afrika-soldate – nie VSA-soldate nie – om die kontinent te polisieer. “We’ve got the people to do this – military, police, other – so long as we get this necessary logistical support. I think that’s what’s critically important”, het hy verklaar. Bush het heelhartig saamgestem, maar met dien verstande dat die opening van basisse in kritieke Afrika-terreine hierby uitgesluit word. VSA - militêre hulp was ’n sensitiewe kwessie, want om die ‘kritiek belangrike’ logistieke steun te verkry, eis Bush ’n besonder gewigtige quid pro quo: blootlegging van die Internasionale Kriminele Hof (International Criminal Court). In 2003 was Suid-Afrika een van die lande wat glo VSA - militêre hulp ter waarde van ’n paar miljoen dollar ingeboet het omdat dit ingestem het om met die Hof saam te werk teen VSA -burgers – byvoorbeeld die Pentagon en Staatsdepartemente se oorlogsmisdadigers – as en indien hulle aangekla en verhoor sou word. In 2005 het dit egter aan die lig gekom dat Washington in plaas daarvan om Pretoria ten opsigte van militêre hulp op die swartlys te plaas, bloot militêre befondsing vir Suid-Afrika deur sy Europese beheerpos in Stuttgart gekanaliseer het sodat twee addisionele bataljonne vir Afrika-sendings beskikbaar gestel kan word. Op sy beurt sou dit weer Washington se imperiale las met betrekking tot die polisiëring van Afrika verlig. In ruil hiervoor het Mbeki ’n setel in die VN-Veiligheidsraad verlang. Tydens die ernstigste veldtog in Augustus 2005 het hy nie sy sin gekry nie, gedeeltelik vanweë opposisie teen sy Bantustan-leiersrol deur die AU (Afrika-Unie), wat ’n kompromis verwerp het wat twee Afrika-setels sonder vetoreg behels, asmede setels vir Duitsland, Japan, Indië en Brasilië. Feitelik het Mbeki die AU ’n globale neo- apartheidsoplossing aangebied waarvolgens die nuwe lede aan die tafel mag sit, maar oneindig minder mag het as die vyf staande permanente lede, wat vetoreg oor Veiligheidsraadaangeleenthede kan uitoefen. Dit het nie veel verskil van die apartheidshervormingstrategie wat in 1983 deur PW Botha voorgestel (en deur die ANC, die UDM (United Democratic Movement) en ander aktiviste verwerp is) om die mag van die meerderheid met behulp van eiesoortige burgerskapregte te verskraal nie. Om enigsins vertroue in die VN te stel as oord vir progressiewe steun – of selfs wrywing teen die mag van die VSA – was in daardie stadium in elk geval ’n dwaling. ’n Formidabele blok van neokonserwatiewe en neoliberale manne (en soms vroue) het al aan die stuur van multilaterale sleutelinstellings gestaan. Die Europese Unie se keuse van die Spaanse neokonserwatiewe Rodrigo Rato as besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds in mid-2004 is in Januarie 2005 opgevolg deur die nuwe hoof van UNICEF (United Nations Children’s Fund), Bush se landbouminister Ann Veneman (ook al was die VSA en Somalië die enigste twee verteenwoordigers uit 191 lande wat geweier het om die VN se Konvensie oor die Regte van die Kind te onderskryf). ’n Maand later is die uittredende neoliberale hoof van die WHO (Wêreldhandelsorganisasie), Supachai Panitchpakdi van Thailand (wat beide VSA - en EU-belange van 2003-05) gedien het, gekies om die VN se Konferensie oor Handel en Ontwikkeling te lei. In Bush se grootste staatsgreep is Paul Wolfowitz – ’n deurtrapte oorlogsmisdadiger – in Maart 2005 verkies om die leisels van die Wêreldbank op te neem, kort na ’n paar raadplegende telefoonoproepe van Bush aan Mbeki en ’n paar ander nasionale regeerders. Teen die aanbreek van die April 2005-byeenkomste is die komiteevoorsitter en SA Minister van Finansies, Trevor Manuel, tot morele steun aan die nuwe leiers gereduseer: ‘… both Rodrigo here and Paul Wolfowitz are wonderful individuals, perfectly capable’ (Wêreldbank 2005). Die Europese Unie se taai handelsonderhandelaar, Pascal Lamy, het ’n paar weker later die direkteurskap van die Wêreldhandelsorganisasie gewen. As finale maatreël om te verseker dat Washingon se instruksies aan Kofi Annan so eksplisiet as moontlik bly, het Bush John Bolton as VSA -ambassadeur aan die VN aangestel. Maar Washington het ook op sy vriende in Pretoria gesteun vir bystand.
Die imperiale agenda
Wat voer VSA -beplanners in die mou in Afrika? Die tydperk in die 1990’s na die mislukte ingryping in Somalië, toe Washington se leunstoelvegters Afrika uit die sig laat gly het, kon moontlik tot ’n einde gekom het met 11 September. Een van die skerpste kritici van die VSA se Afrikabeleid, Bill Martin (2004), voer aan dat “The discourse of internal and international terrorism is thus not simply substituting for the ideology of the Cold War, but is forging new military and ideological networks as capable of repressing internal dissent as pursuing ‘foreign’ terrorists.” Die VN het ’n Africa Contingency Operations and Assistance Programme ingestel om gunsteling-militêre magte te steun. Weermaggeneraal Charles Wald, wat die Afrikaprogram van die Europese Bevelsgroep aanvoer, het die BBC vroeg in 2004 meegedeel dat hy beoog om vyf brigades met 15,000 man in samewerking met streeksvennote insluitende Suid-Afrika op die been te bring. Afrika bly ’n belangrike gebied in Washington se offensiewe teen militante Islamitiese netwerke, veral in Algerië en Nigerië in die noordweste, Tanzanië en Kenia in die Ooste, en Suid-Afrika. Beheer oor Afrika-immigrasie na die VSA en Europa is van kardinale belang, deels vanweë die uitbreiding van die VSA styl van gevangeneming via privaatsektorfirmas soos Wackenhut, wat in geprivatiseerde Suid-Afrikaanse gevangenisbestuur belê het, saam met die berugte Lindela-uitleweringskamp vir ‘onwettige immigrante’. Die ontwikkeling van ’n hoogs rasgedrewe globale aanhoudings- en identifikasiestelsel is goed op dreef. Intussen is die Pentagon se militêre betrekkings met Pretoria volkome ‘genormaliseer’ teen Julie 2004, in die woorde van die SA adjunkminister Aziz Pahad. In vennootskap met General Dynamics Land Systems het die staatsbeheerde Denel summier begin om 105-mm-artillerie sy aan sy van ’n liggepantserde voertuigbak met ’n skiettoringloop te bemark ter ondersteuning van verbeterde “Stryker Brigade”-Gevegseenhede (‘‘n 3500-man-formasie van infanterie, pantser en artillerie in verskillende variasies van dieselfde 8x8- liggepantserde voertuig’). In die lig van Pretoria se 1998-besluit om $6 miljard in hoofsaaklik offensiewe wapens soos straalvegters en duikbote, te belê, groei die vrees dat die bewaring van vrede ’n blote toesmeer is van ’n baie groter geopolitiese agenda, en dat Mbeki besig is om stilswyend ’n veel groter VSA -rol in Afrika toe te laat as wat nodig is: van die olieryke Golf van Guineë en Horing van Afrika tot opleidingsbasisse in die Suide en Noorde. Ongetwyfeld kan Suid-Afrika darem op een intervensie roem wat sy menseregteretoriek regverdig: leierskap van die beweging in 1997 om landmyne te verban (en vandaar ’n grootskaalse ontmyningsrol vir Suid-Afrikaanse besighede wat in die eerste plek gehelp het om die myne te plant). Maar die nuwe regering in Pretoria het sy standvastiger oriëntasie getoon deur in 1994 die Myanmar- militêre junta as wettige regering te erken; die land se hoogste amptelike toekenning aan Indonesiese diktator Suharto te maak drie maande voor sy afsterwe (en in die proses $25 miljoen aan donasies vir die ANC daaruit te wen); wapens aan lande verkoop wat massageweld beoefen soos Algerië, Colombië, Peru en Turkye, en nader aan die tuisfront onderdrukkende regimes in Zimbabwe en Swaziland gekoester. Oppervlakkig gesien het Pretoria se senior rolle in die bemiddeling van konflikte in Burundi en die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) gedurende 2003 positief voorgekom. Van nader bekyk, lyk die ooreenkomste meer in die styl van elite-ooreenkomste wat die ‘laedigtheidsdemokrasie’ en neoliberale ekonomiese bewinde in plek hou. Bowendien, aangesien baie van die veglustige magte uitdruklik uitgelaat is, het die daaropvolgende weke en maande na vredesverklarings periodieke slagtings van gewone burgers in albei lande, en ’n bynastaatsgreep in die DRK beleef. Die DRK is veral geviktimiseer deur die Suid-Afrikaanse regering toe dit by die betaling van Mobuto se enorme buitelandse skuld gekom het, ’n punt wat hieronder weer aangeroer word.
Pretoria se wêreldleierskap?
Toe die Suid-Afrikaanse regering eers sy gewilligheid getoon het om eiebelang bo beginsels te stel, het die internasionale politieke magsentra toenemende vertroue in Mandela, Mbeki, Manuel en Erwin begin stel, en aan hulle binnekringtoegang tot talle internasionale eliteforums gegee. Na gelang globale ‘establishment’-instansies onder skoot gekom het, het hulle soms probeer om hulself met ’n dosis van die Nuwe Suid-Afrikaanse legitimiteit te herposisioneer; kyk maar na Mandela se streling in 1998 van die IMF tydens die Oos-Asiatiese krisis, en van Clinton tydens die Lewinsky-seksskandaal. Inderdaad is Pretoria se leidende politici in die laat 1990’s toegelaat om die voorsitterstoel van die VN-Veiligheidsraad, die Beheerraad van die IMF en Wêreldbank, die VN-Konferensie oor Handel en Ontwikkeling, die Gemenebes, die Wêreldkommissie oor Damme, asook talle ander belangrike globale en kontinentale liggame in te neem. Gelyktydig met sy aanvaarding van Derdewêreldleierskap het Pretoria ook die leiding geneem van die Beweging van Onverbonde Lande, die Organisasie vir Afrika-eenheid en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap. Maar dit was net die opwarmingsperiode. In ’n koorsagtige vier jaar wat in September 2001 begin het, het Mbeki en sy kollegas gasheer gespeel of leidende rolle vertolk by die volgende belangrike internasionale gebeurtenisse: die Wêreldkonferensie teen Rassisme in Durban (September 2001); die lansering van NEPAD in Abuja, Nigerië (Oktober 2001); die Doha, Qatar ministeriële spitsberaad van die Wêreldhandelsorganisasie (November 2001); die VN se Finansiering vir Ontwikkeling-konferensie in Monterrey, Mexico (Maart 2002); G8-spitsberade in Kananaskis, Kanada (Junie 2002), Evian, Frankryk (Junie 2003), Sea Island, Georgia (Junie 2004) en Gleneagles, Skotland (Julie 2005); die bekendstelling/lansering van die Afrika-Unie in Durban (Julie 2002); die Wêreldberaad op Volhoubare Ontwikkeling (WSSD) in Johannesburg (Augustus-September 2002); die Davos Ekonomiese Wêreldforum (Januarie 2003 en by geleentheid daarna); George W. Bush se eerste besoek aan Afrika (Julie 2003); die Cancun WHO ministersberaad (September 2003); Wêreldbank/IMF-jaarvergaderings in Dubai (September 2003) en Washington (September 2004 en 2005); die VN- Millennium Ontwikkelingsspitsberaad (September 2005); en die Hong Kong WHO-ministersberaad (Desember 2005).
In weerwil van toenemende geleenthede vir deelname in die wandelgange van mag deur NRO’s is bykans niks werklik bereik deur die 2001-05-geleenthede nie:
· op die VN se rassismekonferensie het Mbeki met die EU saamgesweer om die eise van NRO’s en Afrikaleiers vir vergoeding vir slawerny/kolonialisme/apartheid te verwerp; · NEPAD het bloot ’n tuisgekweekte weergawe van die Washington-Konsensus verskaf; · te Doha het die Minister van Handel, Alec Erwin, die Afrika-afvaardiging so verdeel dat dit ’n herhaling van die ontkenning van konsensus verhoed het wat die Seattle-ministersberaad in Desember 1999 gedwarsboom het; · in Monterrey was Manuel mede- spitsberaadleier (met die voormalige besturende direkteur van die IMF, Michel Camdessus), het hy die Mexikaanse oudpresident Ernesto Zedillo in die verleentheid gestel en alle lopende IMF/Bank-strategieë gelegitimiseer; · uit Kananaskis is Mbeki vort met ’n skamele addisionele $1 miljard-belofte aan Afrika, (afgesien van fondse reeds in Monterrey beloof), en geeneen van die daaropvolgende G8-berade – Evian, Sea Island of Gleneagles – het ware vordering in die sak gebring nie; · die Afrika-Unie het sowel NEPAD as die Zimbabwiese regime van president Robert Mugabe gesteun, wat die selfverdedigende politieke projek van Afrika-elite verder geïllegitimeer het; · op die Johannesburgse Wêreldberaad oor Volhoubare Ontwikkeling het Mbeki VN- demokratiese prosedure ondermyn, die privatisering van die natuur gefasiliteer en niks gedoen om die lot van die wêreld se arm meerderheid te probeer verlig nie; · in Davos het wêreld-elites Afrika geïgnoreer, in 2003 en daarna; · as vergoeding vir die befondsing van ’n been van Bush se Afrikatoer het Mbeki bloot die VSA se kontakman’ oor Zimbabwe geraak, en het hy alle konflik oor Irak se herkolonisering vermy; · in Cancun het die ineenstorting van handelsonderhandelinge – weereens gekataliseer deur die uitstappery van Afrikane – Erwin ‘teleurgestel’ gelaat; · by Wêreldbank- en IMF-jaarvergaderings van 2001-05, met Manuel as leier van die Ontwikkelingskomitee, was daar geen Bretton Woods-demokratisering, nuwe skuldverligting of Post-Washingtonse beleidshervorming nie; en · die VN se Millennium Oorsigberaad (2005) het aan Mbeki genoegsame gronde vir gebrokenheid van hart besorg en hom sy lot laat bekla: ‘We should not be surprised when these billions do not acclaim us as heroes and heroines.’
Verdere mislukkings het aan die lig gekom in 2006 tydens die onderhandelings van die Doha-rondte wat in Julie (onder die applous van die progressiewes in die Globale Suide) in duie gestort het, met verskuldigde respek vir die G8 se hulp en gestanddoening aan beloftes ’n jaar na hulle Gleneagles-spitsberaad. Vanweë die kloof tussen egte wêreldskaalse hervormingsmoontlikhede het die aandag na die kontinentale skaal verskuif, waar ’n paar lande – insluitende Suid-Afrika – teësinnig ’n skerp afgebakende portuurgroepshersiening ondergaan het. Dit is hier waar die Weste se deurlopende oorwinning oor Afrika – in politieke, militêre en ideologiese verband – nie alleen die voortsetting van neoliberalisme nie, maar ook kerngesonde regering en teenkorrupsie-truuks behels onder die dekmantel van NEPAD vereis.
Die afsteek van kleims op Afrika
Teen vroeg 2001 in Davos het Mbeki duidelik laat blyk wie se belange NEPAD sal dien. Ons vertaal: ‘Dit is betekenisvol dat die eerste formele inligtingsessie oor die vordering van die ontwikkelingsproses van hierdie program by geleentheid van die Wêreld- Ekonomiese Forum-vergadering plaasvind. Die welslae van die implementering hiervan verg die inkoop (aktiewe deelname) van lede van hierdie geslaagde en lewenskragtige forum. Internasionale kapitaal sal baat vind by groot infrastruktuurkonstruksiegeleenthede op die openbare/private vennootskapsmodel, geprivatiseerde staatsdiens, deurlopende strukturele aanpassing, geïntensiveerde internasionale eiendomsreg en verskeie van NEPAD se sektorale planne, almal gekoördineer vanaf ’n Suid-Afrikaanse kantoor beman deur neoliberaliste en oop vir ekonomiese en geopolitiese hekbewaking. Die werklike NEPAD-dokument is in die openbaar op 23 Oktober 2001 in Abuja, Nigerië, deur Afrika-staatshoofde amptelik bekendgestel. Binne 18 maande is NEPAD deur die Withuis se voorste Afrika-beampte as ‘filosofies in die kol’ beskryf. Wie trek die meeste voordeel uit NEPAD? Johannesburg-gebaseerde korporasies het tougestaan as ‘nuwe imperialiste’, ’n probleem wat vir Jeff Radebe, Pretoria se destydse minister van openbare ondernemings, vroeg in 2004 groot kommer verskaf het: ‘There are strong perceptions that many South African companies working elsewhere in Africa come across as arrogant, disrespectful, aloof and careless in their attitude towards local business communities, work seekers and even governments’. Teen hierdie agtergrond het die linkse Afrika-vleuel diepgaande skeptisisme oor NEPAD se hoofstrategieë uitgespreek. In April 2002 het bondige kritiek uit ’n konferensie van die Raad op Ontwikkeling en sosiowetenskaplike Navorsing in Afrika en Derdewêreld Netwerk-Afrika (Council for Development and Social Science Research in Africa and Third World Network-Africa) voortgekom. Volgens die vergadering se resolusie
sluit die fundamentele gebreke van NEPAD, wat die sentrale elemente van die Wêreldbank se Can Africa Claim the Twenty-first Century? en die VN se Economic Commission on Africa’s Compact for African Recovery sluit die volgende in: (a) die neoliberale ekonomiese beleidsraamwerk wat die kern van die plan vorm en wat die strukturele beleidsaanpassings van die vorige twee dekades herhaal, sonder om die ramspoedige uitwerking van daardie beleide uit te lig. (b) die feit dat die Afrika-bevolking in weerwil van NEPAD se geproklameerde erkenning van hulle sentrale plek in die plan, geen rol gespeel het in die voorstelling, ontwerp of formulering van die NEPAD nie; (c) dat dit nieteenstaande sy uitgesproke besorgdheid oor maatskaplike en gender-gelykberegtiging, steeds die maatskaplike en ekonomiese maatreëls aanvaar wat bygedra het tot die marginalisering van vroue; (d) dat sy belangrikste teikens, in weerwil van sy aanspraak op Afrika-oorsprong, steeds buitelandse skenkers bly, veral in die G8; (e) dat sy visie van demokrasie gedefinieer word deur die behoeftes om ’n funksionele mark te skep; (f) deurdat die eksterne omstandighede wat grondliggend aan Afrika se ontwikkelingskrisis is, onderbeklemtoon word, dit geen betekenisvolle maatreëls tref om die uitwerking van hierdie omgewing op Afrika se ontwikkelingspogings te bestuur of aan bande te lê nie. Inteendeel, die betrokkenheid wat dit nastreef by instansies en prosesse soos die Wêreldbank, die IMF, die WHO, die Verenigde State se Africa Grow and Opportunity Act, die Cotonou-ooreenkoms sal Afrika se ekonomieë steeds tot sy nadeel in hierdie omgewing vassluit; (g) dat die middele vir mobilisering van hulpbronne die disintegrasie van Afrika-ekonomieë, wat ons onder strukturele aanpassing en WHO-regulasies aanskou het, verder aanhelp.
Afrika-kritiek van neoliberalisme is nie beperk tot globalisering, die ‘Washington Consensus’ se makro-ekonomiese beleide, skuldelike daglonerskap en onbillike handelsooreenkomste nie. (Die Afrika-handelsnetwerk, die Gender-en-handelsnetwerk en Jubilee Afrika se affiliate is gereelde intellektuele kritici van en aktiewe protesteerders teen makro-ekonomiese neoliberalisme op die terreine van wêreldskaalse onderhandelings en Afrika-elite-spitsberade.) Benewens NEPAD en die APRM is verskeie ander prosesse gemik op die koöptering van die Afrika- burgerlike samelewing – Referate oor Armoedeverligtingstrategieë, die Millenium Ontwikkelingsdoelwitte en die noordgedrewe Make Poverty History-veldtog (wat gedeeltelik uit Gordon Brown se kantoor bestuur word) – almal voorbeelde van aanvaarding van die breë parameters van neoliberalisme en almal in dié kassie en almal misoeste, selfs volgens hul eie beperkte standaarde. Benewens makroskaalse neoliberalisme word die skade wat deur markgesentreerde beleide aan die ekologie en mikro-ontwikkelings berokken word, nou ook alom erken. Van die opspraakwekkendste protesopwellings het in areas van gelokaliseerde omgewingsgeregtigheid plaasgevind, waarvan die 2004-wenner van die Nobelprys vir Vrede, Wangari Maathai, se stryd twee dekades gelede om Kenia se Groengordelbeweging teen die belange van die korrupte nasionale staat en groot kapitaal te bou, ’n sprekende voorbeeld is. Meer onlangs nog het vroue in die olieryke Nigeriese Delta gereeld sitproteste by die plaaslike kantore van die multinasionale maatskappye gehou. Oliewerkers het energiek op verskeie Delta-verhoë protes aangeteken, nie slegs oor lone nie, maar ook oor breër eko-maatskaplike eise en selfs sover gegaan om korporatiewe bestuurders ’n tydlank gyselaar te hou. In Botswana vorm inheemseregte-veterane drukgroepe teen die DeBeers-diamantkorporasie, die Wêreldbank en die regering van Botswana oor die verskuiwing van die Basarwa/San-groep uit die sentraal-Kgalagadi. Volgens die Guardian, is die Khoisan wat vir verskuiwing vanaf diamantontginningsgebiede geteiken is, ‘se watervoorrade afgesny voordat hulle met belaglike vergoeding in troostelose nedersettings afgelaai is.’ Solidariteit was sterk genoeg om die Botswana Gazette in Augustus 2002 die regering ’n ‘sieklike internasionale muishond’ te laat noem. In dieselfde gees staan aktiviste groot damme teen wat massa-groepverskuiwings in Namibië (Epupa), Lesotho (Hoogland Waterprojek), Uganda (Bujagali) en Mosambiek (Mphanda Nkuwa), asook die Tjaad-Kameroense Oliepypleiding sal meebring. Pogings om die kloof tussen die globaal-lokale en die Noorde en Afrika te oorbrug, word op talle ander gebiede aangewend, insluitend (maar nie uitsluitlik nie) ‘Treatment Action’-kampvegters teen die houvas van farmaseutiese korporasies op die monopolie van antiretrovirale patente; aktiviste wat Monsanto se voortdrywing van die VSA na Suid-Afrika na etlike Afrikalande teenstaan; bloeddiamantslagoffers van Sierra Leone en Angola wat ’n deels geslaagde globale transaksie te Kimberley sluit; ’n groeiende netwerk wat Liberië se langdurige uitbuiting deur Firestone Rubber bevraagteken; Oil Watch-skakeling van Nigeriese Delta- en talle ander gemeenskappe van die Golf van Guinee; en Ghanese, Suid-Afrikaanse en Nederlandse aktiviste wat die privatisering van water teenstaan. Solidariteit was ook ’n eienskap van vergoedingskampvegters, gelei deur Suid-Afrika se Jubileum en Khulumani, wat op 2004-hofnederlae gereageer het met beloftes om nog harder te veg. Op hulle beurt is hulle deur die werk van die Nigeriese kerk- en skuldaktiviste, wat etlike jare gelede die aandag gefokus het op die rol wat Britse en Switserse banke gespeel het in Sani Abacha se plundersprie in die 1990’s, en wat betekenisvolle konsessies verkry het om onwettige kapitaalonttrekking (steeds een van Afrika se ontkragtendste ekonomiese probleme) aan bande te lê. Elders in Afrika is daar veldtogte van burgerlike samelewingsgroepe onderweg teen omgewingsrassisme, toksiese storting, asbesskade, verbrandingsoonde, biorowery, geneties gemanipuleerde voedsel, koolstofruiling en lugbesoedeling. Bewegings teen die privatisering van Afrika se basiese dienste, hoofsaaklik water en elektrisiteit, maar ook munisipale afval, gesondheid en onderwys – het in 2000 in Accra en Johannesburg begin en spoedig globale solidariteit getrek. ’n Pan-Afrikaanse Vigsbehandelingsnetwerk van MIV-aktiviste sit die werk van Suid-Afrika se Treatment Action Campaign voort om onbillike monopoliepatente op lewensreddende medikasie aan te vat. Kan pogings soos hierdie meer gekonsentreerd belyn word, en sal hulle diegene van die tradisionele geslag kan oorreed om ernstiger maatskaplike veranderingsaktivisme op te neem, in teenstelling met die APRM- doodloopkonsultasies? Indien wel, is dit moontlik dat die Afrika- Maatskaplike Forum (ASF/AMF) die bron sal wees van sodanige koördinasie en konsensusbereiking. Die AMF se oorspronklike Bamako-deklarasie (2002) het daarop aangedring dat die ‘waardes, praktyke, strukture en instansies van die teenswoordig dominante neoliberale orde vyandig en strydig is met die realisering van Afrika se waardigheid, waardes en aspirasies. Wat veral sorg gewek het, was NEPAD:
Die Forum het neoliberale globalisasie en verdere integrasie van Afrika in ’n onbillike sisteem as basis vir sy groei en ontwikkeling verwerp. Daar was in hierdie verband sterk konsensus dat inisiatiewe soos NEPAD, wat ingegee is deur die IMF-WB-strategieë van Strukturele Aanpassingsprogramme, handelsliberalisering wat Afrika bly onderwerp aan ongelyke handelstransaksies, en regeringsbeperkings wat uit die praktyke van Westerse lande ontleen is, nie in die kultuur en geskiedenis van die nasies van Afrika gewortel is nie.
Watter meriete is daar dan in APRM-deelname, NEPAD-legitimering en die generering van verwarring onder kiesers namens Johannesburgse kapitaal, Pretoria se subimperiale agenda en die VSA se Staatsdepartement en Pentagon? Diegene in die Suid-Afrikaanse samelewing wat opreg verbind is tot ’n renaissance in ’n Afrika wat van uitbuiting bevry is, moet hulle eerstens kwel oor die enorme skade wat deur hul eie regering en kapitalistiese klas aangerig word. |