blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


FAK-Manifes: Afrikaners: Burgers eerder as verbruikers 2006-09-13
Jaap Steyn

*Taalsosioloog en skrywer van Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal (Kaapstad: Tafelberg, 1998)

 

Iemand moet nog eendag ’n roman skryf oor wat werklik gebeur het met die legendariese “Kruger-miljoene”. Die wyse waarop die goudbates van die ou Zuid-Afrikaansche Republiek in 1900 uit Pretoria verwyder is terwyl die Britse magte al aan die buitewyke van die stad was, en later teruggesmokkel is na die verowerde republiek, sal belangrike elemente van so ’n verhaal vorm.

                Maar die hooftema van die verhaal sal nie soseer die spioenasie- en smokkelsages wees nie, maar wat die gebeurtenisse ons vertel omtrent die betrokkenheid van Afrikaners van ’n eeu gelede by hul gemeenskap.

                Politieke kluisenaarskap, sosiaal-kulturele isolasie en ’n toewyding aan persoonlike verryking sou, soos vandag, ook destyds die maklikste gewees het. Die verlore oorlog het immers die soort gevolge gehad wat nie onbekend aan ons tyd is nie.

                Gustav Preller, gewese amptenaar van die departement van mynwese, wou emigreer (na Argentinië). Genl. Jan Smuts was swartgallig oor die toekoms en skryf in ’n pessimistiese brief: "The spirit of South Africa is crushed by the disappointment, the ruin, the losses of the past ... I sometimes ask myself whether South Africa will rise again." Genl. JBM Hertzog het met ’n gevoel van magteloosheid deur die strate van Bloemfontein gestap en is aangegryp deur die ellende van sy volksgenote wat hom hulpeloos, stom en verdwaas aangestaar het. Pres. MT Steyn, dodelik siek, is na Nederland gebring vir behoorlike behandeling.

                Baie gou was hulle almal egter betrokke by hulle mense en het so ’n wending aan die geskiedenis van Suid-Afrika gegee.

                 Interessant is Smuts iemand na wie baie Afrikaners vandag met nuwe oë kyk. Hy was gemoeid met die “Kruger-miljoene” – wat in werklikheid maar net ’n paar duisend pond was. Ondanks sy aanvanklike pessimisme het hy volgens ’n Afrikaans-nasionale historikus, D.W. Krüger, besef dat die Afrikaners se rol glad nie uitgespeel was nie, en dat hulle groter behoefte gehad het as aan stoflike hulp alleen.

                Hy vat (Die Kruger-miljoene, 73-74) Smuts se opvattings saam: “Vir hom was die voortbestaan van die Afrikanerdom, verarmd en politiek magteloos, op die spel. Noodleniging was wel noodsaaklik, maar die beskikbare fondse, versprei oor ’n groot aantal behoeftes, sou min beteken. Pleks daarvan kon die geld tot groter positiewe resultate lei indien dit vir hoër oogmerke gemobiliseer en aangewend word.”

                Dié “hoër” oogmerke was die handhawing van die taal deur middel van eie skole en die instandhouding van ’n volksbewussyn. ’n Eie pers was nodig om die mense weer polities bewus te maak.

                Hiervoor was die ZAR-bates, wat in die oorlog na Nederland oorgeplaas is, van groot waarde. ’n Gewese staatsekretaris van die ZAR, dr. W.J. Leyds, het die geld in die geheim vir nasionale doeleindes na die Transvaalse Afrikanerleiers gestuur.

                Die Britse regering het alles in sy vermoë gedoen om dit in die hande te kry. ’n Wydvertakte Britse geheime diens in Europa het briewe tussen Afrikanervriende onderskep en die Milner-bewind in Suid-Afrika op die hoogte gehou van party van Leyds se stappe om die geld aan genls. Louis Botha en Smuts in Pretoria te besorg. Alfred Milner het sekere mense en instellings laat dophou om vas te stel wie bystand kry en van wie af dit kom.

                 Nieteenstaande al die Britse stappe het die bietjie republikeinse geld die leiers bereik. Binne ’n paar jaar het hulle ’n hele netwerk van persorgane gevestig en skole met ’n Afrikaanse gees opgerig, waarin Engels nie die enigste voertaal was nie.

                Die geld was net genoeg om ’n begin te maak. Die gemeenskap self moes alles in stand hou. Koerantberigte van dié tyd lewer getuienis van mense se offervaardigheid. Sommige het ’n groot deel van hul karige inkomste afgestaan aan skoolgeld, of het basaars en konserte gehou om skole aan die gang te hou. Het Westen, tans Volksblad, het jare lank gevaar geloop om te sluit, en het soms sy plattelandse lesers gevra om maar hul intekening met plaasprodukte te betaal as hulle nie die geld in die hande kon kry nie.

                Enkele jare later het die Unie van Suid-Afrika in 1910 tot stand gekom – waarvan Smuts die groot argitek was. Hertzog en Steyn het gesorg dat “Hollands” saam met Engels as een van die offisiële tale erken is. Daarmee is die beginsel van amptelike meertaligheid vir Suid-Afrika gevestig. Terselfdertyd het die beweging om van Afrikaans ’n kultuurtaal te maak, van krag tot krag gegaan, en dié beweging is begin deur die man wat wou emigreer, naamlik Gustav Preller. Hy is in diens geneem deur De Volksstem, een van die koerante wat met die ZAR-geld opgerig is

                Hulle vier, en tienduisende meer, was burgers van ’n gemeenskap eerder as verbruikers van ’n vrye mark. ’n “Elkeen-vir-homself”-mentaliteit sou hulle met minagting verwerp het. Niemand van hulle het ryk geword nie, maar hulle het hul gemeenskap help bemagtig.

                Die omstandighede van Afrikaners van ’n eeu gelede was in baie opsigte moeiliker as vandag. Wat tans demoraliserend werk, is die ongunstige en steeds verswakkende demografiese posisie van Afrikaners, en van Afrikaanstaliges in die algemeen, asook die demonisering van Afrikaners. Dit maak mense passief en bang vir stryd.

                Wat dieselfde gebly het, is dat die taal sentraal staan. ’n Mens moet jou afvra of die passiwiteit van baie Afrikaanstaliges oor die verontagsaming van die taalbepalings van die Oorgangsgrondwet en later die Grondwet nie bygedra het tot die groeiende magswellus van die bewindhebbers nie. Talle Afrikaners wat beter behoort te geweet het, het soms die owerheid se kant gekies wanneer “taalstryders” oor taalkwessies gekla of geprotesteer het.

                Een van die positiewe ontwikkelings van die afgelope jaar of wat is dat taalaktivisme toeneem, dit wil sê aksies om druk op maghebbers te probeer uitoefen om ongewenste taalbeleide en taalpraktyke te verander. Dit sluit in litigasie, drukgroepvorming, gemeenskapsmobilisering, ondersoeke, mediadekking, selfs geweld. Tot dusver is Suid-Afrika vry van laasgenoemde.

                ’n Paar voorbeelde van aktivisme. Die eerste is die hofsake wat verskeie Afrikaanse skole gevoer het teen onderwysdepartemente wat hulle taalbeleid verander het. ’n Saak wat veral aandag getrek het, was die hofgeding van die Afrikaanse laerskool Mikro in Kuilsrivier wat deur die Wes-Kaapse onderwysdepartement gedwing is om Engelse leerlinge te aanvaar. Toe die Kaapse hooggeregshof die skool gelyk gee, het die departement na die appélhof in Bloemfontein geappelleer, wat ook teen die departement uitspraak gegee het. Johann Rossouw het in Die Vrye Afrikaan van Maart 2005 die bedenklike metodes van die departement uitstekend ontleed.

                ’n Tweede voorbeeld van taalaktivisme is ’n ondersoek wat proff. Hermann Giliomee en Lawrence Schlemmer in opdrag van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns uitgevoer het na die posisie van Afrikaans as voertaal aan die histories Afrikaanse universiteite. In hul verslag, ’n Vaste plek vir Afrikaans. Taaluitdagings op die kampus, toon hulle aan hoe die dubbelmediumbeleid van die Universiteite van Stellenbosch en Pretoria Afrikaans nadelig raak. Sommige vakke is prakties verengels.

                ’n Derde aksie was ’n taaldebat wat in 2005 in Die Burger gevoer is oor die taalbeleid van Stellenbosch. Een van die hoogtepunte was die toetrede van die Afrikaanse skrywers, wat selde as verenigde front optree. Sowat 150 skrywers het ’n versoek aan die raad van die Universiteit van Stellenbosch gesteun om die dubbelmediumbeleid te heroorweeg.

                Daar was die afgelope tyd nie alleen taalaksies nie, maar ook ander bedrywighede. Daaronder is die pogings van Solidariteit om emigrante na die land terug te lok en regstellende aksie op ’n minder onregverdige wyse toe te pas.

                Die groter betrokkenheid van Afrikaners by beleide en praktyke wat hulle raak, is een van die gesondste ontwikkelings van die afgelope ses jaar. Ongelukkig is die betrokkenheid steeds maar klein.

                Te veel mense dink politiek gaan net oor verkiesings. In die moderne demokrasie gaan dit dikwels oor maniere om die mag van die meerderheid aan bande te lê, en die belange van minderhede te beskerm of te bevorder.

                Daar is Afrikaanse instansies wat finansieel kan help, soos die Dagbreektrust. Dié kan byvoorbeeld ’n Afrikaanse publikasie help wat in diens van ’n nuwe Afrikanerpolitiek staan.

                Die regering se kommunikasiehoof, mnr. Themba Maseko, het onlangs gewys op “’n gaping tussen die regering en voorheen bevoordeelde gemeenskappe – hoofsaaklik die wit gemeenskappe. Ek dink as ’n regering reik ons nie voldoende uit na daardie gemeenskap nie” (Volksblad, 9 Augustus 2006).

                Die gaping word groter. Wat daartoe bydra, is die maghebbers se onbedwingbare begeerte om alles te beheer en te reguleer – van sport tot die regsberoep tot private hospitale, van munisipaliteite tot private ondernemings. Transformasie met sy menigte wette, regulasies en voorskrifte, soos die Wet op Breë Swart Ekonomiese Bemagtiging, bepaal die lot van individue en ondernemings.

                Die bewind het al baie gedoen om Afrikaners te laat lyk na setlaars wat tydelik in die land is slegs om geld te maak, en enige tyd kan uitwyk na ’n ander land. Hul historiese erfenis in die vorm van plekname en monumente is konstant onder bedreiging, húl verhaal van hul eie verlede word verwerp en die taal wat hulle met die ander Afrikaanstaliges deel, word stelselmatig op alle terreine verdring.

                Groter deelname aan politieke aksies is nodig om te voorkom dat ons tot permanente setlaarstatus gereduseer word. Ook om die uitwasse van taalmarginalisering, regstellende aksie, kwotas en onregverdige transformasiepraktyke te bestry.

 

 



Die groot polemiek oor die Universiteit van Stellenbosch se taalbeleid was een van die grootste taaldebatte in die Suid-Afrikaanse media die afgelope eeu.

Daar was miskien net vier wat naastenby so omvangryk was.

Die eerste was die dekadelange debat oor die keuse tussen Afrikaans of Nederlands as kultuurtaal vir Afrikaanstaliges. Van die belangrikste deelnemers was die manne van die taalbeweging, soos Gustav Preller, Jannie de Waal, CJ Langenhoven, DF Malherbe en JJ Smith.

Die tweede was dié vroeg in die twintigste eeu oor genl. Hertzog se Vrystaatse onderwyswet wat taalgelykheid in die Vrystaatse skole moes teweegbring, en sy optrede teen inspekteurs wat hom teëgegaan het. Hy het ’n hofgeding teen die inspekteurs verloor, maar die Afrikanerpubliek het die koste help dra. Met die geld wat oorgebly het, is die grootste Afrikaanse literêre prys, die Hertzogprys, ingestel.

Die derde is ’n lawine van anti-Afrikaanse briewe in die Engelse pers toe die SAUK in 1937 besluit het om Afrikaanse aankondigings in die oorwegend Engelse radiodiens in te voer. So hewig was die protes daarteen dat die SAUK ’n afsonderlike Afrikaanse diens begin het.

Die vierde was ’n langdurige debat in Die Volksblad oor die voertaal van UKOVS in die vroeë 1940’s. Dit het ten dele gelyk geloop met ’n lang debat oor die voorneme van die regering om enkelmediumskole deur dubbel- of parallelmediumskole te vervang. UKOVS het Afrikaans geword, en enkelmediumskole is behou.

Afrikaans kon baat vind by taalaktivisme in die vorm van perspolemieke, al het die wenners ten tyde van hul optrede min politieke mag gehad – of selfs geen.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=701
Artikel nagegaan:
    -