blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


FAK-Manifes: Manifes: die hoekom en die wat daarvan 2006-09-13
Koos Malan

*Medeprofessor in regte aan die Universiteit van Pretoria

Die begrip manifes suggereer dikwels pogings om situasies van ernstige onsekerheid en wanhoop te probeer verdryf en sekerheid en helderheid in die plek daarvan te stel. Dit verklaar gedeeltelik waarom Afrikaners juis nou ’n era van manifeste beleef. Manifeste verteenwoordig inderdaad pogings om Afrikaners se toestand van wantroue en vertwyfeling te probeer hanteer.

Die begrip manifes suggereer ook ’n aanspraak op gesaghebbendheid en gee voor om rigtinggewend te wees. Dié skyn verseker egter nie noodwendig die sukses van manifeste nie. Trouens, manifeste het waarskynlik eerder ’n geskiedenis van mislukking as van sukses. Om sinvol en suksesvol te wees, moet ’n manifes deur die FAK drie dinge doen:

Eerstens moet dit die toestand en posisie van Afrikaners akkuraat vertolk.

Tweedens moet dit Afrikaners se politieke patologieë – die misplaaste en selfbenadelende reaksies op ons problematiek – begryp.

Derdens moet dit weliswaar nie ’n bloudruk nie, maar in algemene terme die rigting vir samehangende openbare aksie aandui.

 

Afrikanertoestand

 

Die teenswoordige sentiment onder die oorgrote meerderheid Afrikaners is een van vertwyfeling, wantroue en wisselende grade van angs. Daar heers gebrekkige vertroue of daar hoegenaamd ’n blywende plek vir Afrikaners in Suid-Afrika is en – indien Afrikaners wel ’n plek het – of dit as ’n selfrespekterende gemeenskap of bloot as ’n klompie losdrywende individuele ondernemers is. Daar heers groeiende en tegelyk grondige rede tot angs oor persoonlike veiligheid. Afrikaners deel dié angs met ander Suid-Afrikaners, maar onder eersgenoemde is dit meer akuut vanweë die feit dat Afrikaners nie oor die politieke magsmiddele beskik of die vooruitsig het om daaroor te beskik om iets hieromtrent te kan doen nie. Daar heers ewe grondige redes vir groeiende angs vanweë die feit dat ons taal, kulturele en onderwysbelange – dinge wat van wesenlike belang vir enige gemeenskap is – grotendeels aan die diktate van ’n onsimpatieke en bykans oppermagtige regering uitgelewer is. In die aangesig van ’n falende openbare sektor heers daar toenemende wantroue in Suid-Afrika se vermoë om ’n funksionerende staat in stand te hou, of in plaas daarvan in toenemende grade van wanfunksionering en chaos te versink. Onder die Afrikaanse jeug word Suid-Afrika se politieke orde gewantrou weens sy onvermoë of onwilligheid om die beroeps- en dergelike geleenthede te bied wat hulle professionele ambisie in dieselfde mate as dié van ander jong Suid-Afrikaners kan bevredig. Die enorme vertroue wat daar sedert 1994 op die Grondwet as belangebeskermer geplaas is, het merkbaar verweer. Die gekwetste geskiedsbeeld wat die afgelope jare van Afrikaners gekweek is, het die morele vesel wat die voorwaarde vir selfvertroue en selfgeldende aksie is, beduidend ondermyn en gelei tot wesenlike wantroue onder Afrikaners oor hulle vermoëns en hulle reg op enige openbare aansprake. Die partypolitiek, wat vir bykans ’n eeu die primêre middel vir die omsien na Afrikanerbelange was, het gekwyn tot die bykans niksbeduidende rol wat dit vandag het, en die partypolitieke leierskap – die korps van leiers wat eweneens vir bykans ’n eeu die hoofobjek van die politieke vertroue van Afrikaners was, het verdwyn en is nie met nuwe middele en nuwe leierskap vervang nie. Alles waarna pas verwys is, kan terug herlei word na ’n enkele kernoorsaak vir die toenemende angs en wantroue: Afrikaners as ’n minderheid sonder politieke mag en beduidende hefkrag en oënskynlik sonder enige ander middele en vermoë beleef ’n diepliggende verlies aan beheer om enigiets omtrent die oorsake van hulle angs en vertwyfeling te kan doen.

 

Reaksies

 

Dit lei tot ’n verskeidenheid van reaksies, wat op sigself die verdere verlies aan vertroue vererger en die vermoë tot selfstandige aksie belemmer. Daaronder tel die volgende:

die aanhoudende stroom van Afrikaner-emigrante;

ongenoegsame belangstelling van Afrikaners in openbare sake, omdat dit oënskynlik geen belofte van sukses inhou nie;

onrealistiese hunkering na die herstel van die ou orde en buitensporige en onhaalbare politieke aansprake en verwagtings;

‘n invlug in politieke en godsdienstige ekstremisme;

‘n poging om onsekerheid te besweer deur die opsoek van valse sekerhede in buitelandse strominge, soos aanknoping by die Amerikaanse neokonserwatisme, wat baie herinner aan sommige Afrikaners se vroeëre vereenselwiging met die Britse Ryk of met die nasionaal-sosialisme.

Afrikaners se reaksies en bedrywighede in die huidige tydsgewrig is egter nie net te bekla nie. Daar is tewens ’n magdom van (kleiner) aksies deur organisasies, groepe en individue op ’n veelheid van terreine. Daarbenewens is daar ook by diegene wat nie by die een of ander aktiwiteit betrokke is nie – tans nog die oorgrote meerderheid – ’n behoefte om hulle energie in sinvolle optrede te stort. Daar is enorme potensiële energie, maar nie naastenby genoeg instrumente waarin die beskikbare potensiële energie doelmatig gekanaliseer kan word nie. Anders gestel, die meeste Afrikaners wil graag hul energie vir doelmatige kollektiewe aksie beskikbaar stel, maar daar heers grootskaalse onduidelikheid oor presies wat die kollektiewe handelinge moet wees en op welke doelwitte dit moet mik.

 

Slotsom

Teen hierdie agtergrond moet ’n manifes in die besonder:

-                Afrikaners se gewenste verhouding met die regering en met ons swart landgenote op so ’n manier definieer dat dit die belofte van ’n blywende ewewigtige en ontspanne modus vivendi inhou. Daarvolgens moet Afrikaners allermins politieke mag oor Suid-Afrika begeer, maar nogtans sodanige konkrete erkenning geniet dat die fisieke, ekonomiese en kulturele welsyn van Afrikaners permanent beskerming geniet;

-               Voorts moet ’n manifes lewensbeskoulik rigting gee, wat beteken dat dit die idees waarvolgens Afrikaners hulleself in ’n geglobaliseerde wêreld en binne ’n plurale samelewing moet inrig, sal moet uitspel. Tegelyk moet die manifes sigself uitdruklik opstel teen die misplaaste reaksie op ons problematiek, waarna hierbo verwys is;

-               Derdens moet dit breë doelwitte stel, wat Afrikaners, gegewe ons huidige problematiek, verwesenlik wil sien. Op grond van hierdie breë doelwitte moet algemene en gefokuste samehang tussen die baie inkoherente aksies wat daar reeds is, bewerkstellig word. Gegewe die heldere omskrywing van doelwitte moet die manifes ook die potensiële vermoë van die talle welmenende maar tans nog onaktiewe Afrikaners in daadwerklike energie help omsit.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=700
Artikel nagegaan:
    -