blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Midde-Ooste: Le Monde diplomatique: Sjiïtiese Irakiërs: ’n “homogene gemeenskap”? 2006-09-13
Peter Harling en ons spesiale verslaggewer, Hamid Yasin

*Onderskeidelik verantwoordelik vir Irak, Sirië en Libanon by die Internasionale Krisisgroep (ICG), en doktorale student aan die Instituut vir Politieke Studies in Parys. Uit die Frans vertaal deur André Crous, [email protected]

 

Die geweld in Irak bereik ’n kritieke vlak, wat die media al hoe minder interesseer; die konflik is lankal nie meer nuus nie, en die nuwigheid van die oorlog in Libanon is veel aanlokliker. Die sektariese aanvalle tussen Soenniete en Sjiïete is roetine, daagliks sterf tientalle en word honderde beseer.

Hierdie geweld het grotendeels die belang van operasies verbygesteek wat besettingsmagte teiken. In die hoofstad Bagdad verteenwoordig die loop van die Tigris-rivier ’n grens tussen die linkeroewer se Sjiïtiese meerderheid (al-Roesafa) en die Soennitiese meerderheid (al-Karkh) van die regteroewer. Breë enklawes het weliswaar behoue gebly aan beide kante, veral die gebiede met ’n sterk godsdienstige konnotasie van al-Kadhimiya (Sjiïete) en al-Adhamiya (Soenniete). Die proses van polarisering, wat gevorm word uit frontlinies, “voorspel gewelddadiger en meer gestruktureerde gevegte”, soos ’n verteenwoordiger van die gewapende Soennietegroep, Jaysh Ansar al-Sunna, dit stel.

Volgens die mees invloedryke vertolkings in Irak en oorsee veg twee “gemeenskappe” om mag: aan die een kant, ’n Arabiese Soennitiese “gemeenskap” wat blykbaar by die vorige regering geaffilieer is en ’n sekulêre monopolie oor sentrale instellings verloor het; en aan die ander kant, ’n Arabiese Sjiïtiese “gemeenskap”, tradisioneel gemarginaliseer in die politieke arena, vir wie die Amerikaanse inval ’n historiese geleentheid sou bied om as demografiese meerderheid hulle stem dik te maak. Hierdie siening het die voordeel van eenvoud, maar dit weerspieël nie die veelvuldigheid van die oogmerke wat die akteurs op die Irakkese politieke arena in die visier het nie. Dit ondersteun ’n dinamika wat eerder behou as gevoed moet word, deur die “gemeenskappe” – wat in werklikheid baie diverse groepe bevat – te “essensialiseer”.

Die versoeking om die Sjiïete as ’n homogene entiteit te verstaan, word bespeur in die huidige debat oor waar hulle trou lê – in Irak of by Iran. Koning Abdoellah van Jordanië het in Desember 2004 gepraat van die “groeiende Sjiïsme” wat die Sjiïete van die Golf, Irak, Sirië en Libanon verteenwoordig as ’n vyfde kolonne, ’n bedreiging vir die belange van Soenniete, gerig deur Teheran. Die Egiptiese president, Hosni Moebarak, het olie op die vuur gegooi met sy stelling dat die wêreld se Sjiïete histories getrouer is aan Iran as aan hulle eie land. Modieuse navorsers verander hierdie veralgemening in ’n konsep in navolging van die opkomende Amerikaanse Vali Nasr, wat die verkiesingsoorwinning van die Sjiïete in Irak in 2005 lees as ’n faktor in die remobilisasie van al die Sjiïete in die streek rondom ’n gemeenskaplike identiteit en verdeelde aansprake wat meganies in diens is van Irannese ambisies.

’n Ander skool veroordeel hierdie argument, waarteen ’n “Irakkese nasionalisme” teen alle deernis voorgestel word. ’n Ingeligte Irannese waarnemer het die volgende te sê gehad: “Intrasjiïtiese solidariteit sal nie die fundamentele fraktuurlyn transendeer wat die Arabiere van die Perse skei nie. Dit lyk asof almal vergeet het dat Irakkese Sjiïete agt jaar lank teen die Irannese Sjiïete in die Irak-Iran- oorlog geveg het, die bloedigste oorlog van die tweede helfte van die twintigste eeu. Volgens inligting wat ons uit Irak ontvang, waardeer die Irakiërs – selfs diegene wat in ballingskap in Iran geleef het, nie die Irannese invloed in hul land nie.”

Hierdie debat is nie sonder betekenis nie. Die persepsie van ’n Sjiïtiese herlewing kan potensieel die politiek beïnvloed wat deur die VSA, die Arabiese regerings en veral die monargieë van die Golf gevoer word – regimes wat enige ambisie in Iran noodwendig as vyandig ervaar. Hierdie ambisie voed ’n haat jeens die Sjiïete wat al hoe meer algemeen in Soennitiese omgewings voorkom, konserwatief en andersins. In Irak is daar nou selde ’n Soennitiese prediker wat nie na Sjiïete as rawafidh (apostate) verwys nie – ’n neerhalende term wat lankal gebruiklik geword het in die woordeskat van djihadi’s soos Aboe Moessab al-Zarkawi (vorige leier van Al-Kaida in Irak).

Die verwysing na “nasionalisme” is eintlik nie voldoende om die gedrag van die Irakkese Sjiïete tydens die konflik met Iran te verklaar nie, hoewel dit in ag geneem moet word. Die proses van nasionale opbou, wat in die eerste helfte van die twintigste eeu begin is, het toe nog nie heeltemal misluk nie. In die 1970’s het die regime nog aktief hulpbronne na die Suide versprei – dis waarom daar in dorpe soos Diwaniya en Nassiriya groot kontingente vir die polisie en die weermag gewerf is. Die plattelanders het nie die kragtige landbouhervorming wat met die staatsgreep van die Baath-party ingestel is, vergeet nie. “Progressiewe” politiek het aan die regime die ondersteuning van baie arm Sjiïete verseker. Terselfdertyd het die totalitêre karakter van die regime gelei tot uitwissing van die geloofsirkels van Najaf en die uitroeiing van politieke projekte wat met die Baath-party meeding – naamlik kommunisme en Islamisme. Uiteindelik het die populêre weermag van meer as 500 000 man ook ’n sleutelrol gespeel deur die Sjiïete onder dwang teen Iran te mobiliseer.

’n Keerpunt is bereik met die oorlog in 1991 en die opstande daarna, wat ’n fase ingelei het van groeiende differensiasie tussen die kollektiewe identiteite: toestemming tot outonomie, burgeroorlog en toe die (ekonomiese) ontwikkeling van Kurdistan; elders, die verwerping van die Staat se kliëntgerigte verskaffingsmodel, wat vervang is deur ’n ekonomie van roofsug en bevoordeling – ’n ekonomie gebaseer op familiebande en ’n blinde vertroue in die Staat. Hierdie verskuiwing is veral pynlik ervaar deur die Sjiïtiese gemeenskappe wat voorheen die grootste voordeel getrek het uit die moontlikhede van maatskaplike vooruitgang wat deur die regime gebied is – staatsamptenare, soldate en kleinhandelaars. Maar dit het nie die Soennitiese Arabiere of die Christene gespaar nie, selfs al het hulle oor die algemeen relatief beter toegang tot hulpbronne gehad via hul familiebande in Irak of in die buiteland. In die Suide is daar by die verarming ’n politiek van ekonomiese weerwraak gevoeg wat bedryf is teen die Sjiïtiese buurte wat in 1991 by opstande betrokke was: ’n dorp soos Hilla het tot 2003 slegs een of twee uur elektrisiteit per dag ontvang. Dit het veroorsaak dat werkswinkels en fabrieke verskuif is en het ’n uittog van die arbeidsmag teweeggebring.

Nogtans het die begrip van die “Sjiïtiese gemeenskap” as martelaar nie werklik posgevat voor die val van die regime in 2003 nie – gesien as die ondergang van die Soennitiese orde. Die sektariese karakter van die toekenning van poste in die politieke sisteem, soos bedink deur die Amerikaanse administrasie, het oorgegaan in ’n vorm van “wedywering tussen slagoffers”: elke akteur grond sy mededinging om ’n magsposisie op die gewig van die onreg wat hy verduur het. Die kampvegters van die Opperste Vergadering vir die Islamitiese Revolusie in Irak (OVIRI), gelei deur Abdoel Aziz Al-Hakim, beklemtoon sodoende die talle martelaars in die familie van hul leier, asook sy sleutelrol in die opstande van 1991. Die getroue militante van Moqtada al-Sadr, daarenteen, verwyt hulle daarvoor dat hulle ballingskap gekies het, dat hulle Irakkese oorlogsgevangenes gemartel het ten bate van die Iraniërs en dat hulle die rebelle in 1991 deur ’n voortydige onttrekking in Iran in die steek gelaat het. Op hulle beurt word hulle daarvan aangekla dat hulle die belange van die regime dien en ’n hele aantal agente vanuit hul geledere gewerf het.

Die herinterpretasie van die Irakkese geskiedenis ingevolge ’n Soenniet-Sjiïet-tweedeling gee die doodsteek aan “Irakkese nasionalisme”. Irakiërs van verskillende agtergronde het nie meer enige gemene verwysings nie: die merkers van hul gemeenskaplike geskiedenis – soos die einde van die monargie (1958), die staatsgreep deur die Baath-party (1968), die Golf-oorlog (1991) en die Anglo-Amerikaanse inmenging – is bitter twispunte wat die sektariese skeiding weerspieël; nasionale hulpbronne word nie meer herverdeel nie, maar opgeraap en skaamteloos geprivatiseer; instellings word verskeur en in eensydige vestings omskep. In die retoriek oorleef daar wel vae verwysings na ’n Irak wat die skeidings te bowe kan kom, maar die definisie hiervoor ontbreek helaas. In die praktyk lê die reaksie op die verkiesing, die arbitrêre geweld, die nepotisme en weergalose vlak van korrupsie die belangrikheid van vertroue op iets anders as ’n nasionale vlak bloot.

Hierdie situasie omskep Iran derhalwe nie in ’n nasie wat – noodwendig of “deur aanneming” – vir die Irakkese Sjiïete is nie. In die suide van die land is daar gemengde gevoelens jeens die Persiese bure. Moqtada al-Sadr gebruik byvoorbeeld ajatolla Ali Al-Sistani se Irannese herkoms om hom te bespot. Die inwoners van die dorp al-Amara geniet dit om na dié van Kout as “Perse” te verwys – in hulle oë ’n erg minagtende term. Terwyl die portrette van ajatolla Ruhollah Khomeini en sy opvolger Ali Khamenei oral te siene is, erken slegs enkele figure op die politieke verhoog die Irannese begrip van velayat-e faqih (dogmatiese regering), pilaar van die Islamitiese republiek van Iran. Die houding van ajatolla Sistani teenoor sy Irannese eweknieë was nog altyd diplomaties – hy vermy dit om sekere rooi lyne oor te steek – en volkome onafhanklik. Dit sou verder voorkom asof hy in Iran, in sy hoedanigheid as vertolker van die geskrewe tekste, ’n belangriker rol as die “gids” (ajatolla Khamenei) speel.

Iran plaas sy kaarte in Irak met groot omsigtigheid op die tafel en oefen sy invloed deur talle kanale uit. Teheran verkies die deelname van sy bondgenote aan die politieke proses, om dit sodoende beter te oriënteer, terwyl hy alles doen om bande met al die politieke akteurs te smee, insluitende Moqtada al-Sadr, geswore vyand van die OVIRI. Op ’n meer plaaslike vlak borg Iran klein groepe, soos Tha’r Allah in Bassora, sonder om sy rol daarin noodwendig uit te basuin: aanvalle teen die koalisie word nie links en regs ondersteun nie, en hulle het byvoorbeeld geweier om die tenkafweertoerusting aan die rebelle te verskaf wat aan die Libanese Hisbolla gegee is. In Najaf word talle studiebeurse beskikbaar gestel en boekskenkings gedoen by die Khamenei-instituut. Die Irannese satellietkanaal al-Alam het ook omrede sy professionaliteit ’n groot kykertal onder Sjiïtiese Irakiërs.

Daar is ander maniere om ’n goeie beeld van Iran na buite uit te dra: humanitêre aksies en ekonomiese beleggings. In teenstelling met die monargieë van die Golf het die Islamitiese Republiek van Iran sy grense met groot vryheid oopgestel vir toeriste en pelgrims. Sy betreklike kalmte en vooruitstrewendheid het hulle baie beïndruk, en ’n veel toegankliker en gasvryer gesig gebied as wat hulle verwag het.

Die Irannese strategie berus paradoksaal nie op ’n getrouheidsrefleks nie, maar op die begrip van ’n Sjiïtiese bevolking waarvan die diversiteit erken word, bestaande uit baie verskillende kollektiewe identiteite. ’n Diep maatskaplike skeiding stel die konserwatiewe Sjiïtiese groepe (die gelowiges van Najaf, die handelaars van heilige stede, die stede se middelklasinwoners, en so meer) teenoor die “rewolusionêre” massas wat Moqtada al-Sadr navolg.

Bowendien het die dorpe van die Suide hul eie kenmerke en spesifieke probleme. Kout is ’n klein plattelandse dorpie sonder indrukwekkende geskiedenis, wat geneig is om weg te draai van die federale ambisies van die groot Suide. Die heilige stad van Najaf, onder beheer van Sistani en die OVIRI, maak weer ander partye afgunstig. In Bassora stel ’n geveg om die dood – oor die beheer van hulpbronne, veral dié vanuit die smokkel van olie verkry – die verskillende “Islamitiese” partye en hul onderskeie burgermagte teenoor mekaar.

Hoe verder ’n mens van die hoofstad wegbeweeg, waar die konfrontasies tussen Soenniete en Sjiïete ’n (skyn-)eenvormingheid van elke kamp aanmoedig, hoe groter word die moontlikheid van intersjiïtiese geweld. Terwyl die bevolking van die Suide oral teleurgestel word deur partye waarvan baie verwag is, swig die paradigma van heropbou op streeksvlak voor ’n logika van onmiddellike wins, kliëntgerigtheid en intimidasie. Dís waarom die alewige hervorming en inisiatiewe wat in Bagdad bespreek word, so sinneloos is.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=699
Artikel nagegaan:
    -