|
||||
Amnon Kapeliouk
* Joernalis, Jerusalem. Skrywer van Arafat, l’irréductible, Parys: Fayard, 2004. Uit die Frans vertaal deur André Crous, [email protected]
Generaal Shlomi Cohen lei die beroemde brigade van Alexandroni. Op 15 Augustus 2006 lê hy besoek af by sy soldate, pas terug van die front: Hulle kla luidkeels dat hulle nie behoorlik ingelig is oor die teenstander nie, nóg toegerus is om hom die hoof te bied. “Ons weier om deel te hê aan die volgende oorlog. Ons het families,”sê sommige. Die generaal beskuldig hulle van ’n “gebrek aan motivering” en nadat hy dreig om ’n “soldaat in die tronk te gooi”, vertrek hy, terwyl almal hom toesnou: “Skaam jou!” Hierdie toneel, soos berig deur die tweede Israelse openbare radiostasie, spreek boekdele oor die verwarring, die wanorde en die boosheid wat in Israel woed sedert die aankondiging van die wapenstilstand, na ’n oorlog waartydens Tsahal, een van die magtigste leërs in die wêreld, nie oor Hisbolla kon seëvier nie – ’n guerillamag bestaande uit ’n paar duisend vegters. ’n Stortvloed van openbaarmakings stroom uit die media en onthul die gebrek aan voorbereiding en die foute wat die koste van die konflik uiteensit: 160 oorledenes (119 soldate en 41 burgerlikes), nagenoeg 1500 beseer, ’n miljard dollar se erge verwoesting vir die ekonomie. Om nie eens te praat van die (mislukte) ambisie van ’n bydrae tot die totstandkoming van ’n “Nuwe Midde-Ooste” nie, soos nagestreef deur die Bush-administrasie wat uit die staanspoor vir Israel aangepor het om Hisbolla binne hierdie konteks “te breek”... In werklikheid het die polemiek reeds ontstaan met die uitbreek van die konflik, maar sonder om enige groot golwe te veroorsaak, toe meningspeilings gepubliseer is wat oënskynlik algehele ondersteuning vir die land se politieke en militêre leiers gee. Vol selfvertroue het Ehud Olmert op 1 Augustus verklaar: “Hisbolla verteenwoordig nie meer die gevaar van vroeër nie. Die volk word nie meer bedreig nie, want hulle trotseer konflik en behaal die oorwinning.” Hy het bygevoeg: “As die geveg vandag sou eindig, sou die Nabye Ooste reeds heeltemal anders lyk, danksy die algehele sukses van die Israeliese weermag en die Israeliese volk.”Twaalf dae later is hierdie grootpratery heel misplaas. Die generaals verskyn wel nog op die televisie om by herhaling te verklaar dat Israel (sonder enige bewyse) aan die wen is, maar daar is ander wat heeltemal anders hieroor dink. Vir generaal Giora Eiland, oudhoof van die Raad van nasionale verdediging, direk gekoppel aan die Eerste Minister, is dit meer ’n kwessie van “gelykop speel”. Hy vertel dat “vier tot vyf maande” nodig sal wees voor dit duidelik word wie die oorwinnaar was. Sommige militêre figure steun eenvoudig op die ontleding van Sjeik Hassan Nasrallah, wat die dag van die wapenstilstand as ’n “strategiese en historiese oorwinning” aan die Party van God toegeskryf het. Volgens hulle kon die weermag Hisbolla nóg breek, nóg ontwapen en nie eens die twee soldate bevry wie se gevangeneming op 12 Julie as verskoning vir die oorlog aangevoer is nie. Hulle praat ook van ’n “tweede rondte” waarvoor Israel hierdie keer met nog groter erns moet voorberei. Die meeste Israeli’s het nog altyd in die waan verkeer dat militêre ervaring ’n belangrike aanwyser van sukses is vir ’n politikus. Dienooreenkomstig sal generaals die beste leiers wees vir die land. Dit is waarom politieke partye, soos die mees invloedryke burgerinstellings, alles in hulle vermoë doen om die generaals te trek. Inderdaad was die land se drie belangrikste staatshoofde van die afgelope vyftien jaar oudweermagoffisiere: Itzhak Rabin, Ehud Barak en Ariel Sharon. En tog het die publiek harde kritiek teen Barak uitgespreek deur hom ’n verpletterende nederlaag toe te dien met die verkiesing in Februarie 2002. Dit was kort na sy rol in die mislukking van die Camp David-samesprekings, wat gelei het tot die uitbreek van die tweede Intifada. Generaal Sharon, wat hom opgevolg het, het die Oslo-verdrae geïgnoreer en die Wesoewer militêr herwin voor hy sy nuwe politiek van eensydige terugtrekking uit Gaza toegepas het. Weens ’n beroerte wat hom aan die einde van 2005 buite aksie gestel het, sal hy nog ’n tyd lank in die pad staan van enige hoop op vrede met die Palestyne. Itzhak Rabin was die enigste van hierdie generaals wat ’n ware politikus geword het. Maar drie skote, op 4 November 1995 deur ’n fanatieke verregse Jood afgevuur, het sy lewe beëindig en ook die pogings wat aangewend is om ’n onafhanklike Palestynse entiteit te skep op die terrein wat sedert 1967 beset word. Alles hang dus af, nie van die rang wat ’n man in die weermag bereik het nie, maar van sy wêreldbeskouings, van oortuigings en politieke moed. Nie net in Israel nie: Generaal Charles de Gaulle, “vader” van dekolonisering, het niks gemeen – behalwe miskien die strepe op sy uniform – met generaal Raul Salan, vegter van Franse Algerië nie. Dit is toevallig dat die huidige leier van die Israeliese regering, Ehud Olmert, en sy Minister van Verdediging, Amir Peretz, albei ’n onindrukwekkende militêre agtergrond het. Soos alle Israeli’s het hulle in die weermag diensplig gedoen, maar hul kennis van verdediging bly uiters beperk. Dis sekerlik waarom die stafhoof, Dan Haloutz, hulle so hartlik verwelkom het: sodat hy hulle makliker om die bos kan lei. Selfs die Marokkaans-gebore Peretz, van die Arbeidersparty, wat nog altyd ’n vakbondslid was en pasifistiese oortuigings het, het in dié strik getrap. Sedert sy nominasie en veral sedert die aanvang van operasies in Gasa (28 Junie), het duidelike harmonie geheers tussen die generale staf en “sy” minister ... byna. Laasgenoemde het oordryf deur byvoorbeeld te spog dat dit hý was wat die lugmag opdrag gegee het om eers Palestynse en toe Libanese residensiële areas te teiken. ’n Spotprent wat deur Haaretz gepubliseer is, beeld twee generaals uit wat toekyk hoe Peretz opdragte gee aan ’n klein soldaatjie naby ’n gebombardeerde Palestynse area; die een fluister vir die ander: “Hy het vinnig sy les geleer.” Dis wat duidelik was op 12 Julie. In plaas daarvan om die twee Israeliese soldate wat deur Hisbolla gevange geneem is, te ruil vir vegters van dié organisasie wat in Israel se hande is (’n transaksie wat die Minister van Buitelandse Sake, Tzippi Livni, uiteindelik teen middel-Augustus oorweeg het as laaste uitweg), het Peretz hom geskaar by die opinie van die generale staf, wat hom ’n ware “vuurstorm” beloof het – een wat “binne enkele dae” al die Hisbolla-vestings sou vernietig, 300 slagoffers tussen die Libanese burgerlikes en hoogstens 90 in die Israeliese weermag en algemene bevolking sou hê. Die generaals het bevestig dat Israel se vermoë om weerstand te bied teen Hisbolla en dus teen die Arabiese wêreld herstel moet word. Deur by te voeg dat die verwoesting van die militêre middele van die Sjiïtiese burgermag die situasie in Libanon heeltemal sou verander, maak hulle dieselfde fout as hulle Amerikaanse “oueres” in Irak: ’n mag wat diepgewortel is in die menslike en politieke samestel van ’n gemeenskap kan nie op militêre wyse uitgewis word nie. Niks is egter meer onvoorspelbaar as die ontwikkeling van ’n oorlog nie, selfs wanneer die een kant veel groter as die ander is. Pleks van lourierkranse om hulle hoofde moet Haloutz, Peretz en Olmert toekyk hoe hul gewildheid kwyn en boonop voor ’n kommissie van ondersoek verskyn. Dit roep wrede herinneringe op: na die verrassing van 1973, waartydens Egipte en Sirië ’n week lank die stryd gevoer het met Israeliese magte, het dié wat gelei is deur Shimon Agranat ’n aardskudding op die Israeliese politieke toneel veroorsaak. Eweneens, kort na die slagting van Sabra en Chatila (1982), het die magte van Itzhak Kahane generaal Sharon gedwing om sy portefeulje as Minister van Verdediging af te lê. Hoe ver sal die kommissie van ondersoek gaan, wat middel-Augustus deur die Minister van Verdediging op die been gebring is? Sal dit aan die volk kan verduidelik waarom die inligtingsdienste nie die Hisbolla-operasie sien kom het nie, nóg die swaard van Damokles gemeet het wat dié se vuurpyle vir die noordelike derde van Israel verteenwoordig? Sal dit aan die armstes kan verduidelik waarom hulle weens die gebrek aan middele om elders in die land beskutting te soek, tevrede moes wees met tuisgemaakte skuilings? En aan die soldate verduidelik waarom die weermag hulle nie opgelei het om guerilla-magte te beveg nie? “Om ons só na die slagveld te stuur,” verduidelik een van hulle, “is soos om ’n chirurg wat jare laas sy hand aan ’n skalpel gesit het, te vra om ’n ingewikkelde operasie uit te voer en te hoop dat dit suksesvol sal wees.” Maar bowenal moet ’n antwoord gesoek word op ’n baie belangrike vraag: Is dit nie tyd vir die Joodse Staat om sy toekoms te waarborg nie? Nie deur middel van duidelik misleidende militêre mag nie, maar deur grondige vredesamesprekings met sy Palestynse, Siriese en Libanese buurlande? Die eensydigheid wat Sharon en Olmert verdedig, lyk taamlik uitgedien. Wat die oorlogsmisdade betref wat gedurende die twee-en-dertig vreeslike dae van konflik gepleeg is, is dit verkieslik om te vertrou – en sodoende agter die kap van die byl te kom – op die skepping van ’n internasionale tribunaal. Maar sal dit ooit gebeur? |