|
||||
Dominique Vidal
*Assistant-redakteur, Le Monde diplomatique, en Midde-Oosterse kenner. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
In een van die Mesopotamiese vertrekke van die Louvre-museum staan ’n imposante twee-en-´n-half-meter-hoë basalt beeldhouwerk uit om en by 1730 voor Christus. Aan die bopunt, voor Shamash, songod en simbool van geregtigheid, troon koning Hammurabi, en onder hom verskyn sy regskode, een van die oudstes ter wêreld. Onder die wette wat in wigvormige tekens opgeteken staan, figureer die beroemde Talion, wat dit het oor die wederkerigheid van misdaad en straf. Op hierdie beginsel steun die Ou Testament wanneer dit (in Levitikus 24:17-22) sê (ou vertaling...): “Iemand wat moord pleeg, moet die doodstraf kry. As iemand ’n ander se dier doodmaak, moet hy dit vervang. Die beginsel is: ’n lewe vir ’n lewe. As iemand ’n medemens beseer, moet aan hom presies dieselfde gedoen word: as hy iemand se been gebreek het, moet sý been ook gebreek word; as hy iemand se oog beskadig het, moet sý oog ook beskadig word; as hy iemand se tand uitgeslaan het, moet sý tand ook uitgeslaan word”. Elders maan Levitikus (19:18) egter tot versoening: “Jy mag nie wraak neem of ’n grief koester teen jou volksgenoot nie …”. Die Nuwe Testament (Matteus 5:38-39) neem lynreg standpunt teenoor die Talion in wanneer Jesus sê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘´n Oog vir ’n oog en ’n tand vir ’n tand.’ Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.” Die Koran weer weifel (Soeraat II, vers 178): “Die Talion is aan julle voorgeskryf wat betref doodslag: ’n vryman vir ’n vryman, ’n slaaf vir ’n slaaf, ’n vrou vir ’n vrou. Maar hy wat op die een of ander wyse deur sy broer vergewe is, moet aan ’n gepaste versoek toegee en bereidwillig skadevergoeding betaal.” ´n Mens twyfel of mnre Ehud Olmert en Amir Peretz ooit in die geskiedenisboeke opgeteken sal word, tensy dit dan is as aanstokers van ’n oorlog wat so teenproduktief is as wat dit bloedig is. In ieder geval sal hulle die skeppers wees van ’n nog erger weergawe van die Bybelse gesegde: “Tien oë vir ’n oog en tien tande vir ’n tand.” Want die operasies wat so digterlik “Somerreëns” en “Nuwe koers” heet, het die lewens geëis van 160 Israeli’s (van wie die oorgrote meerderheid soldate was) en 1 400 Libanese en Palestyne (onder wie ’n oorweldigende meerderheid burgerlikes), gevoeg by Hisbollah se verliese wat na beraming tussen 80 (volgens dié beweging) en 500 (volgens Israel) kan wees (1). Hierdie telbord – wat proporsioneel dié van die tweede Intifada en sy onderdrukking oortref (ongeveer 1 000 Israeli’s en 4 300 Palestyne gedood) – opper ’n knellende vraag, waarop die smouse belas met die “verkoop” van hierdie barbarisme ’n antwoord sal moet gee: is die lewe van ’n Israeli, na hulle mening, tien keer soveel werd as dié van ’n Arabier? Kenmerkend van sogenaamde “asimmetriese” konflikte, is hierdie ongelykheid voor die dood ’n Achilleshiel vir onwrikbare ondersteuners van Israel. Bernard-Henri Lévy het dit duidelik aangevoel toe hy in sy notas in Le Point van 20 Julie skryf: “Ek sou nietemin graag aan dié wat [van wanbalans] praat, wou vra hoe hulle sou reageer as terroristekommando’s op ons grondgebied sou kom, met totale minagting, selfs ontkenning van ons grense, om Franse soldate te ontvoer (2).” André Glucksmann verkies weer om terug te kap: “Die verontwaardiging van vele verontwaardigdes maak my op my beurt verontwaardig. (...) Sommige Moslem sterftes word so lig soos ’n veer geweeg, ander weeg tonne. Dit is dubbele standaarde (3)”. En die bohaai rondom die gestorwenes in Kana te vergelyk met die stilte rondom dié in Irak, Tsjetsjnië en Darfoer. Maar sou die media se onverskilligheid jeens laasgenoemde regverdig dat hulle eersgenoemde verswyg? André Glucksmann sou moeite hê om dit te beweer, nadat hy in 1999 – saam met Romain Goupil, Claude Lanzmann en Bernard-Henri Lévy, wat toe almal die Israeliese oorlog gesteun het – ’n beroep gedoen het waarin hulle verklaar: “Natuurlik veroordeel ons terrorisme, maar jy verjaag nie ’n terroris deur burgerlikes te bombardeer nie (4).” Wat betref ons “hedendaagse Malraux” (of, volgens die hagiograwe, Sartre of Tocqueville), wat beweer dat hy in ’n drievoudige ontvoering die sleutel tot hierdie oorlog sien, lyk dit of hy vergeet dat die Israelies-Palestynse “vulkaan”, om Jasser Arafat se woord te gebruik, reeds sestig jaar lank gereeld tot uitbarsting kom: 1948, 1956, 1967, 1973, 1982, plus twee Intifadas, en ter uitbreiding ’n burgeroorlog in Libanon en twee oorloë in Irak... Die neem van enige gyselaars is natuurlik afkeurenswaardig. Maar hoe kan ’n mens net die gevangeneming op 25 Junie van die soldaat Gilad Shalit so beskryf, en nie die klopjag op 34 Palestynse ministers en parlementslede vier dae later – en, begin Augustus, die arrestasie van die voorsitter van die Wetgewende Raad nie? Daarbenewens, het Israel nie die voorwendsel van twee gevangenes van Hisbollah gebruik om op sy beurt gyselaars te neem nie? Twee ganse bevolkings, dié van die Gasastrook, en dié van Libanon – plus daarby, dié in die noorde van sy eie land? Boonop kon hierdie drie soldate met ’n uitruiling van gevangenes (wat Israel van die hand wys, beide einde Junie en middel Julie) vrygelaat gewees het, maar in plaas daarvan moet die Libanese nou oor hulle gestorwenes rou, en wanneer die 900 000 vlugtelinge na hulle huise toe terugkeer, ’n verwoeste land van nuuts af opbou... Hierdie eensydige blik is tot satwordens toe deur die televisie, radio en koerante aan ons opgedis. Kan enigeen wat die drie Israeliese gevangenes betreur, vergeet dat meer as 10 000 Palestyne in aanhouding is, van wie 600 in Julie gevange geneem is (5)? Is die feit dat Hisbollah sommige van sy vuurpyle met dodelike koeëllaers laai, genoegsame rede vir Israel om trosbomme, fosforwapens of selfs verarmde uranium te gebruik, soos wat Human Rights Watch getuig (6)? En waar hierdie nieregeringsorganisasie ernstig maan dat die nie-onderskeid tussen burgerlike en militêre teikens op ’n “oorlogsmisdaad” neerkom, meld dit dat dit “geen gevalle gevind het waar Hisbollah burgerlikes as skild gebruik het om hulle teen Israeliese teenaanvalle te beskerm nie”. Dit is wel so dat “vegters vuurpylrigters in bevolkte gebiede of naby VN-waarnemers opgerig het”, maar dit “regverdig nie die Israeliese weermag se grootskaalse gebruik van blindelingse aanvalle wat reeds soveel burgerlike lewens gekos het nie” (7). En is dit geloofwaardig om die skade wat Hisbollah in die noorde van Israel aangerig het, te betreur, maar regverdiging te vind vir Israel se “stortvloed van vuur, yster, staal en bloed” wat die Land van Seders se infrastrukture – geboue, paaie, brûe, hawens en lughawens, kragsentrales, fabrieke, ens. – vernietig het? In so ’n mate dat die koste van die oorlog op 1 miljard dollar aan die een kant, en 6 tot 10 miljard ander kant geskat word... Hierdie “dubbele standaarde” word nie net in die Midde-Ooste toegepas nie. Onder Franse politici, joernaliste en talle landsburgers het dit ’n soort verstandelike refleks geword wat so Pavloviaans is dat dit soms feitlik onbewus gebeur. En wat by baie ander kwessies opduik. Tekenend hiervan is die aangeleentheid van Ilan Halimi en Shahib Zehaf. Op 13 Februarie 2006 word Ilan Halimi, 23 jaar oud, dood aangetref nadat hy in Bagneux (Hauts-de-Seine, net buite Parys) aangehou en gemartel is. Hoewel dit waarskynlik is, gesien die slagoffer se herkoms en sekere opmerkings deur sy aanhouers, is die antisemitiese aard van die moord nie uit die staanspoor bewys nie. Dit weerhou nie die belangrikste staatsowerhede sowel as die kerke, politieke partye en media daarvan om te mobiliseer nie. Meer as 50 000 mense neem op 26 Februarie aan ’n protesoptog in Parys deel. Ses dae later, in Oullins (Rhône-distrik), word Shahib Zehaf, 42, deur drie skote gedood. Hoogs waarskynlik om dieselfde redes, maar weereens kan die rassistiese karakter van die moord nie bewys word nie. Maar feitlik almal wat vir Ilan Halimi opgekom het, bly stil. Eers drie weke later betoog 2 000 protesteerders in Lyon. En SOS Rassisme plak kort daarna plakkate op teen mure in Frankryk, waarop staan: “´n Arabier dood in Oullins, ’n Jood dood in Parys – twee pelle vermoor”... Hierdie wanbalans is geen uitsondering nie: dit kenmerk die meeste kommentaar op rassisme en antisemitisme in Frankryk. Gevalle van anti-Joodse geweld het wel onteenseglik vinniger toegeneem as ander van 2000 tot 2002. Daarna het dit óf stadiger toegeneem, óf – soos in 2005 – vinniger afgeneem. Die Nasionale Raadgewende Kommissie vir Menseregte (CNCDH) teken dit onomwonde aan (8). Maar nie alleen onderskat politici en joernaliste die kwantitatiewe toename in anti-Arabiese en anti-Moslem rassisme nie, hulle kyk ook die kwalitatiewe aspek daarvan mis: die kontras tussen die marginalisering van antisemitisme en die opwelling van anti-Arabiese en anti-Moslem vooroordele ná 11-September. Gevolglik verklaar 90% Franse dat hulle bereid sou wees om ’n Jood as president van die Republiek te verkies, maar slegs 36% sou vir ’n Moslem-kandidaat stem (9). Dit is die moeite werd om – met die nodige omsigtigheid – die meningspeiling te lees wat vir die CNCDH se verslag in 2006 gedoen is. Een uit elke drie Franse verklaar dat hy of sy rassisties is (8% meer as in 2004), en 63% van hulle (+5%) reken dat “sekere gedrag soms rassistiese reaksies kan regverdig”. Wat slagoffers van rassisme betref, dui die peilings eerstens op “Noord-Afrikane” en “Moslems” (42%), gevolg deur “uitlanders” en “immigrante” (26%), en dan “Afrikane” en “Swartes” (17%) – en daarna kom Franse (12%), “Jode” (6%) en “mense met ’n ander velkleur” (6%)… Om deurgaans ’n rangorde aan die verskillende soorte rassisme te gee, sou wees om ’n weg vir elkeen te berei. Sommiges het dit duidelik nie verstaan nie, soos blyk uit reaksies ná die onlangse ontbinding van die Ka-groep, ingevolge die wet van 10 Januarie 1936 op “gevegsgroepe en private burgermagte”: die regering se dekreet verwys met reg na “die verspreiding van idees en teorieë wat poog om diskriminasie, haat en rassegeweld te regverdig en aan te moedig” (10). Dieselfde kenmerke geld by ander klein groeperinkies wat egter nie ontbind is nie, in die besonder die Joodse beskermingsliga, wat verbied is in die VSA, Kanada en, in die vorm van die Kach-party, in Israel. Nietemin tel ’n mens nie eens meer die dade van geweld wat hulle, soos ook Betar, al gepleeg het teen kampvegters vir ’n regverdige vrede tussen Israel en Palestina nie, tot selfs in die howe (11). Het iemand al hierdie teenstrydigheid uitgewys? ´n Laaste verontrustende feit. Kort na die beweging om protes te maak teen die Franse “Kontrak teen armoede en uitsluiting” (Contrat précarité exclusion oftewel CPE), begin die koerant L’Humanité ’n petisie vir amnestie vir betogers wat “voor die voet” deur die howe veroordeel is – en aan wie die president uiteindelik nie op 14 Julie grasie verleen het nie. Waarom het niemand ’n soortgelyke inisiatief op tou gesit ter verdediging van die honderde jeugdiges wat laas winter onregverdig veroordeel is tydens die opstande in die voorstede nie? ´n Suiwer ideologiese debat, sou ’n mens kon sê. Maar dit is nie waar nie: die onwrikbare afwysing van “dubbele standaarde” is onder meer bepalend vir enige vreedsame oplossing van die Israelies-Arabiese konflik. Benewens ander motiewe vir hulle aggressie, voer die Israeliese leiers aan dat hulle wil vergoed vir Beiroet se onvermoë om die VN Veiligheidsraad se resolusie 1559 toe te pas. Verheug oor hierdie verklaring, is die internasionale gemeenskap versigtig om nie sy verbasing te wys nie: dit is wel die eerste keer dat Tel Aviv blyke daarvan gee dat hy die VN se resolusies wil respekteer. Indien Israel uiteindelik van plan is om dié van die Veiligheidsraad, of selfs die Algemene Vergadering (12), toe te pas, lê daar vir hom baie werk voor. Resolusie 181 van 29 November 1947 besluit op die “verdeling” van Palestina in twee state, een Joods, die ander Arabies. Resolusie 191 van 11 Desember 1948 bepaal die “reg op terugkeer” van vlugtelinge. 242, op 22 November 1967, vra die “onttrekking van Israel se gewapende magte uit die besette gebiede” in ruil vir erkenning van “sy reg om in vrede te leef binne veilige, erkende grense”. Resolusie 3226, op 22 November 1974, meld duidelik “die Palestynse volk se reg op soewereiniteit en nasionale onafhanklikheid”, ens. En dan moet hy veral nie die drie mees onlangses vergeet nie. Dié van die Veiligheidsraad (1397) wat op 12 Maart 2002, vir die eerste keer sedert 1947, ’n visie herbevestig “waar twee state, Israel en Palestina, naas mekaar binne veilige, erkende grense leef”. Dié van die Algemene Vergadering (A/RES/ES-10/15) wat op 20 Julie 2004 die Internasionale Hof in Den Haag se uitspraak onderskryf waarin die afbreek van die muur op die Wesoewer gelas word. En natuurlik resolusie 1701, waarmee die Veiligheidsraad – teoreties gesproke – op 11 Augustus vanjaar die oorlog van die Noordelike somer van 2006 op ’n einde verklaar ...
_________ (1) Al hierdie syfers is op 14 Augustus deur AFP verskaf. Die Israeliese vereniging Betselem reken dat Julie 2006 die moorddadigste maand in Palestina was sedert April 2002. (www.btselem.org/english/firearms/20060803_Civilians_killed_in_Gasa.asp) (2) In Le Point. Let op die gebruik van die werkwoord “ontvoer” (“kidnapper” in Frans): die soldate was egter nie kinders nie, al staan Lévy in vertedering voor hulle “verwaarloosde” voorkoms wat hom herinner aan “die uitbundige gestoei van bataljonne jong republikeine” in Spanje (Le Monde, 27 Julie 2006). Interessant genoeg gebruik Claude Lanzman dieselfde werkwoord in sy artikel in Le Monde (3 Augustus 2006). (3) Le Figaro, 8 Augustus 2006. (4) Le Figaro, 15 November 1999. (5) International News Media Center, 31 Julie 2006. (6) Cf. The New York Times, 25 Julie 2006 en www.fair.org/index.php?page=2931. (7) Sien http://hrw.org/reports/2006/lebanon0806/ (8) Lees die verslae van 2001 tot 2006 by: www.commission-droits-homme.fr/. (9) Lees onderskeidelik Nonna Mayer, “La France n’est pas antisémite”, Le Monde, 4 April 2002, en die ondersoek oor “L’islam en France” geloods deur Artenice Consulting, April 2004. (10) AFP, 29 Julie 2006. (11) ’n Opsomming is te vind by: www.communautarisme.net/Extremisme-pro-israelien-les-principaux-faits-imputes_a298.html (12) Kyk na die webwerf www.un.org/Depts/dpa/qpal/. |