|
||||
Georges Corm
*Voormalige Libanese minister van finansies, skrywer van Le Proche-Orient éclaté (1956-2006), Parys: 2006, Gallimard, en Orient-Occident, la fracture imaginaire, Parys: La Découverte, 2005. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Sedert sy totstandkoming het Israel, as “Staat van die Jode” - om die titel te gebruik van ’n boek deur Théodore Herzl, stigter van die Sioniste-beweging in 1897 - hom trompop geloop teen die meer as duisend jaar oue oorblyfsels van godsdienstige pluralisme in die Midde-Ooste, tussen Midde-Oosterse Christene en Moslems, Soenniete, Droesse, Sjiïete of Alaoeïete. In Palestina, Sirië, Libanon, Irak en Egipte woon ’n verskeidenheid godsdienstige gemeenskappe, insluitend Joods, vervleg met mekaar (1). Die skepping van ’n uitsluitlik Joodse staat in hierdie diverse milieu kon dus nie anders as om hewige teenstand te ontlok nie. Die eerstes wat aan Arabiese kant bekommerd begin raak het, reg van die begin van die 19de eeu, was die Christene van Palestina, Libanon en Sirië. Hulle het voorsien hoe hulle toekoms bedreig sou word deur die koms van so ’n staat, gebou op die monopolie van ’n gemeenskap wat gevoed word uit ’n demografiese instroming vreemd aan die streek: Asjkenasi-Jode wat van vervolging in Rusland en Oos-Europa vlug. Midde-Oosterse Christen-gemeenskappe het verwag dat die Sionistiese onderneming, gesteun deur Europese koloniale magte, sterk op kruistogte sou trek en dus die goeie sekulêre verhoudinge tussen Midde-Oosterse Christene en Moslems in gevaar sou stel. Bowendien sou die sukses daarvan sommiges in die plaaslike Christen-gemeenskappe kon aanspoor om dieselfde regte op te eis as die Jode wat van elders na ’n staat met Christen-gemeenskappe gekom het. Die Joodse nedersetters het van hulle kant soms voor die stigting van die staat van Israel reeds die Christelike minderhede in die Midde-Ooste as moontlike bondgenote beskou. Hulle hoop beskaam egter: die Christene van die groter Libanon, wat in 1919 deur Frankryk tot mandaathouer verklaar is, bly oorwegend onbetrokke. In sy pleidooi vir ’n terugkeer na Libanon se Feniciese oorsprong wil die Fransskrywende Libanese digter, Charles Corm, geensins die Sionistiese ideologie naboots nie, maar eerder ’n moderne Libanese nasionalisme tot stand bring wat verhewe is bo die kloof tussen Christene en Moslems. In dieselfde tydperk beroep die Egiptiese nasionalisme hom ook op sy faraoniese wortels, en die opkomende Irakkese nasionalisme weer op ’n glorieryke Babiloniese erfenis. Michel Chiha, nog ’n Franssprekende Libanees en ’n briljante joernalis met sterk politieke invloed, waarsku die Libanese voortdurend teen die destabilisering wat die staat van Israel in die Midde-Ooste teweeg sal bring. Hy maak hulle attent op die vyandigheid wat Libanon met sy verskeidenheid van gemeenskappe sal polariseer en stel dié diversiteit as antitese vir die Israeliese beleid om gemeenskappe uit te sluit. Iemand wat ongetwyfeld die grootste aandeel daarin gehad het om Libanese van hulle land se moeilike toekoms bewus te maak, was ’n Maronitiese priester, Youakim Moubarac, wat sy omvangryke oeuvre gewy het aan die gesprek tussen Islam en die Christendom en die sentrale posisie van sowel Libanon as Palestina in hierdie gesprek (2). Dit is dus nie verbasend om die Libanese weermag sy aan sy met ander Arabiese weermagte te sien veg in die oorlog van 1948 om die totstandkoming van die staat van Israel te probeer verhoed nie; in 1949 word ’n wapenstilstandooreenkoms tussen Libanon en Israel onderteken. Besadig weerhou die Libanese weermag hom daarvan om aan die oorlog van Junie 1967 deel te neem, waartydens Israel die Egiptiese Sinai, die Siriese Golanhoogland asook Oos-Jerusalem, die Wesoewer en die Palestynse Gasastrook beset. Maar Libanon ontkom nie aan die groeiende spanninge wat hierdie oorlog in die Midde-Ooste skep nie. Erger nog: sy stelsel van demokratiese vryhede en politieke verskeidenheid omskep die land in ’n klankkas van die groot spanninge wat die Israeliese oorwinning oral in die Arabiese wêreld geskep het. Boonop bring die omvang van die Arabiese lande se neerlaag en die besetting van die hele Palestina diepgaande ontwrigting in die Palestynse samelewing teweeg, veral in die vorm van gewapende bewegings wat in die Palestynse vlugtelingkampe lede werf, bowenal in Jordanië en Libanon, wat die grootste getal vlugtelinge in verhouding tot hulle bevolking en grootte ontvang. Nadat hulle in 1969 deur die onderdrukking van die Jordaniese weermag uit Jordanië verjaag word (“Swart September”), brei die Palestynse weerstandbewegings hulle teenwoordigheid in Libanon uit, vanwaar hulle soms van die grens af guerrilla-operasies teen Israel loods. Vandaar die beleid van grootskaalse weerwraakaksies deur die Israeliese weermag teen die lande wat hulle huisves. So het ’n Israeliese lugkommando in Desember 1968 in Libanon die ganse Libanese burgerlike lugvloot vernietig, wat groot politieke ontwrigting in die land teweeggebring en tot die steeds ooglopender magteloosheid van sy regering gelei het. Om die waarheid te sê, sedert die Israelies-Arabiese oorlog in 1973 word Libanon die uitsluitlike slagveld vir die konfrontasie met Israel, met die Siriese en Egiptiese fronte totaal geneutraliseer (3). So word die weg geopen na die uitbarsting in 1975. Libanon, wat deur baie Palestynse partye voorgehou is as ’n model vir ’n toekomstige niegodsdienstige, demokratiese Palestina waarin Jode, Christene en Moslems op gelyke voet geïntegreer is, word in geweld gedompel (4). Hierdie uitbarsting loop uit op die stigting van ’n koalisie van niegodsdienstige Libanese groeperinge wat as die Nasionale Beweging bekend staan en eensgesind is met die Palestynse gewapende groepe. Dit sluit verskeie faksies in wat aan Nasser trou sweer, grotendeels aanwesig in die Soennietiese gemeenskap, die Kommunistiese Party, die Siriese Volksparty en die Sosialistiese Party van Kamal Joumblatt, vader van Walid Joumblatt. Daarteenoor begin die Falangistiese Party, onder die invloed van die voormalige minister van buitelandse sake, Charles Malik, wat baie na aan die VSA staan, om te bewapen, onder voorwendsel om al die Christene onder die vaandel van ’n Libanese Front byeen te bring. Laasgenoemde beoog om Libanon te bevry van die rewolusionêre Palestynse greep, ondersteun deur die USSR en sogenaamde “radikale” Arabiese lande. Vir Israel bring hierdie Libanese situasie, aangeblaas deur sy beleid van grootskaalse wraakaksies, opnuut ’n ou strategiese plan na vore wat uit die begin van die 1950’s dagteken: om ’n Christen-staat in Libanon tot stand te bring wat ’n bondgenoot van die Joodse staat sou wees, en om laasgenoemde se legitimiteit in die Midde-Ooste te regverdig (5). Deur in 1978 die suide van Libanon tot by die Litanirivier in te neem, bring sy weermag in ooreenstemming met die ou plan van David Ben-Gurion ’n burgermag op die been met afgerokkelde reserwetroepe uit die Libanese weermag, en ’n dissidente Christen-offisier aan die hoof. Hierdie burgermag roep in April 1979 ’n staat van “vrye Libanon” uit op die 800 km 2 wat die Israeliese weermag tot in 2000 beset, reglynig teen die VN-Veiligheidsraad se resolusie 425. Terselfdertyd, hoewel die Siriese weermag in die lente van 1976 Libanon binnegaan om die opmars van troepe van die koalisie van Palestynse bewegings (6) en die Nasionale Beweging teen die Libanese Front se forte te stuit, knoop die partye waaruit laasgenoemde bestaan met Washington se goedkeuring verhoudinge met Israel aan. Geleidelik kom ’n gedeelde strategie tot stand met die doel om ’n totale politieke ommekeer in Libanon teweeg te bring: die Falangistiese Party maak van ’n nuwe Israeliese inval gebruik om die mag oor te neem, en sluit onder VSA-beskerming ’n vredesooreenkoms met Israel; die gewapende Palestynse bewegings sou uitgewis word. Hierdie strategie kry gestalte met die inname in 1982, waartydens generaal Ariel Sharon Beiroet van Junie tot einde Augustus beleër voordat hy ’n Falangistiese owerheid in Libanon instel met die steun van die Weste, Saoedi-Arabië en Egipte. Te midde van die aggressie verkies die Libanese parlement ’n president vir die Falangistiese republiek (Bechir Gemayel) en, toe dié om die lewe gebring word, sy broer Amin. Onder Amerikaanse druk onderteken die nuwe bewind in 1983 ’n ongelyke vredesverdrag met Israel. Terselfdertyd word 200 000 Christene van die Sjoef-gebied – ’n bergagtige streek suidoos van Beiroet – met geweld gedwing om te verskuif: die Israeliese weermag hits Droesse en Christen-burgermagte aan om mekaar te dood voordat hy uit die gebied onttrek. Die gewapende organisasies van niegodsdienstige Libanese partye, steunpilare van die weerstand teen die besetting sedert 1978, word deur die Falangistiese bewind ontwapen en verjaag, gesteun deur die multinasionale ingrypingsmag wat in Augustus 1982 na Libanon gestuur is om te help met die ontruiming van Palestynse vegters en om die burgerlike bevolking te beskerm. Die welslae het ons in Sabra en Chatila gesien ... Dit is dan die omstandighede wat gelei het tot die totstandkoming van die Party van God, Hisbollah, wat aktief volgelinge werf onder die Sjiïetegemeenskap, tot aksie aangespoor deur die Irannese godsdienstige rewolusie en sy hardnekkige mobilisering om met die Israeliese besetting van die Suide klaar te speel. Nóg die VSA, nóg Israel kry dit reg om van Libanon ’n satelliet te maak, en Libanon raak verstrengel in ’n spiraal van gemeenskapdisintegrasie. In 1990-1991, as vergoeding vir sy steun aan die anti-Irakkese koalisie, gee die Westerse lande hom beheer oor Sirië. Die land word omvorm in ’n Saoedi-Siriese kondominium toe Rafik Hariri, een van die koning van Saoedi-Arabië se staatmakers, premier word: hy beklee dié pos ononderbroke van 1992 tot 1998, en weer van 2000 tot 2004, en sleur die land mee in ’n ongekende vlaag van eiendoms- en finansiële spekulasie. Libanon erf in die proses ’n skuld van 40 miljard dollar, maar talle familielede, howelinge, Arabiese prinse, Siriese offisiere, plaaslike banke en beleggingsfondse word ryker as in enigeen se wildste drome. Die VN se Veiligheidsraad aanvaar in September 2004 resolusie 1559, wat Libanon se wankele status onder die loep bring. Ná die inval in Irak en ooreenstemmend met sy “Nuwe Midde-Ooste”-projek, weier die VSA om die Land van Seders in die wentelbaan te laat van die Siries-Irannese spil, waarvan Hisbollah volgens hom ’n blote uitvloeisel is: hy beplan dus om laasgenoemde uit te wis. Die resolusie veroordeel enige verlenging van die mandaat van die Libanese president, Emile Lahoud, (wat beskou word as hoofsteun van wat die VSA tot “terroriste”-organisasie verklaar het); dit eis die onttrekking van Siriese troepe, die ontplooiing van die Libanese weermag in Suid-Libanon en die ontwapening van alle burgermagte – met ander woorde Hisbollah - wat egter in Libanon en die res van die Arabiese wêreld as “weerstandsbeweging” bestempel word, maar ook Palestynse organisasies wat nog daar is. Met ongebruiklike stiksienigheid neem die Franse diplomatieke diens die leiding in hierdie resolusie, ongetwyfeld ter wille van versoening met die VSA ná die onenigheid aangaande Irak. Maar terselfdertyd dompel dit Libanon in ’n volslae destabilisering en neem hom terug na die situasie waarin hy tussen 1975 en 1990 was: ’n gevegsterrein vir al die vyandelike magte van die Midde-Ooste. Die planne om die suide van Libanon opnuut te beset, word dus van stapel gestuur. Aan hulle kant werk die VSA en Frankryk ná die moord op Rafik Hariri aktief mee om ’n plaaslike mag in Libanon tot stand te bring wat gunstig teenoor die Amerikaanse denkwyse sal staan: dié sogenaamde mag van 14 Maart word saamgebind rondom die Hariri-familie en mnr. Joumblatt. Die Veiligheidsraad buit boonop die moord op die voormalige premier uit om ’n indrukwekkende reeks resolusies aangaande die saamstelling van ’n internasionale ondersoekkommissie te aanvaar, gevolg deur verdere resolusies vir ’n internasionale hof, asook herbevestiging van die noodsaak dat die Libanese regering resolusie 1559 toepas. Hierdie bedrywigheid van die VN se hoogste liggaam vorm ’n vreemde kontras met sy passiwiteit toe Israel in Julie 2006 die ganse Libanese volk gyselaar gehou het, hele streke verwoes, honderde inwoners doodgemaak en tienduisende ander tot ’n gevaarlike uittog gedwing het ... Klaarblyklik bly Libanon ’n aansienlike steurnis vir Israel en die “internasionale gemeenskap”, wat hierdie buitensporige aggressie steun of lafhartig laat voortduur, nes die gewelddadigheid wat teenoor die res van Palestina uitgeoefen word. Die VSA en Israel slaag in 2006 ewe min as met die “chirurgie” wat hulle in 1982 toegepas en Libanon vir jare in lyding gedompel het, as Palestina vandag. Hou die “oorlog tussen beskawings”, die teoretiese raamwerk vir die leerstelling van oorlog teen “terrorisme” en “Islamitiese fascisme” wat die Amerikaanse administrasie sedert 1992 voorhou, nie die gevaar in dat Libanon opnuut tot ’n bloedige interne oorlog tussen gemeenskappe gedryf sal word nie? Sal Libanon se roeping as simbool van godsdienstige pluralisme, wat die Israeli’s so dwars in die krop steek, teen hierdie jongste mishandeling staande kan bly? Dit is gerusstellend om te sien dat die meerderheid Christene in Libanon, in teenstelling met hulle gemoedstoestand in 1975, hul intellektuele en politieke erfenis wat hierbo beskryf word, terugvind. Generaal Michel Aoun, voormalige bevelvoerder van die Libanese weermag wat tevergeefs in 1989-1990 probeer het om Sirië uit Libanon te dryf, kom nou na vore as die mees gewilde man in die Christen-gemeenskap. Self ’n boorling van die suidelike voorstede van Beiroet, verklaar hy sy solidariteit met die nuwe teëspoed wat die land tref, maar erger nog die Sjiïete-gemeenskap wie se woongebiede verwoes is. Deur dit te doen, rig hy ’n skans op teen ’n nuwe onenigheid tussen gemeenskappe wat die ongehoorde geweld van die Israeliese optrede hoop om te skep. So ’n onenigheid sou die beste middel vir die Joodse staat en sy bondgenote in Washington wees om opnuut, soos in 1982, te poog om hierdie “rebelse” volk te breek en as satelliet in te lyf. Sal die propagandistiese sirenes van ’n “botsing tussen beskawings” en die uitputting van ’n hele land wat sedert 1975 alleen, saam met die Palestyne, die aanslag van die Israeliese oorlogsmasjinerie moes verduur, nie uiteindelik die einde beteken van die bewonderenswaardige weerstand wat die Libanese burgerlike samelewing teen al hulle teëspoed bied nie? Sal die tallose leemtes en vaaghede van die Veiligheidsraad se resolusie 1701 nie gebruik word om Israel en die VSA toe te laat om hulle wil op die Libanese regering af te dwing en in sy binnelandse aangeleenthede in te meng, soos wat hulle voortdurend sedert die aanvaarding van resolusie 1559 probeer doen nie? Baie Libanese wil graag hê dat hulle land neutraal in die konflik tussen Israel en Palestina moet word, hom van sy Siriese hinterland moet afsny, en die soort Monte Carlo word vir ryk olie-emirs in die nuwe Midde-Ooste wat George Bush beloof het. Maar dié ou, papbroekige droom sal Libanon nie in staat stel om die historiese uitdagings waarvoor hy te staan kom, die hoof te bied nie. En wat teenswoordig by almal spook, is die skim van ’n burgeroorlog waartoe die VSA Irak onder die dekmantel van “demokratisering” dryf, en die botsing tussen Soenniete en Sjiïete wat die Arabiese regimes met hulle onderhorigheid aan die VSA in die streek aanblaas. Hierdie disintegrasie dra by tot Israel en die VSA se planne. Dit berei die weg na nog groter chaos en lyding. Sal Libanon hom kan verdedig en die merkwaardige vlaag van eensgesindheid onder al sy gemeenskappe in die aangesig van hierdie aggressie kan laat standhou? Slegs die toekoms sal ’n antwoord hierop kan gee.
_________ (1) Cf.Histoire du pluralisme religieux dans le bassin méditerranéen, Parys : Geuthner, 1998. (2) Cf.Youakim Moubarac, un homme d’exception, Beiroet: La Librairie orientale, 2004. (3) Die Egiptiese president Anwar El-Sadat gaan in 1977 na Jerusalem, en sluit daarna in 1978, onder Amerikaanse beskerming, ’n vredesverdrag met Israel: hierdie gebeure ontketen opnuut geweld in Libanon (cf. Le Liban contemporain. Histoire et société, Parys: La Découverte, 2005). Die Siriese front – op die besette Golanhoogland – beleef daarenteen tot vandag toe ’n kalmte wat in teenstelling staan met die langdurige destabilisering van Libanon. (4) In sy beroemde toespraak op 12 November 1974 voor die VN se Algemene Vergadering, praat Jasser Arafat van sy “droom”: die totstandkoming van “´n enkele demokratiese staat waarin Christene, Jode en Moslems sal woon in ’n staat wat op die basis van geregtigheid, gelykheid en broederskap gebou is”. (5) Lees “La Balkanisation du Proche-Orient”, Le Monde diplomatique, Januarie 1983. (6) Een van sy eerste optredes sou die slagting by die Palestynse kamp Tal Al Zaatar gedurende daardie somer wees. |