blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Die Afrikaanse universiteit van die toekoms: Vermy die ideologie van performatiwiteit! 2006-09-13
Sarie Berkhout

*Professor in opvoedkunde, Universiteit Stellenbosch

 

Geeneen sal in ’n demokratiese konteks twyfel oor die spanning wat daar bestaan tussen vryheid en verantwoordelikheid nie. In ’n omgewing van ’n nuut vestigende en deelnemende demokrasie soos Suid-Afrika, waar een van die vernaamste uitdagings die lewering van beleidsbeloftes is, is daar ’n toenemende beklemtoning van verantwoordelikheid en toerekenbaarheid.

Dit is uiteraard besonder belangrik dat burgers, en veral dié in diens van ander burgers, toerekenbaar gehou word vir die wyse waarop hulle hul taak uitvoer en die belastingbetalers se geld bestee. Dit is dan ook die agtergrond waarteen prestasiebestuur oorgeneem word vanuit die bedryfskonteks en deel word van die wyse waarop die openbare domein bestuur word. Meer mededingende prestasiebewuste individue, so lui die argument, sou dan soos in ’n sakekonteks die antwoord wees vir die vestiging van toerekenbaarheid en groter doeltreffendheid. Dit is die onderliggende agtergrond waarbinne universiteite, deesdae gereduseer tot hoër onderwysinstellings, onderwerp word aan die regime van prestasiebestuur. In ’n globale konteks waar ekonomiese kompeteerbaarheid in die magtige kennisekonomie die oorheersende meesleurende diskoers vorm, is die implementering van prestasiebestuur verleidelik oortuigend.

Prestasiebestuur as meganisme in die staatsbeheer van universiteite, wil ek redeneer, word egter onder invloed van die ingenieurs van vooruitgang en die dominante neoliberale diskoers gereduseer tot ’n skadelike vorm van bewaking of dophouding (surveillance) wat bekend staan as performatiwiteit. In teenstelling tot diskursiewe demokratiese vorme van verantwoordelikheid gebaseer op vertroue, word ’n kultuur van performatiwiteit gevestig deur middel van devolusie, mikpunte en insentiewe om institusionele verandering te bewerkstellig. Performatiwiteit rus verder op ’n vorm van remoralisering waardeur individue verantwoordelikheid aanvaar en dit op sigself van toepassing maak sonder inagneming van die strukturele verweefdheid van hierdie sogenaamde keuse om by te dra tot ‘transformasie’ en terselfdertyd te presteer of nie.

Performatiwiteit is ’n tegnologie of kultuur van regulering wat gebou word op beoordeling, openbare vergelykings en in die openbaar opgehemelde rangordelyste. Dink maar aan die sogenaamde “Ivy-league”-universiteite van die VSA of die lyste waarin die top-universiteite of soms programme wat by besondere universiteite aangebied word, gelys word van die ‘beste’ tot die ‘swakste’ ooreenkomstig ’n aantal statistiese indikatore. In Suid-Afrika word natuurwetenskaplike navorsers al etlike jare gegradeer aan die hand van die NNS (Nasionale Navorsingstigting of NRF) en as A, B of C geklassifiseer. Sedert 2002 word ook mense in die sosiale wetenskappe (geesteswetenskappe of ‘humanities’) onderwerp aan hierdie stelsel van portuurgroepevaluering en -gradering ten einde te bepaal wie in aanmerking kan kom vir navorsingsbefondsing deur die NNS. Die legitimiteit van die NNS-graderingsproses is ingebed in ’n stelsel van portuurgroepevaluerings op grond van persoonlike narratiewe en bewyse. Hierdie rangorde van akademici en navorsers kan dan weer gebruik word deur individue om te beding vir beter poste en veral betaling, en word deur die universiteit gebruik as bemarkingsaanduider van hulle ‘kwaliliteit’.

Universiteite wat histories staatgemaak het op die aktiewe en kollegiale deelname van akademici word deesdae, nieteenstaande gereelde debatte en besware van krities bewuste akademici oor die uitwerking en konsekwensies van sodanige stelsels, onderwerp aan een of ander vorm van prestasiebestuur ten einde hul posisie in hierdie ranglys-spel te verhoog. Kritiek op performatiwiteit as prestasiebestuurstelsel word ondermyn. Nie alleen omdat die belofte van ’n groter beloning vir uitnemende prestasie verleidelik en regverdig is nie, maar ook omdat diegene wat kritiseer by implikasie gewoon ‘tog ’n bietjie lui sou wees’. Uitgebreide en komplekse prosedures ingebed in duur gepatenteerde stelsels vir die bestuur van menslike hulpbronne, soos byvoorbeeld Oracle, kan gelukkig gebruik word om die prestasie te evalueer en beloon. Omdat universiteite meer is as sake-instellings en akademici moeilik tot kwalifikasie en kennisprodusente en verkoopsagente (of dalk moes ek die mooi woord kennis-entrepreneurs gebruik het) gereduseer kan word, moet ’n klassifikasie- en beheerstelsel ontwikkel word wat op grond van vryemarkretoriek regverdigbaar is. Die maatstawwe vir besluite oor prestasie moet so objektief en konsekwent as moontlik wees nieteenstaande omgewingspesifieke bestuurspraktyke – en wat is meer objektief as versyfering! Sentraal in hierdie proses is die reduksie van komplekse sosiale en politieke prosesse en gebeurtenisse, soos onderwys, navorsing, gemeenskapsbetrokkenheid en – terloops – die omstandighede en voorwaardes vir kennisskepping, tot ’n stel onomstrede en gelykgeykte kategorieë van besluitneming op grond van meetbare indikatore vir ’n bepaalde termyn. So kan elke individu se prestasiepunte oor omgewingsgrense heen bereken en omgereken word om in te pas in die besigheidsplan en die verbandhoudende strategiese aanduiders of indikatore om die rektor en universiteit se prestasie te kan besing. So ’n klassifikasie kan byvoorbeeld gedoen word aan die hand van ’n vyfpuntskaal waaraan die vergoedingsaanpassings gekoppel kan word. ’n Mens kan ook ’n klassifikasieraamwerk gebruik waarvolgens jy sou kon onderskei tussen die ou hout, soliede sterre en sterre met subkategorieë soos potensiële en groeiende sterre, soliede burgers en potensieel soliede burgers en die verbygaande, skaars oorlewendes!

Performatiwiteitstelsels ondermyn die krities-kreatiewe en sosiopolitieke verantwoordelikheid van universiteite, en omskep dit tot pseudo-kompeterende markte waar akademici gereduseer word tot agente wat oortuig of angstig die onderliggende mededingingswaardestelsel internaliseer en hul gedrag en denke dienooreenkomstig skik. Só word prestasie-evaluering vir my die soort meganisme wat Foucault beskryf het aan die hand van die idee van die Panoptikon van Bentham om gevangenes se gedrag in tronke te reguleer. Dit word ’n stel institusionele leuses en diskursiewe praktyke wat werk om academici te reguleer deur die dissiplinering van hul beliggaming as ster of dooie hout – al sou dit uit vrye keuse wees. Die verleidelikheid van dié soort prestasiebestuurstelsel is geleë in die wyse waarop die onderliggende magsverhoudinge en beheermeganismes verdoesel word in ’n algemeen aanvaarde diskursiewe patroon waarin die prestasie al dan nie van die individu volledig persoonlik geabsorbeer word. Enige vorm van solidariteit of gemeenskaplikheid word in hierdie geïndividualiseerde prestasiespel ondergrawe, want om jou prestasie voortdurend te oortref, verg meer en meer tyd en minder en minder belangstelling in die verwording of verbeelding van die wêreld waarbinne ons leef.

’n Verdere effek hiervan is dat die publikasie van navorsing in ISI (International Science Index) of die IBSS (International Bibliography of the Social Sciences) erkende wetenskaplike tydskrifte die belangrikste indikator van werklike prestasie laat word. In hierdie indekse word reeds impaksaanduiders aan individuele tydskrifte gekoppel. Dié soort indikatore word dan gebaseer op die aantal kere wat so ’n tydskrif of artikel gelees word (afgelaai word van die webtuiste). Indekse vir die aantal kere wat bepaalde tydskrifte, artikels en skrywers aangehaal word in ander artikels word gebruik om die kwaliteit aan te dui. ’n Verhouding van publikasie- eenheid per dosent reguleer daardeur nie net die prestasie van die universiteit, fakulteit en departement nie, maar ook die identiteite van individuele dosente. Die belang van plaaslike taalgemeenskappe, soos Afrikaans, word daardeur swyend vernietig. Afrikaanse vaktydskrifte wat deel wil word van hierdie stelsels moet uiteraard oorskakel na Engels. Verder ontmoedig dit publikasie in plaaslike akademiese tydskrifte, want die wat daarin publiseer is gewoon nie stermateriaal nie – dit dra nie by tot die verhoging van jou posisie op hierdie ranglys van aanhaling nie. Om tyd te bestee aan publikasies in die openbare domein (nie portuurgroep gerefereerde publikasies nie) is ’n seker aanduiding dat jy verbygaande is.

In Suid-Afrika word addisionele kategorieë om die doeltreffendheid van uitsette te meet, gekoppel aan die deurvoersyfers van studente (d.w.s. % studente wat binne die voorgeskrewe tyd hulle studieprogram suksesvol voltooi). Verder is daar ook nog die allerbelangrike reduksie van diversiteit tot die persentasie studente en dosente ‘uit vorig benadeelde groepe’, wat ongelukkig ’n moeilike konsep is om te versyfer. Derhalwe moet daar gesteun word op besluitnemingskategorieë wat oorgeërf is uit apartheid, naamlik, wit en swart met soms ’n debat oor die wat nie heeltemal swart is nie, en of wit vroue werklik benadeel was of nie. Weereens word onbewustelik daardeur ’n beheerstelsel wat tot fundamentele onreg gelei het, voortgesit.

’n Prominente tendens wat hiermee verband hou, is die toenemende kommodifisering van die rol van universiteite. In plaas van insigte wat as eiendom van die universiteit in die openbare domein geplaas word (proefskrifte en tesisse), word ‘kennisproduksie’ gekoppel aan patenteerbare uitsette en winsgewende produkte (ook van protokolle en tegnieke vir die dienstesektor of kennisekonomie), veral met sakevennote, tot voordeel van die individuele ontdekkers en die universiteit en veral finansiers van die navorsing.

Rondom performatiwiteit ontstaan ’n hele nuwe taal waardeur kritiese debatte oor die vryheid en outonomie van universiteite en hulle rol in ’n demokrasie verdag gemaak word. Gemeenskapsdiens word gereduseer tot filantropie of die bemarking van en verpakte kennisprodukte vir die lewenslange leermark. Dosente wat ondernemende entrepreneurs is, dra by tot die uitnemende prestasie van die universiteit sonder om te besef dat hulle daardeur verslaaf word aan ’n vorm van werksomgewing wat ontredderend en grensoorskrydend is ten opsigte van ’n privaat lewe en behoorlike verhoudinge met ander.

Die koste-effektiwiteit van programme of departemente word gebruik as die basis vir besluite rondom die strukturering van ’n universiteit. Aangesien die bepaling van die effektiwiteit van onderwys en navorsing moeilik versyferbaar is, word dit gewoonlik gereduseer tot die bepaling van die koste van die program. Vanuit die visie vir die toekoms van die universiteit word daar dan naas die voorleggingstellings in die besigheidsplan voorsiening gemaak vir ’n stel indikatore wat aan uitsetmikpunte vir die toekoms gekoppel kan word ten einde die prestasie van die universiteit op vaste voet te plaas. Soos reeds aan die begin geredeneer, sou dit op sigself sekerlik nie onredelik wees om te verwag dat die bestuur van die finansies van ’n universiteit op ’n vaste voet geplaas word nie; wat egter wel problematies raak, is die geleidelike verdwyning uit die agenda van die senaat en raad van ’n universiteit van belangrike omstrede sake en kompleksiteite van die werklikheid waarbinne geleef en geregeer moet word. Geleidelik verander die bestuurstelsel in ’n vorm van bewaking of dophouding waardeur mense antwoord op die verwagte gedrag wat deur die onsigbare meetinstrument ingebou word. Verhoudinge en gedrag word gereduseer tot dit waaraan identiteit in die uitnemende universiteite gemeet en gevestig word. Elkeen moet so vaardig as moontlik word om sigself voor te stel in die terminologie van die belangrikste betekenaars (signifiers) en hulle toekoms in te klee ooreenkomstig die potensiaal tot uitnemendheid.

Ingebed in die gesprek rondom die proses is paradoksaal die voorhou van demokratiese idees van desentralisasie, inspraak en onderhandeling en die beklemtoning van openbare verantwoordelikheid: vryheid en outonomie wat gereduseer word tot die universiteit en die akademikus se plek op die ranglys van prestasie. Waar die politieke konteks en magsverhoudinge waarbinne ‘kennis geproduseer’ word, verdoesel word in ’n wetenskaplike stelsel wat toekomsrisiko’s verminder. Dit word ’n soort wentelaksie waarin nie alleen akademici gereduseer word tot handelaars in eie belang nie, maar diegene sonder geld hul reg ontneem word tot aandeel in die openbare debatte oor regverdigheid en die verbeelding van nuwe werklikhede.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=693
Artikel nagegaan:
    -