blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Gemeenskap, die tergende woord 2006-09-13

 Wat is gemeenskap? Hoe word verhoed dat gemeenskappe beperkende, eng wêreldjies word? Wat is die rol van gemeenskappe in die hedendaagse politiek? Hierdie en ander vrae het op Saterdag, 5 Augustus ter sprake gekom in die tweede debat tussen postnasionale Afrikaner-intellektuele meestal verbonde aan die redaksie van Die Vrye Afrikaan – en ander Suid-Afrikaanse intellektuele hoofsaaklik vanuit ’n sosialistiese of Swartbewussynsagtergrond.

                Die deelnemers was Danie Goosen (filosoof, FAK-voorsitter), Johann Rossouw (redakteur, FAK-woordvoerder), Francois Bredenkamp (klassikus), Johan van Zyl (gemeenskapsekonoom), Ntombikaninga Malinga (politieke ontleder), Rudmilla Bennyworthy (politieke ontleder), Sipho Seepe (politieke kommentator), Mandla Seleoane (politieke filosoof) en Dale McKinley (onafhanklike navorser en maatskaplike aktivis).

                Goosen en McKinley het as inleiers opgetree. In sy inleiding het Goosen gewys op die hedendaagse assosiasie tussen die globale kapitalistiese stelsel en etniese gemeenskappe. Die ironie van hierdie assosiasie is dat, terwyl die globale kapitalisme etniese gemeenskappe toenemend onder druk plaas, dit hulle terselfdertyd in veral die advertensiewese misbruik as vertoonvenster van sy eie gewaande diversiteit.

                Volgens Goosen is menswees ten diepste medeverskyning, en verskyn mense in die eerste plek binne gemeenskapsverband aan mekaar. Hierdie kenmerk van menswees staan dwarsdeur die moderne era in spanning met die nasiestaat, wat plaaslike gemeenskappe normaalweg insluk. Die moderne nasiestaat asook die globale kapitalisme se mensbeeld is dié van losstaande individue wat per kontrak aan mekaar verbind is, en waarvan ekonomiese behoeftebevrediging die hoogste doel is.

                Daarenteen het Goosen gewys op die noodsaak van ’n gemeenskapsgebaseerde mensbeeld, waar mense mekaar in gedeelde tradisies en deur die gee en neem van geskenke ontmoet, ’n ekonomie wat allereers op die geskenk eerder as verbruik gebaseer is.

                Vanuit ’n Marxistiese hoek het Dale McKinley aangevoer dat ’n gemeenskap op die mees basiese vlak ’n groep mense is wat iets gemeen het, waarby basies enige maatskaplike of verhoudingskonstruksie kan inpas. Voorbeelde van verskillende groepe wat almal vandag reg of verkeerd as gemeenskappe beskryf word, sluit in geografiese groepe (bv. ’n township), geloofsgroepe, identiteitsgroepe (bv. etnies), verenigings (bv. straathandelaars), institusionele groepe (soos studente) en geopolitieke groeperinge (die “internasionale gemeenskap”).

                McKinley het terugverwys na die groot ontleder van die verhouding tussen kapitalisme en Protestantisme, Max Weber, wat dit gehad het oor die verband tussen mense se spesifieke klasseposisie en gemeenskaplike handeling, bv. die proletariaat wat vir hul belange saamstaan. McKinley het sy inleiding afgesluit met ’n pleidooi vir die beëindiging van uitbuitende arbeidsverhoudinge sodat mense werklik vry kan wees.

                Na ’n aantal los opmerkings vanuit die gehoor het die debat veral op dreef gekom nà McKinley se stelling dat die meeste gemeenskappe eintlik denkbeeldig (illusory) is, en dikwels in reaksie op een of ander eksterne bedreiging ontstaan. Johann Rossouw het in sy reaksie verwys na Régis Debray se ontleding van gemeenskapsvorming, waarvolgens daar eenvoudig geen kollektief, groep of ‘ons’ sonder ’n teengroep of ‘hulle’ is nie. In aansluiting hierby het Sipho Seepe gesê dat die denkbeeldigheid van gemeenskappe hulle nie minder geldig maak nie, want “dit is al wat ons het”, terwyl die belofte van ’n beter samelewing steeds nie verwesenlik word nie. Desnieteenstaande kan ons ook nie klaarkom sonder die hoop op ’n beter samelewing nie!

                Ook Mandla Seleoane het gewys op die noodsaak van toekomsgerigte geloof om steeds aan mense hoop te gee. Terselfdertyd het hy verwys na die skynbaar onbegryplike verskynsel waarvolgens werkers passief en onderdanig bly in weerwil daarvan dat dit teen hulle belange indruis! Johann Rossouw het geredeneer dat dié verskynsel verstaan kan word aan die hand van Bernard Stiegler se ontleding van die “aandagproletariaat”, oftewel daardie mense wat slegs hulle aandag het om te “verkoop” aan die advertensie- en kommunikasiebedryf, en wat tot enorme geestelike uitputting en regressiewe optrede, soos geweld, lei.

                Ntombi Malinga het die deelnemers daaraan herinner dat daar nog meer gedink moet word aan die verskynsel van “komplekse gemeenskappe”, naamlik dat almal van ons lede van verskillende soorte gemeenskappe is, en dat ons voortdurend in onsself hierdie kompleksiteit moet hanteer. In aansluiting hierby het Rudmilla Bennyworthy gevra dat die begrip van ’n Suid-Afrikaanse nasie nie vergeet moet word nie.

                Mandla Seleoane het die deelnemers hierop vertel van ’n interessante verwikkeling in Middelburg op die Hoëveld. Volgens Seleoane het hy in ’n onlangse gesprek met die voormalige MK-vegter en eerste burgemeester van Middelburg na 1994, Ben Mokwena, gehoor hoe Mokwena, nadat hy op bevel van die ANC-hoofkwartier nie weer as burgemeester aangestel is nie, begin het om ’n onafhanklike inwonersvereniging in die munisipale politiek te organiseer. Klaarblyklik het hy soveel sukses daarmee begin behaal dat selfs dienende ANC-raadslede van Middelburg hom stil-stil finansieel ondersteun. Dit neem egter nog niks weg van een van die grootste redes waarom munisipale regering in gebreke bly om plaaslike gemeenskappe te dien nie, naamlik dat die gemiddelde munisipale raadslid meer as R10 000 per maand verdien vir een of twee raadsvergaderings per maand, terwyl die gemiddelde munisipale werker hom moet afsloof vir ’n salaris in die lae duisende …  

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=692
Artikel nagegaan:
    -