| ||||
Johan van Zyl
*Gemeenskapsekonoom
Is ’n nuwe innoverende benadering tot Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling in die ANC se kaarte? Op 14 en 15 Augustus verlede maand het ’n belangrike konferensie plaasgevind, georganiseer deur DPPR (Departement van Provinsiale en Plaaslike Regering). Die doel was om hulle nuwe en verfrissende benadering tot PEO (Plaaslike Ekonomiese Ontwikkeling) bekend te stel, asook om ingeligte kommentaar te verkry van ander tersaaklike instansies, veral in regerings- en verwante kringe. Daarom het hulle dit dan ook geadverteer as ’n “konsultatiewe konferensie”. Oorhoofs was twee aspekte van die samekoms belangrik en insiggewend, naamlik · ’n sterk nuwe element in die beleidsfokus van DPPR. Hierdie is veral gemik op die “dringende behoefte om gemeenskappe op plaaslike vlak regstreeks te betrek by besluitneming oor die ekonomiese en maatskaplike vraagstukke wat hulle eie wel en wee ‘op die grond’ raak”. Daar is gevolglik verklaar dat ’n “nuwe gelyke vennootskap” tussen (plaaslike) regering en verteenwoordigende groepe uit plaaslike gemeenskappe in die praktyk ernstige aandag moet geniet. · begrip van DPPR se kant dat so ’n nuwe benadering polities versigtig gehanteer sal moet word. Hulle het inderdaad parlementêre goedkeuring verkry vir die nuwe beleidsbenadering. Nogtans is hulle klaarblyklik daarvan bewus dat sulke gedagtes bra vreemd is in die groter politieke kultuur van ons land. Trouens, bostaande element is sekerlik ’n drastiese ‘paradigmaverskuiwing’. Sal Mbeki (en die kabinet) en veral tans die skynbaar baie invloedryke Trevor Manuel – so ’n nuwe inisiatief goedkeur en dan nog finansier ook?
Die slotopmerkings van die Adjunkminister van provinsiale en plaaslike regering (me NE Hangana) om die konferensie af te sluit, is insiggewend. Die groot vraag wat gestel is, het gelui: “How can local economic development, as discussed in this Consultative Conference, hope to address the challenges faced by South Africa in the global economy?” Die implikasie is dat Suid-Afrika sal moet soek na ’n uitvoerbare balans tussen lokalisering en globalisering - vir die regering sekerlik ’n belowende nuwe aanslag!
Die Beleidsraamwerk Die DPPR se benadering behels vier strategieë, naamlik:
(a) die verbetering van vertroue in munisipaliteite deur die mark en die publiek. Dit word beskou as ’n kritieke eerste stap om investering te kan aantrek en om lojaliteit in plaaslike gebiede te bou; (b) identifisering en eksploitering van vergelykbare en mededingende voordele in die 52 munisipale streke. Die ontwikkelingsfokus val dus nie soseer op individuele munisipaliteite nie, maar op die groter streke waarbinne hulle funksioneer. Die net strek egter duidelik landswyd; (c) groter ondersteuning vir sakeondernemings. Dit behels die bekende markgerigte KMMO- benadering, dit wil sê, hulp aan klein, middelslag en mikro-ondernemings. Dit is ook ’n belangrike faset van die nuwe ASGISA-program (program vir versnelde en gemeenskaplike groei in Suid-Afrika) – en kan aldus dien as ’n sterk aanknopingspunt. (d) Volhoubare ontwikkelingsgerigte GIP (Gemeenskapsinvesteringsprogramme). “Empowering and developing communities is probably the biggest investment government can make in the development of local economies”. Hierdie is die groot deurbraak – maar tegelyk die groot uitdaging! Om ’n GIP doeltreffend te kan deurvoer, sal baie en diepgaande institusionele veranderings verg. ASGISA het dit in hulle bekendstellingsdokument egter reeds duidelik gestel dat hulle glad nie ten gunste is van institusionele verandering nie. In die praktyk veroorsaak so ’n benadering te veel (veral politieke) onsekerhede. Beter om te hou by die meer konvensionele ...
Prosesvraagstukke
Vervolgens het die Adjunkminister klem gelê op enkele belangrike prosesse om bostaande ‘WAT om te doen’ prakties lyf te gee met behulp van riglyne rondom ‘HOE om dit te doen’. Hier word verdere innoverende (vir sommige selfs ‘rewolusionêre) aksies uitgespel. Twee elemente verdien veral aandag:
· Dit is van kritieke belang om groeiende markte binne plaaslike gemeenskappe te ontwikkel. “At this stage it is very difficult for people in the ‘second economy’ to sell goods in the ‘first economy’. This is a major problem”. Die uitstaande punt hier is dat, byna vir die eerste keer in amptelike kringe, ons dualistiese oftewel dubbellaagekonomie korrek vertolk word! Wanneer ASGISA byvoorbeeld na die ‘tweede ekonomie’ verwys, bedoel hulle slegs die ou bekende ‘informele sektor’. Daar is geen begrip hier dat die probleem in werklikheid veel groter is en wyer strek as bloot die informele sektor nie. Dit behels naamlik ons basiese ekonomiese struktuur van twee groot sektore langs (maar grotendeels afsonderlik van) mekaar, naamlik (a) die (hoofsaaklik swart) stedelike en landelike ‘townships’ wat produksiegewyse baie min vir hulleself doen en aldus die meeste van wat hulle ook al daagliks verbruik vanuit die tweede sektor ‘invoer’, en (b) die ‘moderne kommersiële sektor’ wat in skerp teenstelling met die eerste hoofsaaklik self produseer wat ook al in hierdie ‘eerste ekonomie’ verbruik word. Die kritieke verskil en skeidslyn lê dus tussen ekonomiese selfstandigheid enersyds en sterk ekonomiese afhanklikheid andersyds. In ons baie groot ‘tweede ekonomie’ leef die meeste inwoners vandag in die praktyk as ‘ekonomiese gevangenes’. Dit is hoofsaaklik die geval omdat hulle nie in staat is om hieruit te ontsnap nie, deur byvoorbeeld (soos in die moderne sektor) ’n eie besigheid te vestig en dan te bemark, veral in hul nabye omgewing. In die afhanklike ‘tweede ekonomie’ moet hulle vandag meeding om kopers wat onder meer daaraan gewoond geraak het om eerder by gerieflike supermarkte te koop. Om (kleiner) plaaslike produsente te ondersteun, dra by die tweede ekonomie geen besondere gewig nie. ’n Nuwe plaaslike ekonomiese kultuur is dalk nodig om hiermee vordering te kan maak? · Daar is ’n sterk saak uit te maak vir ’n proses om te investeer in plaaslike gemeenskappe. “For us to really progress economically, we need to allow communities to take their economic destiny into their own hands … a true process of partnering with communities must therefore be the way that we deal with economic issues”. Daar word erken dat die vermoë van baie gemeenskappe om stewige vennootskappe te vorm as gevolg van Suid-Afrika se eie geskiedenis beperk kan wees. Daarom is dit belangrik om te belê in gemeenskappe en hulle op te bou, sodat hierdie mense hul omgewing self kan verken en positiewe aksies kan onderneem om hulleself te help. Dit is waarom ‘gemeenskapsgedrewe ontwikkeling’ gaan.
Tensy dit gedoen word, sal die voorsiening van plaaslike dienste ekonomies gesproke steeds eensydig gedomineer word deur lewering van die aanbodkant (supply side delivery) en sal daar steeds afhanklike gemeenskappe geskep word. So ’n deelnemende proses en doelwit is sekerlik heel nuut. Dit begin selfs lyk na ’n poging om te werk in die rigting van ‘ekonomiese demokrasie’ in ons land! Hoewel die nuwe PEO oftewel plaaslike ekonomiese ontwikkelingsbeleid hoofsaaklik op swart gemeenskappe gemik is, is dit duidelik dat enige benadering wat vir hulle groter bevoegdhede skep om self op grondvlak besluite te neem en dit boonop sterk aanmoedig, ook belangrike implikasies inhou vir Suid-Afrika se vele minderheidsgroepe.
Enkele uitdagings
Uit wat hierbo gesê is, is dit duidelik dat DPPR inderdaad ’n baie brawe nuwe rigting wil inslaan. Wat is die kanse dat hulle kan slaag? Die grootste probleem lê waarskynlik op die vlak van die ekonomiese politiek. Dit is prakties baie nodig om nouer en doeltreffende samewerking te verkry tussen ASGISA se nasionale benadering en DPPR se nuwe fokus op plaaslike ekonomiese ontwikkeling. Funksioneel gesproke is dit heeltemal moontlik. Maar ís die ANC bereid om selfstandiger besluitneming deur plaaslike inwoners toe te laat? In die Afrika-politiek is hierdie soort selfstandigheid heel ongewoon. Die bekende politieke kultuur van ‘political patronage’ is eerder daarop ingestel om in staat te bly om plaaslike gemeenskappe ‘om te koop’ met beloftes van spesiale dienslewering – met dien verstande natuurlik dat hulle vir die regerende party sal stem. Is die ANC bereid om hierdie lang politieke tradisie om te swaai? Indien wel, sal hulle sekerlik nuwe en innoverende leiding neem in Afrika – en baie Suid-Afrikaners (wit en swart) hard laat handeklap! Dalk word ons nog aangenaam verras. |