blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Vandeesmaande se hoofartikel in Le Monde diplomatique: Môre Kuba … 2006-09-13
Maurice Lemoine

*Adjunkredakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw, [email protected]

 

Terwyl duisende uitgeweke Kubane in Miami die siekte en selfs dood van die “tiran” gevier het, het die wêreld asem opgehou toe president Fidel Castro op 31 Julie binne die bepalings van die Grondwet sy verantwoordelikhede “voorlopig” oorgedra het aan ’n span van sewe, waaronder sy broer Raul, en wel weens ’n mediese operasie.

                Nadat hulle in April 2003 gemobiliseer is ten gunste van die aanval op Bagdad – “Vandag Irak, môre Kuba!” - het die Nasionale Kubaans-Amerikaanse Vereniging (NKAV) onmiddellik vanuit Florida gevra vir die omverwerping van die regering in Havana. Op 2 Augustus het mnr. George W. Bush die volgende aan die adres van die eiland se inwoners gerig: “Ons sal julle steun in jul pogings om ’n demokratiese oorgangsregering te vestig” – en diegene gedreig wat as ondersteuners van die huidige Kubaanse regering gekant sou wees teen ’n “vrye Kuba” (1).

                ’n Fenomenale gebeurtenis sou in voorbereiding wees, honderde duisende Kubane sou die strate op soek na vryheid binnevaar en groot onstabiliteit sou heers.

                Die dae het verbygegaan. Dit het nie gelyk of enigiets aandui dat die land buite die normale optree nie. Gewis, of mnr. Castro die tuig weer opneem of nie, word die debat oor “die dag na hom” – opvolging of oorgang – gevoer. En daar is inderdaad na 47 jaar se ongedeelde mag ontevredenes, opposisie, ’n soom van die bevolking wat nie of nie meer die rewolusie aanhang nie. Tekorte, burokratiese onbuigsaamheid, skending van sekere vryhede – van spraak, assosiasie, vergadering – en opsluiting van die opposisielede is ’n werklikheid.

                Dit lei gewoonlik tot ’n ongekwalifiseerde veroordeling. Niemand maak teen dié veroordeling beswaar nie, ofskoon die Verenigde State sedert 1959 sy pogings tot inval, sluipmoord en sabotasie vermenigvuldig, en die ekonomiese versmoring versterk deur ’n blywende embargo … Blote voorwendsel! word teengewerp, asof dit moontlik is om die geskiedenis in stukke te verdeel en nie rekening te hou met die inmenging van die verlede in die hede nie …

                In 2005 het Washington ’n koördineerder vir Kuba se oorgang aangewys – mnr. Caleb McCarry (voorheen in Afghanistan gestasioneer). Op 10 Julie 2006 het ’n verslag van die Kommissie vir Hulp aan ’n Vrye Kuba onder medevoorsitterskap van die Amerikaanse minister van buitelandse Sake, Condoleezza Rice, en die Amerikaanse minister van handel, Carlos Gutiérrez, beweer dat alles gedoen word “sodat die opvolgingstrategie van die Castro-regime nie suksesvol is nie”.

                Terwyl die dokument die Verenigde State se hulp in die eiland vasstel op nagenoeg R620 miljoen, skryf dit ook voor dat hierdie hulpbronne regstreeks aan “dissidente” oorhandig word, wat opgelei sal word en toerusting en voorrade sal ontvang. Parmantige inmenging … en “kus van die dood” vir die Kubaanse opposisie. Want vir die president van die Kubaanse parlement, Ricardo Alarcón: “Solank as wat hierdie beleid bestaan, sal daar mense geïmpliseer word wat saamsweer met die Amerikaners en hulle geld aanvaar, en ek weet van geen land wat so ’n aktiwiteit nie as oortreding sal beskou nie” (2).

                Die verslag beklemtoon bowenal dat die “plan” ’n geheime bylaag bevat – “weens redes van nasionale veiligheid” en ten einde sy “doeltreffende uitvoering” te verseker. Wat “geheime maatreëls” betref , laat die geskiedenis van die vasteland vanaf Salvador Allende tot Sandinistiese Nicaragua nie juis veel aan die verbeelding oor nie.

                Maar afgesien van die selfverklaarde “oorgangskundiges” respekteer ’n beduidende deel van die Kubaanse nasie, wat geheg is aan die prestasies in onderwys, gesondheid en maatskaplike dienste, “Fidel” en diegene wat die tuig sal oorneem, of hulle nou “historiese” of jonger leiers is.

                Is hierdie Kubane inderdaad so geïsoleerd as wat beweer word? Dit is nie die geval in Afrika of in Asië nie. En die Latyns-Amerikaanse omwentelinge het gelei tot die bewindsaanvaarding van staatshoofde wat beter ingelig is oor die werklikheid van die eiland en die konteks wat sy ongebruiklike stelsel bepaal – een party en gevorderde maatskaplike beleide. Presidente Hugo Chávez (Venezuela) en Evo Morales (Bolivia) het hom reeds uit sy isolasie gebring. Ster van die spitsberaad van die Suidelike Gemeenskaplike Mark (Mercosur) te Córdoba, Argentinië, het mnr. Castro daar op 21 Julie ’n belangrike handelsverdrag met die lidlande van hierdie unie, insluitend Brasilië en Argentinië, onderteken. Hulle het dan ook gewaag om ’n openlike uitdaging te rig aan die Amerikaanse embargo, en ’n ooglopende “hoedlig” vir ’n klein landjie wat weier om die knie voor die voorste wêreldmoondheid te buig.

                Meer as met die Verenigde State, wat Kuba in ’n kolonie wil verander, of Europa, wat preek of sy neus vir Kuba optrek, is dit in die verhoudings met hierdie wêrelddeel, waar daar nou van die “sosialisme van die 21ste eeu” – demokraties of soewerein – gepraat word, en in sy eie lewenskragtigheid dat Kuba voorbeelde en steun sal kry om te evolueer.

 

_________

(1) AFP, 3 Augustus, 2006

(2) BBC Mundo, Londen, 13 Julie, 2006 

 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=690
Artikel nagegaan:
    -