blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Reeks: Wat is transformasie? Transformasie as ware dialoog 2006-09-13
Nhlanhla Mkhize

*Medeprofessor en adjunkhoof van die Sielkundeskool, Universiteit van Kwazulu-Natal

 

In hierdie artikel staan ek kortliks stil by kwessies wat na my mening relevant is vir die transformasieprojek in Suid-Afrika. Die kollig val op die penarie van swart mense in professionele of bestuursposisies nie voorheen met swart liggame geassosieer nie.

                Ek stel dit dat tensy Suid-Afrikaners van alle kleure nie as volwaardige persoonlikhede erken word nie, wat in staat is om hulle standpunte vanuit ’n posisie van gelykheid te artikuleer, sal transformasie ’n wenslike, dog ontwykende doelwit in Suid-Afrika bly. Aangesien die artikel bedoel is om oop, kritiese dialoog oor sake hierin aangeroer aan te wakker, was ek op die punt af deur padlangs te praat en nie ’n graaf ’n “tuinwerkinstrument” te noem nie.

 

Ras en toekennings van bevoegdheid en onbevoegdheid

In sommige kringe is daar ’n onuitgesproke aanname dat swart aanstellings, synde “regstellende aksie”- kandidate, nie bevoeg of verdienstelik is nie. Dít geskied in weerwil van die posbekleër se professionele kwalifikasies. Dit is nie vergesog nie om te postuleer dat dít die geval is omdat ras ’n voorste bepaler van professionele mobiliteit in Suid-Afrika was. In die geheel het swart mense die ondergeskikte rolle van tuiniers, boodskappers, huishulpe, en dergelike vervul. Dit is gevolglik moontlik dat ’n onbewuste gerassifiseerde proses by interpersoonlike en intergroepontmoetings intree: die neiging is om min van swart mense te verwag, met die enkeles wat in verantwoordelike posisies is wat as opmerklike uitsonderings gesien word. Om sake te kompliseer, gebeur dit selfs dat sommige swart kliënte weens ’n diepgesetelde geestelike gestremdheid soos onder andere deur Biko betreur, dit moeilik vind om te aanvaar dat mede swart mense hulle behoeftes volledig kan hanteer. Persoonlik het ek telling verloor van die aantal kere wat ek deur besoekers by die werk – en dit sluit swart besoekers in – vir ’n skoonmaker aangesien is. Bloot hierdie onuitgesproke aanname dra al by tot ’n stresvolle, vervreemdende werkomgewing. As oorblyfsel van ons hartseer verlede moet hierdie situasie dringend hanteer word, aleer ons almal gevangenes van die verlede bly. Transformasiebestuurders moet dialoog open ten einde manifestasies van hierdie neiging reguit te konfronteer.

 

Die reg om te praat, die reg om gehoor te word!

Vir sommige maatskappye of organisasies is transformasie gelykstaande aan die aantal swart werknemers. Terwyl transformasie wel die syferspeletjie insluit, kan dit nie daartoe verskraal word nie. Deur transformasie aan getalle gelyk te stel, loop ’n mens die risiko van vensterversiering. Hierdie dimensie van transformasie het betrekking op die diepte van die verandering. In organisasiekringe word hierna verwys as eersteordeverandering. Eersteordeveranderinge, ook bekend as vlak veranderinge, beteken om so ’n bietjie rond te speel met die meubels (meer swart gesigte waar daar voorheen minder was) sonder om enigsins in te meng met die diepgesetelde aannames, kulture en psiges van die organisasie.

                Hoe manifesteer vlak veranderinge? Daar is talle voorbeelde van hierdie verskynsel. ’n Sogenaamde regstellende aksie- aanstelling mag verdra word op voorwaarde dat hy of sy nie rondspeel met die dominante psige(s) van die organisasie nie. Dit is soos ’n soort ongeskrewe sielkundige kontrak. Met ander woorde die posbekleër word stemloos gemaak (of gee toe aan prosesse wat hom stemloos maak) met betrekking tot die mees kritieke aspekte van organisasiefunksionering. Terwyl dit algemene praktyk geword het om “verteenwoordigende” strukture te hê om organisasiemandate uit te voer (deur bv. ’n swart persoon of ’n vrou in ’n komitee te hê), is hierdie praktyk onvrugbaar as die geteikende persoon bloot daar is om gesien, maar nie gehoor te word nie. Swart mense en vroue wat in sodanige strukture dien, voel dikwels gefrustreerd omdat dit nie ongewoon is nie dat hulle bydraes geïgnoreer word. As ’n mens in aanmerking neem dat om te praat nie slegs ’n proses is waardeur ons idees van een kop na ander koppe verplaas nie, maar ook ’n belangrike aspek van selfheid (positiewe selfbevestiging), kan niks meer vernederend as ’n daad van nie-erkenning wees nie.

                Terwyl die boorling (native) in bogenoemde voorbeelde sy stem geheel en al ontsê word, word hy of sy in sommige omstandighede toegelaat om ’n opinie te verwoord, solank dit deur die stem van ’n nieboorling (non-native) verwoord of op een of ander manier versag word. In so ’n geval word iemand ’n woordvoerder vir die swart stem of probeer hy kwalifiseer. Waarom daar nie na die swart stem as sodanig geluister word nie, is ’n saak van kommer. Waarom moet die swart stem verpak word in ’n ander, histories bevoorregte posisie voor dit ’n gehoor kan bereik? Die deurlopende miskenning van hulle stemme het al menige swart mens gefrustreer. ’n Kwalifikasie is hier aan die orde: ek betoog nie dat sekere standpunte aanvaar moet word bloot omdat hulle deur swart mense verwoord word nie, maar eerder dat die idee van dialoog die gelykheid van die deelnemers aan die gesprek vooronderstel, sodat alle stemme gehoor moet word. Dialoog erken die Ander, met wie ’n mens kan saamstem of verskil. Enigiets anders is skyndialoog. Ek is bevrees dat transformasiepogings in die meeste organisasies deurspek geraak het van skyndialoog wat daarop gerig is om die staat te paai. Tot die mate waartoe swart mense bereid en gewillig is om gekoöpteer te word in vernederende, skyndialogiese ontmoetings waar hule opinies nie ernstig opgeneem word nie, en solank hulle bereid is om verdra te word omdat hulle nie moeilikheid maak nie, het ons die transformasieprojek in die steek gelaat.

 

Begrip van die Ander se leefwêreld

Terwyl die verskraling van transformasieprobleme tot kommunikasiemislukkings (mis-verstand) op ideologiese selfmoord neerkom – die soort selfmoord dikwels deur transformasiekonsultante gepleeg – is bereidheid om met die leefwêreld van die Ander om te gaan, insluitend om vlot in die ander se taal en kommunikasiepraktyke te wees, steeds kritiek. Histories het die las van om tot terme te kom met en selfs aan te pas by die veelvuldige leefwêrelde wat ons diversiteit as ’n nasie vorm, vierkant op die skouers van die (voorheen) ontkieserdes gerus. Dus, terwyl dit as vanselfsprekend beskou is dat swart mense Engels en Afrikaans vir onderwys- en beroepsdoeleindes moes leer, het dieselfde nie die blanke bevolking gegeld nie. In die swart bevolking het vlotheid in Europese tale (hoofsaaklik Engels) ’n doel in sigself geword: dit is beskou as blyk van ’n meerdere intellek (en is ryklik beloon).

                Tot vandag en in weerwil van grondwetlike waarborge bly Afrikatale onsigbaar in openbare en akademiese diskoers. ’n Mens sou dit miskien verstaan as die meerderheid Suid-Afrikaners vlot was in die betrokke Europese tale (terwyl kennis geneem word dat oortuigende argumente ten gunste van Afrikatale ook uit ander hoeke gevoer kan gevoer word), maar dit is nie die geval nie. My ervaring in klasgee by ’n tersiêre instelling vir meer as tien jaar het my tot die gevolgtrekking gebring dat op die intreevlak die meerderheid swart Suid-Afrikaanse leerders Engels nie voldoende bemeester het nie om dit as denkinstrument in te span (d.i. om abstrakte wetenskaplike idees te hanteer en weer te gee), en dit sluit nie noodwendig voormalige model C-leerders uit nie. Die meeste swart leerders is gewoond aan kodewisseling in hulle alledaagse gesprekke. Hierdie modus van kommunikasie word ook deur swart onderwysers op alle vlakke van skoling gebruik. Die kort en die klaar daarvan is dat daar ’n gaping bestaan tussen die alledaagse leefwêreld van die swart leerder en die onderwysomgewing, met die onderrigtaal (en watter sosiale en kulturele praktyke ook al daarin ingebed is) wat ’n reuse bydrae tot hierdie gaping lewer. In weerwil van dwingende getuienis van sielkundige studies wat dui op die meerderwaardigheid van moedertaalonderrig in veral die vroeë vormingsjare, het hierdie kwessie nie die aandag wat dit in Suid-Afrika verdien, geniet nie. Die vraag na die verband tussen transformasie en taal is natuurlik nie beperk tot die opvoedkundige sfeer nie: dit deurtrek alle aspekte van ons lewens, insluitend die ekonomie en die staatsdiens. Hiermee ’n anekdotiese voorbeeld: Ek het al meer as een keer voorvalle meegemaak waar ’n swart kliënt gevra is om eenkant toe te staan omdat die bankteller nie met haar kon kommunikeer nie, en dit in ’n bank waar die meerderheid kliënte ooglopend swart Afrikane was. Dit het nogal ’n hele rukkie geneem vir die tolk, ’n skoonmaker, om tot haar redding te kom! Transformasie moet daarom aandag skenk aan die vraagstuk van taal, met inbegrip van die magsdinamika ingebed in die praat van ’n taal.

                Laat ek my nou bepaal by die vraag na die verstaan van die Ander se kommunikatiewe praktyke (in plaas daarvan om taal as sodanig te verstaan). Ook hier het apartheid ons ’n gevoelige slag toegedien. Die geografiese skeiding van swart en wit gemeenskappe het beteken dat daar min of geen geleenthede was om informeel te verkeer nie (om maar te swyg van op ’n gelyke basis), selfs in situasies waar die betrokke gemeenskappe ’n hanetreetjie van mekaar gewoon het. Na 12 jaar van demokrasie bly ruimtelike hindernisse verskans, ofskoon op ’n sielkundige vlak. Swart beweging (incursion) na “wit ruimte” is nie geëwenaar deur wit beweging na “swart ruimte” nie. Dit is egter nie my bedoeling om oor ras, ruimte en een of ander weergawe van die kontakhipotese hier te praat nie: Ek stel die kwessie hier aan die orde ten einde voor te stel dat in weerwil van die demokratiese bedeling bly die geleenthede vir wit mense om hulleself volledig in die leefwêreld van die swart mens te dompel so seldsaam as voor die post-apartheid era. Dit beteken dat die geleenthede om meer van swart kommunikatiewe praktyke (of ervarings) te leer op swart mense se eie terme en terrein beperk is, en so word betekenisvolle transformasie verhinder.

                ´n Paar voorbeelde sal voldoende wees om die belang te demonstreer daarvan om te leer van die Ander se kommunikatiewe praktyke en lewenswyses. In my vroeë dae as sielkundige intern verbonde aan die universiteit is ’n aantal swart kinders van Engelsmediumskole na die Sielkundesentrum verwys omdat hulle “te stil” was, of “nie responsief in die klas nie” of “teruggetrokke” (kyk nie die onderwyser in die oog nie). ’n Aantal swart studente sou ook na die Sentrum kom omdat “wit studente onophoudelik in die klas praat” en eersgenoemde die kans ontneem om hulle standpunte te lug. As die tutor of dosent in beide gevalle van kultureelgebaseerde kommunikatiewe praktyke bewus was, sou hulle die leeromgewing struktureer op ’n wyse wat alle leerders bevoordeel. Byvoorbeeld, in hoofstroom Westerse kultuur word kommunikasie beskou as ’n abstrakte, konteksvrye aktiwiteit: dit is ’n uitdrukking van die spreker se individualiteit.

Daarenteen is kommunikasie in Afrika-opsette grootliks ’n responsiewe aktiwiteit. Dit is afhanklik van tekens (cues) wat ’n volwasse spreker veronderstel is om te lees, soos wat dié tekens na vore kom in die gespreksruimte of –veld geskep deur die daad van kommunikasie self. Ten einde die betekenis van wat gesê is te verstaan, moet ’n mens volledig bevoeg wees om die konteks waarin die gesprek plaasvind, te begryp, en dit impliseer die nodige sosiale intelligensie om volle aandag aan die verhouding en sy dinamika te skenk. Dit is vir hierdie rede wat gesprekke in talle Afrikakulture neig om langer en meer spekulatief te wees. Tydens die daaropvolgende dialoog moet ’n mens hoflik genoeg wees om nie die verhouding tussen jouself en die ander onnodig te beskadig nie, selfs al stem jy nie saam nie. Tydens die gesprek is die teiken nie die individu as sodanig nie, maar die baie lewendige atmosfeer of konteks geskep deur die feit dat die sprekers in ’n gesprek betrokke is. Kommunikasie geskied asof daar ’n derde party tot die gesprek is, selfs al is daar slegs twee sprekers. Dit verseker dat die verhouding tussen jouself en die ander nie beskadig word nie. Om in gebreke te bly om te let op die konteksafhanklike tekens gedurende die gesprek kan lei tot misverstande of probleme soos hierbo aangestip. In kruiskulturele ontmoetings kan die geduldige, spekulatiewe benadering wat uit die Afrikaperspektief bedoel is om die verhouding te bewaar, vertolk word as besluiteloosheid of selfs doodgewone onnoselheid (om nie iets te hê om te sê nie!).

Vir hierdie en talle ander redes anderkant die skopus van hierdie kort artikel behoort transformasie die gewilligheid en inspanning by alle partye te wees om hulle as gelykes in die leefwêreld van die ander te dompel. Dit is nie ’n proses waar een groep die ander se leefwyses toe-eien of assimileer nie. Dit betrek ’n transformasie van ons modi van wees in die wêreld met ander.

Laat die ware dialoog begin.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=694
Artikel nagegaan:
    -