|
||||
Heinrich Matthee Deur Heinrich Matthee, veiligheidsontleder en sameroeper van Akripolis, 'n politieke gespreksgroep ([email protected]). Hy kan gekontak word by [email protected]. Arabiese jongmans in Frankryk, Noord-Afrika en die Golfgebied het net na die aanval op Amerikaanse teikens op 11 September 2001 dieselfde storie rondvertel: 'n Ou vrou gaan na die moskee op 'n weeksdag en vind die ingang toe. Sy klop aan die deur en 'n man maak oop. “Wat wil jy hê ?”, vra hy. “Ek wil inkom en kom bid”, antwoord die vrou. “Jy kan nie”, antwoord hy, “vandag mag net mans in die moskee wees.” “O,” sê sy, “is Osama bin-Laden dan binnekant?” “Nee, natuurlik nie,” sê die man. “Wel,” sê die ou vrou, “as hy nie hier is nie, kan ek maar inkom, want daar is geen ander mans in die Arabiese wêreld nie.” Die storie illustreer 'n wydverspreide versugting onder Arabiese Moslems na leiers wat onbeskaamd Moslem-belange nastreef. Osama word gesien as iemand wat, soos Nasser destyds, opstaan vir hulle regte en hul eer herstel deur die Weste 'n bloedneus te gee. Pew Research Center bevind daarom onlangs dat 45% van Arabiere in Marokko en 55% in Jordanië Osama gunstig sien. In teenstelling daarmee word die uitspattige oliestaatleiers dikwels uitgelag. Outokrate soos pres. Mubarak van Egipte, wat byna 'n familiebesigheid oprig in die boonste poste van die staat terwyl baie Egiptenare ly onder ar moede, word bloot geduld of verag. Ali Alleman sien op televisiesenders soos Al-Jazeera dag in en dag uit hoe nog 'n Palestynse pa met sy slap, bebloede kind in sy arms wegstap van 'n Israeli-missielaanval in 'n burgerlike area. Die burgerlike slagoffers in Irak raak ook al meer as drie keer die aantal mense wat in 11 September 2001 se aanvalle omgekom het. Die politieke leiers kibbel egter oneindig voort, reik veroordelings uit, en dan volg magtelose stiltes. Wanneer die mans egter in die moskee vergader, vertel die imam van die mag van Islam en voel Ali die krag wat daar kan wees as die Moslems sou bymekaarstaan. Islamisme of politieke Islam vul dus meestal die vakuum in die opposisiepolitiek van die Midde-Ooste en Noord-Afrika. Islamisme mobiliseer rondom 'n rol vir die Koran en die profeet Mohammed se tradisies in die samelewing en regering. Islamisme se sukses is deels omdat ander Arabiese benaderings en akteurs voorheen misluk het : Nasser se pan-Arabisme oor staatsgrense heen, Arabiese staatsnasionalismes en Baath-sosialismes. Regeringsonderdrukking van opposisiepartye het ook 'n rol gespeel. Dit was egter makliker om 'n partyhoofkwartier te laat sluit as 'n moskee. Islamisme wissel van land tot land, en is meermale ook gekoppel aan familie-, stam-, etniese en sektariese politiek. Mens vind dus 'n wye spektrum van Islamistiese benaderings en strydformasies. Daar is gematigdes en tradisionaliste, radikales en de mokrate, elitistiese groepe en populistiese bewegings, ondergrondse selnetwerke en partye. Soms is hulle selfs in onderlinge stryd gewikkel. Daar ontwikkel ook voortdurend wisselvorme om nuwe ontwikkelinge te benut. Gilles Kepel, 'n Franse kenner, meen dat drie groepe histories belangrik was vir Islamiste wat staatsmag wou verower: die Islamistiese denkers, die vroom deel van die middelklas en die groot getalle arm en uitsiglose jeugdiges. Waar die drie kerngroepe 'n politieke alliansie kon vorm, kon hulle die staat oorneem, soos met die 1979-rewolusie in Iran onder leiding van die Ayatollah Khomeini. Die meeste Islamistiese oornames was nie-de mokraties, en die regerings daarna nie minder nie. Soedan se Islamiste het aan bewind gekom na infiltrasie van denkers in die burokrasie en samewerking met soldate, waarna 'n staatsgreep in 1989 die Islamiste aan bewind geplaas het. Afganistan se Taliban het Kaboel oorgeneem in 1996 na 'n bloedige burgeroorlog. Afgesien van Soedan het die Islamiste egter in geen ander Arabiese land aan die mag gekom nie. Die naaste geval was in Algerië, waar die Islamiste op pad was na 'n verkiesingsoorwinning tot die weermag ingegryp het. Die burgeroorlog sedertdien is 'n voorbeeld van die eerste tipe verhouding tussen heersers en Islamistiese opposisiegroepe in Arabiese lande, een van openlike konflik. In Algerië is die konflik tussen Islamistiese en sogenaamd sekulêre kragte. In Saoedi-Arabië vind mens egter ook 'n openlike konflik tussen akteurs binne dieselfde Islamistiese Wahhabi-denktradisie, naamlik die Saoed-koningshuis en Al-Kaida. 'n Sluimerende spanning tussen Islamistiese bewegings en regerings wat periodiek uitbars is 'n tweede moontlike verhouding, soos in Egipte en Sirië. Heersers in die Arabiese skiereiland probeer ook keer dat die sluimerende konflik tussen hulle en hulle mede-Islamistiese opposisie nie soos in Saoedi-Arabië 'n laevlak-insurgensie raak nie. 'n Derde moontlike verhouding tussen heersers en Islamistiese groepe is in Jordanië en Marokko. Die heersers daar probeer maatskaplike en politieke stabiliteit verseker deur Islamistiese groepe toe te laat om deel te neem aan verkiesings. Die werklike mag bly egter onveranderd in die heersers se hande. Die heersers probeer dikwels deur druk en omkopery, infiltrasie en provokasie dit regkry dat die verskillende opposisiegroepe teen mekaar baklei en die gevaarlikste een eerste uitskakel. Die vierde moontlike verhouding aanvaar die legitimiteit van die Islamistiese beweging as deel van die stelsel. In Lebanon het die Hizboellah-beweging selfs met die ondersteuning van die regering en sekere buitelandse moondhede die hoofstryd teen Israeli-besetting van Suid-Lebanon gevoer. 'n Groeiende problem vir Islamiste is dat die Islamistiese regerings in Soedan, Iran en Afganistan nie juis probleme rondom ontwikkeling en globalisering doeltreffend kon aanspreek nie. Graham Fuller, voormalige vise-voorsitter van die CIA se Nasionale Intelligensieraad, meen dus sosiaal-de mokratiese opposisiegroepe kan mettertyd Islamistiese opposisiegroepe oorskadu, byvoorbeeld in Egipte. Kommentators kyk dit soms mis dat selfs Islamistiese denkers nie noodwendig 'n sterk Islamitiese staat nastreef nie. Vir hulle is her-Islamisering eerstens 'n maatskaplike projek. Die Pakistani-denker Maududi meen byvoorbeeld die staat behoort slegs 'n beperkte pedagogiese rol te speel om mense te help om reg te lewe. Volgens hierdie benadering moet nuwe Islamitiese persoonlikhede en gedrag, Islamitiese ruimtes en netwerke, en sosio-ekonomiese steunstelsels eerder van die grondvlak af boontoe opgebou word. Muhammad Khalafallah sê selfs dat 'n regverdige maatskaplike orde glad nie in 'n Islamitiese staat hoef te wees nie. Hy gebruik as een voorbeeld Moslem-minderhede in nie-Moslemlande wat hulle aktief uitleef binne hulle netwerke, en steeds vashou aan “die tou van Islam.” Sulke gemeenskapsdenkers tref mens aan onder radikale en gematigde Islamiste. Soms gaan die gematigde Islamiste egter soveel kompromieë aan om nie in die spervuur van sterker magte te beland nie dat baie van hulle denkers en middelklasondersteuners deel word van 'n wyer, maar tandelose middelklasalliansie. Dit laat dan die radikaler denkers en geestelikes, en meeste van die uitsigloser jeugdiges agter. In lande soos Egipte, Irak en Saoedi-Arabië is 40% - 50% van die bevolking onder 25 en min werksgeleenhede of betreklike ontbering politiseer groot getalle. Kleiner, ekstremer Islamistiese groepe trek soms daaruit voordeel, maar merendeels bly dit bloot gis onder sulke jeugdiges, wat sonder vertroue in die regeringsleiers of hulle gemeenskapsleiers hulle pad probeer vind. Al-Kaida se netwerke sien hulself as die vonk wat hierdie kruitvat van ontevredenheid in die Arabiese en Moslem-wêreld kan aansteek. Hulle berekening is dat indrukwekkende geweld en meesleurende e mosie die massas sal beweeg tot heilige stryd teen die plaaslike regimes. Hulle volg dus nie die langsamer pad om bewegings te bou wat verskillende belangegroepe kan mobiliseer en organiseer in 'n sterk alliansie nie. Hoewel e mosionele golwe wel spoel deur die Arabiese wêreld, het hulle die reaksie van die Moslem-bevolkings klaarblyklik oorskat. Daar is nie tekens van massa-opstand nie. Aan die anderkant, het die gebrek aan sterk mobilisasie deur die gematigde Islamiste weer hul eie newe-effekte. Die politiek van kompromieë en klein nuttige transaksies kan diverse belangegroepe aanmekaar skakel, maar sonder 'n gemeenskaplike beginselgrondslag en sterk leiding kan die alliansie onder groot druk uitmekaarval. Waar die langer termyn gebruik word om wel Islamistiese kaders op te lei binne die breër alliansies en 'n gees van strydvaardigheid te kweek, vind mens wel 'n groter duursaamheid. Die Islamistiese beweging in Turkye wat al talle onderdrukkings deur die weermag oorleef het, is hiervan 'n voorbeeld. In die geval van Turkye, rus daardie duursaamheid ook op sterk kultuurbande, selfs in krotbuurte. Die gevoel dat daar 'n kragtiger vorm van Arabiese selfbetuiging moet wees, strek veel verder as die Islamiste. Jong volwassenes wat sosiaal-de mokraties, liberaal of pan-Arabies dink, ryk of arm, betreur byna almal in gesprekke die verlies aan sterk en toegewyde leierskap. Hulle ken dikwels die hoogbloei van prestasies in vorige eeue en sien wat moontlik is in die Weste. Die huidige uitgelewerdheid en vernederings pynig daarom des te meer. Die Ayatollah Khomeini het verstaan dat die vooruitsig van materiële opheffing alleen nie genoeg is om mense en veral jongmense tot opoffering en groot ondernemings te beweeg nie. Sy sardoniese boodskap aan volgelinge wat teen die Sjah moes opstaan was: die Rewolusie gaan nie daaroor om waatle moen te kan eet nie. Arabiese politieke projekte wat radikale vorms van Islamisme wil teenwerk, sal waarskynlik net slaag as hulle twee elemente in ag neem: 'n belangepolitiek wat belangrike middelklasgroepe en die meeste jeugdiges aaneenskakel, en leierskap deur inspirerende selfbetuiging. |