blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Afskeid van die Opposisie - Veelpartydemokrasie na Tien Jaar 2004-11-05
Koos Malan

Deur Koos Malan

Die beoordeling van die gesteldheid van Suid-Afrika se opposisiepartye is 'n belangrike, indien nie dié belangrikste aanduiding van die stand van demokrasie in Suid-Afrika na die grondwetlike oorgang van 1994. Sou net een party erken word of indien die opposisie dermate wegkwyn dat 'n enkele party allesoorheersend word, is die demokrasie natuurlik allermins gesond. Juis daarom is die welstand van die opposisiepartye een van die sleutelmaatstawwe om die stand van demokrasie te peil. Die Grondwet self gee ook in sy stigtingsbepaling (artikel 1) erkenning hieraan. Nadat die inleidende sinsnede van artikel 1 vaslê dat Suid-Afrika 'n soewereine demokratiese staat is, laat die Grondwet voorts geen onduidelikheid oor wat met demokraties bedoel word nie en bepaal gevolglik dat die staat op 'n aantal kernwaardes gefundeer is, wat 'n veelpartystelsel van demokratiese regering insluit. Die grondwetlike erns hieroor word in artikel 236 bevestig wat voorskryf dat wetgewing, wat onder meer vir die (staats)befondsing van partye voorsiening maak, aanvaar moet word, juis met die doel om 'n veelpartybedeling te bevorder. Dit is algemene kennis dat sulke wetgewing in plek is en dat politieke partye inderdaad mildelik van staatsweë befonds word. (Dis 'n ander vraag of dit veelpartydemokrasie bevorder eerder as om by te dra tot partye se afhanklikheid van die staat en verwydering van die gemeenskap.)

Die Grondwet is die sentrale mite van en sleutelgeloofstelling in Suid-Afrika se post-1994 politieke orde. Suid-Afrika het daarom baie ywerige grondwetgelowiges wat hulle vertroue volkome in die Grondwet plaas en vir wie die grondwetlike bepalings oor 'n veelpartystelsel beteken dat so 'n stelsel inderdaad in plek is. Bowendien ís die stelsel vanselfsprekend gesond omdat die Grondwet per slot van sake onmoontlik vir 'n ongesonde stelsel voorsiening kon maak.

Tog beslis nie die Grondwet nie, maar die onderliggende politieke kragte of die ideale wêreld van die Grondwet in die reële wêreld vergestalt word al dan nie.

In die afgelope drie verkiesings het die ANC sy politieke greep op Suid-Afrika bykans onaantasbaar verstewig. Waar die party tien jaar gelede onder die strategiese tweederdemerk was, is dit nou sterk bokant die syfer ingegrawe. Die opposisiepartye het geen beduidende steun by die ANC kon afneem nie. Tewens, die opposisie het steun aan die oorheersende ANC afgestaan en herrangskik verder bloot die afnemende aantal opposisiekiesers onder mekaar.

Waar die Nasionale Party in 1994 20% van die stemme gekry het, en die destydse leier, F.W. de Klerk vergesigte gehad het van hoe hy die party tot oorwinning kan lei, het sy opvolger, Marthinus van Schalkwyk, in plaas van De Klerk se droom te bewaarheid, die laaste oorblyfsels van die party by die ANC ingewerp terwyl De Klerk self die party verlaat het.

Die Demokratiese Party het by die agteruitgang van die Nasionale Party gebaat en het met die vorming van die Demokratiese Alliansie genoeg trekkrag gehad om die grootste deel van die NNP by die DA in te lyf. Ondanks die dramatiese opkoms van die DA ten koste van die eens magtige Nasionale Party het die DA egter in die April 2004-verkiesing slegs vyf agstes van die steun gehaal wat die Nasionale Party tien jaar tevore gehad het.

Die Inkatha Vryheidsparty het gekrimp tot die helfte van die steun wat hy 'n dekade gelede gehad het en is tans 'n beperkte streeksparty met 'n sterk tradisionalistiese karakter. Die party is na alle waarskynlikheid vir verdere wegkwyning bestem namate tradisionalisme onvermydelik voor modernisering swig.

Die UDM, onder die mede-leierskap van Bantu Holomisa en Roelf Meyer, nog enkele jare gelede die bron van uitgelate hoop op 'n nie-rassige troef vir die ANC, het 'n klein etniese Xhosa-partytjie geword, wat reeds voor die afgelope verkiesing die meeste van sy steun aan die ANC afgestaan het.

Die Vryheidsfront Plus het reeds in 1999 twee derdes van sy steun van vyf jaar tevore verloor. Die party se situasie was die afgelope jare baie gunstig danksy jarelange gunstige dekking van sowel die gedrukte as die elektroniese Afrikaanse media. Die party was boonop uiters gunstig geplaas om munt te slaan uit die heel morsige vertrek van die NNP uit die DA en uit die agteruitgang van die NNP. Boonop het die party die KP ingelyf en NNP-kiesers probeer oorhaal om die voorbeeld van oud-president P.W. Botha te volg wat kort voor die verkiesing by die party aangesluit het. Desondanks bly die party steeds die minuskiele party waartoe dit in 1999 gekrimp het.

Die slotsom is dat die opposisiepartye in plaas van mededingers teen die ANC om populêre steun met die oog daarop om die bewind te bekom, deurlopend gewikkel is in 'n marginale oefening waarvolgens die verloorders hulle beperkte en geslote ondersteunerskorps onderling herrangskik. Tot sover is die DA die groot wenner in hierdie kantlynspel onder die kwynende getal minderheidskiesers, met die NNP die groot verloorder en die VF+ die klein verloorder onder die verloorders.

it spreek vanself dat dié steunpatrone neerdrukkend vir die opposisiepartye is en natuurlik terselfdertyd die grondwetlikverordende veelpartydemokrasie ondermyn. Die sentrale probleem van die opposisiepartye – veral dié wat hulle oorspronklike steun uit die geledere van die minderhede kry - is die ingeboude en vir alle praktiese doeleindes permanente rasgebaseerde aard van die Suid-Afrikaanse politiek, wat ook meedoënloos in die verkiesingsuitslae manifesteer. Die ANC as 'n eg nasionalistiese beweging vertolk en beliggaam die belange en strewes van die swart meerderheid en versinnebeeld die diep gesetelde en legitieme aspirasie tot 'n gelyke Afrika-geïnspireerde sin vir menswaardigheid ná die krenking van kolonialisme. Gevolglik het die ANC 'n psigies-kulturele appèl waarteen sy opponente nie net nie opgewasse is nie, maar waarskynlik dikwels nie eens van bewus is of 'n vae begrip van het nie. (Dit verg waarskynlik iets van 'n nasionalis om begrip hiervoor te hê.)

Die belangrikste determinant in die verkiesingsuitslae is die bevolkingsamestelling. Die verkiesingsuitslae weerspieël tot hoë mate die onderliggende bevolkingsamestelling. Dis presies hierdie onderliggende strukturele faktor wat so nadelig vir die opposisie is. Vir mense wat tot die meerderheid behoort en gewoonlik ANC stem, is die uitoefening van hulle stem sinvol omdat dit hulle telkens van die regeringsmag verseker. Daarenteen beteken die uitbring van 'n stem vir diegene wat tot die minderhede behoort en vir die opposisiepartye stem nouliks meer as 'n formaliteit, wat hulle onmag bevestig. Gelyke stemreg bring dus slegs gelykheid mee vir sover dit die stemprosedure betref. In substantiewe terme lewer dit egter 'n permanente situasie van ongelykheid van meerderheidsmag teenoor minderheidsonmag. Beoordeel vanuit die oogpunt van die werklik substantiewe waarde van 'n stem wat uitgebring word deur iemand wat tot die minderheid behoort, is so 'n stem wesenlik net so waardeloos as dié van iemand sonder stemreg.

Sodoende lewer verkiesings vir die meerderheid geheel uiteenlopende resultate in vergelyking met die minderhede. Aangesien die uitoefening van die stemreg vir die meerderheid telkens mag verseker, is die verkiesing vir diegene wat die meerderheid saamstel 'n sinvolle oefening. Ofskoon baie mense vanuit die minderhede steeds stem, is verkiesings vir hulle grootliks 'n sinnelose oefening omdat dit bloot weereens hulle magteloosheid bevestig. Weens die uitsigloosheid van die opposisie is die gewaarwording van opposisiekiesers dat hulle maar van die stembus kan wegbly omdat die uitslae by voorbaat reeds 'n voorspelbare, voldonge feit is. Met mislukking 'n voldonge feit is daar vir opposisiekiesers geen sinvolle aansporing om te gaan stem nie. Terselfdertyd kom van werklike veelpartydemokrasie, ondanks sy vermeende verskansing in die Grondwet se plegtige bepalings, weinig tereg. Dit swig voor die onderliggende politieke kragte wat eenpartydominasie in die plek van die grondwetlike wens van veelpartydemokrasie plaas.

Tog kan gesê word dat al is daar nie (veral na die verdwyning van die NNP en die terugslag van die IVP in Kwazulu-Natal) sprake van werklike wedywering om regeringsmag nie, is daar benewens die ANC 'n rits politieke partye wat ofskoon klein, ook parlementêre verteenwoordiging het - en dat daar dus wel 'n veelpartystelsel in plek is. Volgens die argument is die toets vir veelpartydemokrasie nie hoe geloofwaardig die opposisie om mag meeding nie, of oor hoe groot of klein opposisiepartye is nie. Solank daar 'n klomp partye is, al is hulle klein, is daar veelpartydemokrasie.

Suid-Afrika het natuurlik 'n klomp politieke partye. Hulle is as partye geregistreer. Hulle neem aan verkiesings deel en nege van hulle (DA, IVP, UDM, OD, ACDP, NNP, VF+, PAC en AZAPO) het parlementêre verteenwoordigers. Maar beteken die formele stempels van politieke partyskap (registrasie, deelname aan verkiesings en parlementêre verteenwoordiging) noodwendig dat almal werklik politieke partye is? Om werklik 'n politieke party te wees, moet 'n organisasie met die oog op die bevordering van 'n openbare (nie-private) doelwit (gewoonlik) grondwetlike en wetlike weë inspan om amptelik erkende verandering van die magsverhoudings in die staat te bewerkstellig of die reeds amptelik erkende verhoudings in stand te hou. Dit gebeur deurdat 'n bewindhebbende party stry vir die behoud van die regeringsmag, of dat 'n opposisieparty werk om hetsy alleen of saam met ander die mag te verower, of dat 'n party stry om die onderliggende grondwetlike spelreëls te wysig met die oog daarop om die struktuur van die staat self by wyse van sesessie, federalisering, staatsamalgamasie, ens. te verander. Dít is die essensialia van 'n politieke party. Indien 'n “politieke party” nie primêr op die een of ander manier hiermee gemoeid is nie, is dit ongeag sy benaming en dergelike formele skynwekking dat dit 'n politieke party is inderdaad geen party nie, maar iets anders. Dis aan die hand van hierdie maatstawwe wat party-aard al dan nie van Suid-Afrika se politieke partye gemeet moet word.

Die DA is uitdruklik daarop ingestel om homself tot alternatiewe regering te probeer uitbou en dus om die bewind by die ANC oor te neem en is gevolglik 'n volskaalse politieke party. Weens die hoë mate waartoe Suid-Afrikaanse stemgedrag rasbepaald is en die gevolglik ongemaklik lae stemplafon waaronder die DA as gevolg hiervan gebuk gaan, kan die DA dit mettertyd al hoe moeiliker vind om sy strewe na 'n bewindsoorname geloofwaardig voor te stel. Gegewe die DA se vooruitsig om saam met die IVP op weg na die bewind in die 2004-verkiesing reeds 30% van die stemme te kry, kan die party natuurlik van werklikheidsvreemde optimisme beskuldig word. Dit doen egter nie afbreuk daaraan dat die DA 'n regte politieke party is nie.

Die IVP is uit die regering en het buite Kwazulu-Natal geen noemenswaardige steun nie. Die party kan sy aanspraak op politieke partyskap slegs behou (of herwin) indien hy vrede maak met sy beperkte etniese- en streekstatus en hom toespits op 'n federale herskikking van die posisie van Kwazulu-Natal.

Die res van die “partye” het ook hulle status as werklike politieke partye verloor en neem op die keper beskou die wesenlike karakter van òf ombudsmanne òf lobbygroepe gedrapeer in die gewaad partye aan Hulle is heeltemal te swak om met die ANC vir die regeringsmag mee te ding. Bowendien deel hulle grootliks die ANC se uitgangspunte met die gevolg dat hulle óf in die ANC opgaan (die NNP) óf die rol van 'n ombudsman aanneem (veral die OD en die UDM). Partye in die ware sin van die woord is hulle egter nie aangesien hulle nie met die regering om mag kan (en wil) meeding nie en net soos die ombudsman oor nouliks meer as administratiewe haakplekke en wanfunksionering kla.

In die tweede kategorie val die lobbyforums, waaronder die VF+ en tot 'n mindere mate die ACDP. Die VF+ het hom uitdruklik tot 'n lobbygroep verander. Tipies van 'n lobbygroep staan die moontlikheid om die regering te beïnvloed vir hom voorop. Aan die hand van die lobby-aktiwiteite van die sakewêreld wat as voorbeeld opgeroep word, is dit daarom vir die VF+ van die grootste belang om die kommunikasiekanale met die regering oop te hou. Die instandhouding van 'n verhouding met die blywende magsentrum – die ANC – is dus deurslaggewend.

In dié geval, soos dikwels met 'n lobbygroep, raak hy in 'n verhouduing van afhanklikheid met die ANC verwikkel. Die lobbygroep oriënteer homself aan die hand van die ANC se verwagte reaksies. Net soos die NNP eggo hy ook die ANC se eie nadelige propaganda teen die DA dat die DA arrogant en negatief is. Sodoende raak die lobbygroep self 'n instrument in die verdere verwering van die opposisie en verskansing van die ANC se eenpartydominasie. Terselfdertyd lewer hulle hulself aan die ANC uit. Wetende dat dit vir dié lobbygroepe so belangrik is om die kommunikasiekanale na die ANC oop te hou, kan die ANC die verhouding met die lobbygroep tot eie voordeel manipuleer: nou en dan maak die ANC 'n vriendelike gebaar oor 'n mindere saak en versterk so die lobbygroep se geloof in sy eie benadering en neutraliseer natuurlik die moontlikheid van opposisie. Andersins moet die lobbyforum deurlopend sy woorde tel, en nie skerp kritiek lewer nie, want dan verval sy enkele aanspraak (dat hy met die regering praat) weens die feit dat die kommunikasiekanale dalk mag sluit. Die lobbyforum is dus verplig om 'n vriendelike forum te bly anders ly sy hele benadering skipbreuk.

Die ombudspartye en die lobbyforums is enersyds die produk van eenpartydominasie (wat hulle self nie wil hê nie), maar hulle raak ironies genoeg ook die deelgenote en verdere versterkers daarvan.

Suid-Afrika se onderliggende politieke kragte kan nie 'n veelpartydemokrasie soos deur die Grondwet beoog, in stand hou nie. Dié kragte het reeds ver gevorder om 'n andersoortige orde as dit waarvan die Grondwet praat tot stand te bring. Die grondwetlike “verskansing” waarvan grondwetgelowiges graag praat, kan nie die onderliggende politieke kragte dissiplineer nie. Tewens, daardie onderliggende kragte bring juis die eintlike en werklik bestaande orde tot stand: 'n orde waar die ideale grondwetlike wêreld van veelpartydemokrasie plek maak vir eenparty-oorheersing, 'n kwynende opposisie en instansies wat in naam partye, maar in wese reeds andersoortige entiteite geword het.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=53
Artikel nagegaan:
    -