blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Wetenskap en religie: 'n persoonlike siening van hul onderlinge verband. 2004-11-05
George Ellis

Deur George Ellis, Besondere Professor van Komplekse Stelsels, Departement Wiskunde en Toegepaste Wiskunde, Universiteit van Kaapstad en vanjaar se wenner van die Templeton Prize for Progress Toward Research or Discoveries about Spiritual Realities vir sy werk oor die verband tussen wetenskap en religie.

Wetenskap en religie is twee langtermynhooftemas van die menslike denke - inderdaad behels dit twee dominerende aspekte van die menslike kultuur. Hul interaksie is van groot belang vir sowel die wyse waarop ons oor onsself dink as die wyse waarop ons optree, wat tot 'n groot mate die gevolg is van ons wêreldbeskouing.

1 Die verlede

In die verlede was daar grootskaalse konflik tussen die twee; elkeen het op sy beurt gedomineer en groter aansprake gemaak as wat geregverdig is, en moes daarna, of sal nog, van dié standpunte afsien.

In die eerste plek het religie, onder die leiding van hooghartige priesters en biskoppe, daarop aanspraak gemaak dat dit volledige toegang tot die waarheid bied, insluitende om 'n soort van oorsaaklike verduideliking van natuurverskynsels te voorsien. Afgesien van sommige agterhoede-aksies, moes hierdie aansprake later teruggetrek word in die lig van die vooruitgang van die wetenskappe en hul skouspelagige sukses om naturalistiese verduidelikings vir baie wat in die natuur gebeur, te lewer. Hierdie vooruitgang om oorsaaklike meganismes te verstaan is inderdaad verstommend, en omvat feitlik alle lewensterreine.

Daarteenoor het sommige wetenskaplikes op hul beurt begin om oormatige aansprake vir die wetenskap te maak; enkeles het selfs beweer dat daar niks is wat die wetenskap nie kan verklaar nie, en op hul beurt net so arrogant geword as wat die priesters voorheen was. In die besonder het sommige beweer dat hulle terrein ook die etiek en metafisika insluit, wat 'n "derde kultuur ... wat die dieper betekenis van ons lewe openbaar, en wat herdefinieer wie en wat ons is" lewer (John Brockman).

Dit ook is 'n onhoudbare situasie aangesien die wetenskap per se eenvoudig nie in staat is om die begrip betekenis te akkommodeer nie - want daar is geen wetenskaplike eksperiment om dit proefondervindelik vas te stel nie. Van hierdie aanspraak sal hulle afstand moet doen - dit is gebaseer op 'n oormatige aanspraak van dit waartoe die wetenskaplike metode in staat is, wat óf gebaseer is op metafisiese aannames wat verder gaan as dit waarop die wetenskappe aanspraak kan maak, óf wat 'n beperkte begrip van die aard van die etiek en metafisika impliseer en wat in essensie ontken dat hulle enige kernbetekenis het.

2 Die huidige stand van sake

Tans is daar 'n toenemende erkenning van wederkerigheid, met 'n groeiende dialoog tussen wetenskap en religie wat plaasvind, en vele boeke oor die onderwerp sien die lig. Diegene wat aan hierdie debat deelneem verteenwoordig beide kante (gelowiges wat die geldigheid en belangrikheid van die wetenskap besef, wetenskaplikes wat die behoefte aan religie in die breë sin besef), en openbaar 'n groter mate van toegeeflikheid en openheid as voorheen. Hierdie debat erken dat die vernaamste terreine van belang vir die wetenskappe en religie afsonderlik van mekaar bestaan, en dat daar in die algemeen geen konflik tussen hulle is nie: wetenskap behels die "hoe" en religie die "waarom"; wetenskap het dit oor wat is, en religie oor wat behoort te wees.

Hierdie gesigspunt is geformaliseer deur S.J. Gould in die idee van 'nie-oorvleuelende magisteria' of 'NOMA', wat elkeen sy eie terrein beheers sonder enige moontlikheid van konflik. Die Bybel is nie 'n wetenskaplike handleiding wat vir jou oor termodinamika of die periodieke tabel van elemente vertel nie. Chemieboeke vertel nie vir jou oor die betekenis van die lewe nie. Jy moet die toepaslike bronne vir elke klas van vraagstukke bekom.

Maar ook dit is nie 'n volhoubare proposisie nie: dit is in die algemeen waar, maar nie altyd nie. Op voorwaarde dat religie nie ontman word nie, bestaan daar inderdaad sommige areas van gemeenskaplike belang en potensiële konflik. Daar is dus tans 'n lewendige debat wat ten doel het om dit op een of ander wyse op te klaar, waarin sommige beweer dat daar steeds reële konflik bestaan, met die wetenskappe wat oorheers, terwyl ander beweer dat vreedsame naasbestaan moontlik is; nog ander beweer dat een of ander wyse van integrasie moontlik is om 'n verenigde wêreldbeskouing te lewer wat albei akkommodeer sonder om enige van die twee te verwater. Laasgenoemde verteenwoordig my siening. E.O. Wilson se boek (1998) verwoord ook so 'n hoop, maar vanuit 'n heeltemal verskillende metafisiese siening, wat religie ondergeskik stel aan die wetenskap.

Gebiede wat voorheen twispunte was, maar nie langer so geag word deur vooraanstaande lede van die beweging nie, hou verband met die meganismes van skepping en ontwerp:

1. Oorsprong en die heelal: die meganisme van evolusie van die heelal en die grootskaalse strukture daarin - kosmologie en die Oerknal

Is daar 'n begin van die heelal, of nie? Is dit ewig? Dit maak inderdaad geen verskil aan die kwessies van fundamentele oorsprong nie: dit behels slegs meganisme. Vrae oor hoekom bestaan, en hoekom dit juis hierdie spesifieke aard het, bestaan steeds.

2. Oorsprong van lewe: die meganisme van die evolusie van mens en dier - Darwin se evolusieprosesse as 'n vervanging van spesiale ontwerp.

Die wette van die fisika, en gevolglike wette van chemie, is sodanig dat spontane selfstrukturering plaasvind, waarna Darwiniaanse evolusie aanleiding gee tot waarskynlike ontwerp. Ook dit maak geen grondliggende verskil nie: God ontwerp hierdie wette eerder as individuele diere.

Die dieper, onderliggende kwessies bly egter onopgelos, sodat daar drie terreine van konflik oorbly, met debattering en die strewe na 'n oplossing daarvan, naamlik

3. Die vraagstuk van bestaan - die metafisika en ontologie van kosmologie. In hierdie vraagstuk kom die kwessie van ontwerp en skepping op 'n hoër vlak terug: wat is onderliggend aan bestaan en die aard daarvan? Dit staan in verhouding tot beide ruimte-tyd, materie, en die fisikawette self. In die besonder moet daar gekyk word na:

4. Die antropiese kwessie - hoekom laat die heelal hoegenaamd enige proses van evolusie toe?

Fyninstemming om toe te laat dat lewe bestaan: hoekom?? Die ontwerpkwessie is waar hierdie fyningestemde fisiese wette vandaan kom.
'n Wetenskaplike voorstel is die bestaan van meervoudige heelalle, maar dit is in werklikheid nie 'n wetenskaplike teorie nie:
Dit is 'n metafisiese voorstel, en om daarin te glo is 'n geloof en nie 'n wetenskaplik bewysbare of toetsbare teorie nie.

5. Die kwessie om menslik te wees -  wat is die essensiële aard van ons natuur in die lig van moderne biologie en in besonder van molekulêre biologie en neurowetenskap? Dit behels veral

die aanverwante kwessies van vrye wil en die aard van die siel, en wat die aard daarvan is om menslik te wees - met belangrike korrelasies op die terrein van gesondheid. Wat is die kwaliteit van menslikheid?

Die onderliggende belangrike tema is dié van reduksionisme in die lig van moderne wetenskap: wat is die ware aard en implikasies daarvan? Dit lei op sy beurt tot lewensbelangrike kwessies  in etiek en die medisyne.

Een daarvan is om te verstaan wat die aard is van oorsaaklikheid en 'n verduideliking in komplekse, hiërargiesgestrukteerde stelsels waar daar veelvoudige vlakke van oorsaaklikheid in aksie is, en in die besonder die verstaan van die verhouding tussen onder-na-bo en bo-na-onder aksies in sulke stelsels.

'n Tweede is die aard van verduideliking in terme van evolusionêre prosesse aan die eenkant en kulturele prosesse aan die anderkant. Aan die eenkant, om die krag en beperkings van oorsaaklike verduideliking in terme van Darwin-tipe evolusionêre prosesse, en in besonder in die geval van evolusionêre psigologie, te verstaan  (Panksepp en Panksepp 2000) - waarom lees ons evolusionêre biologiese verduidelikings van die oorprong van religie sowel generies as in spesifieke terme, maar nie van astronomie of inderdaad evolusionêre biologie nie?; en aan die anderkant, om die krag en beperkings van sosiale prosesse in terme van die vorming van denke te verstaan (Berger en Luckmann 1979) - waarom hoor ons kulturele verduidelikings van die oorsprong van religie sowel generies en in spesifieke terme, maar nie van fisika of inderdaad van kulturele psigologie nie? (Berger 1990, 1992).

6. 'n Sleutelaspek is die kwessie van die grense van die wetenskap. Uit sy wesensaard kan die wetenskap nie handel oor

  • Etiek

nie. Daar is 'n geneigdheid om foutiewelik te glo dat wetenskap inderdaad sulke sake kan uitlê, hetsy deur evolusionêre psigologie (die imperatief van oorlewing) of deur sosiologie (die kragte van kultuur), maar hulle is in werklikheid buite die bestek van die wetenskap (en die voorstanders van hierdie twee gesigspunte stem inderdaad selfs nie met mekaar saam nie). Mens kan byvoorbeeld diegene wat beweer dat wetenskap wel etiek kan uitlê afvra wat die wetenskaplike voorskrif is om uit te lê oor dit wat tans in Irak aan die gang is. Natuurlik is dit nie moontlik nie.

  • Estetika
  • Metafisika
  • Betekenis

Enige poging om hierdie kwessies op 'n wetenskaplike basis uit te lê is is nie net misleidend nie, maar dit is inderdaad gevaarlik:  kyk maar na die Sosiale Darwinistiese beweging en sy gevolge. Dit is belangrik dat hierdie areas in eie reg erken word bo en behalwe wetenskap, met wetenskaplike faktore in hul ontwikkeling, maar met hul eie logika en aard wat op hul eie terme geregverdig is.

'n Kritieke verdere area wat egter min bespreking geniet, is:

7. Die kwessie van religieuse ervaring, en die interpretasie van etiese en geestelike data. Is dit alles bedrog/selfgemaak, of hou sommige daarvan verband met die werklikheid?

Hier kom die aspek van onderskeiding na vore: hoe onderskei ons tussen ware en valse religieuse/etiese ervarings? Dit is die sleutelvraag in die poging om 'n religieuse benadering te kry wat versoenbaar is met die wetenskap: om dogma te verwerp en teorieë aan toetsing te onderwerp. Per definisie is hierdie egter geloofsake waar voldoende bewysstukke nooit beskikbaar sal wees nie - derhalwe kom die spanning tussen rasionaliteit en geloof na vore, en die paradoks van geregverdigde geloof en redelike hoop. Dit is analoog aan die wyse waarop die wetenskap die waar-vals teorieë toets: die religie het 'n soortgelyke behoefte.

Hierdie is dus belangrike terreine waarop die debat voortduur. Vir diegene wat dit bestudeer ,is daar 'n reeks van kwessies wat verband hou met realiteit en kennis:

8. Wat is die toepaslike aard van die kennisleer (epistemologie) in hierdie wydlopende konteks? Watter soort bewysstukke moet ons insluit in ons oorwegings? Hoe toets ons dit vir geldigheid? Hoe bring ons dit in verband met die toets van die aard van realiteit in breë, inklusiewe, verduidelikende skemas?
   

Wat is die aard van die wesensleer (ontologie): watter soorte van bestaan moet ons toewys aan entiteite in die wêreld? Is daar slegs 'n materiële, fisiese wêreld, of is daar byvoorbeeld Platoniese en Aristoteliese wêrelde wat ons onvermydelik ook in ag moet neem?

Die verhouding tussen epistemelogie en ontologie is een van die kernvraagstukke wat ter sprake is, met die grootste getal foute wat oor die eeue heen gemaak is, van logiese positiwisme aan die een kant tot ekstreme relatiwisme aan die ander, en wat voorkom omdat ons voortdurend epistemelogie met ontologie verwar.

9. Uiteindelike onsekerheid: Die kernpunt om te maak, in die lig van ons hedendaagse begrip van wetenskap en epistemologie, is dat sekerheid nie op hierdie terreine haalbaar is nie - metafisiese onsekerheid bly voortbestaan (kyk Ellis 1999 vir 'n bespreking). Enigeen van beide kante wat op sekerheid op hierdie gebiede aanspraak maak, is óf mislei óf oneerlik; pasop dus vir die smous van sekerheid, hetsy priester of wetenskaplike.

Die uitkoms is onduidelik - derhalwe die noodsaak vir geloof en hoop aan die een kant, en vir dialoog in die besonder om welke potensiële konflik en geldigheidstoetse of toetse vir ooreenstemming daar ook al tussen die twee gebiede bestaan, op te klaar.

Hierdie dialoog word internasionaal bevorder deur verskeie groepe in baie lande deur middel van lesings, kursusse, en tydskrifte, maar veral in 'n belangrike program wat deur die Templeton-stigting aangebied word - die befondsing van pryse, lesings, universiteitskursusse, spesifieke navorsingsprogramme, en die Wetenskape en Geestelike Soeke (Science and the Spiritual Quest)-projek. Dit is 'n wydlopende visie wat veel bereik het in terme daarvan om debat te bevorder, ten spyte van luidrugtige teenkanting van sommige van hul aktiwiteite vanuit sekere oorde. Om 'n idee te kry van die lewenskragtigheid en wydte van hierdie breë interaksie, kyk byvoordeel die tydskrif Science and Spirit (kyk http://www.science-spirit.org/ ), die koerant Research News and Opportunities in Science and Theology van die Templeton-stigting (kyk http://www.templeton.org/science_and_religion/index.asp vir 'n webweergawe), of die 'meta'-argiewe by http://www.meta-list.org .

 3. Die Toekoms

Dit kan verwag word dat die debat sal toeneem met die vestiging van akademiese standaarde op hierdie terrein, ondersteun deur openbare debat, lesings, byeenkomste, tydskrifte, boeke, en verenigings. Die debat sal internasionaal en intergelowig wees - dit voorsien inderdaad 'n gunstige ontmoetingsterrein tussen verskillende gelowe (insluitende ateïsme), en bied 'n gesonde basis vir intergelowige bespreking, wat toelaat dat belangrike kwessies oorweeg kan word sonder trompop botsings as gevolg van geloofsbeginsels.

Inderdaad, vanuit hierdie gesigspunt, en ten spyte van die diep metafisiese/filosofiese kloof tussen monoteïsme en nie-teïsme, is die vernaamste verdeling in die religieuse wêreld nie tussen die verskillende gelowe nie, maar liewers tussen die fundamentaliste en nie-fundamentaliste van welke geloof ookal. Eersgenoemde het 'n geslote gemoed wat gebaseer is op 'n desperate vaskleef aan halwe waarhede wat as die volle waarheid verkondig word. Laasgenoemde het 'n oop gemoed vir kompleksiteit en erken twyfel en onsekerheid, die grense van taal en persepsie, en die insig van andere. Eersgenoemde kan nie betekenisvol plaasvind binne die wetenskap en religie-dialoog nie. Laasgenoemde kan en moet gebeur ten einde volledig relevant in die veranderende kulturele wêreld te wees.

Openheid vir ander standpunte is dus 'n kenmerk van die nuwe debat, maar gaan gepaard met 'n begrip van epistemelogie en die belangrikheid van bewyse. Dit is hier waar die grootste uitdagings sal setel. Openheid het ook sy grense, en die groeiende intergelowige beweging is tans geneig om té begrypend te wees - om alle gelowe en kulture op 'n gelyke basis te plaas, eerder as om te aanvaar dat sommiges onaanvaarbaar is. Daar is goeie historiese en maatskaplike redes vir hier volledige oop posisie. Nogtans is dit my mening dat die langtermyn sukses van hierdie intergelowige beweging, veral in verband met die wetenskape en religie-dialoog, sal afhang van die daarstelling van standaarde van aanvaarbaarheid - en dus kriteria vir verwerping - in die religieuse en etiese areas sowel as in wetenskap, waar hulle die goedgefundeerde sleutel tot sukses is (gekodifiseer in ietwat idealistiese begrippe van die 'wetenskaplike metode'). Die kriterium van religieuse aanvaarbaarheid sal inderdaad noodwendig 'n etiese kern besit.

Ten einde dus suksesvol te wees, sal hierdie beweging die wetenskap ernstig bejeën (toets insig met data, en verwerp ekstreme relatiwisme) en aanvaarbare etiese standaarde hê (en religieuse outoritarisme verwerp, in die besonder daardie religieuse gemeenskappe met onaanvaarbare etiese gedrag). Hier beweer ek dat daar 'n diepliggende universele etiek bestaan waaroor alle religieë saamstem - naamlik kenosis (aflegging en selfopoffering). Baie religiepraktyke weerspreek hierdie inspirerende etiek, en dit word ten regte verwerp deur humaniste, wetenskaplikes en die breër publiek. Ons moet standaarde van aanvaarding in hierdie verband verkry ten einde onsself te kan distansieer van die onaanvaarbare. Daar bestaan 'n belangrike probeem hier - die afgryslike geskiedenis van vele religieë wat in die verlede geassosieer was met feitlike alle geloofstradisies. Om dit werklik op te los is 'n proses van erkenning en berou nodig - 'n religieuse Waarheids- en Versoeningskommissie is nodig om werklik vordering te kan maak. In elk geval is die belangrike punt dat geskikte standaarde van aanvaarheid sal dien as 'n besluitnemingsvurk, wat toelaat dat diegene wat daaraan deelneem kan assosieer met 'n beperkte stel religieuse posisies van verskillende gelowe wat hulle bereid is om as aanvaarbare opsies in die voortgaande debat te aanvaar.

Aan die kant van die wetenskappe is daar dienooreenkomstig die nodigheid om te erken dat, afgesien van baie positiewe gevolge, daar ook belangrike verdoemende gevolge van die wetenskap was, nie slegs in terme van grootskaalse omgewingsbesoedeling en verskriklike oorlogswapens nie, maar ook deur die bevordering van 'n ontmenslikende siening van die mensdom, wat net soveel euwel as enige ander aspek van die menslike bestaan veroorsaak wanneer dit gekodifiseer word in die Sosiale Darwiniaanse beweging [en die feit dat hierdie stelling gemaak kan word is in sigself bewys daarvan dat etiese oordele onafhanklik van sulke wetenskapsgebaseerde teorieë is] en ontmenslikende psigologiese teorieë soos byvoorbeeld die Behavioristiese beweging. Dit duur vandag nog voort in terme van dié neurowetenskaplikes wat beweer dat bewustheid 'n illusie is.

Die wetenskap het enorm veel gepresteer in terme van kennis, maar gefaal in etiese terme, juis omdat dit nie in etiek betrokke wil of kan raak nie. Nogtans word die produkte daarvan gebruik op wyses met diepgaande positiewe sowel as negatiewe etiese implikasies. Die meerderheid wetenskaplikes het nog nie in die openbaar en doeltreffend 'n aksie gevoer vir die positiewe gebruik van die vrugte van hul uitvindings nie. Ook dit moet erken word in hierdie wisselwerking. Vanuit hierdie basis van wedersydse nederigheid is ‘n lewendige dialoog moontlik.

 4. Die sleutelkwessie van fundamentalisme

Daar is geen ernstige saak vir die 'skeppingswetenskap' nie en min vir 'intelligente ontwerp', en ek is nie daarin geïnteresseerd om enigeen van die twee te verdedig nie. Hierdie is ekstreme standpunte wat maklik vanuit 'n wetenskaplike oogpunt verwerp kan word. Daar is egter meer verdedigbare standpunte rakende die wetenskap en religie.

Fundamentalisme is die aanspraak dat 'n halwe waarheid die hele waarheid is. Hierdie geneigdheid om daarop aanspraak te maak dat 'n halwe waarheid (wat natuurlik die terrein is waarop die aanspraakmaker 'n deskundige is) die hele waarheid is, is een van die oorheersende wyses waarop die mensdom intellektueel van koers af gaan. Dit put sy krag uit die feit dat die halwe waarheid wat verkondig word, inderdaad waar is, of ten minste as waar ervaar word deur die een wat daarin glo. Dit put sy vernietigende krag uit die weiering om al die ander belangrike faktore in die oorsaaklike skakel wat gebeure beïnvloed te erken, deur óf te ontken dat dit bestaan, óf ten minste hul effektiwiteit te ontken. Dit maak die implisiete of eksplisiete aanspraak dat die aanspraakmaker die enigste persoon is wat toegang tot die waarheid het, wat ander moet eerbiedig, terwyl dit die gemoed van die aanspraakmaker sluit om enige groter realiteit wat mag bestaan raak te sien.

Sommige religieë is fundamentalisties, maar baie is nie. Fundmentalistiese religie is slegte religie, en is ook onversoenbaar met goeie wetenskap. Daareenteen kan oopgemoed, nie-dogmatiese godsdiens versoenbaar wees met die wetenskap. Hieroor bestaan daar omvangryke en gesofistikeerde literatuur deur Ian Barbour, John Polkinghorne, Arthur Peacocke, Keith Ward, Nancey Murphy, Bill Stoeger, Phil Clayton en vele ander. Dit is belangrik om daarop te let dat fundamentalisme nie net in religie voorkom nie, maar ook in al die wetenskappe - natuur- sowel as menswetenskappe - en selfs ook in die humanoria. Wetenskaplike fundamentalisme is slegte filosofie, en sal gewoonlik aanleiding gee tot slegte wetenskap.

Ateïsme is net soveel 'n religie as byvoorbeeld die Christelike religie, aangesien dit 'n onbewysbare geloofstelsel is wat daarop aanspraak maak dat dit die betekenis van lewe ophelder. Dit kan dogmaties of oopgemoed wees: fundamentalisties of nie-fundamentalisties.

 Scientisme - die aanspraak dat wetenskap die enigste en perfekte toegang tot die volle waarheid bied - is 'n fundamentalistiese, ateïstiese religie, volledig met 'n credo: "Wetenskap is die enigste roete tot ware, volledige, en perfekte kennis" (Peter Atkins, Galileo's Finger, p. 237) en die reliek van 'n heilige [die morbiede oorblyfsel van Galileo se vinger]. Dit maak sy aansprake deur deklamasie ("dit moet so wees") eerder as wettige argumentering, want soos ek hieronder bespreek kan nóg scientisme nóg filosofie sy vernaamste filosofiese aansprake bevestig; maar dit het net so 'n dogmatiese en geslote geloofstelsel as enige religie ooit gehad het. Dit kom voor in fisika en chemie, in biologie en die sosiale wetenskappe; en dit gaan voort om voor te skryf wat wettig beskou kan word as die onderwerp van ondersoek, die metodes wat gebruik word, die data wat toegelaat word, en die soort van verklaring wat geduld word.

Dit gaan dikwels veel verder as om eenvoudig maar net anti-religieus te wees: dit ontken die waarde van die meeste dinge wat die beskawing die moeite werd maak. So byvoorbeeld glo Prof. Atkins in "die eindelose krag van wetenskap" (P.W. Atkins, In Nature's Imagination:The Frontiers of Scientific Vision, Red. J. Cornwell. Oxford University Press, Oxford, 1995,  pp.122-132). Hy skryf:

 "Scientists, with their implicit trust in reductionism, are  privileged to be at the summit of knowledge, and to see  further into truth than any of their contemporaries... there  is no reason to expect that science cannot deal with any  aspect of existence... Science, in contrast to religion, opens up the great questions of being to rational  discussion ... reductionist science is omnicompetent  ... science has never encountered a barrier that it  has not surmounted or that we can at least reasonably  suppose it has the power to surmount.... I do not consider that there is any corner of the real universe or the mental  universe that is shielded from [science's] glare " (pp. 123,  125, 129, 131).

Dít is 'n baie duidelike geloofstelling dat die wetenskap vrae wat inderdaad buite sy bevoegdheidsterrein val, kan beantwoord. Die bruikbare vraag wat ons kan vra is, maak Atkins inderdaad daarop aanspraak dat die wetenskap kan oordeel oor alles wat van belang vir die mensdom is, of eerder dat enigiets buite die beperkte terrein van die wetenskap onbelangrik is? Dit kom voor asof laasgenoemde sy korrekte standpunt is, want hy gooi nie slegs teologie nie, maar ook filosofie, digkuns, en kuns by die venster uit:

"although poets may aspire to understanding, their talents are more akin to entertaining self-deception. Philosophers too, I am afraid, have contributed to the understanding of the universe little more than poets .. I long for immortality, but I know that my only hope of achieving it is through science and medicine, not through sentiment and its subsets, art and theology" (pp. 123, 131).

Sy verwysingsraamwerk sluit dus al die hoogste begrippe van die menslike predikament wat deur die eeue heen bereik is uit; hy definieer realiteit as slegs dit wat verstaan kan word deur sy eng begrip van reduksionistiese wetenskap. Hy omraam sy gesigspunt so eng dat dit selfs psigologie al die sosiale wetenskappe en die gedragsbiologie uitsluit, want hy konstateer: "A gross contamination of the reductionist ethic is the concept of purpose. Science has no need of purpose" (p. 127). Dít is die raamwerk waarbinne hy beweer hy die "groot vraag van om te bestaan" oorweeg. Die slotsom waartoe hy kom, word gedikteer deur die selfopgelegde buitengewone eng grense van sy analitiese skema.
 
Atkins word gemotiveer deur die krag van die wetenskap om verbande tussen die onverwante te lê, en die vermoë daarvan om aan te toon dat die wêreld fundamenteel eenvoudig is (p. 126). Met reg poog hy om te sien hoe ver hierdie benadering hom bring. Dit ontaard dan egter in 'n dogma wat alles wat dit voorafgaan oorheers, afgesien van hoe ontoereikend dit in sommige areas van begrip is, en hy verhef reduksionisme tot 'n eerste beginsel waaraan vasgeklou moet word, selfs wanneer dit die betrokke sake nie kan verklaar nie (anders as byvoorbeeld Neil Campbell se manjifieke teks Biology). Enigiets wat nie in sy eng raamwerk inpas nie, word afgemaak as selfbedrog of 'n dwaling. Sy argument teen religie, wat hy beweer gebaseer is op onkunde en vrees (p. 124), is eintlik die gevolg van die feit dat dit nie inpas in sy beperkende skema nie. Sy hele benadering is gebaseer op 'n a priori metafisiese posisie van 'n fundamentalistiese aard, wat sy basis en uitgangspunt is. Hy beweer dat hierdie gesigspunt die enigste metafisiese posisie is wat met die wetenskap versoenbaar is, wat eenvoudig nie waar is nie; hy kan hierdie posisie net handhaaf deur ignorering van sowel die rasioneelgebaseerde argumente wat al die ander metafisiese opsies versigtig oorweeg, as alle redelike gesofistikeerde weergawes van religieuse verduideliking.

Mens mag jou afvra wat die vrugte van hierdie verarmde wêreldbeskouing is, wat Plato, Aristoteles, Kierkegaard, Shakespeare, Dostojewski, Tolstoi, Victor Hugo, en T.S. Eliot inter alia tot die rommelhoop verban. Dit kom voor asof dit tweevoudig is: in die eerste plek maak dit aanspraak op absolute sekerheid (selfs al is dit nie 'n haalbare proposisie nie) - wat maar net nog 'n manifestasie is van die menslike verlange om vry te wees van die metafisiese twyfel wat ons in die gesig staar. Tweedens, gegee hierdie gesigspunt, word wetenskaplikes die hoëpriesters van hierdie barre religie - hulle is die mense met geprivilegeerde toegang tot die alombevoegde kennis. Dit is hulle prerogatief om te oordeel en waarheid te verkondig in hierdie dorre landskap. Die versoeking van wetenskaplikes om hierdie gesigspunt te bevorder is dieselfde as wat deur die geskiedenis die versoeking was van diegene wat aanspraak maak op die absolute kennis van waarheid: hulle sien hulself as meerderwaardig as hul tydgenote. Dit werk egter eenvoudig nie meer nie: terwyl enkelinge hulle sal navolg, is die vernaamste resultaat om die grootste deel van die publiek te oortuig dat wetenskaplikes min begrip het van die reële wêreld of van dit wat van waarde is. Hier soort oordrewe standpunt (hetsy eksplisiet of implisiet) is een van die redes waarom anti-wetenskaplike sienings tans onder die algemene bevolking aan die toeneem is.

Dit is belangrik om te weet dat hierdie esktreme standpunt nie deur die wetenskap geïmpliseer word nie, en dit is nie waar nie dat alle wetenskaplikes so 'n dorre en vernietigende wêreldbeskouing handhaaf. Wetenskap kan inderdaad beoefen word deur mense wat die kunste en humanoria en etiek waardeer, en inderdaad ook religie.

Moet dit nie glo nie. Ten spyte van al die pogings van wetenskaplikes, sal wetenskaplike kennis altyd gebroke en onvolledig wees, en die wetenskap kan nie alles wat van waarde is vir die mensdom begryp nie. Dit vereis die beskeidenheid om eksplisiet te besef dat daar grense is aan dit wat die wetenskap ons kan bied, en dat ander aspekte van die menslike bestaan - etiek en estetika, filosofie en die digkuns byvoorbeeld - ook belangrik is; en dat selfs religieuse of geestelike oortuigings en ondervindings ook van groot belang mag wees.

En pasop vir die implisiete bedreiging wat in die houding van scientisme vervat word, wat - soos wat die geval is met enige fundamentalistiese religie - idees wil onderdruk van diegene wat nie met hul saamstem nie. Ek haal aan uit Atkins: "[Theologians] have no rightto claim that God is an extreme simplicity ... Maintaining that God is an explanation is an abnegation of the precious power of human reasoning" [p.128]. Hier het jy die duidelike rookwolkie van die Inkwisisie: as hulle geen reg het om op hierdie verkeerde wyse te dink nie, is die sterk implikasie dat hulle verhinder moet word om dit te doen.

 5. Die behoefte

Daar is 'n behoefte vir wye erkenning en ondersteuning van hierdie basies belangrike debat. Wat nodig is, is 'n wetenskap-etiek-religie-drievoud, omdat die debat onvolledig en onoortuigend is sonder om al drie aspekte in te sluit. Dit moet dus kennis neem van wetenskap - die studie van die meganisme waarvolgens dinge werk; religie - die studie van waarom, dus sake van betekenis en spiritualiteit; en etiek - wat om te doen; ten einde dit werklik te maak. Dit moet alles benader word met beskeidenheid en bevraagtekening (om sodoende enige van die fundamentalismes te vermy), maar ook met nougesetheid (eerlike intellektuele beoordeling met die vermyding van die wolkoppe, soos byvoorbeeld vele van die New Age-beweging, kyk Peters 1991) en met 'n etiese toegewydheid wat die bespreking sal verhelder. Om dus werklik die moeite werd te wees, moet dit oorweging skenk aan sowel die harde wetenskappe, met sy hoë standaarde van rigiedheid en bewysplase, as aan harde religie, met sy hoë standaarde van etiese vereistes.

Miskien moet die debat nog verder gaan, byvoorbeeld om afgesien van die drievoud, ook estetika in te sluit, omdat skoonheid ook 'n fundamenteel belangrike aspek van realiteit is met 'n vermoë om mense op 'n diepgaande wyse te roer en met geesdrif te vervul. Of hierdie addisionele aspekte nou ingesluit word of nie, die dringendste behoefte is vir geïntegreerde studies wat die gewone dissiplinêre grense oorskry en dus skakels tussen die verskillende sake, soos hierbo bespreek, tot stand sal bring.

 6. "Maak religie swak wetenskaplikes?"

Nee. Talle voorbeelde ter bevestiging hiervan sluit in:

  • Isaac Newton : die grondlegger van die moderne wetenskap: Wette van Beweging, Teorie van Swaartekrag
  • John Dalton: ontwikkel atoomteorie: chemikus
  • James Clark Maxwell:   die voorloper van moderne fisika: die vereniging van elektrisiteit en magnetisme
  • Georges Lemaitre: ontwikkel die fisiese teorie van die uitbreidende heelal: die oer-atoom
  • Arthur Stanley Eddington: grondlegger van moderne astrofisika, ook relatiwis en kosmoloog
  • Charles Alfred Coulson: molekulêre baanteorie: chemikus
  • John Eccles: Nobelpryswenner (Neurofisioloog)
  • Charles Townes:   Nobelpryswenner wat die laser ontwikkel het (Fisikus)
  • Tony Hewish: Nobelpryswenner: Radio-astronomie
  • William D Phillips: Nobelpryswenner: Laserverkoeling (Fisikus)
  • Francis Collins: Direkteur, Menslikegenoomprojek
  • Brian Heap: Dierefisioloog, voormalige Buitelandse Sekretaris van die Royal Society
  • Peter Berger:   uitnemende sosioloog  (Die maatskaplike konstruksie van realiteit)
  • Pauline Rudd: vindingryke glikobioloog: molekulêre struktuur en funksie
  • Kathleen Lonsdale: grondlegger van die kristallografie.

Wetenskaplik gesproke, bewys dit die vraagstuk voldoende. Die finale antwoord is: fundamentalistiese godsdiens van enige soort, insluitende scientisme, het slegte wetenskap, slegte filosofie, en slegte burgerskap tot gevolg. Oopgemoed, ondersoekende religie kan versoenbaar wees met goeie wetenskap. Dit kan selfs help om filosofiese vraagstukke te stimuleer met die potensiaal om te lei tot 'n meer geïntegreerde wetenskaplike benadering tot begrip as wat normaalweg deur wetenskaplikes bedryf word. Dit wil sê, dit mag 'n motiveerder wees vir een van die mees fundamentele eienskappe en prestasies van die wetenskap: die strewe na groter eenheid en integrasie van begrip.

Hierdie opstel het oorspronklik in Engels verskyn by http://www.sun.ac.za/sentraal/ellis/science_and_religion.htm en dit is in Afrikaans vertaal deur Christo Viljoen. Die Vrye Afrikaan bedank Ellis vir sy toestemming om die opstel te plaas, en Viljoen vir sy vertaling.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=52
Artikel nagegaan:
    -