blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Versoening deur Sport 2004-11-05
Kleinjan Schietekat

Deur Kleinjan Schietekat, rondreisende verslaggewer

Volgens 'n vertroulike verslag wat tans voor die Kabinet dien, en waarvan 'n kopie aan Die Vrye Afrikaan gelek is, is daar drastiese planne vir Suid-Afrikaanse sport. Dit word oorweeg om 'n nuwe Suid-Afrikaanse sportsoort in te stel. Die verslag is blykbaar die produk van 'n ondersoek wat op versoek van die Kabinet gedoen is om te kyk na maniere om grondhervorming en transformasie in sport te versnel en te versoen.

Die opstellers van die verslag is prof. Dan Mofokeng, hoogleraar in die bestuurswese, en dr. Johan Ahlheit, kenner van transformasie, helpmekaar en ubuntu, en hulle wys daarop dat sport en grond die twee kwessies is waaroor Suid-Afrikaners nie net die sterkste gevoelens koester nie, maar waaroor daar ook die meeste verdeeldheid heers. Volgens hulle is sport die een enkele krag wat Suid-Afrikaners tot dusver kortstondig kon verenig, en hulle stel voor dat sport ingespan word om die ge moedere oor grond te kalmeer.

Mofokeng en Ahlheit sê dat as 'n nuwe sportsoort nou geskep en met sukses onder Suid-Afrikaners gevestig kan word, dit baie kan doen om die steriele debatte oor transformasie in sport heeltemal in die skadu te stel. Hiervoor het hulle enkele proaktiewe oplossings in gedagte. In die eerste plek moet verteenwoordigendheid nie soseer 'n doelwit wees nie, maar sommer deel van die sport self. Hoewel dit nodig is om die regte mengsel van wit, bruin en swart mans, vroue en gestremdes deel van die spel te maak, moet daar ook verseker word dat die spel vir elke denkbare groep uitdagings bevat om dit vir alle Suid-Afrikaners aantreklik te maak. Die geheim hiervan, sê Mofokeng en Ahlheit, is om elemente van rugby, sokker en krieket in die regte kombinasie te meng, met die bal as grootste gemene deler. (Dis egter hier waar probleme verwag kan word: watter vorm sal die bal wees? 'n Rugbybal wat nie rond is nie, is alreeds 'n probleem.) Tydens 'n wedstryd behoort toeskouers op sowel as langs die veld vleis te braai of bok te slag, of selfs bokke te braai. Die interaktiwiteit wat daarmee tussen speler en toeskouer geskep kan word, kan skouspelagtig wees. Lipizzaners kan deurentyd reg rondom die veld paradeer, en sodoende kan skuldige, bevoorregte Engelse Suid-Afrikaners ook betrek word.

Wat grond betref, is die gedagte dat alle betwiste grond in Suid-Afrika so gou moontlik geplaas word onder die beheer van 'n trust bestaande uit verteenwoordigers van die staat, politieke partye, die korporatiewe sektor, die kerke en diereregteaktiviste (ten einde wreedheid teenoor diere te voorkom, of ten minste te beperk, braaipraktyke uitgesluit). Hierdie grond moet dan verander word in terreine waarop die nuwe sport gespeel gaan word, en waarin buitelanders geen aandeel mag hou nie.

Dit word ook voorgestel dat 'n nasionale kompetisie uitgeskryf moet word om 'n naam vir die sportsoort te vind, maar dat die kompetisie geensins aan die SAUK toevertrou moet word nie.

Mofokeng en Ahlheit wys daarop dat so 'n sportsoort ongekende potensiaal vir TV-regte en toerismebelangstelling inhou, en dat daar geen rede is dat dit nie vanuit die staanspoor, soos met sommige uitsluitlik Amerikaanse sportsoorte, as “wêreldreeks” aangebied kan word nie. Die moontlikhede daarvan om elke jaar die wêreldbekerkompetisie in die sportsoort aan te bied, is legio, en dit kan mettertyd ook ondersoek word om konsessies van die sportsoort aan ander lande toe te staan.


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=51
Artikel nagegaan:
    -