|
||||
Na aanleiding van ons kommentaar oor die burgerlike uitdaging van die staat, waarin ons onder meer oor gemeenskapsprotes in die Vrystaat verwys het, skryf Isa Marx op 4/11/04: Ek het werklik 'n behoefte om my ondervinding van gister met julle te deel. Die hele land is in hierdie stadium deeglik bewus van die korrupsie en swak dienste van die Vrystaatse plaaslike owerhede. Dit was Sondagaand weer op Fokus in die nuus. Gister is daar, hier op Memel, 'n belastingbetalersvegadering gehou. Die Phumelela-munisipaliteit sluit Vrede, Memel, Warden en Cornelia in. Die sprekers was niemand anders as die organiseerders van die protesbeweging nie: Joseph en twee ander. Hulle het ewe met hulle werksklere voor in die skoolsaaltjie gesit. Die een was in besit van 'n verslag van president Thabo Mbeki, en het stuk vir stuk daaruit aangehaal. Daar is kortliks gewys op die rede vir hulle ongelukkigheid, wat nou ook nie meer nuus is nie. Maar die essensie van dié middag het voortgespruit uit hulle pleidooi dat wit en swart moet saamwerk om die probleem van swak dienste en korrupsie opgelos te kry. Die vergadering is in drie tale gehou: Afrikaans, Engels en Zoeloe, met 'n tolking van die een taal na die ander waar nodig. Ek het my sit en verwonder. Ek is nou maar twee jaar in Memel, maar weet reeds dat baie van Memel se mense bekend is vir 'n oorwegend regse politieke siening. Die ou omies, sommige nog stoere HNP's, het ge moedelik na die swartes gesit en luister. Die interessante aspek was dat daar reeds verlede week in Vrede besluit is om die belastingbetalersvereniging as 'n politieke party te registreer. Die belastingbetalers (wit en swart) gaan dan in die komende munisipale verkiesings nie vir 'n spesifieke politieke party stem nie, maar vir die party van die belastingbetalers. Terwyl ek daar sit, het ek die belangrikheid van dié historiese moment besef: hier, in Memel se laerskoolsaaltjie, pleit swartes vir die samewerking van die blankes sodat ons vanuit een mond praat en vanuit een front handel. Ek het onwillekeurig teruggedink aan 'n dag, baie lank gelede, toe ek saam met my pa by 'n saamtrek van die Ossewa-Brandwag was. Ek was nog klein, nog lank nie in die skool nie. Dit was ook in 'n laerskoolsaal - op Louis Trichardt (Makado). In ons huis is politiek geëet, geslaap en gedrink. Daardie dag was ek meer geïnteresseerd in die rooi jellie as in wat daar gesê is, maar deeglik bewus van die belangrikheid van alles vir my welsprekende pa. As my pa moet weet wat gister gebeur het, sal hy seker in sy graf omdraai. Die woord "kaffer" was 'n vloekwoord, alle Duitsers helde, Engelse joiners en Hans van Rensburg koning. Ek glo nou dat die tyd wel wonde heel, dat God 'n doel met alles op aarde het, ook met ons hier in Suid-Afrika, en dat elkeen van ons wat bevoorreg is om in hierdie tyd en omstandighede in Suid-Afrika te leef, 'n belangrike versoeningsrol het om te vervul. Ek het 'n geweldige verering vir Albert Schweitzer wat sy geniale ver moëns, sy tyd en energie aan Afrika gegee het – só, dink ek, hoort dit. Ons redakteur reageer: Uit Afrika altyd iets nuuts, lui die spreukwoord, maar uit die Vrystaat nog meer nuuts, leer die geskiedenis: vanaf Moshoeshoe tot Josias Hoffman, A.C. Jordan tot Karel Schoeman, en nou hierdie klein insident wat, soos me. Marx tereg skryf, van historiese waarde is, des te meer omdat dit op plaaslike gemeenskapsvlak gebeur. Uiteraard is dit ‘n ondermyning van die oppervlakkige stereotipering van Vrystaatse Afrikaners as konserwatiewe rassiste, en ‘n bevestiging van die noodsaak en feitelike moontlikheid van samewerking tussen Afrikaner en Afrikaan buite sektariese partypolitieke verband. Kortom, ‘n klein gebeurtenis wat die etos waarin Die Vrye Afrikaan glo, versinnebeeld. |