|
||||
Nach Afrika kommt Santa Claus Aldus, met bittere ironie, die Duitse rockgroep, Rammstein, in die snit Amerika op hul pasverskene meesterwerk, Reise, Reise. Teen hierdie tyd weet u al dat George W. Bush op Dinsdag 2 November 2004 herkies is as president van die VSA. U sou waarskynlik ook blootgestel gewees het aan die ietwat bisarre mediamanie wat rondom die figure Bush en John Kerry, sy teenstander, opgesweep is – so asof een swaeltjie die somer maak, oftewel een skroefie die masjien kan verander. Soos ons in ons kommentaar van Dinsdag 2 November aangevoer het, sou 'n oorwinning vir watter een van die twee kandidate ook al nie veel verskil maak daaraan dat die eintlike globale politieke probleem vandag die feit is dat die VSA as magtige tegnopool die res van die wêreld aan sy hege monie probeer onderwerp. Die mag van hierdie tegnopool spruit veral voort uit die kombinasie van militêre en mediamag, wat tot twee verskillende dominasiebenaderings lei: oorheersing by wyse van geweld of by wyse van kommunikasie. En waar die Amerikaanse kommunikasiebedryf in die jare van Viëtnam – die eerste TV-oorlog – nog 'n krag vir vrede was, was dit teen die imperiale oorlog teen Irak duidelik dat die militêre en die kommunikasiebenadering nou gekombineer word in die najaag van Amerikaanse hege monie. Embedded journalism, met al die skurwe assosiasies wat dié hoogs beskrywende Engelse term oproep, was maar een voorbeeld van die kombinasie van die militêre met die kommunikatiewe. Hoe impotent die moderne massamedia as politieke instrument en de mokratiese krag geword het, is die afgelope maande meedoënloos geïllustreer. Reeds sedert die 1960’s (indien nie vroeër nie) het 'n reeks denkers vanaf Michel Foucault tot Michel Serres, en skrywers soos Milan Kundera of Umberto Eco, aangetoon dat die geskiedenis of die politiek te midde van komplekse stelsels soos die nasiestaat of die moderne tegno-ekonomie allesbehalwe afhang van hierdie of daardie individu wat aan bewind is. Deur so manies op Bush en Kerry te fokus, het die massamedia die uitgediende politieke mite van die individu wat die geskiedenis bepaal, in stand gehou – nes Bush wat dink dat die ontsetting van Saddam Hoessein of die uitskakeling van Osama bin-Laden 'n verskil aan die VSA se veiligheidsituasie sal maak. (Oor hierdie laaste punt sou niemand minder nie as bin-Laden vier dae voor die afgelope presidentsverkiesing met meesterlike tydsberekening die Amerikaners herinner “…julle veiligheid is nie in die hande van Kerry of Bush of Al-Kaida nie. Julle veiligheid is in julle eie hande en elke staat wat nie ons veiligheid skend nie, sal veilig bly.” As die wêreld se mees gesoekte terroris die magtigste de mokrasie ter wêreld 'n lesing in elementêre politieke teorie moet gee, is die kalf nie net in die put nie, maar op sterwe na dood.) Ook Europa sou die laaste paar dae floutjies op die verkiesing reageer en die hoop huldig dat Kerry 'n verskil sou maak aan 'n groot kompleks (wat Europa self nie probeer teëgaan nie), met die toenemend holklinkende, moralistiese beroep op “menseregte” wat tog nie weer geskend moet word nie. (Sê dít vir die Palestyne, die Irakkese, die Afgane, die Tsjetsjene en talle ander groepe wat elke dag aantree vir hul dosis kombinasieterapie van Amerikaanse hege monie en Europese dienstigheid.) Van Europa as vasteland met tot onlangs nog die sterkste kritiese denktradisie verwag 'n mens meer. Die strydpunt bly steeds of globalisering meer mag aan multinasionale maatskappye en hul nasiestaathandperde moet beteken, of meer mag aan gemeenskappe en internasionale instellings. Soos ons reeds in ons manifes van 3 September 2004 uitgespel het, skaars Die Vrye Afrikaan hom by laasgenoemde. Die een goeie ding wat moontlik uit Bush se herkiesing kan voortvloei, is dat sy katastrofale hantering van haas elke beduidende politieke kwessie nie net die selfvernietiging van imperiale hege monie kan versnel nie, maar ook 'n motor vir die internasionale solidariteit van de mokrate die wêreldoor kan wees. Hef aan lê voor. |