|
||||
Hans Heese Deur Hans Heese, historikus en DAAD-beurshouer *Hierdie artikel is 'n verslag van 'n DAAD-beurshoursbyeenkoms soortgelyk aan die een wat van 4 tot 6 November 2004 in Johannesburg plaasvind. Hoewel die byeenkoms waaroor Heese verslag doen, amper 'n jaar gelede plaasgevind het, is die insigte daarin vervat nog neutvars. Aangesien Die Vrye Afrikaan geen erg het aan die tirannie van onmiddellikheid waaronder die joernalistiek vandag gebuk gaan nie, publiseer ons graag hierdie artikel, ook as bewys dat aktualiteit nie noodwendig gelykstaan aan onmiddellikheid nie. "Moedig President Mugabe en die huidige leierskorps aan om te bedank! " Hierdie uitspraak is in Leipzig, Duitsland deur 'n Keniaan, Francis Wairagu, gemaak en deur al die afgevaardigdes uit Afrika aanvaar. Die geleentheid was ‘ n winterskool wat die Duitse Akademiese Uitruildiens (DAAD) vanaf 12 - 22 November 2003 aan die Universiteit van Leipzig se Afdeling vir Afrikanistiek aangebied het. Die onderwerp het oor konflik en konflikhantering in hierdie deel van Afrika gehandel en is deur 27 akademici en gemeenskapswerkers uit suidelike Afrika bygewoon, die meeste van hulle voormalige DAAD-beurshouers wat aan Duitse universiteite studeer het. (Ook persone soos die Suid-Afrikaner, Khulu Mbatha, wat ná die 1976 Soweto-opstand in die voormalige Oos-Duitsland in Leipzig en Jena filosofie studeer het, was onder die deelnemers. Ná 1994 was hy, onder andere, ook die Suid-Afrikaanse konsul-generaal in München.) ‘ n Reeks lesings is deur politieke wetenskaplikes aangebied om die winterskoolgangers op hoogte te bring van die jongste stand van die teorie oor die inherente oorsake van konflik asook die verskillende modelle of “ gereedskap ” wat aangewend kan word om die uitbreek van konflik (en onbestendigheid) in ‘ n staat of ‘ n gebied te kan voorspel. Janis van der Westhuizen van die Universiteit Stellenbosch het ook deelgeneem en 'n lesing oor die Suid-Afrikaanse regering se beleidsrigtings oor vigs en die wapenaankoopprogram gelewer. Verskeie brandpunte in suidelike Afrika is deur die Afdeling vir Afrikanistiek geïdentifiseer en het onder meer gehandel oor konflik oor grondbesit in Zimbabwe asook die internasionale belange in die ontginning van olie in die Golf van Guinee. Met die oog op die Statebondskonferensie wat eersdaags in Nigerië sou begin, is dit interessant om te let op die ontleding en gevolgtrekkings waartoe die werkgroep oor Zimbabwe gekom het. As oorsaak vir die strukturele onstabiliteit in die land is die oorgeërfde kultuur van onverdraagsaamheid uit die koloniale tydperk aangevoer. Hierdie kultuur is deur die Mugabe-regering gehandhaaf nadat die skatte van die land in die sand verdwyn het en grootskaalse ar moede uitgebreek het. Verder is ook gemeld dat die Zimbabwiërs gedurende die koloniale tydperk blootgestel was aan 'n stelsel waarin geweld altyd geseëvier het - en dat dit nou weer die geval is. Die stryd teen koloniale beheer was suksesvol, maar het geen materiële voordeel vir die stryders gebring nie. Van die belangrike slagspreuke tydens die vryheidstryd was dat dit ook 'n stryd om die besit van grond was. Van die oorsake vir die ekonomiese krisis van die land is deur die studiegroep uitgelig as synde die gebrek aan ekonomiese groei, afname in landbouproduksie ná 1987, die droogte van 2001 - 2002, opgehoopte skuld in beide die staat- en privaat sektor en algemene korrupsie in die regering. Ander belangrike faktore is staatsgeweld ("state-sponsored violence") waarvan beide blanke boere en hulle werkers die slagoffers was. Laasgenoemde optrede was deels 'n gevolg van die mislukte implimentering van die Lancaster House-ooreenkoms waartydens ooreengekom is op die oordrag van grond op die gewillige verkoper-gewillige koper- beginsel. Die swak regering van die land oor die afgelope dekade het tot die ineenstorting van die land se ekonomie gelei, deels deur die aanvaarding van 'n nuwe ekonomiese beleid in 1991 waarin geld vir maatskaplike en onderwysdoeleindes verminder is, deels deur die uitbetaling van groot bedrae geld aan die oorlogsveterane in 1997. Verder het die Mugabe-regering onnodig baie geld aan sy verdedigingsbegroting bestee en betrokke geraak in die oorlog in die De mokratiese Republiek van die Kongo - ondanks 'n Organisasie van Afrika Eenheid-besluit dat buurstate nie in ander state se huishoudelike sake betrokke sou raak nie. Ander vergrype van die regering sluit in die institusionalisering van geweld soos blyk uit die bloedige onderdrukking van die destydse Matabele-"opstand" en die gebruik van oorlogsveterane en milisie om teenstand teen die regering uit die weg te ruim. Die regering se gebrek aan insig in ekonomiese aangeleenthede het aan die lig gekom met die verdrywing van kommersiële boere van hulle plase af - en die oorhandiging van hierdie plase aan partygenote en familielede van die regerende elite. Met die hongersnood wat ingetree het, het die regering voedsel as 'n wapen begin gebruik om opstandige gemeenskappe te manipuleer. Die werkgroep, onder die voorsitterskap van 'n Ghanees, Emma Birikorang, het sewentien voorstelle geformuleer om 'n meer de mokratiese en aanvaarbare regering daar te stel. Hiervan was die grondverwante aangeleenthede van die belangrikste op die agenda en het die volgende behels: - Die Lancaster House-ooreenkoms sal nie meer werk nie maar die beginsel van markverwante vergoeding vir plase moet gehandhaaf word en die internasionale gemeenskap moet finansieel bydra om die grondhervorming te versnel. - Dit is duidelik gestel dat die oorhandiging van grond aan persone wat nie voorheen ervaring van kommersiële boerdery gehad het nie, sal misluk indien dit nie gepaard gaan met 'n stelsel van opvoeding en opleiding vir die kleinboere nie. - Daar mag nie op grond van ras teen enige boere gediskrimineer word nie; blanke boere met Zimbawiese burgerskap het net soveel aanspraak op grond as enige ander Zimbabwiërs. Verder moet die onwettige besetting van eiendom onmiddellik gestaak word en die regeringsondersteunde geweld beëindig word. - As voorbeeld van hoe sinvolle grondhervorming kan plaasvind, is daar verwys na 'n suksesvolle voorbeeld van vennootskapboerdery wat op 'n wynplaas in die Boland ontstaan het. Hierdie stelsel kan in Zimbabwe voorgehou word as 'n navolgingswaardige wyse om grondhervorming te versnel en by te dra tot ekonomiese stabiliteit. 'n Ander moontlikheid is dat al die SADC-state gesamentlik besin oor die toekenning van pagte in teenstelling met die (Westerse) beskouing van eiendomsreg. Die modelle uit die voormalige Portugese kolonies is tydens die bespreking van die werkgroep as haalbare alternatiewe voorgehou om die Zimbabwiese probleme op te los. - Klem is gelê op die hou van vrye en regverdige verkiesings waarin onafhanklike waarnemers vanuit veral die buurstate op groot skaal teenwoordig moet wees. Belangrike voorstelle vir die ontlonting van die Zimbabwe-krisis was dat die buitelandse bates van alle ZANU (PF) lede onmiddellik bevries moet word en dat 'n onafhanklike regstelsel - en respek vir sy uitsprake - tot stand moet kom. Tydens 'n sessie van die Zimbabwe-werkgroep het die Keniaanse woordvoerder van die groep, Francis Wairagu, die stelling gemaak (wat ook al plaaslik gehoor is) dat Mugabe weens sy status in die vryheidstryd, maar veral vanweë sy ouderdom, verdien om met respek en diplomasie hanteer te word. In die Afrika-kultuur kan alle grysaards immers op spesiale behandeling staatmaak. Gevolglik was een van die belangrikste voorstelle waarskynlik die volgende: "Encourage present leaders and Pres. Mugabe to resign". Overgeset synde: Miskien kan die Suid-Afrikaanse politici ook ‘ n slag na akademici en lede van nie-regeringsorganisasies wat in Afrika woon en werksaam is luister. |