|
||||
Ek verwys na die brief van proff. J.M. Vorster en A. Le R. Du Plooy in Beeld (4 Augustus 2006) in sake Potchefstroom wat Tlokwe word. Wat in SA tans onder die naam “transformasie” gebeur, ruik alte veel na ’n totalitêre oorname eerder as ’n politieke kompromis wat sogenaamd in 1993 bereik is. In 1993 en in 1996 - met die inwerkingstelling van die eerste en tweede Grondwette - is ons verseker dat die Grondwet ’n traktaat, ’n politieke ooreenkoms tussen verskillende partye is en dat daar vir elke gemeenskap ruimte geskep sal word. In hierdie verband het die voorstanders van die nuwe grondwetlike bedeling ons die versekering gegee dat artikels 6 (oor die amptelike status van Afrikaans), 15 (oor godsdiensvryheid), 30 (oor taal en kultuur), 31 (oor kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe) en 235 (oor die reg op verskillende vorme van selfbeskikking) gemeenskapsvryhede waarborg en ruimtes skep vir die uitlewing van identiteite. Wat egter nou in die konkrete werklikheid gebeur, is dat die politiek van die wenner-vat-alles in werking gestel word, in plaas daarvan dat konsensusbesluite deurslaggewend vir kontroversiële aspekte (soos bv. naams- en plekveranderinge) gesoek sal word. Die vraag is waarom die politieke onderhandelaars nie uit hulle gerieflike sones na vore tree en veg vir die belange en regte wat hulle ons verseker het grondwetlik verskans is nie. Ek verwys natuurlik na mnr. De Klerk en Roelf Meyer, by name. Het ons nie nou ’n fase bereik waar ’n nasionale en internasionale konferensie gehou moet word as terugblik op die politieke kompromis van 1993 nie? Hoekom doen die De Klerk Stigting dit nie? Intussen moet ons maar soos die Nederlanders sal sê was die versekeringe wat ons gekry het, “floue kul”. In kort: ons is belieg en bedrieg en daarmee val die moraliteit uit die politiek uit. |