|
||||
Kleinjan Schietekat
Die Vrypostige Afrikaan kan vandag onthul dat ’n nuwe internasionale verslag oor etiese standaarde eersdaags vrygestel word. ’n Afskrif van die verslag is deur ’n moedelose staatsamptenaar aan ons gelek en dit het klaarblyklik reeds groot ongelukkigheid en selfs emosionele uitputting in regeringskringe veroorsaak. Die bekende politieke waarnermer, Professor Steve Dikene, aan wie Die Vrypostige Afrikaan die verslag gewys het, en wat goed op hoogte van gevoelens in die hoogste binnekringe is, sê hy meen dié verslag “gaan die knoffel-en-beet-petalje na ’n ou Van der Merwe-grap laat lyk”. Die verslag is opgestel deur die Vereniging vir Internasionale Etiese Standaarde (VIES), wat die afgelope jare deur verskeie klagtes van gewone Suid-Afrikaners oorval is. Een van die klaers, me. Thandi Khumalo (81), sê in haar voorlegging aan VIES dat “die manne in die Uniegebou se geheul met die Internet selfs my kleinkinders ontstel – en hulle wéét van die Net!” Dit blyk dat die meeste klaers gebuk gaan onder wat in die wêreld van etiek-waghonde as Rappenau se Kaalkeiserblameersindroom bekendstaan. Dié sindroom is die eerste keer beskryf deur die wêreldberoemde baanbreker op die gebied van die monitering van etiese standaarde, Erich Rappenau. Volgens Rappenau sou mense wat aan die sindroom ly tekens toon van ’n toenemend sardoniese humorsin, kreatiewe verbeeldingsvlugte en algemene senuweeagtigheid, wat die produk is van ernstige selftwyfel in omstandighede waar die owerhede daarin slaag om die absurde alledaags te maak. Een van die hoofskrywers van VIES se verslag oor Suid-Afrika, dr. John Stephens, het aan Die Vrypostige Afrikaan verduidelik dat VIES hom in dié verslag veral op ’n vergelykende benadering toegespits het. Hy sê: “Ons het Suid-Afrika vergelyk met dieselfde lande waarmee die Suid-Afrikaanse regering homself graag vergelyk – Brittanje, Australië en dies meer, ook Europa, maar nie Afrika nie, want die SA regering vergelyk hom slegs met hulle om sy meerderwaardigheid uit te wys. So kon ons daarin slaag om ’n aantal boeiende teenoorgesteldes tussen Suid-Afrika en sy selfgekose portuurlande vas te stel.” Dit is juis die deel van die verslag wat hierdie teenoorgesteldes bondig opsom, wat waarskynlik die grootste beroering gaan veroorsaak. Met die vriendelike vergunning van VIES haal Die Vrypostige Afrikaan hier uittreksels hiervan aan: “As ’n openbare amptenaar of hoogwaardigheidsbekleër in die portuurlande van misdaad verdink word, bedank hy; in Suid-Afrika word daar onmiddellik ’n sameswering teen hom vermoed. Sodanige agterdog beteken gewoonlik in die portuurlande die verdagte se ondergang, maar hier is dit sy laaste tree daarna om tragiese helde te word, veral as hy oorspronklik naam gemaak het in die stryd teen apartheid. In die portuurlande is tronkstraf vir openbare misdaad lank en hard; in Suid-Afrika is dit hoofsaaklik simbolies, soos gedemonstreer in die geval van mnr. Moanie Eksêni …” “In die portuurlande werk die howe en die parlement saam om die mense te beskerm; in Suid-Afrika word dit van die howe verwag om die mense se leiers te beskerm teen hulleself en werk die parlement nie eers met homself saam nie … Kan dit wees dat Romeins-Hollandse reg sal moet plekmaak vir Acta Straficana?” “In die portuurlande werk ministers saam met spesialiste; in Suid-Afrika moet spesialiste gedurig van ministers se knoffelasems vlug …” “In die portuurlande hou transformasie verband met elektrisiteit of geestelike groei; in Suid-Afrika beteken dit om ’n wenspan in ’n verloorspan te verander, omdat die profiel van die spanne belangriker is as om te wen …” “In die portuurlande word ’n noodtoestand met maatskaplike onstabiliteit ingestel; in Suid-Afrika gebeur dit nie eens met misdaadgolwe nie, want die hele weermag is elders met vredesoperasies besig …” “In die portuurlande word etnisiteit volwasse en demokraties gehanteer, maar in Suid-Afrika is dit ’n onding, buiten as verskoning om meer as een vrou te hê, of as jou etniese groep so klein en onskadelik is dat hulle slegs vir toeriste in tradisionele dorpies tydens kantoorure hulle tradisionele drag kan aantrek …” “In die portuurlande kry immigrante dit hotagter, maar in Suid-Afrika ontgeld lede van die inheemse bevolking wat van koloniste afstam dit – tensy die koloniste swart was, maar dit word oor die algemeen nie aangeroer nie … In die portuurlande moet immigrante die inheemse taal leer, maar in Suid-Afrika moet indigene – om dit nou so te stel – die koloniale taal leer, oftewel die verskynsel van vrye dwang, en die moet die landstaal word, want die nasie moet liefs nie hulle leiers verstaan nie.” Die laaste woord kom van dr. Johanna Pieters, bekende letterkundige en Van Wyk Louw-spesialis, wat sê: “In Raka word die held doodgemaak, en hy het nie eers gesteel nie.” |