|
||||
Ignacio Ramonet
*Redakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Soos tragiese someropvlammings in die voortdurende brand van die oudste konflik ter wêreld getuig die onlangse vyandighede in Gasa en Libanon op hulle manier van die nuwe toestand waarin die wêreld hom bevind, vyf jaar na die aanvalle van 11 September. Afgelei van dié konteks, en as ’n soort kartografiese penskets om ’n mens se pad te midde van die doolhof van huidige gebeure te vind, volg hier vier algemene opmerkings en tien bondige oorwegings, wat as beskeie wegwysers wil dien. Eerste algemene opmerking. Die sentrale verskynsel van ons tyd, ekonomiese globalisering, lyk nie of dit regstreeks inwerk op die Midde-Oosterse botsings nie. Nóg om hulle te ontketen, nóg om hulle te ontlont. Dit staaf twee veronderstellings: die argaïese karakter van hierdie oorlog wat, soos in die 19de eeu, territoriale dispute, nasionalistiese spanninge en sterk godsdienstige sentimente met mekaar vervleg; en die fout wat die liberale ideologie maak deur te glo dat ’n blote vermeerdering van gesprekvoering vrede teweeg kan bring. Tweede algemene opmerking. Die Midde-Ooste mag hom wel weereens in die soeklig van die media bevind, maar ons moet nie die belang uit die oog verloor van die Asiatiese strategie, waarvolgens ’n groot deel van die 21ste eeu se lot besleg word nie. As gevolg van die toenemende gewig van die twee reuse, Indië en China. En die feit dat die gevaar van botsings tussen China en Taiwan, Noord-Korea en Japan, Indië en Pakistan, nie geringgeskat moet word nie ... Ook moet ’n mens nie suidelike Afrika uit die oog verloor nie, waarin allerlei probleme (soos die uiterste armoede en klandestiene migrante) soos in ’n drukpot opbou en uiteindelik in die gesig van die rykste lande sal ontplof. Derde algemene opmerking. Kernoorlog word weereens een van die twee grootste bedreigings wat oor die wêreld hang (die ander is ’n ekologiese ramp). Israel, wat tydens onlangse gevegte klaarblyklik gesukkel het om deur die gewone militêre middele sy gesag af te dwing, beskik oor kernwapens, maar het nie die Kernwapen- nieproliferasieverdrag onderteken nie, net soos twee ander opponerende kernmoonthede: Pakistan en Indië. Nie ver van hierdie arena nie het drie kernmoonthede militêr betrokke geraak en begin om teenslae te beleef: die VSA, die Verenigde Koninkryk en Rusland. Die eerste twee in Irak en Afghanistan, en die derde in Tsjetsjnië. Daarbenewens veg die belangrikste militêre alliansie, die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO), waarvan Frankryk (nóg ’n kernmoontheid) lid is, ook in Afghanistan. Hoewel daar ook elders gevare van kernbotsings bestaan – in die Koreaanse skiereiland en in die Straat van Taiwan (1) – bevat die streek langs die westerse grense van Indië tot by die Suezkanaal ’n konsentrasie van die mees verwoestende arsenaal van alle tye. Met die uitsondering van China is al die groot magte daar militêr aktief. Die geringste vonkie kan die kruitvat laat ontplof ... Dit is waarom die daaropvolgende krisisbeheer ’n diplomatieke kundigheid verg waaroor slegs die Verenigde Nasies beskik. Maar, soos wat dit in Libanon geblyk het: die VN, in sy huidige konfigurasie, bly tegelyk onontbeerlik en volkome magteloos in die aangesig van huidige strydpunte. Wat betref die Europese Unie met sy lang geskiedenis van oorlogsrampe, sou dit die beste van alle bemiddelaars kon wees ... as dit nie so ’n politieke dwerg gebly het nie. Vierde algemene opmerking. Om die strategieë wat teenswoordig werksaam is, te begryp, moet ’n mens die drie skaakborde waarop ons toekoms besleg word, deeglik onderskei:
- militêr, oorheers deur nasiestate wat beheer word deur die territoriale faktor en kort verkiesingsiklusse (wat dit vir hulle moeilik maak om probleme op die lang termyn en op planetêre skaal te takel). Die VSA het hier die totale oppermag, met sy begeerte om ’n eenpolige wêreldorde af te dwing. - ekonomies en kommersieel, waar die denkwyses van globalisering hoogty vier, soos gedefinieer deur die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), die Wêreldhandelsorganisasie (WHO) ... Beheer deur privaat ondernemings en finansiële belange met toenemende verhandeling, wat die perspektief van ’n veelpolige wêreld in die vooruitsig stel; - ekologies en maatskaplik, waar probleme op drie vlakke opeenhoop: Die omgewing (klimaatsverandering, kweekhuiseffek, besoedeling, ontbossing, drinkwater, biodiversiteit). Die noodsaak vir nuwe internasionale reëls (rakende die stryd teen ’n onregverdige wêreldorde wat internasionale spanninge aanvuur, volksverskuiwings, die gebruik van geneties aangepaste organismes, intellektuele eiendom, genetikanavorsing, belastingontduiking, moderne misdaad). En die toekoms van die aarde se bevolkings (Afrika, pandemies, armoede, digitale gapings, megapole, hongersnood, opvoeding, werkgeleenthede, natuurlike rampe). Waar armoede, oproer, rampspoed en wanorde die swaarste weeg. Tussen dié drie skaakborde is die raakpunte wisselvallig. Dikwels ooglopend, soms nie-bestaande, in party gevalle raaiselagtig. Benewens hierdie algemene opmerkings kan enkele omsigtige oorwegings uit die onlangse krisis in die Midde-Ooste afgelei word. Eerste oorweging. Hierdie nuwe opvlamming onderstreep ’n geopolitieke punt: hierdie kruitvat-streek vorm sedert die Golfoorlog in 1991 onbetwisbaar die middelpunt van die huidige “wêreldbrandpunt van onrus”. Sedert 1914 tot en met die einde van die Koue Oorlog lê hierdie brandpunt in Europa. Voortaan omvat dit ’n geografiese gebied waarin Islam die oorheersende godsdiens is en waar, van Pakistan tot Egipte, die meeste hedendaagse konflikte plaasvind: Kasjmir, Afghanistan, Tsjetsjnië, Kaukasië, Irak, Libanon, Palestina, Somalië, Darfoer ... Hierdie gebied is eweneens ’n kookpot van intense internasionale spanninge: verskille tussen Pakistan en Indië rakende Kasjmir; dreigemente teen Iran, wat daarvan verdink word dat hy kernwapens wil hê; druk van Rusland in Transkaukasië; Turkye se vrese rakende Irakkese Koerdistan; talle twiste om beheer oor vars water; afguns veroorsaak deur die aanwesigheid van die belangrikste brandstofreserwes te midde van ’n reusedriehoek gevorm deur die Golf, Iran en die Swart See. Tweede oorweging. Hoewel Israel onbetwisbaar die reg het om hom te verdedig, dui die buitensporige straf waaraan Palestynse en Libanese burgerlikes onderwerp word, paradoksaal slegs op ’n soort waansinnige onmag. Om ’n eenvoudige rede, wat die Amerikaners self begin insien en wat oudpresident William Clinton soos volg uitgedruk het: “Ons kan nie al ons vyande doodmaak nie (2).” Israel s’n is legio in dié streek. In ’n asimmetriese oorlog is ’n oorweldigende militêre oorwig geensins ’n waarborg vir oorwinning nie. Die VSA leer dit weereens uit bitter ondervinding. “Ek is bevrees dat Irak dalk ons grootste militêre katastrofe sedert Viëtnam mag raak,” verklaar die voormalige minister van buitelandse sake, Madeleine Albright (3). Om jou toevlug tot ’n buitensporige, oudmodiese militarisme te neem, bring niemand nader aan ’n politieke oplossing solank vrede – die enigste waarborg vir Israel se veiligheid – nie bewerkstellig is nie. En vrede kom altyd deur onderhandeling met die vyand. Derde oorweging. Die mediafront skyn meer bepalend te wees as ooit. Maar die inligtingkonteks het van gedaante verwissel. Israel se plundering van kragsentrales, telefoonverbindings en televisiestasies (Al-Manar TV in die besonder (4)) om die teenstander se kommunikasiestelsel doofstom te slaan, het ondoeltreffend geblyk. Selfone, miniatuurkameras en blogs van vegters of ooggetuies sorg voortaan vir bykans oombliklike, wêreldwye verspreiding van beeldmateriaal wat die feite aan die kaak stel. Hoe intens hulle ook mag wees, kan bombardemente nie die skakels van die Internet, wat ontwerp is om kernvuurbestand te wees, verwoes nie. Ook hier lyk dit nie of die Israeli’s geleer het uit die Amerikaners se terugslae in Irak nadat tonele van Aboe Graib en ander verpletterende getuienis versprei is nie. En ook nie uit die verkrummeling van die VSA se beeld in die oë van die wêreld nie (5). Vierde oorweging. In hierdie streek vorm demokrasie, wat Washington oral wil instel (6), ’n totaal ontoereikende buffer teen die aanvalle van Israel, self ’n demokratiese staat ... Nadat die Palestyne, die enigste Arabiese burgers in die Midde-Ooste – naas die Libanese – wat demokraties gestem het toe hulle Hamas in Januarie 2006 verkies het, hulle beloftes vir soetkoek opgeëet het, kyk die Bush-administrasie nou anderpad en laat toe dat (slegte) demokrate uitgemoor word en hulle verkose verteenwoordigers in Gasa gevange geneem word. Met die oog daarop om “terrorisme te beveg”, sal die straf wat Gasa en Libanon opgelê is, ongetwyfeld die teenoorgestelde uitwerking hê. “´n Operasie wat vyf rebelle doodmaak, is teenproduktief indien die nagevolge die werwing van vyftig nuwe rebelle is,” herinner William Pfaff (7). Die vergrype sal uiteindelik lei tot wat Mao “die see waarin guerrillavegters swem” genoem het. Soos in Palestina en Libanon is radikale Islamisme in die ganse “onrusbrandpunt” aan die uitbrei. In sy diverse aspekte, en ondanks die bedenkinge wat dit mag wakker maak, vorm dit die grootste politieke mag wat gewapende teenstand teen die VSA se imperiale dominansie bied. In sy hoedanigheid as Messiaanse ideologie vir wie se sukses sy kampvegters bereid is om te sterf, neem radikale Islamisme deels die plek in van dit wat byvoorbeeld in die 19de en 20ste eeu die anargisme of kommunisme was. Selfs as dié vergelyking mag skok ... En waar die politieke geweld afneem (8), soos in Afganistan, waar die Taliban terug op die toneel en die NAVO-magte op die verdediging is, in Somalië, in Irak, in Palestina en in Libanon gaan dit voor die wind met die Salafiste-stroming. Vyfde oorweging. Die mag van niestaatsorganisasies neem steeds toe. In die besonder dié van nieregeringsorganisasies met ’n humanitêre, ekologiese, maatskaplike of regsingesteldheid, wat soms bewimpel word en nie altyd sonder eiebelang optree nie. Maar binne die brandpunt wemel dit veral van gewapende niestaatsorganisasies wat ’n bepalende rol in die menigte vyandelikhede speel. Hiervan getuig die roekelose optrede van Hamas se gewapende vleuel in Gasa op 25 Junie, en dié van Hezbollah se burgermagte in Libanon op 12 Julie, wat Israel se teenaanvalle ontlok het. Ter opmerking: êrens in hierdie gebied lê die hoofkwartier van die VSA se “openbare vyand nommer 1”, die gewapende Islamitiese organisasie Al-Kaida, onder leiding van Osama Ben-Laden, wat verantwoordelikheid vir die aanvalle op 11 September 2001 aanvaar het. En teen wie Washington die huidige “nimmereindigende” oorlog teen internasionale terrorisme” verklaar het. Sesde oorweging. Die gebeure van 11 September het ons inderdaad ’n nuwe era laat betree. Die Amerikaanse president George W. Bush en sy entourage het besluit dat die kollektiewe vrees wat hierdie tragedie veroorsaak het, hulle uiteindelik vrye teuels gee om ou geopolitieke waansinnighede ten uitvoer te bring. Om drie te noem: die aandrang op die VSA se “imperiale” rol in die hantering van wêreldsake; die vereenselwiging van enige nasionale weerstandstryd (soos dié van Hamas en Hezbollah) met “terrorisme”; en die voorkeur wat aan die alomteenwoordige dophouding van burgers gegee word ten koste van hulle vryheid. Op grond van hierdie standpunte is die CIA en ander intelligensiedienste toegelaat om verdagtes te “verwyder” of van enige plek af te ontvoer en na geheime gevangenisse te neem. In weerwil van die Geneefse Konvensie en buite enige strafregtelike raamwerk is die Guantanamo-strafkolonie geskep om mense wat daarvan verdink word dat hulle bande met Al-Kaida het, op te sluit en te mishandel ... Onder die voorwendsel van leuens (in werklikheid om sy olie in die hande te kry), is Irak, wat geensins by die 11-September-aanvalle betrokke was en oor geen “wapens van massavernietiging” beskik het nie, binnegeval. In ware Wilson-styl verklaar Washington hom gereed om die “Groot Midde-Ooste” se grense te herskryf. Niks minder nie. Ons weet wat van hierdie absurde ambisies geword het. Die wêreld is vandag ’n gevaarliker plek. En ’n nuwe reuse-aanval is nie onwaarskynlik nie. Wat die gedugte militêre masjinerie betref, dié sit vasgeval in Irak, gevang in ’n verlore asimmetriese oorlog, genoop om ook op sy beurt gruweldade te pleeg of toe te smeer (klopjagte op burgerlikes, slagtings, sistematiese marteling (9)), wat hy na eie bewering sedert die Viëtnam-mislukking verbied het (10). Die politieke mislukking is nog skreiender. Danksy die Amerikaanse optredes is Iran, wat die VSA se grootste vyand in die streek is, nou ontslae van die teenstanders op sy grense: die Taliban-regime in Afganistan en dié van Saddam Hussein in Irak (11). En Teheran kry solank sy wapens gereed om hom te verdedig. Andersyds, terwyl Washington op hierdie streek gekonsentreer het, het sy ou teenstanders in sy eie agterplaas, Latyns-Amerika, die kans benut om demokraties die bewind oor te neem in Venezuela, Brasilië, Argentinië, Uruguay, Chili, Panama, die Dominikaanse Republiek, Bolivia ... ’n Ongekende pienk- of rooigety wat boonop op natuurlike wyse Kuba en Fidel Castro gaan konfronteer. Die afgelope klompie jare het mnr. Bush gemeen dat hy die wêreld se probleme tot terrorisme kon reduseer en dat hy terrorisme bloot deur militêre onderdrukking kon takel. Hy was verkeerd. En hy het soveel beginsels onder sy voete vertrap, soveel regte geskend, dat Noam Chomsky sover gaan om te praat van “die gevaarlikste regering in die geskiedenis van Amerika”, en nie huiwer om sy land as die “grootste terroristestaat” op aarde te bestempel nie. Sewende oorweging. Die Irakkese oorlog is baie duur. In 2005 het die VSA se militêre uitgawes tot 500 miljard dollar gestyg (12), wat soveel is as dié van die res van die wêreld altesaam. Dit is ontsaglik. Veral aangesien sy ekonomiese stelsel vanweë globalisering nie meer net op sy vervaardigingskapasiteit steun nie, maar op verbruik. Die VSA werk soos ’n geldpomp wat kapitaal teen ’n tempo van 700 tot 800 miljard dollar per jaar invoer. Kapitaal wat die verbruik van ingevoerde goedere finansier. So ’n pompery van die wêreld se beskikbare geld skep ’n onhoudbare situasie. Die VSA se handelstekort weeg swaar op internasionale finansies en dreig om tot ’n insinking van die dollar, ’n verhoging van rentekoerse, ’n val van aandelebeurse (13), en ’n wêreldwye resessie te lei. Dit is een van die grootste (onsigbare) probleme vandag. Agtste oorweging. Geskat op bykans 700 miljard dollar, strek die Amerikaanse tekort tot voordeel van lande met goedkoop arbeid. In die eerste posisie staan China (14), maar ook ander opkomende lande (Indië, Suid-Korea, Taiwan, Brasilië, Mexiko), waarvan die ekonomiese uitbreiding kommer by die heersende magte begin wek. Veral siende dat die koers van grondstowwe (onder meer dié van olie) opvlam tot groot voordeel van Rusland, Kazakstan, Venezuela, Chili, Algerië ... Die mededinging van maatskappye in hierdie lande word al strawwer. Daar is reeds sowat 25 globale multinasionale maatskappye in lande in die Suidelike halfrond, en binnekort sal daar ongeveer honderd wees. Skouspelagtige uitkoopaanbiedings soos die afgeweerde een van die Chinese National Offshore Oil op die Amerikaanse oliemaatskappy Unocal, of die suksesvolle een van die Indiese Mittal Steel op die Europese staalprodusent Arcelor, sal bly toeneem (15). Dit lyk dus waarskynlik dat globalisering die einde van ’n siklus nader. In sy huidige stuwing hou dit ’n bedreiging in vir die dominansie van die ou magte wat altyd daar was. ’n Nuwe tydperk van proteksionisme is dus nie uitgesluit nie. Negende oorweging. Die gevegte tussen Israel en Libanon het gelei tot die gedwonge verskuiwing van ongeveer 1,2 miljoen mense (900 000 Libanese en 300 000 Israeli’s). Sulke verskuiwings as gevolg van ’n oorlog is gewoonlik eenmalig. Daarenteen is internasionale verhuisings van arbeidskrag struktureel en raak dit 175 miljoen mense. Want vanweë verhoogde produktiwiteit kan ekonomiese groei, wanneer dit aanwesig is, rykdom skep, maar nie meer genoeg werksgeleenthede nie. Selfs China, wat ’n groeikoers van oor die 9% beleef, skep ongeveer 10 miljoen werksgeleenthede per jaar, wat twee maal minder is as die aantal mense wat nuut tot sy arbeidsmark toetree ... (16). Die origes moet hulle by armoede berus, of emigreer. Maar in die geheim. Want “die markekonomie,” soos die historikus Eric Hobsbawm opmerk, “bevoordeel die vrye sirkulering van alle produksiemiddele. Met die uitsondering van arbeidskrag wat grotendeels onder staatsbeheer bly” (17). Hordes mense, dikwels jonk en gesond, waag hulle lewens (ons het dit in Melilla gesien, en ook in die Kanariese eilande), om die planeet se skaars eilande van voorspoed te bereik. Meer as 20 miljoen van hulle het dit reggekry in die VSA (18), wat soos Europa nou die kwessie van onwettige immigrante ooreenkomstig nasionale veiligheidsmaatreëls hanteer. Maar die bom van onwettige immigrasie het nog nie ontplof nie. Dié grootskaalse menslike drama sal alle ontwikkelde gemeenskappe swaar tref. Tiende oorweging. Op 14 Julie 2006 bombardeer Israeliese vliegtuie die brandstof-reservoirs van die kragsentrale van Jiye, suid van Beiroet. Ongeveer 15 000 ton olie word in die see gestort. Begin Augustus bereik die swart gety ’n derde van Libanon se strande, beweeg tot by die Siriese kuste, en bedreig Ciprus, Sirië, Turkye, Griekeland ... en Israel (19). Hierdie ekologiese ramp, ’n “indirekte gevolg” van die vyandelikhede, herinner daaraan dat omgewingsverwante probleme hoogs strategies gaan word. By die G8-spitsberaad in Gleneagles in Julie 2005 was die stryd teen aardverwarming reeds een van die onderwerpe op die agenda. Teen slegs enkele grade minder of meer sal die aarde nie meer dieselfde planeet wees nie. Die styging van die seevlak sal ongekende rampe teweegbring. Drastiese maatreëls is nodig. En terselfdertyd beweeg ons nader aan die punt waar daar nie meer genoeg olie – waarvan die verbruik die kweekhuiseffek vererger – ontgin sal kan word om aan die vraag te voldoen nie. In hierdie kort oorsig oor die nuwe toestand waarin die wêreld verkeer, blyk laasgenoemde kwessies – die klimaatsgevaar en die einde van die olietydperk – twee van die grootste uitdagings te wees wat die mensdom die hoof sal moet bied.
__________ (1) Op 15 Julie 2005 sluit die Chinese generaal Zhu Chenghu, hoof van die nasionale verdedigingsuniversiteit, nie die moontlikheid uit dat China ’n eerste kernaanval op die VSA mag loods indien sy belange rakende Taiwan bedreig word nie. Kyk Martine Bulard, “Sjina skud die orde in Asië”, Die Vrye Afrikaan, 17 Augustus 2005, http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=314. (2) Le Monde, 10 Augustus 2005. (3) Newsweek, 24 Julie 2006. (4) Kanaal van die Libanese Sjiïtiese Hezbollah. (5) International Herald Tribune, Parys, 14 Junie 2006. (6) Ter wille van die beginsel wat neokonserwatiewes na aan die hart lê, dat demokrasieë nie onderling oorlog maak nie. Dit veronderstel dat Israel vreedsaam naas ’n demokratiese Palestina sou kon bestaan. Jerusalem het egter pas die teendeel bewys. En die feite toon dat Washington die ergste “vriendelike outokrasieë” bymekaarmaak (Egipte, Saoedi-Arabië, Jordanië, Azerbeidjan, Pakistan) – lande wat nooit as “gevorderde bastions van tirannie” bestempel is nie, maar wat hulle verarmde, onderdrukte bevolking, sat van korrupsie, in die arms van radikale Islamitiese organisasies dryf. (7) Le Monde, 19 Julie 2006. (8) Die verslag Guerre et paix au XXIe siècle, gepubliseer deur die Human Security Center van die universiteit van Brits-Columbië in Vancouver (Canada), dui op afname in die aantal konflikte sedert die einde van die koue oorlog. Binne die Europese Unie het die twee moorddadigste gewapende organisasies, die Ierse Republikeinse Leer (IRA) en die Baskiese Euskadi ta Askatasuna (ETA), besluit om die gewapende stryd op te sê. Die IRA het sy kampvegters op 29 Julie 2005 aangesê om “hulle wapens neer te lê”, en die ETA kondig op 22 Maart 2006 ’n “permanente wapenstilstand” aan. (9) ’n Verslag van Human Rights Watch reken dat “die marteling van prisoniers in Irak deur die Amerikaanse weermag toegelaat is”. Le Monde, 25 Julie 2006. (10) Die Los Angeles Times onthul op 6 Augustus 2006 dat die gruweldade wat deur die Amerikaners in Viëtnam gepleeg is, meer was as wat gedink is. (11) Cf. Joe Klein, “The Iran factor”, Time, 24 Julie 2006. (12) Le Point, Parys, 20 Julie 2006. (13) Aan ontwikkelingshulp het dié land slegs 18 miljard bestee, oftewel 0,16% van die BBP! (14) In 2005 het die VSA produkte ter waarde van 47,8 miljard dollar aan China verkoop, terwyl hy die ekwivalent van 201,6 miljard uit dié land ingevoer het, dus ’n 153,8 miljard voordeel vir Beijing wat boonop Amerikaanse skatkiswissels ter waarde van 320 miljard in besit het. (15) Cf. Capital, Augustus 2006. (16) Le Figaro, 20 Junie 2006. (17) L’Express, 8 Junie 2006. (18) International Herald Tribune, 29 Junie 2006. (19) Cf. Caroline Pailhe, “Israël, Palestine, Liban: Le chemin le plus long vers la paix”, GRIP, Brussels, 8 Augustus 2006. |