blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Gemeenskappe binne en buite swaar deure: The White Countess 2006-08-17
Amanda du Preez

*Senior lektor in beeldende kunste aan die Universiteit van Pretoria en mederedakteur van South African Visual Culture, Pretoria: Van Schaik, 2005

 

Kan ’n mens jouself verskans teen die politieke skommelinge en chaos wat buite jou huis se swaar deure dreig? Is dit in elk geval raadsaam om selfs te probeer om jouself te beveilig teen die wêreld daarbuite? Of is dit beter om die deure oop te gooi en die wêreld met durf aan te pak voordat die deure van jou vesting afgebreek word? Hierdie grondvrae oor ons betrokkenheid by die gemeenskap daarbuite, asook hierbinne die sogenaamd veilige vesting, word in die film The White Countess (James Ivory, 2005) belig.

Dit is maklik om te verstaan waarom die hoofkarakter, Todd Jackson (Ralph Fiennes), ontnugterde Amerikaanse diplomaat in Sjanghai van 1936 teen die agtergrond van die Sjinese Ryk se val, homself van die politieke wêreld onttrek het. Hy het immers sy sig verloor op tragiese wyse, asook sy vrou en later sy dogtertjie. ’n Mens kan redeneer dat dit juis as gevolg van sy oordrewe betrokkenheid by die politieke wêreld daarbuite was dat hy die duur prys van sy sig moes betaal. Todd Jackson maak ook ’n belofte aan sy dogtertjie wat onmoontlik is om na te kom, naamlik om altyd by haar te bly. Hy moes geweet het dat hierdie belofte hom duur te staan sou kom en daarom het hy sedertdien besluit om geen beloftes te maak of verpligtinge na te kom nie. Todd besluit om liewer van een nagklub tot die volgende te beweeg op soek na ’n veiliger tuiste buite die gegons van die diplomatieke kringe. Hy word ’n buitestaander in Shanghai wat slegs op soek is na ’n bietjie skoonheid in ’n andersins malende stroom van chaos.

In die Japannese diplomaat, mnr. Matsuda (Hiroyuki Sanada), vind Jackson ’n waardige teenspeler en gedugte kameraad in sy sug na skoonheid. Mnr. Matsuda is ook skynbaar op soek na dieselfde stukkie volmaaktheid tussen die brokstukke. Saam besoek hulle verskillende nagklubs en vergelyk elkeen se potensiaal om ’n hemel op aarde te word. Opsigselfstaande vorm die nagklubs waarin prostitute, mimiek- en kabaretkunstenaars optree skynbaar eilande van vertroosting vir die twee mans en die ander besoekers. Tog is die nagklubs gebou op die pyn en vernedering van andere, soos byvoorbeeld die Russiese aristokrasie, wat voor Lenin se Kommunistiese revolusie na Sjanghai moes vlug met die hoop op beter geleenthede. Gravin Sofia Belinsky (Natasha Richardson) is so ’n aristokratiese vlugteling wat nou haar liggaam en geselskap moet verkoop in een van die nagklubs ten einde haar familie te onderhou. Alhoewel sy deur haar familie moreel veroordeel word oor haar sogenaamd immorele optrede as gesellin, ontvang hulle altyd weer die geld wat sy inbring met gretige hande. Haar familie probeer hulleself steeds handhaaf as aristokrasie in hul nuwe ellendige omstandighede, deur hulself byvoorbeeld as meerderwaardig te bestempel teenoor die Joodse familie wat onder hulle bly, asook die ander Sjinese families waartussen hulle woon. Hulle trek dus ’n duidelike grens tussen die binne- en buitekant van hulle gemeenskap.

Die Gravin, nieteenstaande hulle veroordeling, word egter haar familie se middel tot oorlewing. Deur die gevaarlike buitekant van haar gemeenskap en die familie te betree, maak sy inderdaad die “binnekant” van haar familie enigsins moontlik. Deur politieke skommelinge en chaos het Gravin Sofia Belinsky geleer dat sy die veilige hawe van haar tuiste moet verlaat en alles moet prysgee ter wille van oorlewing. Sy moes die skoonheid van veiligheid prysgee (wat agter swaar deure gegrendel was) as gevolg van die sublieme chaos waarin haar stand gedompel is. Sy is gedwing om die politiek van geslagtelikheid te betree en sodoende te oorleef. Sy vind geen veilige tuiskoms nie, en het nie eers ’n bed waarin sy haar self kan tuismaak na ’n nag se harde werk nie. Sy word ’n politieke gesant wat leer hoe om behendig met moeilike kliënte te onderhandel, selfs voornemende boewe te identifiseer om te kan oorleef. So red sy Todd Jackson dan ook van ’n potensieel gevaarlike situasie waarin hy beroof kon word. Op sy beurt weer vind Jackson in haar stem die vertroosting dat hy wél die ideale bron van sy hemel op aarde gevind het. Hy vra die Gravin om as sentrale vertoonstuk in sy nuwe salon, The White Countess, op te tree. Ware skoonheid kan volgens Jackson gevind word in ’n kombinasie van die tragiese en die grasieuse. Gravin Sofia Belinsky is ongetwyfeld stylvol en haar omstandighede beslis tragies, en as sulks vertolk sy die rol van die “Wit Gravin” in die klub perfek. Sy is meestal in wit geklee as ’n suiwer bron van volmaaktheid, met geen verlede of toekoms buite die huidige skone bestaan in die klub nie.

                Wat egter werklike tragies is, is dat Todd Jackson afsydig en onbetrokke teenoor haar pyn en agteruitgang staan. Hy verkies byvoorbeeld om glad nie met haar te praat oor haar lewe buite The White Countess nie. Al waarin hy belangstel, is haar tydlose bestaan binne die mure van sy klub. Die onmenslikheid van hierdie uitsluiting van haar lewe buite die klub word algaande duidelik -- ook aan Todd Jackson. Dit is wanneer hy die Gravin se dogtertjie eendag buite die veilige skanse van sy klub ontmoet dat sy siening begin verander. Die wêreld wat hy so graag buite sy salon wou hou, is besig om sy veilige hawe te infiltreer op meer as een wyse.

Dit is nie net sy private gevoelens vir die Gravin wat sy skanse laat verkrummel nie, maar ook mnr. Matsuda se aktiewe inlok en uitnooi van die buitewêreld met sy politieke spanninge wat Todd Jackson se vesting ondergrawe. In hulle gesprekke word dit duidelik dat Jackson ’n aanhanger is van die beheerbare en omgrenste skone, terwyl mnr. Matsuda hunker na die groter doek van die lewe met sy sublieme ondertone. Mnr. Matsuda is meer geïnteresseerd in die chaotiese wêreld daarbuite waar sublieme politieke kragte regeer. Tydens die inval van Sjanghai deur die Japannese, wat klaarblyklik deur mnr. Matsuda georkestreer is, staan hy dan ook soos die spreekwoordelike oog van die storm en toekyk vanuit die hoogte terwyl die stad in chaos en rook verval. Onwillig om sy verlies te erken, sit Todd tydens die val van die stad steeds in sy klub en wag dat die groter chaos daarbuite die skoonheid van sy vesting moet verdring. Kan daar nog selfs sprake wees van ’n skerp onderskeid tussen “binne” en “buite”? Hy het geen antwoord en geen verweer meer teen die aanval van buite nie. Eers toe hy besluit om die “veiligheid” van sy vesting te verlaat en die Gravin te gaan soek, kan hy die kortsigtigheid van sy eie standpunt “deursien”. Hy verklaar immers aan die Gravin voordat sy en haar familie vlug, dat hy nooit geweet het hoe mooi sy werklik is nie, want hy is eintlik maar ’n blinde man. Sy blindheid strek op vele vlakke.

Weerloos, met slegs sy wit stok gewapen, durf hy die chaos van Sjanghai aan, loop homself in verskeie uiters gevaarlike situasies vas, maar vind gelukkig die Gravin en haar dogter. Hulle vlug uit die brandende stad, en alhoewel hulle toekoms skynbaar uitsigloos is, is daar die insig dat die skone wel in die sublieme chaos gevind kan word. Geen swaar deure of mure kan die skone binne of die sublieme buite hou nie. Die gemeenskap of tuiste wat liefde bied, tussen die skone en sublieme, vind altyd ’n kortpad na binne of na buite toe.

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=676
Artikel nagegaan:
    -