|
||||
Stefan Louw
*Leraar, NG-gemeente Melville
“Fiery the angels fell, deep thunder rolled around their shores, burning with the fires of Orc.” Los Angeles, November 2019. Stad van engele. Kokonne van vuur skiet uit oor ’n nagomhulde stad, rammelend soos donderweer. Saam met die elektroniese klanke van Vangelis sweef ons, soos engele, hoog oor die vlammende pilare van industria, ongejaagd, hipnoties aangetrek soos in ’n droom, na die twee piramiedes op die gesigseinder. Dan is ons terug by die vlammende torings. Dié slag egter, sien ons die toneel afspeel soos dit weerkaats word in die ronding van ’n oog. Ons eie oë van ’n oomblik tevore? Iemand anders s’n?
Die vensters van die hart Oë speel ’n belangrike rol in die verhaal. Ons leer dit ken as registers van die emosie, vensters op die hart, dit waarin, ten diepste, ons die mens herken as méns, as gevoelswese, en uiteindelik die lakmoestoets waardeur mense onderskei word van replikante. Ons swewe stadig nader aan die reusagtige piramiedes. Dis die Tyrell Korporasie, vervaardigers van geneties ontwerpde “humanoid replicants”. Replikante is in alle opsigte mens, geneties selfs die mens se meerdere, ontwerp vir allerlei menslike gebruike – werkers, bediendes, soldate, vermaak. In ’n venster staan ’n persoon en uitkyk oor die industriële landskap. Is dit die oog van die korporasie wat uitkyk oor sy uitgestrekte domein? Die onmenslike oog van produksie?
Die oog as onmenslike produk?
Ons spring vorentoe in die rolprent… “I designed your eyes”, sê die bedremmelde genetiese oogingenieur vir Roy Batty, sy ondervrager en voorvlugtende Nexus 6 replikant. Roy glimlag met die selfvertroue van sy bomenslike talent. “If only you could see what I’ve seen with your eyes.” Hierin lê die magstryd in die rolprent: Deur wie se oë word daar uiteindelik na die wêreld gekyk? Jou eie, of dié van iemand anders? Dis die stryd om die besitreg van jou oë. Vandaar ook die morele dilemma van die verhaal: Roy se oë is die produk van die Tyrell Korporasie, maar terselftertyd is dit oneindig meer as net ’n produk. Dis ’n register van lewenservaring, ’n venster op ’n lewensverhaal, sensors van lewensbepalende oomblikke wat as beelde in die geheue bewaar word.
Roy en vyf ander replikante het ’n ruimteskip, bedoel om passasiers te neem na die nuwe wêreld van die “off-world colonies”, geskaak, almal daarop doodgemaak en teruggekeer aarde toe met een doel voor oë – om geneties verander te word sodat hulle vir ewig kan lewe. Replikante skiet in een aspek tekort: Hulle is ontwerp om vir net vier jaar lank te lewe.
“Questions.” Roy praat stadig, afgerond, met ’n onthutsende selfvertroue in sy stem, in sy liggaamstaal. “I have no answers. I just do eyes”, prewel die ingenieur. “Who does?” “Mr Tyrell. He knows everything. He designed your mind.” “Smart… Not an easy man to… see, is he?”
Doktor Elden Tyrell, hoof van die Tyrell Korporasie hou uiteindelik die sleutel vir Roy en sy medereplikante. Hierdie is ’n hervertelling van ’n antieke menslike motief: die skepsel op die spoor van sy skepper – maar nie om te gaan aanbid nie. Die motief is opstand teen hul toestand, uiteindelik godsmoord. Dis die verhaal van Lucifer hierdie, die engel van die lig wat opstaan om die kroon van sy Skepper te eis; maar ook van die paradys, die versoeking om nie te sterf nie, om soos God te wees.” Roy en sy makkers is die engele van die menslike spesie, die mens geneties vervolmaak. Die leuse van die Tyrell Korporasie is nie om dowe neute “more human than human” nie. Hier vind ons egter ’n ironiese ommekering: Replikante bevind hul nie in die paradys nie. Inteendeel, hulle is die slawe van die menslike spesie. Geskep om meer te wees as hul meerdere, maar gebruik om minder te wees as hul mindere. Die morele dryfkrag agter Roy en sy makkers se soeke is dus dubbelsinnig. Hierdie is nie bloot ’n versugting om vergoddeliking nie. Dis eerstens bloot die versugting om vermensliking, om mens te wees, en nie bloot produkte, objekte vir gebruik nie. Dit kom veral na vore in die replikante se diep verlange om vry te wees, veral vry van vrees. “Quite an experience to live in fear, isn’t it? That’s what it is to be a slave”, sal Roy later in die rolprent opmerk teenoor Deckard, die polisieman wat hulle moet opspoor en “retire” (lid van ’n spesiale eenheid genaamd “blade runners”). Aan die hart van die styd om vermensliking lê egter die stryd om die oë. As Roy uiteindelik vir Tyrell ontmoet dan is dit deurslaggewend dat Roy hom vermoor deur sy vingers in sy oë in te druk.
Ons is terug by ons openingstoneel. Dit eindig waar ons ingeneem word binne die piramiede. ’n Aankondiging klink deur die lug: “New subject, Kowalski, Leon.” Daar’s ’n klop aan die deur. Leon Kowalski word ingenooi om te kom sit. Hy moet een of ander toets doen. ’n Eienaardige apparaat word opgestel met ’n lens waarin die oog van die ondervraagde gemonitor en op ’n skerm vergroot word. Dis die sogenaamde VOID COMP toets, ontwerp om emosionele respons af te lees uit fluktuasies in die iris aan die hand van emosioneel uitlokkende vrae wat gestel word aan die ondervraagde. Die toets het een doel voor oë: om replikante uit te ken. Behalwe replikante se verkorte lewensduur skiet hulle tekort in ’n tweede beslissende aspek: menslike emosies. Omdat replikante net vier jaar het om te leef, het hulle bitter min tyd om ’n subjektiewe ervaringswerklikheid op te gaar en laat dit hulle emosioneel onervare. Om die impak van hierdie gebrek aan emosionele ervaring te versag, word replikante voorsien van ’n ingeplante wêreld van herinneringe, ’n fiktiewe geheue van ’n fiktiewe verlede. Hierdie subjektiewe herinneringswêreld van gebeure uit die verlede bied ’n fiktiewe kussing van emosionele sekuriteit vir die replikante. Nieteenstaande hierdie feit bly die effektiefste manier van uitkenning om hulle gevoelskapasiteit af te lees uit die oog. In sy laaste en mees gevorderde model, die Nexus 6, slaag doktor Elden Tyrell daarin om die emosionele sofistikasie van die replikant tot op so ’n vlak te ontwikkel dat die VOID COMP toets vier keer langer duur as gewoonlik om ’n replikant uit te ken.
Herinnering as gemoedsbeelde Die mens in hierdie verhaal is mens omdat hul diep emosie kan beleef. Deel van die aangrypende in die rolprent lê juis in die fyn manier waarop die replikante in die verhaal as ontluikende gevoelswesens, en dus as ontluikende mense voorgestel word. Daar is die treffende toneel waar die replikant Zhora, wanneer sy deur Deckard uitgesnuffel word, met intense vrees hom aanval en dan vlug, om minute later dramaties te sterf as sy deur ruit na ruit van winkelsvensters vol winkelpoppe bars met Deckard se koeël in haar rug. Haar angs om te bly leef, om nie te sterf nie, om méns te wees, misluk. Sy slaag nie daarin om uit die glashoktronk van haar bloot instrumentele bestaan te ontsnap nie, om bloot net ’n pop, ’n verbruiksartikel te wees nie. As sy dood op die sypaadjie bly lê, is sy bloot ’n winkelpop. Tog is dit juis hierdie intense doodsangs wat haar diep, eg menslik maak in haar laaste oomblikke, en wat maak dat ons as kykers ons eie menslikheid in haar erken en met haar begeerte om volledig mens te wees, identifiseer. Wat is die diepste verlange in die mens anders as die verlange om volledig mens te wees? Dan is daar die toneel waar Rachael, replikant wat persoonlik vir doktor Tyrell self werk, en self nie weet dat sy ’n replikant is nie. Sy word deur Deckard ingelig dat haar intieme en persoonlike herinneringe uit die verlede bloot inplantings is as hy dit in detail vir haar oorvertel. Die foto van haar en haar ma toe sy klein was, is herinneringe wat behoort aan iemand anders: Tyrell se niggie. Die skok, ontnugtering en teleurstelling word treffend deur die stilswye van haar trane verwoord. Met hierdie emosionele ontluiking begin Rachael egter om as egte mens te ontwaak. As sy later Deckard se lewe red wanneer die replikant Leon op die punt is om hom dood te maak, en sy hom doodskiet, demonstreer sy op dié wyse haar opstand teen haar eie soort en haar verlange om méér te wees, mens te wees. Na hierdie moord op haar eie staan sy bewend van die skok in Deckard se woonstel. Sy voel! “Shakes? Me too. I get them bad. Its part of the business.” “I’m not in the business… I am the business.” Deckard, die een wie se besigheid dit is om replikante te “retire”, is besig om te ontwaak tot die feit dat hy nie meer aan Rachael kan dink as besigheid, as ’n wegdoenbare objek nie. In sy woorde vroeër aan Rachael: “Replicants are like any other machine. They are either a benefit or a hazard. If they’re a benefit its not my problem.” In Rachael word ’n replikant egter mens. As iemand vir wie hy gevoelens koester. Die aard van hul verhouding is besig om te verander soos albei se karakters ontwikkel. Beide is besig om te ontdek hoe die liefde instrumentele rasionaliteit kortsluit. Soos wat hul gevoelens vir mekaar verdiep, verdiep Rachael se menslikheid. Daar is die pragtige toneel waar sy voor Deckard se klavier gaan sit en haar styfgespande hare losmaak en so, terwyl sy na die foto’s voor haar kyk van Deckard se familie, sy letterlik transformeer vanaf ’n gestileerde replikant van die Tyrell Korporasie na ’n beeldskone vrou met krullende hare wat oor haar skouers val. ’n Klassieke skoonheid. Sy begin klavier speel en Deckard kom sit by haar. “I didn’t know if I could play. I remember lessons, but I don’t know if its mine or Tyrell’s niece’s.” “You play beautifully.” Hy begin haar soen. Sy wil vlug, maar Deckard keer haar voor. “Say ‘Kiss me.’” I can’t. I’m a…” “Say ‘Kiss me.’” “Kiss me.” “I want you.” “I want you… Put your hands on me.” Soos wat haar ontluikende aangetrokkenheid vir Deckard op dié wyse begelei word tot die oorgawe van die liefdesdaad, word sy volkome mens, met ander woorde, ken sy die volheid van die diepste menslike emosie – liefde. Op dieselfde wyse word haar herinneringe ook eg, met ander woorde, word hierdie ’n herinnering wat sy werklik self besit.
Mense: Speelgoed en werkgoed Deel van die krag van die verhaal lê daarin dat dit in karakters wat suiwer funksionele waarde het, met ander woorde produkte, die diep behoefte plant om eg menslik te wees. So lewer die rolprent ’n vlymskerp kritiek op die intrumentele rasionaliteit van die moderne marklogika waar mense waarde het bloot tot die mate waarin hulle nuttig is. Die verbruikte mens se versugting om werklik mens te wees maak hul meer mens as die mens wie se versugting dit is om bloot met hul werklikheid om te gaan as middel tot ’n doel. Die sleutel tot menswees lê juis in die ryk nieliniêre kompleksiteit van die menslike gemoedswêreld wat die liniêre benuttingslogika kortsluit, en ’n gemeenskapstigtende krag is omdat dit mense aan mekaar bind deur die intuïtiewe selfherkenning en identifisering en empatie. In die verband is daar ’n pragtige dubbele ommekering in die verhaal. Roy stuur sy vroulike replikant Pris uit om die vertroue te gaan wen van die een persoon wat hulle kan uitbring by doktor Tyrell, naamlik ene J.F. Sebastian. Hy is ’n genetiese ontwerper, en woon alleen in ’n verlate woonstelblok. J.F. Sebastian het ’n intieme verbintenis met die replikante op ’n paar vlakke. Alhoewel hy alleen bly, is hy nie alleen nie. Hy het vir hom tientalle “vriende” gemaak – genetiese poppe en speelgoed wat sy huis vol lewe en ryk aan karakters maak. Verder is ’n deel van die Nexus 6 replikante se ontwerp deur hom gedoen, en sit sy vingerafdrukke as’t ware op hulle. Maar daar is veral ’n derde aspek wat hom bykans een met die replikante maak: methusalag sindroom, oftewel oumenssiekte. Alhoewel hy maar vyf-en-twintig is, is sy biologiese ritme uitgelewer aan ’n versnelde verouderingsproses, en lyk hy heelwat ouer.
Die ironie hier is dat Pris en Roy vir J.F. bloot sien as ’n middel tot ’n doel, terwyl J.F. met egte weerloosheid en gasvryheid en bewondering optree teenoor sy gaste. Een van die mees menslike oomblikke in die verhaal is waar Pris, wat haarself as ’n straatloper voordoen, vir J.F. inwag onder die rommel voor sy ingang. Op dié stadium weet die kyker nog nie dat Pris ’n agenda het nie. As hy in ’n taxi opdaag, maak Pris asof sy skrik, laat haar sak doelbewus val en wend ’n harfhartige weghardlooppoging aan. “Hey!” Sy draai om. “You forgot your bag.” J.F. se stem is gerusstellend. Sy loop versigtig terug, gryp dit en staan terug. Daar is ’n oomblik van stilte. “I’m lost.” “Don’t worry. I won’t hurt you.” J.F. vroetel selfbewus rond. “What’s your name?” “Pris.” Die antwoord kom gretig, te vinnig. “I’m J.F. Sebastian.” “Hi.” “Hi.” Weer ’n ongemaklike stilte wat hang tussen aangetrokkenheid en skaamte. “Oh, where were you going? Home?” “I don’t have one.” Sy lyk bedremmeld, nat, hulpeloos. Sebastian knik simpatiek. Na nog ’n stilte maak hy met ’n verskonende gebaar aanstaltes om in te gaan. Pris reageer vinnig. “We sure scared each other pretty good, didn’t we?” Sy giggel. “We sure did.” Weer die ongemaklike stilte. “I’m hungry, J.F.” Dis ’n duidelike pleitdooi. “I got stuff inside. Do you wanna come in?” “I was hoping you would say that.” Sy glimlag verleë maar dankbaar. J.F. glimlag breed. Hy’s oorrompel. As hy wegdraai, is haar glimlag egter weg.
Wanneer Pris in J.F se woonstel inbeweeg, tranformeer sy in voorkoms vanaf ’n weerlose mens na ’n speelpop. Haal vel word kalkwit en leweloos, haar oë, daardie registers van egte menslikheid, verf sy rondom swart. Die dubbele ommekering hier is dat Roy en Pris se soeke na menslikheid eintlik ’n dieper skans is in hul soeke na bomenslikheid. In dié sin oorspring hulle die belofte van ware bevryding, opgeluit in ’n nie-instrumentele verhouding met die egte mens J.F., en beland hulle op dieselfde morele speelveld as Tyrell, wat aan die wêreld rondom hom dink as bloot manipuleerbare middele. Roy se veragting van die mens en sy tekortkominge is ten diepste ’n weerspieëling van Tyrell se sentiment as hy homself uitspreek oor Rachael: “She’s an experiment, nothing more.” Roy kyk neer op die mens en koester ’n diep wrok teenoor sy maker as sy meerdere mindere, as die een wat hom die Achilles-hiel gegee het van sy sterflikheid, maar tog in alle ander opsigte sy mindere is. Tyrell kyk neer op sy produkte as verlengings van sy eie ego. So speel die ou profesie homself uit, dat die onderdrukte uiteindelik sy onderdrukker naboots en self die onderdrukker word.
Supermens en die dood Die konfrontasie tussen Tyrell en Roy is uiteindelik die konfrontasie, nie om menslikheid nie, maar om goddelikheid. Op ’n manier is Roy Tyrell se alterego wat hom uiteindelik inhaal: Sy eie bes ontwikkelde instrument eis uiteindelik van hom om instrument te word, om vir Roy ’n finale middel tot ’n doel te wees, naamlik om Roy van ewige lewe te voorsien. In die konfrontasie tussen skepsel en skepper word die masker van goddelikheid van albei afgeruk. Roy ontdek dat sy soektog futiel was. Hy moet sterf soos alle ander replikante. Tyrell ontdek dat sy rol as skepper, as gewer en nemer van lewe, self ’n illusie was. Hy sterf onder die hande van sy eie skepsel. Die dood ontmasker albei. Albei misluk uiteindelik as mense. In die laaste ure van Roy se lewe vind hy egter wel gedeeltelike verlossing. In sy konfrontasie met Deckard in die laaste tonele van die rolprent sien ons hom worstelend vrede maak met sy eie dood. Hy draai wel die rolle om – Deckard word die gejagde en hy die jagter, maar nou nie meer die jagter as supermens nie, maar as onmens, as dier, as kreet. Sy laaste woorde aan Deckard is ’n oorgawe aan sy menslikheid, en ons sien egte menslike emosie as hy sy mooiste herinneringe oproep: “I’ve seen things you people wouldn’t believe. Attack ships on fire off the shoulder of Orion. I watched C-beams glitter in the dark near the Tannhauser Gates. All those moments will be lost in time, like tears in rain. Time to die.” “Fiery the angels fell, deep thunder rolled around their shores, burning with the fires of Orc.” Roy haal hierdie woorde van Blake vroeër in die verhaal aan, met ’n effense aanpassing: die oorspronklike teks sê: “Fiery the angels rose…” Blade Runner is ten diepste ’n ondersoek na dit wat ons menslik maak in die lig van die verabsolutering van mense as blote produkte, blote instrumente (of replikante) in die hande van die mark en die industrie (the fires of Orc). Die verhale van Rachael en Roy is uiteindelik twee antwoorde op hierdie ekstreme funksionalisering van die mens: Dié van vergoddeliking deur opstand (the angels – Roy en sy makkers), en dié van vermensliking deur terugeiening van ’n eie subjektiewe herinnerings- en gemoedswerklikheid (Rachael). Net waar ons diep geraak word, in ons kosbaarste herinneringe, geaksentueer deur die vervlietendheid en broosheid van die lewe, net daar is ons eg mens. |