|
||||
Jaap Steyn
Taalsosioloog en skrywer van Van Wyk Louw: ’n Lewensverhaal
Die briljante skrywer van nie-fiksie, Geert Mak, word vanjaar sestig. Hy is historikus, joernalis en buitengewone hoogleraar aan die Universiteit van Amsterdam. In Suid-Afrika is hy seker die beste bekend vir De eeuw van mijn vader. Dis ’n “biografie” van die 20ste-eeuse Nederland met die geskiedenis van sy familie as uitgangspunt. Oor Amsterdam het hy ’n paar boeke geskryf, onder meer Een kleine geschiedenis van Amsterdam. Hy is samesteller van ’n versameling waarvan die titel vir sigself spreek: Ooggetuigen van de vaderlandse geschiedenis in meer dan honderd reportages. In Maart 2004 het In Europa (1) verskyn, en in ’n jaar is meer as ’n kwartmiljoen eksemplare verkoop. Dit is onderhoudend, informatief, gebalanseerd – so stimulerend as Die Afrikaners van Hermann Giliomee en Modern Times van Paul Johnson. Die subtitel is Reizen door de twintigste eeuw. Mak het in 1999 ’n reeks reise na talle plekke soos Sarajevo, Verdun, Vichy, Auschwitz, Srebrenica onderneem. Hy het museums en biblioteke besoek en gepraat met ooggetuies van historiese gebeurtenisse – versetstryders, offisiere, skrywers, politici, ’n kleinseun van die Duitse keiser Wilhelm II. Dit sou aanmatigend vir ’n niehistorikus soos ek wees om so ’n groot historiese werk te wil resenseer. Al wat ek kan doen, is om brokkies uit te lig wat vir my interessant is, en ’n paar menings aan te haal. Treffend van die Eerste Wêreldoorlog is die begrip tussen frontsoldate van albei kante. Hulle kon die loopgraafbestaan volhou danksy stilswyende afsprake met lotgenote aan die ander kant van die linie. In sommige sektore was daar ’n ongeskrewe reël dat die soldate mekaar soveel moontlik met rus sal laat tydens maaltye, wanneer gewondes opgehaal word, of tydens nagpatrollies. Die genietroepe het tonnels van die vyand slegs snags tussen twee- en sesuur opgeblaas, sodat daar in dié tyd nooit aan die tonnels gewerk is nie. Baie lewens is hierdeur gespaar. Die sinlose bloedvergieting het die pasifistiese beweging laat groei. Duitse en Franse soldate het soms saam die sosialistiese Internasionale gesing. Mak vertel van muiterye veral onder die Franse, van soldate wat soos skape geblêr het as hulle na die front – die slagplaas – moes marsjeer, hoe Duitsers teen treine die woorde “Wilhelm en Seuns – Slagvee” geverf het. Die front het die bakermat geword van massabewegings wat die Europese politiek dekades lank sou oorheers. In die Belgiese leër is die klassestryd verskerp deur die taalverskille tussen Franse offisiere en Vlaamse soldate. Uit dié wrywing het die Frontbeweging ontstaan, wat die Vlaamse emansipasie versnel het. België het, terloops, nooit die oorlog behoorlik te bowe gekom nie. Voor 1914 was dit die vyfde industriestaat ter wêreld, maar tallose dorpe en stede is uitgewis of erg beskadig, en die Duitsers het ’n groot deel van die nywerhede afgetakel, verwoes of kaalgeplunder. Steenkoolvoorrade is geroof, en België het sy tegniese voorsprong vir goed verloor. Mak gee ’n breedvoerige beskrywing van Lenin se reis uit Zürich na Moskou ná die Februarie-revolusie in 1917. Die Duitse regering het hom en sy medeballinge verlof vir ’n reis deur Duitsland na Swede gegee. In Stockholm is deur middel van tussengangers afsprake gemaak, en ná die treinreis het miljoene Duitse mark na Lenin-hulle gestroom. Daarmee is die kommunistiese drukperse gefinansier. Die Duitse Departement van Buitelandse Sake het inderwaarheid die Oktober-revolusie gefinansier wat Lenin aan die mag gebring het. Ná die oorlog het die Weimar-republiek in Duitsland tot stand gekom. Dáár is in 1922 miskien die belangrikste politieke moord van die twintigste eeu gepleeg. Dit was dié op die bekwame Duitse minister van buitelandse sake, Walter Rathenau, ’n Jood. Mak sê Rathenau was minstens ’n ewe besonderse politieke figuur as Churchill of Charles de Gaulle, minstens net so briljant en charismaties. Hy het soos Hitler ’n towerkrag besit om massas in beweging te bring. Dit blyk uit die honderdduisende wat strate toe gestroom het ná die moord. Maar sy krag was ’n positiewe krag, wat die twintigste eeu vir Duitsland en Europa anders kon laat verloop het. Een van die dinge waarmee ’n mens die Tweede Wêreldoorlog vereenselwig, is die vervolging van die Jode. Maar oral in Europa, ook in Duitsland, was daar verset daarteen toe dit bekend geraak het wat daar in kampe soos Auschwitz gebeur. Veelseggend is ’n gesprek wat afgeluister is tussen aangeklaagdes in die Neurenbergverhoor. Iemand het gesê: “Ek het ongelooflike dinge in Auschwitz gesien. Sommige SS-bewakers kon dit nie langer uithou nie en moes na ’n senu-inrigting in Giessen gebring word. ’n SS-kompanjie het selfs in opstand gekom en probeer om na die oosfront oorgeplaas te word. Maar hulle is gedwing om hul bevele uit te voer.” In die hele Europa het tienduisende families Jode gehelp wat ondergeduik het, en honderdduisende het hulle van voedsel help voorsien. Maar vir die versetbewegings was die bevryding van hul lande die vernaamste doelwit. Dit geld ook die Nederlandse regering in ballingskap. Die bevel tot ’n algemene spoorwegstaking is eers gegee in September 1944, toe die Geallieerdes aan die grense was – nadat die laaste trein met gedeporteerde Jode na Duitsland vertrek het. Daarin was onder andere Anne Frank en haar familie. Die beweegrede van die Nederlandse regering in Londen was militêr-strategies. Het die staking vroeër plaasgevind, kon dit duisende Jode gered het. Wat het die Jodevervolging veroorsaak? Jodehaat wás daar, sê Mak, maar dikwels ook ander oorsake soos geldelike gewin. Die besittings van gedeporteerde Jode is versprei en goedkoop op veilings verkoop. Die meeste Jode in Amsterdam en Parys is gedeporteer deur polisiemanne wat nie anti-Semities of Nazigesind was nie. Honderdduisende Europeërs het die orde en reëlmaat van hul kantoor, diens of bedryf hoër gestel as hul individuele gewete. Die verskriklike gebeurtenisse is veral veroorsaak deur ’n diepgaande kollektiewe morele ontsporing. Dis geen populêre verklaring nie, want dit impliseer dat ’n massale vervolging te eniger tyd in enige land teen ’n ander minderheidsgroep kan plaasvind. Die huidige tegniek, burokrasieë, onderdrukkings- en manipuleringsinstrumente maak dit moontlik, sê Mak. Dit stem naastenby ooreen met wat Paul Johnson in Modern Times betoog, naamlik dat ’n mens die 20ste-eeuse rampe, soos dié in Nazi-Duitsland en die Sowjet-Unie, kan terugvoer tot die twee groot euwels van morele relativisme en maatskaplike ingenieurswese. Stalin se gedwonge kollektivisasie in die Sowjet-Unie het sewe miljoen menselewens gekos – vyf miljoen in die Oekraïne, twee miljoen elders. Toe hy in 1932 die helfte van die graanoes in die Oekraïne opeis, was dit ’n doodvonnis vir honderdduisende. Boere moes honde, katte, rotte, gras, en sop van leerware eet, soms selfs mensvlees. Dit was streng verbode om oor hongersnood te praat. ’n Dokter wat gekla het dat sy suster van honger omgekom het, is gevonnis tot tien jaar tronkstraf, sonder die reg op korrespondensie. Met “suiwering” van die land van sogenaamde “vyande van die volk” het Stalin die land van tienduisende ingenieurs, bestuurders, handelaars, boere en leëroffisiere beroof. Tussen 1929 en 1953 het sowat 29 miljoen Sowjetburgers ’n deel van hulle lewe in die kampe deurgebring. Mak beskryf hoe die Duitse burgers teen die einde van die oorlog onder die aanvalle van die Sowjet-Unie en die Geallieerdes gely het. Die nadering van die Russe het ’n enorme paniekreaksie veroorsaak. Miljoene Duitsers het uit Oos-Pruise, Pommere en Silesië gevlug. Teen Februarie was agt miljoen Duitsers op weg na die weste. Die nag van 30 Januarie 1945 het ’n Sowjet-torpedo ’n skip met tussen agt- en tienduisend vlugtelinge in die Oossee getref. Net 1 300 mense is gered. Dié ramp is ’n halfeeu later deur die Duitse skrywer Günther Grass aan die vergetelheid ontruk in ’n roman wat ook in Afrikaans vertaal is: Kreeftegang, uitgegee deur PRAAG. Uit die weste het ’n ander bedreiging gekom – die bombardemente deur die Amerikaners en Britte. Die doel van hul “strategiese bombardement” was die uitwissing van Duitse burgers om die moreel aan die tuisfront gouer te laat ineenstort. Baie mense sien die bombardement van die kultuurstad Dresden in die nag van 13 op 14 Februarie 1945 as ’n Geallieerde oorlogsmisdaad. Dresden het geen oorlogsindustrie gehad nie, maar was vol oorlogsvlugtelinge. Binne ’n halfuur nadat die eerste bomme geval het, het ’n vuurstorm deur die stad geloei. Die Geallieerdes het geweet dat mure van ’n skuilkelder in ’n brandende stad ná drie uur so warm word dat die mense noodgedwonge moes uitkom. Dus het hulle gesorg dat daar ’n tweede aanval kom drie uur ná die eerste. Die burgers kon dus eintlik kies tussen die vuursee buite en die kokende skuilkelders binne. Minstens 32 000 is dood, waarskynlik meer. Selfs die Brits-patriotiese Paul Johnson suggereer dat die strategiese bombardemente van morele relativisme getuig. Een van die plekke wat Mak besoek het, is Tsjernobil, ’n onopvallende stad naby Kief in die Oekraïene. Kenmerkend van die Tsjernobil-geskiedenis is hoe die Sowjet-media die ramp van 26 April 1986 dae lank vir die bevolking verswyg het. Op 2 Mei het daar paniek in Kief uitgebreek. Dit het gelyk of almal wou wegkom, soos in ’n oorlog. Eers op 5 Mei was daar ’n amptelike verklaring, en dan nog misleidend: “Daar is enkele probleme, maar daar is geen enkele risiko nie.” Wat gebeur het, was dat daar twee ontploffings in een van die vier reaktors van die kernsentrale was. Enorme radioaktiewe wolke het oor die helfte van Europa getrek. Twintig lande is besmet. In die jare daarop het duisende mense gesterf aan die radioaktiewe besmetting en kwale wat daaruit voortgekom het. Die ramp by Tsjernobil was saam met ander gebeurtenisse soos die oorlog in Afghanistan die begin van die ondergang van die Sowjet-Unie. Soos die groot hongersnood van 1891 aangetoon het dat die tsarisme in Rusland gefaal het, het die ramp by Tsjernobil duidelik getoon hoe verdeeld, verstar en vermolm die regime geword het. Nietemin het die komende omwenteling onverwags gekom. Vir die CIA was dit ’n volstrekte verrassing. Kenners het uit dieselfde gegewe verskillende gevolgtrekkings gemaak. Toe dit blyk dat die Sowjet-Unie twee, miskien vier maal meer aan verdediging bestee as wat die CIA gedink het, het een deskundige dit gesien as aanduiding dat die Sowjet-ekonomie op ineenstorting afstuur. Maar die CIA-topstruktuur het gereken dit toon dat die Sowjet-Unie steeds die wêreld wil verower. Mak noem 1989 ’n annus mirabilis, ’n jaar van wondere. In dié jaar het die ontbinding van die Kommunistiese ryk begin. Nege diktature het in twee jaar ineengestort, beginnend met Pole in Januarie 1989. Die mees dramatiese gebeurtenis was dié van 9 November, die val van die Berlynse Muur. Twee voetnote: Die eerste is dat daar naas die oorloë en politieke ontwikkelings ook wetenskaplike prestasies was. Die 20ste-eeuse Europa het ook kunswerke geskep, siektes oorwin, maatskaplike hervormings deurgevoer. Tot die twintigste eeu behoort ook Thomas Mann, Rainer-Maria Rilke, J.C. Bloem, Hendrik Marsman, J. Huizinga, Ferdinand de Saussure, Roman Jakobson, T.S. Eliot, W.B. Yeats, honderde ander. My tweede voetnoot, wat ook ’n eindnoot is, is dat ’n boek getitel In Asië of In Afrika nie minder waansin, wreedhede en onmenslikheid sou bevat nie. Waar die geskiedenis getuienis lewer van die bose aard van mense, is hierdie boosheid nie alleen te vinde in Europa of by wit mense nie, maar oor die hele wêreld en by mense van alle soorte. ____________ (1) Geert Mak, In Europa. Reizen door de twintigste eeuw. Amsterdam / Antwerpen: Uitgeverij Atlas. 2004.
|