blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Lank lewe Saint-Camille! 2006-08-17
Bernard Cassen

*Adjunkredakteur van Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur André Crous, [email protected]

 

’n Dorp in Quebec wat nie wou uitsterf nie is op inisiatief van enkele van sy inwoners aan die hand geneem; in ’n poging om sy agteruitgang te stuit, word daar staatgemaak op kollektiewe vernuf en solidariteit.

Hoewel die rykdom van plaaslike ervaring nie toereikend is om al die globale probleme op te los nie, pas hierdie gemeenskap die beginsels en waardes toe wat op ander vlakke ook aangewend kan word.

Om etensuur op ’n Vrydagmiddag is dit nie nodig om ’n afspraak met ’n inwoner van Saint-Camille te maak nie. As hulle in die dorp is, sal hulle heel waarskynlik aan tafel sit saam met hul gesin of vriende in ’n gesellige saal op die grondvlak van Le P’tit Bonheur (“Kleingeluk”), besig om aan die huispizza te smul. Reeds om vieruur die oggend begin die pasteibakker langsaan die deeg voorberei, en drie vrywilligers daag om sewe-uur op om dit op te sny. Drie ander vrywilligers woel in die kombuis en berei ’n hele aantal kombinasies voor, insluitende ’n vegetariese variëteit. Mense kan op hulle gemak kom opskep – en weer skep – teen slegs $8,25. ’n Uitstekende klein bier, wat ’n paar kilometer daarvandaan gebrou word, is beskikbaar vir die dorstiges, en jy kan die maaltyd afsluit met aarbeie van ’n plaas wat ’n vennoot is van die plaaslike koöperasie, La Clé des Champs, waar mark- en ander bos- en landbouprodukte te koop is.

As jy nie lus voel om op ’n Dinsdagmiddag kos te maak nie, word daar vanuit die kombuis van Le Bonheur P’tit afgelewer. Senior burgers op die dorp berei die maaltye voor, en dit hoef nie eens genoem te word dat ook dié werk vrywillig gedoen word nie. Die maaltye kan afgehaal of afgelewer word, en die leerders van die skool langsaan, Christ-Roi (die naam, “Christus-Koning”, herinner aan die Hemelvaartsusters wat die instelling gestig het), is gereelde kliënte.

Die hele maaltyd word verkoop teen onoortreflike pryse: $4,50 vir volwassenes, $2 vir kinders. Buiten Le P’tit Bonheur se gastronomiese dienste is dit ook ’n vrolike vergaderplek waar mense mekaar ontmoet om te klets en ’n koffie of ander “brousel” te geniet in die verbygaan. Le P’tit Bonheur het sy naam gekry ter nagedagtenis aan die sanger Félix Leclerc en is ook ’n gemeenskapsruimte (sonder winsbejag) vir kinders van alle ouderdomme. Byeenkomste, uitstallings, kursusse, konferensies, toneel- en musiekstukke en ander aktiwiteite word alles hier aangebied. Maar Saint-Camille leef en “beef” nie slegs in hierdie lokaal nie. Byvoorbeeld, juis dáárdie spesifieke oggend sou die besoeker kon kies tussen drie byeenkomste wat terselfdertyd op drie verskillende plekke gereël is – waaronder een met ’n afvaardiging uit Mali ...

Dit alles in ’n dorp van slegs 446 inwoners! Wat is hulle geheim?

Soos in ’n teatergeselskap waarvan die akteurs verskillende rolle in dieselfde produksie vertolk, is die inwoners van Saint-Camille nie beperk tot ’n enkele funksie nie: vrywilliger of loontrekker, verbruiker of produsent, kelner of kliënt, onderwyser of leerder, akteur of kyker, ensovoorts. Hy kan die een of die ander wees, afhangende van die oomblik, die dag, die week, die maand. Die een wat egter van teatergeselskap of -stuk praat, kan nie versuim om “regisseur” te sê nie – die een wat sorg vir die groep se samespel en die goeie uitvoering van die teks. Sou daar ook in Saint-Camille ’n ghoeroe wees? Iemand wat die dorp vorm en alleenheerser daaroor is?

Die blote gedagte sou hierdie gemeenskap laat skaterlag, in dié dorp waar almal hul eie onafhanklikheid wil beskerm, in die gees van ene Edward Desrivières, die stigter van Saint-Camille. Die geskiedenis wil dat Desrivières in 1848 Quebecstad verlaat het om self die eerste bome in die woud af te saag op die plek waar die dorp vandag staan. Hy het daar agtergebly en dertig jaar lank as kluisenaar geleef.

Maar die verrassende alchemie van Saint-Camille, wat afvaardigings uit die res van Quebec gereeld van naby kom gadeslaan, is nie die werk van die een of ander “onsigbare hand” nie. Agter die werk staan die persoonlikhede van ’n klompie visioenêre individue, vasberade om die oorlewing van hul gemeenskap te verseker sonder enige persoonlike voordeel. Hulle gryp elke geleentheid aan en besit die vermoë om oplossings te vind buite die grense van gebaande weë. Verder is hulle pedagogies genoeg om hierdie nuwe idees te laat aanneem deur die meerderheid van hul medeburgers en is hulle die heeltyd in harmonie met die res van die wye wêreld – van die dorpie langsaan tot die uithoeke van die vyf vastelande.

As ’n mens hul sterkste idees konseptualiseer, sou jy kon praat van ’n sosiale, territoriale en veral intergenerasie-samehang, langdurige ontwikkeling, ’n ekonomiese heroriëntering, populêre opvoeding en deelnemende demokrasie, ’n blywende vermoë om innoverend en kreatief te wees en internasionalisme waarby kultuur steeds ’n prioriteit is. In Saint-Camille het ons terselfdertyd te make met ’n plaaslike projek en ’n globale denksisteem. Dit alles met minder as ’n halfduisend protagoniste? Ja! Want maatskaplike eksperimentering vind nie net plaas in metropole soos Porto Alegre of Caracas nie. ’n Kleindorp kan ook ’n wêrelddorp wees ...

Sedert die vorming van sy munisipaliteit in 1860 het Saint-Camille nog altyd in Quebec ’n reputasie van  avant-garde gehad. Dit was ’n saagmeule hier wat in die 1880’s die eerste elektrisiteit gekry het, terwyl die strate en huise tot 1896 moes wag. Met die vorming van die risikokapitaalfirma Le Groupe du Coin (“Die Plaaslike Groep”) in 1985 het die vier aandeelhouers – met dieselfde pioniersgees – geen voorneme gehad om spekulatiewe operasies te realiseer nie. Deurdat elkeen ’n inspuiting van $1 200 per jaar gee, wou hulle hulself toerus met ’n instrument om die demografiese kwyning stop te sit (1 000 inwoners in 1911; 440 in 2001). Die rede vir die inkrimping was die verdwyning van ondernemings wat landbougoedere verwerk en bemark het, asook maatskappye wat voorheen die bosboubedryf benut het; vervolgens het die ooreenstemmende werksgeleenthede ook verminder of verdwyn.

Hoe gemaak op hierdie pad na uitsterwing? Die vakante persele is teruggekoop en ingerig vir aktiwiteite wat die bevolking se belangstelling sal prikkel en die inwonerstal, deur middel van dié aantrekkingskrag, sal laat styg. Alarm is gemaak toe die poskantoor in 1992 byna sy deure sluit. In ’n dorp wat geen tradisie van betogings gehad het nie, was die reaksie van die inwoners skouspelagtig: “Die mense het die strate ingevaar met hul plakkate,” onthou Jacques Proulx, een van die stigters van die Groupe du Coin. Hierdie afgetrede boer, wat met die Slow Food-beweging saamwerk, is as voorsitter van die organisasie Solidarité rurale de Québec ’n bekende gesig in die hele provinsie. En sy openhartigheid is verstommend...

Die groep het die ou “Algemene Handelaar” (kruideniers- en hardewarewinkel) na sy sluiting ingerig as ’n multifunksionele ruimte en, in 1988, dit aan die P’tit Bonheur-vereniging begin verhuur; laasgenoemde het in toenemende mate die ware basis van die dorp se ontwikkeling geword. Le P’tit Bonheur word sedert daardie tydperk bestuur deur Sylvain Laroche, ’n ander stigterslid van Le Groupe du Coin. ’n Kwarteeu gelede het Laroche – toe nog ’n student aan die Universiteit van Sherbrooke – in ’n oomblik van heimweë besluit om terug te trek na Saint-Camille. Hy het die dorp sedertdien nog nie weer verlaat nie, en ’n mens kan jou skaars die plek sonder hom indink: in só ’n mate is hy ’n gebore bemiddelaar, geïnteresseerd in alles en, danksy sy vermoë om te luister, in staat om konflik te ontlont. Want selfs in ’n dorp so klein soos hierdie is daar nog klein geskille tussen die inwoners!

Na die aankoop van die Algemene Handelaar is dit die beurt van die Presbiteriaanse Kerk, in 1999 omskep in twee afdelings, onder die naam van La Corvée: een gedeelte vir verblyf, met nege woonstelle vir senior burgers, die ander ’n kliniek en gesondheidsentrum waar almal – veral die pensioentrekkers – sorg kan ontvang of medisyne afhaal wat vooraf vanaf die apteke in die streek bestel is. La Corvée speel ’n sleutelrol in die gemeenskapslewe van Saint-Camille en is gebaseer op die interaksie en solidariteit van die generasies: op dae soos “pizzadag”, en by baie ander geleenthede, bevind jong kinders hulleself tussen mense wat hul grootouers kon gewees het. Laasgenoemde neem aktief deel aan allerlei aktiwiteite in die dorp – daar is ongeveer vyf-en-twintig verenigings wat altesaam 200 vrywilligers kan mobiliseer.

 

Danksy die skool: ’n “leergemeenskap”

 

’n Motorhuis wat nie meer gebruik word nie is volgende om deur die Groupe du Coin omskep te word – in ’n multimediasentrum. Sy veeldoeligheid neem toe wanneer Saint-Camille aan die einde van 2005 ’n veseloptiese kabelverbinding kry wat breëbandtoegang tot die Internet moontlik maak. Dit skep die potensiaal vir afstandswerk en bring mee dat maatskappye soos Randard Construction, wat brûe bou en herstel, ook in dié dorp betrokke kan raak. Verder kan individue soos Martin Aubé, Professor in Fisika aan die Universiteit van Sherbrooke en wat sy eie konsultasiebesigheid besit, MEMO Environnement, nou ook die besigheid vanuit ’n kantoor op die platteland bedryf.

Dis danksy die gemeenskaplike besinning van die munisipaliteit, die ontwikkelingskorporasie, die skool en Le P’tit Bonheur dat die briljante idee ontwikkel het om die dorp te laat herleef en voordeel te trek uit ’n navorsingsaksie: die inskakeling by die École éloignée en réseau (’n netwerk van skole oor ’n uitgebreide area, EER), in opdrag van Quebec se Minister van Onderwys (oorspronklik net drie streke, waaronder Saint-Camille ; vandag word dit geassosieer met werk in dertien streke) en poog om van Christ-Roi en die verskillende vennote ’n volwaardige en langdurige “leergemeenskap” te maak. Só ’n sinergie, die resultaat van inligtings- en kommunikasietegnologie, rig die werk van al die verantwoordelikes, waaronder die oud-burgemeesters Henri-Paul Bellerose en Claude Larose, wat alles moontlik gedoen het om die veseloptiese kabel uiteindelik dorp toe te bring. ’n Mens kon nie minder verwag van Bellerose nie, lid van die Groupe du Coin; nóg van Larose, oudvoorsitter van die koöperasie La Clé des Champs. Hierdie koöperasie, waarvan die lede meestal taamlik jonk is, verkoop 70% van sy produkte (groente, rooi vrugte) op plaaslike vlak, veral deur middel van die dorp se geriefswinkel (groentehandelaar), of direk aan die inwoners wat ’n kontrak met die koöperasie aangegaan het vir die gereelde plasing van mandjies vol seisoenprodukte en ooreenkomstige resepte.

Eintlik word hierdie benadering nie op prys gestel deur sommige van die om en by twintig “tradisionele” landbouers wat nog voortbestaan en graan, voer en vleis verkoop nie. Hulle kry hout uit die woud, terwyl die koöperateur van La Clé des Champs spesialiseer in alle bosbouprodukte met die uitsondering van hout – veral ginseng. Terloops, naas pels was ginseng vir ’n lang tyd die grootste uitvoerproduk van Quebec. Die moontlikheid van ’n aankoop van sowat twintig plaashuisies wat vir “nislandbou” bestem is – deur jong paartjies, wie se kinders die Christ-Roi-skool hoop om eendag te onderrig – sal hulle ook nie noodwendig op ’n kulturele vlak met die neolandelikes versoen nie. Die landbou, wat klem lê op produktiwiteit en sy oog op uitvoer het, staan teenoor die plattendse landbou wat mik na plaaslike selfvoorsiening; dis ’n planetêre konflik wat ook dié dorp in Quebec raak.

Só gaan dit in Saint-Camille, waar dit lekker is om te lewe, en waar dit veral saak maak om die kollektiewe kennis in te span vir oorlewing. Onder die grondbeginsels is daar ook kursusse in toegepaste etiek wat Jean-François Malherbe aanbied. Hy is dosent aan die Universiteit van Sherbrooke en het kursusse vir buitemuurse universiteitsopvoeding op die been gebring. Ons het ongelukkig vergeet om hom sy opinie te vra oor ’n gesegde van Winston Churchill wat Sylvain Laroche so dikwels aanhaal: “Dis beter om verandering die hand te gee voor dit óns aan die strot beetkry.”

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=672
Artikel nagegaan:
    -