|
||||
Breyten Breytenbach
*Digter. Hierdie opstel het oorspronklik in Engels verskyn in POETS AGAINST WAR Newsletter (Somer 2006). Uit die Engels vertaal deur Johann Rossouw en hersien deur Breyten Breytenbach
1. In hierdie maand van Julie 2005 spook twee beelde by my. Hulle is nie verwant nie en miskien beduie hulle bloot indirek na kwessies wat opdoem in die wêreld waarin ons vandag woon – barbarisme, terrorisme, imperialisme, verarming, plae, die afwesigheid van etiese kodes en ’n hiërargie van waardes, mal materialisme, intellektuele en artistieke narcissisme… Tog illustreer albei hierdie beelde vir my die rou breuklyn waar ‘privaat’ en ‘openbaar’ ontmoet. Die eerste is dié van die sogenaamde ‘Klavierman’ (oftewel, 'Piano Man', soos hy in veral die Britse media bekend geword het). In die stormagtige nag van 7 April word ’n jong wit man gevind waar hy deur die strate langs die strand van Sheerness in Kent dwaal. Sy elegante, donker pak is papnat, alle naamlintjies is sorgvuldig verwyder, hy het geen persoonsbewys nie. Oënskynlik het hy sy geheue verloor en daarmee saam sy identiteit. As jy vergeet hoe ander jou gesien het, bestaan jy nie meer nie. Die man word na die Medway Maritime Hospital geneem. Die Nasionale Sentrum vir Vermiste Mense word ingelig. Niemand tree na vore om hom te eien nie. In die komende weke sal daar duisende reaksies, bespiegelings, teorieë en valse identifikasies oor die internet gelug word, alles tevergeefs (die Web is ’n reuse eggokamer vir die begogeldes en die komplotversottes), en daarna sal die belangstelling taan. Die man is deur vrees getraumatiseer: as iemand die kamer waar hy gehou word, binnekom, hurk hy in die hoek. Na ’n paar dae teken hy ’n konsertklavier op ’n vel papier. Hy word na ’n vleuelklavier geneem, gaan sit en begin ure lank verruklik speel. Slegs wanneer hy speel, ontspan hy. Die jong, blonde vreemdeling met die melancholiese, vreesbevange oë reageer op geen vraag nie, lyk nie asof hy enige taal ken nie, teken of skryf niks anders nie, maar komponeer musiek; hy is ooglopend ’n knap konsertpianis en moet weggeskeur word van sy instrument. Hy klem die lêer met sy komposies teen sy bors vas. Die tweede beeld verrys, of eerder, tuimel uit die lug soos een of ander Ikarus. ’n Afgeskeurde mensbeen val op Pam Hearne se dak – sy woon sowat 9 kilometer van John F. Kennedy-lughawe in New York. Wanneer dit land, sal nog ledemate en vergruisde liggaamsdele gevind word in die ruim van die onderstel van ’n SAL-vliegtuig wat onderweg vanaf Johannesburg Dakar aandoen. Weer geen etikette of identiteitsdokumente nie. Pam Hearne sê sy het aanvanklik gedink die geraas is veroorsaak deur ’n buurman wat sy bakkie daar naby laai. “Ek is bly ek woon waar ek woon sodat ek nie vir my lewe hoef te hardloop soos daardie man oënskynlik moes doen nie,” verklaar sy. En die owerhede kondig aan: “In geen stadium was daar enige gevaar vir die passasiers aan boord nie.”
2. Dit is billik om te sê dat ons ’n verwording in die internasionale omgewing belewe, sowel fisies as moreel. Al langs die helder draad van menslike bewussyn was daar seker sedert aanvang ’n gewaarwording van die verwoestende implikasies vir groepe van die menslike familie wanneer verskille deur konflik besleg word, en gepaardgaande hiermee lyk dit asof daar altyd ’n valorisering van en soeke na vrede was – vir die vermindering van spanninge, vir matiging en tegemoetkomendheid, en die kodifisering van geregtigheid sodat botsende belange op aanvaarde wyses opgelos kan word om die vergeefsheid van bloedlating te voorkom. Maar ‘vrede’ is slegs die tydelike opskorting van geweld. Sonder om in te gaan op die mens se nimmereindigende neiging tot en voorliefde vir oorlog, en dus sonder enige pretensie om te verstaan waarom hierdie “lewenswyse” noodlottig en onvermydelik lyk (as om jou naaste dood te maak as ’n lewenswyse beskryf kan word), en dus ook sonder om te waag om die haalbaarheid van eeue-oue teenbewegings na pasifikasie te evalueer, dink ek dit is duidelik en redelik om aan te voer dat ons oor die laaste dekade of twee ’n toename in kollektiewe doodslag en ’n groeiende gevoelloosheid vir die implikasies daarvan, gesien het. Fatalisties aanvaar ons nou – soms lyk dit selfs of ons dit kondoneer – dit wat nie so lank terug nie te afgryslik sou wees om te aanskou. Die wêreld is gewalg deur Nazi-pogings om Jode, Sigeuners en homoseksuele te elimineer in die siedende waansin van ’n “finale oplossing” – selfs al het van die weerstand baie laat gekom en miskien gemotiveer deur eiebelang. En tog lyk dit of die wêreld tans oor die algemeen passief toekyk terwyl die Staat van Israel herhaaldelik dade van staatsterreur teen die Palestyne pleeg – hulle leiers sluipvermoor, hulle strukture verwoes, hulle kinders verdierlik, hulle vroue verneder, hulle grond steel en hulle in effek van ’n toekoms ontneem. Waarom? Is dit onverskilligheid? Tamheid? Sinisme? Instemming? Die wêreld – ten minste beduidende dele daarvan – het beswaar gemaak teen die doodslag en onderdrukking van swart mense in Suid-Afrika bloot omdat hulle swart was en ons het die stryd om geregtigheid gesteun. Kan ons sê dat daar ewe veel verontwaardiging was toe ’n volksmoord in Rwanda tien jaar gelede plaasgevind het? Is ons ewe besorg oor wat gebeur het in Sierra Leone, Liberië en Somalië, oor wat vandag gedoen word aan mense in Darfoer en in Zimbabwe en in die Kongo, of die dreigende massamoorde in die Ivoorkus – en is ons ewe betrokke in die poging om hierdie konflikte te voorkom? Waarom nie? Omdat hierdie verafgeleë plekke is met min impak op die magsbalans in die wêreld en skrapse markwaarde het? Of is dit te ingewikkeld? Is ons bloot moeg daarvan om te probeer verstaan? Het ons ons morele naamlintjies en die herinnering aan wie ons was verwyder terwyl ons eksistensiële deuntjies op die klavier speel? Martin Luther King het gesê: “Ons lewens begin eindig die dag wat ons stil word oor dinge wat saak maak.” Ons word bekruip deur ’n opwelling in fundamentalisme aan alle kante, ’n wedergeboorte van ’n gedweep met godsdiens, deur die oplegging van wêreldkapitalisme as morele imperatief (eufemisties ‘globalisering’ genoem), ’n verdieping in armoede en ongelykheid en die terugkeer van rassisme, die verrotting van gesonde verstand en etiek deur politieke korrektheid… Die Verenigde State het ’n skurkentiteit geword, Europa is so toe soos ’n klei-os se gat en in Afrika word die gemoed deur ellendigheid gedryf – ons vryhede weggekerf in die willekeurige dade van veragtelike heersers of deur die onbelemmerde gierigheid van die elites en die leërs wat die mense plunder, en in sommige plekke bestaan daar geen vryheid nie omdat daar geen politieke en ekonomiese middele is om dit te bou nie. Is dit dan nie begryplik dat wanhopige individue sal probeer ontsnap in tingerige, oorlaaide bootjies, of wegkruip in die onderstelle van vliegtuie waar hulle geen kans het om te oorleef nie – omdat hulle óf sal doodvries óf tot pulp vergruis word? Wat moet ons maak van die herlewing van kannibalisme, van kinders wat gewere gegee word om te gaan moor? Hoe het ons kollektief tot die punt gekom waar ons die opvatting van ‘mislukte state’, van ‘swart gate’ aanvaar – minstens tot waar ons oënskynlik daarmee kan saamleef? Wanneer het ons die intieme wete verloor dat wat gedoen word aan, of toegelaat word om gedoen te word aan die weerloses ons almal aangaan, dat die klok vir ons almal lui? En dat die implisiete kondonering van die onaanvaarbare die vesel van ons etiese besorgdheid verrot sodat ons almal meer verdierlik word – inderdaad minder beskaafd? Dis waar dat heelwat van ons internasionalistiese besorgdheid gebou mog wees op brose ooreenkomste, skynheilig en ingegee deur nasionale of markbelange – maar ten minste het hulle sekere hoogtemerke aangedui en gegewe houdings wat ons optrede in hierdie wêreld definieer, beliggaam. Die feit dat die supermoondheid nou eensydig inmeng waar hy dit ook al geskik ag, en so duidelik en brutaal in eiebelang terwyl hy in die proses die waarde van menslike lewe en die respek vir niewesterse kulture skaad, het die vernietiging van ons brose internasionale ooreenkomste en pogings om in ’n bietjie vrede saam te leef, verhaas. Moet ons dan verras wees deur die bomme wat in Madrid en Londen afgaan?
3. Wat is die waardes van die wêreld? In ’n onlangse onderhoud het James Wolfensohn, voormalige president van die Wêreldbank, uitgewys dat 900 miljard dollar van jaarlikse besteding van regerings wêreldwyd gaan vir verdediging, 300 miljard dollar vir die ondersteuning of eerder subsidering van die wêreld se rykste boere en slegs 56 miljard dollar vir ontwikkelingshulp aan die armes. Dit is ’n kwessie van belegging. Die armes is ooglopend nie so winsgewend soos wapens nie. Insgelyks berig die media dat president Bush se “ruimteskild” ’n geskatte 58 miljard dollar sal kos, terwyl dit ook bereken word dat die aangekondigde Millenniumontwikkelingsdoelwitte (om armoede teen 2015 beduidend te verminder, ens.) slegs teen die jaar 2147 bereik kan word. Hierdie arrogansie moet gesien word teen die agtergrond van sekere vergelykende syfers: In 2003 het daar 704 miljoen mense in Afrika gewoon en 307 miljoen in die Euro-gebied; die gemiddelde lewensverwagting in Afrika was 45,6 jaar en 78,9 jaar in Europa; MIV/Vigs het 7,2% van Afrikane affekteer, terwyl die syfer in Europa 0,3% was; 457 kilowatt elektrisiteit per persoon is in Afrika verbruik en in Europa was dit 5912 kilowatt; die gemiddelde inkomste in Afrika was $500 per jaar en in Europa $22810; 13% van die paaie in Afrika was gangbaar en in Europa was dit 95%; in die loop van die jaar was daar 348 000 lugrederyvlugte in Afrika en in Europa was dit 3,5 miljoen. Tussen 1981 en 2003 het die totale aantal mense in Afrika wat op minder as ’n dollar per dag leef gestyg van 40% tot 50% en in Sjina het dit oor dieselfde periode geval van 60% tot 20%. NEPAD (New Economic Partnership for African Development) het 64 miljard dollar per jaar begroot vir die ontwikkeling van Afrika se gedegradeerde en dikwels ontoereikende infrastruktuur, maar oor die afgelope vier jaar is slegs 1% aan infrastruktuurprojekte gewy. Afrika is inderdaad nou armer as wat dit nog ooit was. Uiterste armoede het die afgelope twee dekades viervoudig toegeneem. Meer as ’n derde van die vasteland se inwoners maak met moeite ’n bestaan op minder as ’n halwe dollar per dag. Meer ‘ontwikkelingsgeld’ het in Afrika ingegaan as wat die Marshall-plan na oorlogsverwoeste Europa gebring het (ofskoon meeste van die geld weer in die sakke van skenkersagentskappe beland) – en waar is ons nywerhede, universiteite, openbare instellings, hospitale, paaie? Ons burgeroorloë – soos dié in die twee digsbevolkte state, Soedan en die Kongo – het so lank aangegaan dat dit lyk asof hulle endemies, permanent en onoplosbaar is. In weerwil van die oliebonanza is die gemiddelde Nigeriër vandag armer as in 1970; die land word geteister deur etniese en religieuse twiste en is een van die mees korrupte plekke ter wêreld; die regstelsel het feitlik heeltemal in duie gestort, burgerlike wanorde en kapitaalvlug is die norm en die eens trotse universiteite het ingeplof. Ja, ons leef steeds volgens diepgaande humanistiese tradisies; en ja, op geen ander vasteland moor mense so maklik en vanaf so ’n jong ouderdom nie. Ja, talle van die afgryse kan gelê word voor die deur van vampieragtige leiers, die roofdiere wat hulle bevolkings verskraal het tot bankrotskap en ruïnering en hongersnood – Idi Amin, Bokassa, Mobuto, Eyadema, Charles Taylor, Arap Moi, Robert Mugabe, Dos Santos… Maar ook ja, moet ons vra, wat het diesulkes wat nie persoonlik gierig was nie, die “Christian gentlemen” soos Kaunda en Nyerere nagelaat buiten gek, verderflike ekonomiese beleide? Oorlede Claude Aké het eens gesê: “Dit is nie soseer dat ontwikkeling misluk het nie as dat dit nooit hoegenaamd op die agenda was nie.” Want in die verbygang wil ek dit beklemtoon dat ek Afrika se armoede nie bloot beskou as gewoon die lot van die onregverdige wêreldstelsel nie. ’n Deel van die oorsaak van ons agterlikheid is sekerlik sistemies – wat kan ’n mens anders in ’n wêreldkapitalistiese opset verwag? – maar of ons gaan bly rondrol in ons armoede, in ons selfbejammerende houding van slagoffers van die geskiedenis wees, hang volledig van onsself af. Afrika is nie arm nie. En selfs al mag die korrumpeerders (die vrotmakers) dit vanaf Londen en Parys en Washington doen, is die medepligtiges en dikwels die bevoordeeldes diegene in Afrika wat hulself vetvreet aan die ellende van die armes. Niemand buiten Afrikane self sal of kan selfs Afrika red en regruk nie. Dit is imperatief noodsaaklik dat ons onsself sal wil help, sal ophou wegkruip agter die verskonings van ‘gebruik’ en ‘kultuur’, ’n gedeelde sin van die gemeenskaplike bates en verantwoordelikhede ontwikkel, om nie langer slegs te leef vir vandag se buit of die skrapse middele tot oorlewing nie. Maar dit is reeds genoeg! Wat sê hierdie syfers vir ons van die wêreld?
4. Dat ons in die hart van wêreldonveiligheid op armoede sal stuit – endemies en knarsend en verergerend. Of gierigheid. Die gierigheid van die onversadigbares. Ek praat ook van die gierigheid van die roofdiere – die wapenvervaardigers en die olieslurpers en die mensesmokkelaars. Dat ons in die hart van ons nuwe barbaarse era, hoe opgedollie ook al met die katoeters van modernisme, die fundamentaliste kry wat mekaar uitwis (en daarmee saam duisende mense as ‘kollaterale skade’, of as terrorisargumente vir die veg van asimmetriese oorloë) uit wanhoop of vir wat hulle glo ’n religieuse saak in die naam van hulle wrede en jaloerse God is. Dat in die hart van daardie lande wat na bewering bevryd en demokraties is, die siniese spinnekoppe onbeperk heers in hulle drang na mag en wins. Dat in die witgewaste hart van ons sogenaamde verligte wêreld ons steeds dieselfde halsstarrige en geïnstitusionaliseerde diskriminasie teen vroue teëkom. Dat in die hart van hierdie diep woud dit ons steeds aan ware erbarming vir kinders ontbreek.
5. Hoe kan die gees vry gehou word? Want ons moet die gemoed bevry en vry hou as ons dit wil weerhou daarvan om na die donker terug te gaan. Dit is nie genoeg om die donker te sing nie. Om te oorleef, moet ons die verantwoordelikheid aanvaar om die wêreld anders te verbeel – want watter horison het ons om aan te bied aan ’n dertienjarige seun in Monrowië wat nou dink dat sy enigste oorgang tot volwassenheid kan wees deur ’n AK-47 te bekom, homself te bedwelm, sy gesig met goedkoop lipstiffie op te maak, ’n pruik op te sit en een of ander hartseer nagemaakte trourok aan te trek voor hy uitgaan om te moor? Wat is dit wat ons aan die kinders bied? Waarvoor kan hulle leef? Elkeen kan nie ’n Klavierman wees nie. Ek het die net van my opmerkings doelbewus wyd gegooi. Daar is ’n interverbindheid en Afrika is deel van die vergelyking, selfs al is dit nie waar die frontlinie tussen Wes en Oos brand nie. En Afrika is nog altyd sowel vanuit die vreemde as van binne verbeel, meesal as ’n oefening in ontvlugting. Dit gebeur selfs nou: enersyds het ons die getrommel van steun aan die vasteland deur rock-konserte en G8-vergaderings en die instelling van Kommissies en Doelwitte; andersyds hoor ons die ewe selfdienende mantras van “soewereiniteit”, van die wêreld wat Afrika ’n ordentlike bestaan sou skuld, gebaseer op die versterking van al die valshede wat ons leer ken het in terme van staatkunde en politieke bedelings, vanaf kolonialisme tot post-onafhanklikheid. Die Noord-Suid verhouding word gedefinieer deur historiese prosesse, deur persepsies en deur magsbalanse. Twee komponente wat my interesseer is etiek en mag – meer presies, hoe nie-mag (of verbeelding) as transformatiewe agent gebruik kan word. Onderliggend aan die historiese houdings teenoor Afrika - ’n op-en-af geskiedenis met meer af as op, ’n gee-en-neem storie met veel meer neem as wat daar ooit gee was – onderliggend daaraan is daar die werklike kultuurverskille. Onder hierdie ‘verskille’ kan ’n mens wys na, dink ek, ’n skakering in benaderings tot die gebeurtenis en betekenis van dood, na opvattings van kontinuïteit van geslag tot geslag en selfs van die vertel van tyd, verskille in die wyses waarop die sinlike lewe oor sou gaan in die onbekende, in die gebruike en sin van die liggaam, verskille in tradisies om die mag van donkerte deur ritme en inkantasie aan die lig te bring. Die ‘donkerte’ waarna ek verwys, kan as noodlottige gegewe beskou word, die verborge wêreld wat vrees en ontsag vestig, maar ook die bron van magie en skepping. Ons almal vier die lewe om die dood te paai; in talle dele van ons donker wêreld eer ons ook die dood om die lewe draaglik te maak.
6. Hierdie besinnings is geïnspireer deur ’n uitstalling van Afrikakuns wat ek onlangs in Parys gesien het. Dit is Africa ReMix genoem – terloops ’n verskriklike naam, want dit suggereer mos dat mens ’n paar ou uitdrukkings kan neem en hulle in ’n nuwe mengsel saamskommel! ’n Mens sou in daardie uitstalling getref word deur ’n lewenskragtigheid van dikwels direkte en vrypostige uitdrukkings, deur ’n bewustheid van die teksture van materiale en oppervlaktes, en deur die gebruik van spot. Daar was ’n opmerklike vermenging van wat in die Afrikakonteks as tradisioneel beskou sou word – grond, lap, liggaamskuns, die aansprake op magie – met Westerse vorme en uitdrukkings soos installasies en videokuns. Die installasies het dikwels gewys na ’n narratiewe bedoeling; die videokuns (soos byna oral oor die wêreld) was meesal banaal en lelik en leeg. Hierdie vorme van aanbieding vind hulle regverdiging slegs in die museumomgewing van sogenaamde geglobaliseerde materialisme en beskadigde estetika – teenoor die meer humanistiese interaksie wat ’n mens in ’n tradisionele opset sou vind. Met ander woorde: dié kuns is gemaak vir die Westerse museumbesoeker. Dis seker waar dat daar gepoog is om ’n mate van eietydse Afrika ‘eiesoortigheid’ te verleen deur te werk met die uitskot van verbruikersamelewings – blik, ou gewere, plastiekhouers, gehersirkuleerde beelde – wat die wrang punt maak dat Afrika leef van die afvalgoed van die ontwikkelde wêreld sowel as dat enigiets, hoe nederig ook al, in kuns getransformeer kan word. Maar buiten hierdie hibiriditeit – die meeste van die verteenwoordigde Afrika-kunstenaars woon en werk tans in Europa – is ongemaklike vrae gestel. Waarom is hierdie kunstenaars gegroepeer? Wat het kunstenaars van Noord-Afrika en, sê, die Kongo gemeen? Wat deel die geledinge van Afrika onderling wat dit kollektief anders as die res van die wêreld maak? (Ek sou voorstel dat een onderwerp van enige toekomstige samewerking tussen instellings van die Noorde en die Suide die bestudering van die ooreenkomste en verskille tussen kunstenaars op die Afrika-vasteland, en tussen hulle en die res van die wêreld behoort te wees.) En waarom is daar oënskynlik so ’n sterk behoefte van ‘buite’ om Afrika as ’n geheel te sien? Kan dit wees om stereotipes te bevestig, die opgedateerde manifestasies van eksotisme wat nou kom onder die hofie “om respek aan die vreemde te betoon”? – met die implikasie dat dit gerusstellend is om die vasteland eksoties maar apart in sy “vreemdheid” te hou?
7. Sou dit nie meer trefseker wees om voor te stel dat wat nou werklik “vreemd” of “eienaardig” is, die manier is waarop Europa ontwikkel het? Neem wesenlike goeddoen- en goedvoel lande soos Holland en Denemarke: dit is tog sekerlik geregverdig om op te merk dat die meerderheid Hollanders en Dene in opstand is teen die beleide van verdraagsaamheid en permissiwiteit en internasionale solidariteit wat hulle lande oor die laaste dertig jaar gedefinieer het, en dat ons ’n woedende, xenofobiese en selfs nasionalistiese gelaat afgeteken sien?
Hoe het dit gebeur? Afgesien van die opsigtelike en meesal ekonomiese inkapasiteit om groot getalle immigrante te absorbeer, moet daar sekerlik ook kulturele teenstrydighede wees: buitensporige verdraagsaamheid van diversiteit tesame met grenslose permissiwiteit het die noodsaak vir ’n sin van nasionale samehangendheid en roeping, selfs identiteit, liederlik onderskat; vermenging bring nie noodwendig ’n groter aanvaarding van diversiteit nie – dit is verkeerdelik aanvaar dat diegene wat in hulle verskille aanvaar word sal resiproseer deur ook jou ‘andersheid’ te respekteer en dat julle sodoende gedeelde niereligieuse gronde sou kon vind om saam op te bou; ’n oordrewe moralistiese internasionale benadering – en ’n soort fundamentalistiese poging om die arm wêreld sover te kry om te aanvaar wat jy gedink het goed vir hulle sou wees (soos ‘demokrasie’) – het nie rekening gehou met die geskiedenis en met jou eie skynheilighede nie, en het as weerslag gelei tot die herlewing van die verregses tuis; om agteroor te buig om polities korrek te wees en in feite multikultureel voorskriftelik, het dit onmoontlik gemaak om gesonde verstand te gebruik en basiese verbintenisse tot menseregte toe te pas. Moet ’n mensereg – soos die onvervreembare reg van ’n vrou om onder watter religieuse juk ook al nie ’n lyfeiene te wees nie – nie altyd swaarder weeg as watter selfdienende en ontvlugtende respek daar ook mag wees vir die “kulturele eiesoortigheid” van die ander nie?
8. Niks van bogenoemde kan die vrae vertroebel wat ons onsself in Afrika moet vra ten einde ’n skeppende en transformatiewe verbeelding vry te stel nie. Ek is bewus van persepsies wat voorgee dat om ons afgryslikhede te erken – ons maaksel, ons verantwoordelikheid – verraad sou beteken omdat dit wel rassistiese vooroordele mag versterk. So verraai jy die stryd, word dikwels beweer. Selfbeoordeling sal ons ook stroop van die gemak daarvan om slagoffers te wees van die geskiedenis, van kolonialisme, van rassisme, van kapitalisme, van sosialisme, van ons eie onskuld en inherente goedheid… Ons moet begin by die verskriklike en bitter verwyte wat erken dat ons teen hierdie tyd gedaal het van bevrydingseuforie na die hart van die duisternis. Ons moet erken dat die nasiestaat-konsep soos dit tans in Afrika bestaan, en slegs hebsugtige plaaslike elites en korrupte en siniese buitelandse maatskappye bevoordeel, nie lewensvatbaar is nie. Die demokrasie wat oor ons uitgesprei het, selfs waar versoet met die gif van verkiesings, maak ons dood. Dit het nodig geword om te erken dat buitelandse ontwikkelingshulp ons nie help nie. Ons weet dat Afrika herstig moet word op radikaal nuwe vertrekpunte, ingegee deur ware outonomie en onafhanklikheid – en dit is nóg die taak nóg die verantwoordelikheid van die wêreld daarbuite. Ons weet ons benodig ’n rewolusie van etiek, van verbintenis tot die behoeftes van die vasteland, in die terugsnoeiing van ons opgeblase retoriek en ons demagogiese posering. Wat as ons kunstenaars en intellektuele genoegsame voldoening vind in ironiese kommentaar, soos in Africa ReMix? Wat as hulle bloot hulle eie basse red, rondrol in ’n viktimisasiekultus, die blaam verskuif, ingaan in altyd digter labirinte van die najaag van die vervreemde ego? Wie sal dan opstaan om die openbare klok te lui? Wie sal met die nodige toewyding en disspline toesien dat ons gedeelde bevryde gees vry bly? Toe ek by die Africa ReMix-uitstalling uitstap, sien ek ’n bejaarde wit man, modieus geklee in ’n donker pak oor ’n swart t-hemp waarop die volgende woorde in rooi letters uitgebasuin word: “Africa is burning.” En ek het gewonder of ons verskraal moet word tot ’n byderwetse t-hempslagspreuk.
9. Want nee, ek wanhoop nie. Jy kan sê: Vryheid is skuld, want dit bring daarmee saam die kennis van onvryheid. Jy kan ook sê: Vryheid is bewustheid en daarom verantwoordelikheid. Ek glo dit is moontlik om interaksie tussen Suid en Noord te bewerkstellig waar daar bewustelike pogings sal wees om mekaar te versterk – ingegee deur volle openhartigheid maar ook gebaseer op absolute gelykheid. Wat Europa vir Afrika doen, moet Afrika ook by magte wees om vir Europa te doen. Ek glo sodanige interaksie moet beweging begunstig en bevorder, dat dit doelbewus daarop moet mik om ruimtes van skeppendheid, betwisting en transformasie (in albei rigtings) tot stand te bring en so die versterking van individue voorop stel. Ek glo dat ons nie-mag moet beoefen (in albei rigtings) deur te weier om die geloofwaardigheid en veronderstelde soewereiniteit van ons korrupte regimes wat van diefstal en onderdrukking en protokol en voorkoms leef, te stut, en deur eweneens te weier om die globalisering van die vryemarkstelsels wat die swakkes doodmaak, te aanvaar. Die verbeelding waarna ek verwys, moet gevorm word. Van waar ek praat, binne ’n instelling soos die Gorée-instituut, beteken dit dat ons in vennootskap met ander werk – NRO’s, internasionale liggame, skenkers – sodat deur die bou van die nodige navorsingsagtergrond en die versterking van die middele om die oorsake van konflik en die hefbome van ontwikkeling te verstaan, en deur netwerke te vestig, ons kundigheid kan mobiliseer. Dit beteken dat ons deurgaans soek na maniere om werktuie te smee wat ook deur ander gebruik kan word, om modelle te skep wat as voorbeeld kan dien, en dat ons ingepraat sal word deur ’n nougesette beoordeling van die impak van wat ons doen. As ’n klein instelling – gedoem tot die najaag van voortreflikheid, gevoed deur die ewewig tussen besinning en handeling – sal ons altyd innoverend wil wees, om “buite die kassie (en die 'kraal') te dink”. Om dit in ’n breër konteks te stel: Ons weet dat wesenlike bydraes tot die bou van vrede, tot ontwikkeling, tot die her-vorming van Afrika gemaak sal word deur organisasies van vroue en die jeug, deur diegene wat aktief is in kulturele skeppendheid, deur die swerwende bendes te betrek by prosesse van vorming vir burgerskap, deur ons intervensies te motiveer aan die hand van deeglike en eksakte kennis en ’n deurlopende soeke na die verstaan van die redes vir kommunale spanninge en die weg daaruit, deur die herwaardering van die rol gespeel deur tradisionele strukture en inheemse metodes in sake rakende konflikbemiddeling en oorlewing – en al die voorgenoemde geskoei op die verstaan en verkenning van die skakels tussen verbeelding en skepping. Want ek glo dit is moontlik om die krag van die verbeeldende gees te versterk en taai te maak, en dat hierdie vryheid ’n voorvereiste is en as die nodige sneller kan dien om verdere veranderinge teweeg te bring. |