blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Massamedia vir die individu 2006-08-16
Manuel Castells

*Professor in kommunikasie, houer van die Wallis Annenberg-leerstoel in kommunikasie, tegnologie en die gemeenskap by die Annenberg-skool vir Kommunikasie, Universiteit van Suid-Kalifornië, Los Angeles, VSA, en direkteur van die Catalunya Internetprojek by die Universiteit van Oberta in Katalonië, Barcelona, Spanje. Skrywer van onder meer The Network Society. Hierdie teks, hersien en gekorrigeer deur die outeur, is ontleen aan sy aanbieding by die seminaar “Die media tussen burgers en mag” gereël deur die Politieke Wêreldforum en die provinsie van Venisië in San Servolo (Italië), 23 en 24 Junie 2006. Uit die Frans vertaal deur Martine Steyn, [email protected]

 

Daar is vandag meer as ’n miljard internetgebruikers en naastenby twee miljoen selfoonlyne. Danksy selfone kan twee-derdes van die wêreldbevolking met mekaar kommunikeer, selfs in gebiede sonder elektrisiteit. Teen Mei 2006 was daar 37 miljoen blogs. Gemiddeld een blog word per sekonde in die wêreld geskep, oftewel meer as 30 miljoen per jaar ... Hierdeur het ’n nuwe sosiale vorm van kommunikasie ontstaan wat ongetwyfeld massief is, maar individueel vervaardig, ontvang en ervaar word.

Inligting en kommunikasie was nog altyd die voertuie van die heersende gesag, linkse politieke magte, weerstandsbewegings en maatskaplike veranderings. Die greep op menslike gedragskodes – wat deur kommunikasie bevorder word – is van fundamentele belang. Slegs deur die slyping van ’n volk se denke en opinies word die gesag in ’n gemeenskap gevestig en sal daardie gemeenskap kan ontwikkel en verander.

Fisieke en geestelike onderdrukking is ongetwyfeld ’n belangrike komponent van die heersende gesag. Waar ’n bevolking egter radikaal van denke verander, waar hy sy uitkyk wysig en dít deur sy eie oë, is daar geen mag wat hom daarteen kan verset nie.

Die marteling van ’n liggaam is baie minder doeltreffend as die vorming van ’n denkwyse. Daarom word kommunikasie as die toetssteen van krag beskou. Kollektiewe denke (wat nie die interaksie tussen individuele denke is nie, maar eerder ’n denkwyse wat alles absorbeer en deur die gemeenskap in sy geheel versprei) ontwikkel op die gebied van kommunikasie. Laasgenoemde is inderdaad die oorsprong van beelde, inligting en opinies. Deur middel van kommunikatiewe meganismes word ervarings oorgedra en op kollektiewe vlak versprei.

Bogenoemde verskynsels is veral toepaslik op ons gemeenskappe, waarbinne kommunikasienetwerke die hele  wêreld deurkruis, op beide nasionale en internasionale vlak. Gevolglik word verhoudings met die heersende gesag, die wesenlike komponent van enige gemeenskap wat terselfdertyd sy ontwikkeling bepaal, al hoe meer uitgebrei in die sfeer van kommunikasie.

In die hedendaagse samelewing val die politiek onder die onmiddellike invloedsfeer van die media. Die inhoud van die politieke stelsel en selfs die besluite wat daarin geneem word, voorsien materiaal aan die media in hulle soeke na burgerlike ondersteuning of, waar dit ontbreek, ten minste die versagting van vyandige opinies.

Dit beteken nie noodwendig dat alle gesag onomwonde in die media gesetel is nie, ook nie dat die publieke gedragskode bewerkstellig word deur wat die media ook al mag aanvoer nie. Navorsing in kommunikasie het lankal getoon in watter mate die publiek aktief eerder as passief is.

Buitendien het die media interne kontrolestelsels wat hulle vermoë om die publiek te beïnvloed, kontroleer. Hulle is bowenal firmas, maatskappye onderhewig aan voorskrifte van winsgewendheid, wat hulle leserskorps moet vergroot en hul verspreiding moet uitbrei. Oor die algemeen is die media uiteenlopend, mededingend en moet hulle ewe geloofwaardig as hul mededingers voorkom. Hulle stel gereeld nuwe beperkings vas, in terme van professionele of joernalistieke etiek (bemiddelaars, etiese komitees, ensovoorts). Die media spits homself dus nie slegs op die verdraaiing of manipulasie van inligting toe nie.

Ons moet egter aandag gee aan veral twee tendense. Eerstens, aktivistiese en ideologiese joernalistiek, waar die media as ’n belangrike instrument tot die ideologiese slagveld toetree. Vir ’n aansienlike tydperk is dit beskou as ’n agterstand wat die media van sy “objektiewe” kwaliteite beroof en hom so ook van sy kopers vervreem. Daarom het publikasies wat hulleself voordoen as die spreekbuise van ’n politieke party feitlik heeltemal verdwyn, of word hulle weinig versprei. Desondanks skyn dinge aan die verander te wees. Aktivistiese of ideologiese bewegings kan ’n sterk winsgewende model daarstel. Fox News, een van die belangrikste televisienetwerke in die VSA (filiaalmaatskappy van News Corp wat behoort aan mnr. Rupert Murdoch) het ’n aansienlike gedeelte van die konserwatiewe Amerikaanse bevolking omgehaal deur, sonder die geringste oorweging van onpartydigheid, die argumente van neokonserwatiewe lede ten gunste van die Irakse inval van 2003 te ondersteun.

Die tweede en huidige tendens lê in die verlies aan onafhanklikheid van professionele joernaliste ten aansien van hulle werkgewers. Dit is waar ’n groot deel van die komplekse spel van mediamanipulasie afspeel.

Ek het so pas ’n referaat gepubliseer waarin ek aanvoer dat, teen middel 2004, 40% van Amerikaners steeds geglo het dat mnr. Saddam Hussein en Al-Kaida hand-aan-hand gewerk het en dat daar wapens van massavernietiging in Irak was. Dít ’n volle jaar nadat al die bewyse tot die teendeel in besonderhede uitgelê is. Hierdie studie werp lig op die verbintenis tussen die propagandameganismes van die Bush-administrasie en die verskaffing van publisiteit deur die media. Dit laat blyk hoe sekere manipulasies en wanvoorstellings by die sensorproses verbyglip.

Dit alles verteenwoordig slegs die oortjies van die seekoei, want die deurslaggewende invloed wat die media op die politiek uitoefen, is nie die vrug van wat gepubliseer word nie, maar van dit wat ongepubliseer bly. Dit wat verduister en doodgeswyg word. Media-aktiwiteit berus op ’n tweeledigheid : niks wat in die volksdenke bestaan, is nie eers deur die media aan hulle oorgedra nie. Die media se fundamentele krag is dus gesetel in sy vermoë om te verdoesel, te verswyg, om iets te verdoem tot publieke niebestaan.

Die noodsaaklikheid van mediabestaan as voorvereiste vir politieke bestaan verleen ’n organiese eienskap aan mediataal, wat ewe duidelik op die televisie as oor die radio, in die pers of op die Internet aangetref word. Die massamedia gebruik ’n spesiale linguistiese kombinasie, beslis nie ’n outonome dialek nie, maar iets soortgelyks.

Die eenvoudigste dog effektiefste boodskap in die media is die beeld. Die eenvoudigste visuele boodskap is die gesig. Daar is ’n inherente verwantskap tussen die vermediatisering van die politiek, die verpersoonliking van die media en die verpersoonliking van die politiek. Sou ’n mens homself begeef in ’n wêreld waar die politiek gegrond is op persoonlike konflik en mediamanipulasie, sou mediapublikasies hul betekenis verloor. Niemand sou dit meer in ag neem nie, en burgers sou belangstelling verloor (waarskynlik met goeie rede).

Die sukses van “verpersoonlikingspolitiek” dui daarop dat die aanval geloods teen ’n persoon, as vergestalting van ’n politieke boodskap, die oortuigendste vorm van ideologiese geveg is. Laster en gerugte word oorheersende politieke kunsvorme: ’n negatiewe boodskap is vyf maal effektiewer as ’n positiewe een. Al die politieke partye beland in hierdie strik, naamlik die manipulasie of selfs fabrikasie van inligting. Dít sonder dat die media enigsins inisiatief hoef te neem. Hulle word eerder tot die rol van tussenganger beperk.

Hieruit vloei ’n direkte verwantskap tussen die vermediatisering van die politiek, sy verpersoonliking en dan laster, of die verskynsel van politieke skandale – waarvan die veralgemening hierdie afgelope vyftien jaar uitgeloop het op die sluipmoorde van verkose parlementslede en krisisse binne die regering asook die staatsbestel.

Hiermee word ons teruggebring na die huidige, diepgaande krisis betreffende wêreldskaalse politieke regmatigheid. Daar is ’n sterk en duidelike verwantskap, al is dit nie ’n eksklusiewe nie, tussen politieke skandale, die oordrewe vermediatisering van openbare aangeleenthede en die burgerlike gebrek aan vertroue in die sisteem. Hierdie agterdog word uitgebeeld deur ’n opname wat gedoen is deur organisasies van die Verenigde Nasies, waarvolgens twee- derdes van die wêreldbevolking hulleself nie as verteenwoordig deur hulle regeerders beskou nie.

Dit gaan dus hier om ’n legitimiteitskrisis. Maar terwyl die wêreld voorgee om nie meer die regerings, politieke beamptes of politieke partye te vertrou nie, volhard die meerderheid van die bevolking nog steeds in hulle oortuiging dat hulle ’n invloed kan uitoefen op dié wat namens hulle optree. Hierdie meerderheid glo ook dat hulle ’n verskil kan maak in die wêreld deur middel van wilskrag en hul eie middele. Hulle is miskien besig om aan die wêreld van kommunikasie die buitengewone verwikkelinge van dit wat ek noem massaselfkommunikasie bekend te stel.

Tegnies gesproke word hierdie massaselfkommunikasiemoontlik gemaak deur die Internet, asook deur selfoonontwikkeling. Vandag is daar meer as ’n miljard webgebruikers en naastenby 2 miljard selfoonlyne. Danksy selfone kan twee-derdes van die wêreldbevolking met mekaar kommunikeer, selfs in gebiede sonder elektrisiteit of vaste telefoonlyne. In ’n baie kort tydsbestek het ’n oorvloed van nuwe kommunikasievorms op die voorgrond getree. Die mens het sy eie stelsels ontwikkel: SMS, blogs, Skype ... Die Eweknienetwerk (Engels: Peer-to-Peer, aldus P2P) maak die oordrag van enige numeriese data moontlik. In Mei 2006 was daar 37 miljoen blogs (in teenstelling met 26 miljoen in Januarie). Gemiddeld een blog word per sekonde in die wêreld geskep, oftewel meer as 30 miljoen per jaar ... 55% van blogskeppers vul hulle blogs steeds drie maande nadat hulle dit geskep het aan. Die aantal blogskeppers is 60 keer sterker as ses jaar gelede. En verdubbel elke ses maande.

Waar Engels aanvanklik die oorheersende taal van die Internet was, geld dit vandag vir minder as een-derde van alle webwerwe. Sjinees het nou op die voorgrond getree, waarna Japannees, Spaans, Russies, Frans, Portugees en Koreaans. Die menigvuldige blogs is nie so belangrik soos die skakels (links) tussen hulle nie; by uitstek daardie wat aangeknoop en in stand gehou word met die geheel van die koppelvlak (interfaces) (wat deur RSS tegnologie moontlik gemaak word).

Massaselfkommunikasie verteenwoordig sodoende die samestelling van ’n nuwe vorm van sosiale kommunikasie wat ongetwyfeld massief is, maar tog individueel vervaardig, ontvang en ervaar word. Dwarsdeur die wêreld word dit deur sosiale bewegings benut. Hulle is egter onder geen omstandighede die enigstes wat hierdie nuwe instrument van mobilisasie en organisasie gebruik nie. Die tradisionele media poog nou om by hierdie beweging aan te sluit. Deur hulle kommersiële vermoëns en media-invloed is hulle besig om die maksimum moontlike getal blogs op die webwerf te skep. Die volgende wat ons sal sien, is hoe sosiale bewegings, nes individuele rebelle, dit gaan regkry om deur massaselfkommunikasie die heersende media te beïnvloed, inligting te beheer – te weerspreek waar nodig – en selfs te vervaardig.

Die uiteenlopende alterglobalistiese beweging teen kapitalistiese globalisering maak ’n aantal jare reeds gebruik van die Internet en al die fasette van massaselfkommunikasie, nie net by wyse van ’n organisatoriese instrument nie, maar ook as ’n forum vir debat en tussentrede. Hierdeur het die beweging ook toenemende invloed in die heersende media geniet nadat hulle stempel eers by Indymedia en ’n reeks ander alternatiewe netwerke afgedruk is

Die daarstelling van onafhanklike kommunikasienetwerke raak ook die oorwegend tradisionele media. Straat- televisie of alternatiewe radio, soos TV Orfeo in Bologna, Zaléa TV in Parys, Occupen las Ondas in Barcelona, TV Piqueteros in Buenos Aires en menigvuldige alternatiewe media wat deur die netwerk met mekaar verbind is, vorm daadwerklik ’n nuwe inligtingstelsel.

Selfs die voormalige visepresident van die VSA, mnr. Albert Gore, tree tot die stryd toe deur van sy eie televisiekanaal uit te saai, waarvan 40% van die inhoud vandag deur TV-kykers aangevul word. Presidensiële veldtogte word ook beïnvloed deur hierdie nuwe mediavorm. So het mnr. Howard Dean se kandidatuur in 2003-2004 groter steun geniet danksy die mobilisasie wat hy by wyse van die Internet bereik het.

Die volgende verskynsel is die “kits- politieke mobilisasie” deur selfone, wat binne twee jaar ’n deurslaggewende fenomeen geword het. Hierdie ingrypende meganisme van mobilisering, wat moontlik gemaak word deur die kommunikasienetwerke tussen selfone, het ’n merkwaardige impak gehad in Suid-Korea, die Filippyne, die Oekraïne, Thailand, Nepal, Ecuador, Frankryk... Soms met onmiddellike effek, soos verlede April in Thailand met die ontslag van die Eerste Minister, Thaksin Shinawatra, deur die koning, Bhumibol Adulyadej. Of soos in Spanje, waar mnr. José Maria Aznar ’n nederlaag gely het by die wetgewende verkiesings van Maart 2004. Waar ETA die gevaar geloop het om verantwoordelik gehou te word vir die sluipaanvalle in Madrid, weens vermoedelik die effek van die owerhede se manipulasie van inligting, het ’n oneindigheid boodskappe per selfoon gesirkuleer om ’n grootskaalse protesopstand te organiseer, op ’n dag toe die nawerking van skok en rou die uiting van enige politiese siening feitlik ondenkbaar gemaak het.

Die afleiding is egter nie dat daar twee tipes media bestaan nie : aan die een kant daardie wat hulle by die heersende gesag skaar, en aan die ander kant die massaselfmedia, wat met maatskaplike bewegings geassosieer word. Beide funksioneer op ’n dubbele tegnologiese platform. Die bestaan en ontwikkeling van die massaselfkommunikasie-netwerke bied egter aan die gemeenskap die moontlikheid van groter beheer en betrokkenheid, en aan linksgesindes ’n wyer bevoegdheid vir politieke organisasie.

Terwyl die hoogdrawende, formele demokrasie ’n fundamentele krisis beleef waarin burgers nie meer glo in hulle eie demokratiese instellings nie, blyk dit dat hierdie ontploffing, reg onder ons neuse, van die massaselfkommunikasies, die rekonstruksie van nuwe politieke vorms verteenwoordig. Dit is egter nog baie moeilik om te sê waarop dit sal uitloop.

Ons kan egter seker wees van een ding : dit is ’n geveg wat op die terrein van kommunikasie sal uitspeel en wat rekening sal moet hou met die nuwe diversiteit van tegnologiese middele. Dit is immers die oudste soort geveg in die menslike geskiedenis – ’n geveg wat gemoeid is met die bevryding van ons denke. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=665
Artikel nagegaan:
    -