blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Le Monde diplomatique: Die “Meganiese Turk” kom weer 2006-08-16
Pierre Lazuly

*Skrywer, op die internet, van Chroniques du menteur (menteur.com), en werfmeester van die toegangspoort rezo.net. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]

 

Vir lank is geglo dat “kunsmatige intelligensie” eendag die rekenaar in staat sal stel om sonder die mens oor die weg te kom. Verkeerd. Die rekenaar het tot die slotsom gekom dat dit lonender is om ’n mens te betaal –  ’n hongerloon – om ondergeskikte take te verrig waartoe hy nie self in staat is nie.

In 1769 wek die Hongaarse ingenieur, Johann Wolfgang von Kempelen, groot opspraak in Europa toe hy die gesofistikeerdste outomaat van sy tyd bekendstel: ’n marionet wat skaak speel. Die outomaat, alias die “Meganiese Turk”, was ’n lewensgroot marionet met snor en tulband, wat agter ’n groot kas gesit het. Maak ’n mens laasgenoemde oop, sien jy ’n subtiele stelsel van stokkies, stawe en ratte: ’n meganisme wat gereeld met ’n lang sleutel opgewen moet word maar wat, volgens sy uitvinder, aan die outomaat kunsmatige intelligensie gee wat die meeste mense s’n oortref.

Dié “Turk” was glad nie ’n slegte speler nie. Op sy reis deur Europa wen hy die meeste van sy wedstryde: hy klop onder andere Benjamin Franklin in Parys en keiser Napoléon Bonaparte in Schönbrunn, ten tyde van die Wagram-veldtog.

Maar dit was eintlik ’n kullery: agter die ratwerk wat voor sigbaar was, het die kas ’n geheime kompartement gehad waarin ’n regte bobaas-skaakspeler weggekruip het. Met spieëls kon hy die stukke dophou en dan die outomaat se bewegings beheer. Die “Meganiese Turk” het sy uitstekende spel alleen aan die versteekte speler se talent te danke gehad – kunsmatige intelligensie het nog nie die lig gesien nie.

Daar moes nog twee eeue gewag word om in 1997 te sien hoe die skaakkampioen, Gary Kasparov, teen ’n regte outomaat in die stof byt. Dié keer was daar geen kullery nie: die IBM rekenaar Deep Blue word die eerste masjien wat dit regkry om ’n huidige wêreldkampioen in skaak te klop binne die tydreëls van ’n tradisionele toernooi. ’n Mens kon dus verwag dat grysstof kort voor lank vir ’n goeie aantal verstandelike take oorbodig sou raak.

En tog, teen alle verwagtinge in, blyk die “Meganiese Turk” nog springlewendig te wees ... met ’n nuwe byderwetse baadjie wat die wêreldleier in elektroniese handel, Amazon, hom aantrek onder die naam “Amazon Mechanical Turk” of MTurk (1). .Dié keer gaan dit nie meer om ’n skaakspeler nie, maar ’n algemene koördinering van die gebruik van menslike intelligensie om take te verrig wat rekenaars nie kan, of nie goed kan doen nie. “Die mens oortref die kragtigste masjiene nog ver wanneer dit kom by eenvoudige take soos om voorwerpe op foto’s uit te ken – iets wat ’n kind wat nog nie eens kan praat nie, reeds kan doen,” verduidelik Amazon.

Oorspronklik wou die maatskappy bloot sy kliënte se breinkrag inspan om in sy eie behoeftes te voorsien: keuse van die beste foto vir ’n vensterversiering, skryf van produkbeskrywings, uitken van die sanger van ’n betrokke deuntjie. Take wat moeilik geoutomatiseer kan word, maar wat miljoene kuberreisigers bereid is om teen ’n appel en ’n ei te verrig, of in ruil vir koopbewyse vir die einste elektroniese koopwerf.

Gou het Amazon besef dat sy MTurk kolossale gebruike kan hê. Hulle omskep dit in ’n volwaardige diens, mturk.com, met die status van ’n filiaal. Bo en behalwe sy aanvanklike doel, word MTurk inderdaad ’n algemene diens wat enige intelligente aktiwiteit enige plek in die wêreld kan verskaf: enigeen kan die nuwe “Turk” ’n taak oplê, met vrye teuels om die vergoeding te bepaal, en enigeen “met ’n rekenaar wat aan die Internet gekoppel is en wat ouer as 18 is”, kan aanbied om dit te doen. Amazon kry sy vergoeding uit die 10% kommissie wat hy op transaksies hef.

Van die oomblik dat die diens geskep is, het miljuisende kuberreisigers hulle na die webwerf gehaas in die hoop om vinnig geld te maak ... Gou is hulle ontnugter: die “vergoeding” vir ’n “menslike intelligensie-taak” word dikwels in sent uitgedruk. Een sent is om die waarheid te sê die mees gebruiklike vergoeding vir take wat op Amazon aangebied word: “Noem Metallica se drie beste albums”, of “Waar is die drie beste Ierse pubs in Seattle?”. Mens kan hoop op tot 2 sent as jy die beste plek aandui om ’n motor se olie te vervang in New York, of jy nou die stad soos die palm van jou hand ken, en of jy sommer ’n geloofwaardige antwoord van enige plek op aarde deur ’n soekenjin gekry het.

Afgeleide gebruike van die “Meganiese Turk” bring nie veel meer in nie. Die nuwe onderneming, Casting Words, span byvoorbeeld die Amazon-diens in om ’n “outomatiese transkripsie deur menslike oorskrywers” (sic) aan te bied teen die helfte van die prys wat so ’n diens gewoonlik kos: 42 sent van ’n dollar vir elke minuut wat getranskribeer word (2). Ondanks die ondankbare taak en skamele vergoeding kry die maatskappy oorgenoeg gewillige hande om klanklêers af te laai en – “gewoonlik in minder as 24 uur” – die transkripsie terug te stuur.

Nog verbasender: vir sommige take is dit nie eens nodig om vergoeding aan te bied nie. Dit is onder meer  die geval met “Google Answers”, ’n soortgelyke stelsel waar vrywillige webgebruikers vrae beantwoord wat deur ander gestel is, en dit gratis. Net soos die ontwikkelaars van gratis sagteware of skrywers van die aanlyn-ensiklopedie, Wikipedia, ook gratis werk. Finansiële gewin is slegs nodig vir werk waartoe geen vrywilliger sommer sal instem nie.

Wie is dié spookwerkers? Volgens Amazon, mense wat “geld in hulle vrye tyd wil verdien” en op MTurk ekstra werkies kry wat hulle kan doen waar en wanneer hulle wil. Dit lyk na ’n soort juridiese niemandsland waar werk nie heeltemal werk is nie (die “vergoeding” is nie werklik ’n salaris nie) en waar geen kontrak tussen “aanvraers” (wat take voorstel) en “verskaffers” (die webgebruikers wat aanbied om dit uit te voer en wat net betaal sal word indien die aanvraer tevrede is) nodig is nie.

Nietemin, in sy eindelose “Diensvoorwaardes” (20 bladsye wat sonder voorbehoud aanvaar moet word), toon Amazon dat hy volkome bewus is van sy wetlike pligte: agter die newelige beginsel van “kunsmatige kunsmatige intelligensie” (3) (sic), gaan dit duidelik om menslike arbeid. Die maatskappy waarsku “verskaffers” dat hulle arbeidswetgewing moet respekteer, onder meer die registrasieverpligtinge wat onafhanklike werkers moet nakom en die maksimum toegelate hoeveelheid werk. Dit bepaal verder dat die gebruik van die diens geensins ’n werkgewer/werknemer-verhouding impliseer nie, nóg met die “aanvraers”, nóg met Amazon, en dat “verskaffers” onder geen omstandighede op die voordele wat die “aanvraers” of Amazon hulle werknemers gee – betaalde verlof, siekteversekering of ouderdomspensioen – kan aanspraak maak nie.

Vir die rekenaarskrywer David L. Margulius, wat dié nuwe vorm van “stukwerk” beproef het en sy maksimum uurlikse salaris op 3,60 dollar geskat het (die federale minimum salaris in die VSA die afgelope nege jaar, wat die Kongres so pas geweier het om aan te pas, is 5,15 dollar per uur), gaan dit in werklikheid om ’n nuwe vorm van desentralisering wat nie sy ware kleure wys nie. “Wat my fassineer – benewens die kreatiwiteit waarvan hulle blyke gee en die feit dat dit tegnies gesproke gaan om ’n salaris wat laer as die gewaarborgde minimum is – is hoe Amazon ’n manier gekry het om die tendens van ‘offshoring’ tot sy uiterste toe te dryf met wat ’n mens kan noem “Webshoring”. Niemand wonder eens meer in watter land die werker hom of haar bevind nie, solank die werk maar gedoen kom sonder enige bykomende bestuurskoste.” (4)

Aanlyn-videospeletjies is ’n uitstekende voorbeeld van dié verskynsel. In die bekendste een, World of Warcraft (uitgegee deur ’n filiaal van Vivendi, Blizzard Entertainment), evolueer spelers, wat ononderbroke gekonnekteer bly, in ’n virtuele wêreld waar hulle ander spelers ontmoet en onderling op mekaar reageer (gesprekke, handeldryf, gevegte). Ongeveer tien volle dae is nodig om die nodige wapens, geld, ensovoorts bymekaar te maak om jou karakter tot op die mees gevorderde vlakke te bring. Eers dan raak die spel interessant. Maar waarom wag? Danksy elektroniese markte, vergelykbaar met MTurk, kan die meer gegoede kuberreisiger teen enkele tientalle dollars vir hom karakters aanskaf wat reeds goed “gevorder” het. Aan die ander ent verduidelik ’n jong Sjinees: “Twaalf ure ’n dag, sewe dae ’n week, is ek en my kollegas besig om monsters te verslaan. Ek verdien omtrent 250 dollar per maand, wat deksels goed is in vergelyking met my vorige werke. En ek kan heeldag lank speel.” Sommiges skat dat 100 000 Sjinese so voltyds werk om deur die vlakke te kom waar ander nie lus het om te speel nie (5). En die koper weet nooit wie agter in die kas wegkruip nie.

Tog is dit soms nodig om die vermoëns van die geheimsinnige skim agter die skerms te ken: dit mag ’n kampioen wees, ’n Bobby Fischer… of ’n treurige skaakspeler wat die outomaat in die skande steek. Waar die opgelegde take dus meer gekwalifiseerde aktiwiteite behels, word die vereistes strenger. Bekwaamheidstoetse, rekord van werk wat reeds gedoen is ... en steeds die moontlikheid vir die “aanvraer” om die gedane werk van die hand te wys as hy nie tevrede is nie – wat ’n klad laat op die “verskaffer” se “reputasie”, in syfers aangedui.

Maar in ’n bepaalde opsig toon Amazon se MTurk ’n beduidende agterstand op dié gebied. Dit is dalk die ideale plek om ’n meningspeiling te doen, maar vir gekwalifiseerde werk verkies werkgewers om hulle tot gespesialiseerde markte te wend. “Elke bieër se CV en reputasie kan aanlyn bestudeer word, en wanneer jy jou keuse gemaak het, kan jy die dienste van jou deskundige programmeerder in slegs ’n paar klikke bekom!”, verseker byvoorbeeld Rentacoder.com, ’n webwerf waar onder andere Russiese, Indiese en Pakistanse rekenaarkundiges meeding om aan jou projek te mag werk.

Minder in die algemeen bied eLance.com die dienste van grafiese kunstenaars, kopieskrywers, webwerfontwerpers, vertalers of regskenners aan, met reeds 100 000 gebruikers en getekende kontrakte ter waarde van 90 miljoen dollar op sy kerfstok. “Professionele mense ding mee om aan jou projek te werk, wat beteken dat jy die beste moontlike prys kan kry,” verduidelik die webwerf, en gaan kripties voort: “Dikwels spaar jy meer as 60% in vergelyking met plaaslike kontrakte.” Weereens “Webshoring”: nie ’n woord word gerep oor jou geografiese ligging en wat dié “beste moontlike prys” daar mag beteken nie. “Arbeid is ’n handelsartikel en kan as sulks mee handel gedryf word. Wanneer ’n handelsartikel op die mark gesit word, hang dit nie van die verkoper af of die prys opgestoot word nie, maar van die koper,” merk die konserwatiewe Britse filosoof Edmund Burke reeds in 1795 op. “Of dit nou vir die man wat sy arbeid op die mark sit, onmoontlik is om ’n bestaan daaruit te maak, is vir hierdie benadering totaal irrelevant.” (6)

Op die gebied van vertaling is dit ’n program wat sy merk maak: Trados. Dié werktuig kan uitdrukkings wat reeds vertaal is, uitken en oral dieselfde vertalings daarvoor insit, en beloof om dus “samehang in die taalgebruik te waarborg en die werk vinniger af te handel”. Dit maak dit veral moontlik om vertalers te betaal volgens die aantal woorde wat verskil. Op die TranslationZone-mark word vertalers net toegelaat om aan die “globale ekosisteem” deel te neem as hulle die Trados-program (700 euro) gebruik en ’n sertifiseringseksamen (tussen 50 en 300 euro) geslaag het.

MTurk slaan dieselfde koers in, en hou op sy beurt kwalifiseringsessies vir vertalers. Amazon se “Von Kempelen”-span kondig byvoorbeeld aan dat hy bekwaamheidstoetse gepubliseer het vir vertaling van Engels na Spaans, Frans, Duits en Hebreeus, en moedig “Turkers” wat dié tale vlot magtig is, aan om die toetse af te lê ten einde in die toekoms van “meer omvangryke werk” verseker te wees.

“Ons is besig om ’n elektroniese arbeids- en arbeidersmark te skep,” voorspel Jeff Barr, “evangelis” van Amazon se dienste. “Voortaan kan jy menslike intelligensie op groot skaal in jou bedrywighede inkorporeer.” Per slot van rekening is die mens maar net nog ’n verwerkingseenheid. En anders as wat daar gemeen mag word, is dit dalk nog die goedkoopste van almal…

 

_________

(1) http://www.mturk.com

(2) “Software Out There”, The New York Times, 5 April 2006.

(3) Cf. “Artificial artificial intelligence”, The Economist, Londen, 10 Junie 2006.

(4) “Ogre to Slay? Outsource it to the Chinese”, The New York Times, 9 Desember 2005.

(5) David L. Margulius, “Amazon Mechanical Turk kicks off 'Webshoring'”, Infoworld, San Francisco, 18 November 2005.

(6) Edmund Burke, “Thoughts and Details on Scarcity”, aangehaal deur Robert Castel, Les Métamorphoses de la question sociale, Parys: Fayard, 1995. 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=664
Artikel nagegaan:
    -