|
||||
Gadi Algazi
*Professor in geskiedenis aan die universiteit van Tel Aviv en een van die stigters van die Joods-Arabiese vereniging Taayoush. Uit die Frans vertaal deur Sonya van Schalkwyk-Barrois, [email protected]
Modi’in Illit is ’n groot Joodse kolonie op die Wesoewer wat die grondgebied van vyf Palestynse dorpies beset: Ni’lin, Kharbata, Saffa, Bil’in en Dir Qadis. Dit is om die waarheid te sê die nedersetting wat die vinnigste ontwikkel; binnekort behoort hy dorpstatus te verkry: die Israelse Minister van Behuising voorsien dat sy inwonertal van 30 000 tot 150 000 in 2020 sal toeneem. Dit vorm deel van daardie “kolonieblokke” wat die een Israelse regering na die ander uitgebrei het en beoog het om in te lyf. Dit illustreer ook die verband tussen die skeidsmuur en die uitbreiding van kolonies: die ontwikkeling van Modi’in Illit het die ondergang beteken van die Palestynse boere van Bil’in, ’n klein dorpie met 1 700 inwoners wat deur die bou van die muur van die helfte van hulle oorblywende grond ontneem is: ongeveer 2 000 doenams (1). Sedert Februarie 2005 is die inwoners van Bil’in verwikkeld in ’n nie-gewelddadige stryd teen die muur. Naas militante Israeliese kampvegters vir vrede en internasionale vrywilligers, protesteer hulle elke Vrydag, hand aan hand, voor die stootskrapers en soldate. Hulle span saam met ander Palestynse dorpies wat die afgelope vier jaar ’n moeilike weerstandsveldtog voer. Hierdie optredes, waaroor daar haas niks buite Palestina bekend is, en wat dikwels deur Volkskomitees teen die Muur georganiseer word, het tot dusver beskeie dog merkbare resultate bereik: hulle het dit al reggekry om die bou van etlike skeidings wat hulle van hulle grond beroof en hulle verplig om in enklaves te woon, stop te sit of te vertraag. In Budrus en in Deir Ballut het die Komitees selfs daarin geslaag om die ligging van die muur te verander, en so ’n deel van die gekonfiskeerde wingerde, landerye en waterbronne terug te kry. Die betekenis van hierdie beskeie oorwinnings word duidelik as ’n mens dink aan die onbetwiste militêre oormag van Israel. Danksy sy militêre krag asook die steun van die VSA, en met die vrugte wat hy pluk van mnr. Ariel Sharon se onttrekkingsveldtog, wen die Hebreeuse staat grond teenoor die Palestyne wat al meer geïsoleerd raak en in ’n bose lig gestel word. In die buiteland word Israel se eensydige beleid al hoe meer aanvaar, al is dit dan ook soms teësinnig. Dit is veral hierdie “Intifada van die muur” se langtermyninvloed wat belangrik is. Die herhaalde nie-gewelddadige massa-optogte, hoewel broos en op klein skaal, wat ’n marginale rol aan die begin van die tweede Intifada gespeel het, lyk of dit ingewortel raak en vrugte begin dra. Namate die kanse op regverdige vrede in Palestina begin wegkwyn en die Palestyne van die Wesoewer daaraan gewoond raak om in enklaves (2) tussen skeidings en mure te leef, baan die vreedsame optogte nuwe weë vir die toekoms. En saai hulle, aan beide kante, die saad vir ’n gedeelde stryd in die toekoms. ´n Totaal van tweehonderd mense is in Bil’in beseer tydens die gewelddadige uiteenjaag van die optogte, en talle ander is gearresteer onder diverse voorwendsels. Die Israeliese weermag, grenswagte, polisie asook private sekuriteitsmaatskappye is teen die ongewapende protesteerders gemobiliseer. Knuppels, traangas, rubberkoeëls en werklike geweervuur het talle slagoffers gelaat (3). Van Israel se kant word erken dat spesiale magte (deel van die Massada-eenheid) lokvinke geplaas het wat hulle as Arabiere voorgedoen het in vreedsame optogte ten einde die deelnemers tot geweld aan te hits (4). Slegs die vasberadenheid van die Volkskomitee het verhoed dat hierdie provokasies tot ’n onbeheersde eskalasie lei. In werklikheid het die muur verskerpte beskerming nodig – teen die vreedsame teenstand van die Palestynse dorpenaars en hulle bondgenote. Want sy einddoel is die skep van ’n groot koloniale projek: Modi’in Illit. Daar word dikwels aan die Israeliese besetting gedink in terme wat aan interstaatlike konflikte ontleen word (en die skep van die Palestynse owerheid het slegs dié tendens verskerp). Maar in werklikheid gaan dit om ’n koloniale twis. Die simboliese dade, die diplomatieke pogings en openbare verklarings is aan die kwyn op die terrein in die aangesig van die naakte feite: putte en olyfboorde, geboue en paaie, emigrasie en nedersetting. Dit is die landskap self wat radikaal deurmekaar gekrap word, nie net politieke grense nie. Die militêre beheer wat Israel sedert 1967 uitoefen, het ’n gunstige raamwerk geskep vir die versterking van hierdie koloniale meganisme. Nedersettings, skeidingsmure en paaie is die mees opvallende tekens – die kolonies self is die grootste struikelblok vir die skep van ’n waarlik onafhanklike, lewensvatbare Palestynse staat. Van 1967 tot 2006 het die Hebreeuse staat na skatting ongeveer 40 000 wonings teen ’n koste van 4,3 miljard dollar op die Wesoewer gebou. En in Januarie het die getal koloniste wat in die besette gebied gevestig is – buite Jerusalem – onder andere die Golanhoogland, verby die 250 000 getrek. (5) Hoewel hulle dikwels veroordeel word, word daar selde van nader na die Israeliese koloniste in die besette gebiede gekyk. Om te weet wie by die koloniale projek baat en waarom gewone mense daarby staan, moet ’n mens hulle samestelling en ekonomie egter van naderby beskou. Modi’in Illit is in verskeie opsigte´n tekenende voorbeeld. Dit is eerstens ’n onderneming wat nie deur die Messiaanse koloniste en hulle politieke verteenwoordigers geloods word nie, maar deur ’n heterogene bondgenootskap van eiendomsagente met hulle oog op grondgebied, kapitalistiese beleggers op die uitkyk na wins, en politici ten gunste van kolonisering. Dit is een van die min nedersettings wat aangehou het om uit te brei tydens die tweede Intifada. Die inwoners is nie nasionalistiese vuurvreters nie, maar hoofsaaklik groot gesinne streng ortodokses wat nie soseer met politieke Sionisme en selfs Israel gemoeid is nie, maar bowenal op soek is na beter lewensomstandighede. Dit is ’n sameloop van maatskaplike ellende, vinnige profyt en genadelose onteiening. Modi’in Illit, wat voorheen Kiryat Sefer geheet het, het nie soos die meeste kolonies sy ontstaan (in 1996) te danke aan ’n alliansie tussen regeringsowerhede, Sionistiese organisasies en ekstremistiese kolonistebewegings nie: die inisiatief het gekom van privaat ondernemers, ná die Oslo-ooreenkomste in 1993 en op ’n tydstip toe die privatisering van die ekonomie in Israel opgevlam het. Dit is ’n tipiese voorbeeld van ’n nuwe soort koloniale nedersetting, gelei deur private fondse en met die steun van die staat. Die plaaslike raad het – volgens die nasionale ouditburo se verslag – voorkeurbehandeling aan eiendomsontwikkelaars gegee: spesiale voordele, vrystelling van bouregulasies, belastingvermindering, ens. Duisende wonings is gebou in direkte botsing met die wet, met die post facto goedkeuring van die plaaslike raad, wat die onwettige bouwerke wettig gemaak het deur terugwerkend die stads- en streeksbeplanning aan te pas (6). In die Israeliese pioniersland gaan politieke dringendheid en kolonisering gepaard met vinnige profyt vir beleggers. Volgens ’n ondersoek in 1998 is die hele “Brachfeld gebied” op die Bil’in grond byvoorbeeld sonder bougoedkeuring opgerig – tog is geen huise daarna afgebreek nie. ’n Groot gedeelte van die rioolwater word in die Modi’inrivier gestort, wat plaaslike waterbronne besoedel. Dit is nie die gevolg van korrupsie of wanbestuur nie, maar ’n wesenlike aspek van koloniale voorposte: ongereguleerde nedersetting maak die pad oop na groot winste ten koste van die omgewing. Die Palestynse inwoners van Bil’in het te kampe met ’n magtige alliansie van politieke en ekonomiese belange. Twee woongebiede gaan op die grond wat van hulle weggeneem is, gebou word. Een van hulle, “Green Park”, is toegesê aan Dania Cebus, ’n filiaal van die Africa Israel Corporation wat aan een van Israel se invloedrykste sakemanne, Lev Leviev, behoort (7): hierdie kolossale 230 miljoen dollar-projek beoog die bou van 5 800 woonstelle. Africa-Israel se bedryfswinste het in die eerste drie kwartale van 2005 met 129% gestyg (8). Ander groot bouondernemings het by dié van mnr. Leviev aangesluit. Almal beleggings wat berus op die bou van die muur, wat daarop uit is om die dorpenaars van Bil’in van hulle grond af te sny en die “veiligheid” van die nuwe woongebiede te verseker. Hier, soos in vele ander kolonies wat tussen die Groen Lyn en die “veiligheidskeiding” opgerig is, voltooi die muur die inlywingsproses en verhoog die waarde van die eiendomsbeleggings. Die Custodian of Absentee Property (bewaarder van afwesiges se eiendom) en die Land Redemption Fund (fonds vir die terugkoop van grond) doen hulle voor as die wettige eienaars van die grond waarop een van hierdie woongebiede gebou word. Die Custodian, ’n regeringsliggaam wat die “grond van afwesiges” moet bestuur, dien in werklikheid om Palestynse grond wat aan vlugtelinge in Israel en, meer onlangs, in besette gebiede behoort, in te palm. Israeliese menseregte-organisasies het vasgestel dat dit as skuilnaam vir die kolonistefonds gebruik word tydens “rondgaande transaksies”. Die Fonds, wat sowat twintig jaar gelede gestig is, spesialiseer op sy beurt in die terugkoop van grond in die kolonies se uitbreidingsgebiede. Onder die stigterslede tel ene Era Rapaport, een van die organiseerders van die terroristenetwerk wat aan die begin van die 1980’s in die besette gebiede werksaam was – hy het etlike jare in die tronk deurgebring vir die moordpoging waartydens die burgemeester van Naploes, Bassam Chakaa, albei sy bene verloor het. (9) Twee Israeliese joernaliste het ’n haarfyn ondersoek gedoen na die aankoopmetodes van dié fonds, waarvan “die inligtingsnetwerk bestaan uit voormalige [Palestynse] samesweerders wat na hulle dorpe toe teruggekeer het nadat hulle aan die kaak gestel is, afgetrede Israeliese agente van die Algemene Veiligheidsdiens wat inligting teen vergoeding verskaf [...], en voormalige militêre goewerneurs [wat gebruik maak van hulle] konneksies in die dorpe”. Arabiese frontmanne tree as tussengangers op: hulle doen hulle voor as kopers, terwyl die grond eintlik aangekoop word met “fondse afkomstig van regsgesinde Joodse miljoenêrs soos Lev Leviev en die Switserse magnaat Nissan Khakshouri” (10). Soortgelyke metodes is ingespan om die grond van Bil’in te bekom (11). So strengel die koloniale plan ekonomie en politiek ineen. Onder die skenkers aan die Fonds kry ’n mens kapitaliste wat betrokke is in bouwerk en eiendomsontwikkeling in ander kolonies. Hulle skenk aansienlike bedrae aan ekstremistiese koloniste, uit politieke oortuiging maar ook met die oog op vet winste. Die sektore waarop die Fonds besluit om te fokus is ook van belang: sy hoof doelwit is om “die Groen Lyn [die Israelse grens van voor 1967] te vervaag deur die nedersettings [op die Wesoewer] met die gemeenskappe binne die Lyn te verbind en hierdie gemeenskappe na die [besette] gebiede toe uit te brei”, ten einde “die feite op die terrein vas te lê”. Dit vorm deel van ’n nog omvangryker operasie wat oorspronklik deur Ariel Sharon op die been gebring is, en wat sedert die 1980s besig is om die Groen Lyn te laat verbrokkel deur nedersettings vir nie-ideologiese koloniste naby Israel se ekonomiese sentra te skep. Tydelik stopgesit deur die tweede Intifada, hervat die projek geleidelik in 2003 met die voltooiing van dele van die muur, wat tot die de facto anneksasie van sones tussen die muur en Israel lei. Deur gemeenskappe agter die muur te laat verdwyn, kan beleggers en koloniste van ’n hoër lewenspeil in ’n beveiligde gebied verseker word. Die etniese opruiming is nie noodwendig skouspelagtig nie... Die Israeliese kolonies teenaan die skeidingsmuur is van strategiese belang. Hulle dien as aanvulling vir die stelsel van skeidings en mure waarmee Israel beoog om sekere dele van die Wesoewer te annekseer. Maar hulle vorm ook ’n strategiese teelaarde waar ’n magtige politieke en ekonomiese alliansie tussen rykdomme, heterogene groepe koloniste en heersende politici besig is om tot stand te kom. Die “muurkoalisie” wat tans Israel regeer, dateer nie uit die jongste verkiesing nie. Verenig rondom die nalatenskap van Ariel Sharon, bring dit voorstanders van progressiewe inlywing (“Israel moet die kolonieblokke behou”) en dié wat ten gunste van “redelike” koloniale uitbreiding is (en wat nie sukkel om goed te vertoon naas die “bose”, onstuitbare koloniste nie), saam. Onder die dubbele vaandel van etniese skeiding en ekonomiese privatisering beloof hierdie alliansie nie vrede aan die Israeli’s nie, maar ’n eensydige paaiery gekoppel aan ’n gedeeltelike inlywing wat die Wesoewer sal versnipper en die oorblyfsels daarvan in drie ommuurde enklaves sal verdeel. Hoewel hierdie alliansie onlangs in die politieke arena gevorm is (sy voorstanders behoort nie slegs aan Kadima van Ariel Sharon en Ehud Olmert nie), is sy ekonomiese en maatskaplike fondamente heelwat vroeër teen die heuwels van die Wesoewer gelê. Dit sluit koloniste, staatsorganisasies wat die skeidings finansier, eiendomsmaatskappye en hoë-tegnologiefirmas – die ou en die nuwe ekonomie – in. Die nedersettings wat tans in die skadu van die muur gebou of uitgebrei word, is die toonbeeld daarvan. Dit is juis omdat hulle nie net op die Messiaanse ywer van die fanatieke koloniste gebou is nie, maar ook in maatskaplike behoeftes voorsien – lewensgehalte vir die middelstand, werksgeleenthede en gesubsidieerde behuising vir die minder bevoorregtes – dat hierdie nedersettings die koloniseringsbeweging se maatskaplike basis vergroot en ander belange daarby betrek: dié wat werklike voordeel uit die muur trek, ondernemers, kapitaliste en koloniste uit die meer gegoede klasse wat op soek is na ’n beter lewenspeil in die nuwe vergulde ghetto’s, ver van die armes, en beskut teen die Palestyne. (12) Joodse kolonies het sonder ophou gegroei tydens die Oslo-jare: hulle inwonertal het meer as verdubbel tussen 1993 en 2000. Maar as ’n mens van nader kyk, was die hoof arena van hierdie groei ’n paar groot nedersettings waar nie-“ideologiese” koloniste woon: immigrante uit Rusland en Etiopië wat die owerhede daar gevestig het, inwoners van arm woonbuurtes wat hoop op ’n beter lewe, en groot gesinne streng-ortodokses op soek na gesubsidieerde behuising. Hierdie mense het eers teen die einde van die 1990s teësinniglik die koloniale projek begin steun, aangespoor deur privatisering en die vinnige ontbinding van die welsynstaat in Israel. Modi’in Illit en Betar Illit alleen bevat meer as ’n kwart van al die koloniste op die Wesoewer, hoofsaaklik streng-ortodokse Jode. Waar die ander kolonies se sosio-ekonomiese peil bo dié van die Israeliese gemiddelde is, is hierdie die twee armste van al die Joodse gemeenskappe. (13) Soos ’n deskundige dit in September 2003 aan ’n joernalis verduidelik het, is dit die behuisingskrisis in Israel wat hierdie families genoop het om hulle hier te kom vestig: “Hulle situasie was so wanhopig dat hulle bereid was om na enige plek toe te gaan.” En die woordvoerder van die koloniste se raad in Modi’in Illit beaam: “Selfs al het hulle nie om ideologiese redes hierheen gekom nie, sal hulle nie sommer maklik van hulle huise afstand doen nie.” (14) So word mense in koloniste omskep sonder dat hulle daarvoor gevra het. Die burgemeester van Betar Illit het aan dieselfde joernalis erken dat streng-ortodokses teen hulle sin na die besette gebiede gestuur word “as kanonvoer”. Noudat die muur nader beweeg, kan die koloniste van Modi’in Illit en Betar Illit hulle hoop daarin plaas – hulle verwag dat dit vir hulle veiligheid sal bring en vereenselwig hulle derhalwe met die onderneming om die Palestyne te onteien. Maar waar die uitbreiding van kolonies gevoed word deur die wegkwyning van maatskaplike regte in Israel, het die maatskaplike konflikte binne die Hebreeuse staat ook direkte gevolge vir die toekoms van die besetting: dit beklemtoon naamlik die onderliggende verband tussen die anti-koloniale stryd – teen die roof van Palestynse grond en die oprig van verdere kolonies – en die stryd om maatskaplike geregtigheid binne die grense van Israel self.
_________ (1) ’n Doenam is gelyk aan ’n tiende van ’n hektaar, oftewel 1 000 m². (2) Amira Hass, “Israeli Restrictions Create Isolated Enclaves in West Bank”, en “Four Types of Enclaves in the West Bank”, Haaretz, 24 Maart 2006. (3) Meron Rapaport, “Symbol of Struggle”, Haaretz, 10 September 2005. (4) Meron Rapaport, “Bil’in Residents: Undercover troops provoked stone-throwing”, Haaretz, 14 Oktober 2005; David Ratner, “Bil’in Protesters say bean bags are latest riot-control weapon”, Haaretz, 7 November 2006. (5) Haaretz, 8 Januarie 2006. (6) Kyk Israel's State Comptroller's Report, n° 51a (2000), pp. 201-218. (7) Leviev het sy fortuin gemaak uit die ontginning van diamante in Suid-Afrika, en deur gebruik te maak van sy lidmaatskap van die streng-ortodokse Loebavitch groep. Sy maatskappy roem daarop dat dit die “pionier in die bou van vergulde ghetto’s” in Israel was. Die onderneming bestuur onder meer winkelsentrums en beoog om die eerste privaat tronk in Israel op te rig. Cf. Aryeh Dayan, “Leviev Promises to Treat his Prisoners Nicely”, Haaretz, 28 November 2005. (8) Onlangse gegewens: www.maariv.bizportal.co.il (9) Shalom Yerushalmi, “Every Prime Minister who gave away Eretz Israel was hurt” (onderhoud met Era Rapaport), Ma'ariv, 5 April 2002. (10) Shosh Mula en Ofer Petersburg, “The Settler National Fund”, Yedioth Achronoth, 27 Januarie 2005; (Engelse vertaling www.peacenow.org/hot.asp?cid=247). (11) Akiva Eldar, “Documents reveal West Bank settlement Modi'in Illit built illegally”, Haaretz, 3 Januarie 2006; “State mulls criminal probe into illegal settlement construction”, Haaretz, 8 Januarie 2006. (12) Oren Yiftachel, “Settlements as Reflex Action”, in A Civilian Occupation: The Politics of Israeli Architecture, deur Rafi Segal en Eyal Weizman (Babel, Tel Aviv; Verso, Londen en New York, 2003), pp. 32-38. (13) The Israel Central Bureau of Statistics, Characterizing Local Councils and Ranking them according to the Socio-Economic Position of their Population, Februarie 2004. Die Arabiere in Israel is die heel armste van al die burgers. En onder die land se tien armste gemeenskappe tel agt Bedoeïen dorpe en twee Joodse gemeenskappe: Modi’in Illit en Metar Illit. (14) Tamar Rotem, “The Price is High”, Haaretz, 23 September 2003. |