blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Die FAK nou 2006-08-16

Veral jonger lesers van Die Vrye Afrikaan vra dikwels wat die FAK nou eintlik is en waarmee hy hom besig hou. In hierdie aflewering van FAK-nuus staan ons kortliks by hierdie vrae stil.

      Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings, die FAK, is in 1929 in Bloemfontein gestig op ’n kongres wat deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gereël is. Dit was in die tyd wat Afrikaner-nasionalisme die samebindende ideologie onder Afrikaners was en die FAK was ’n belangrike knooppunt tussen Afrikaner-intellektuele en die breër Afrikaner-gemeenskap. In die eerste sowat twintig jaar van die FAK se bestaan het die FAK dan veral ’n bydrae gelewer tot die nasionalistiese beweging met sporadiese sogenaamde “volkskongresse” oor sake soos onderwys en ekonomiese opheffing.

      In die jare na 1948 is die FAK soos tewens die hele breër spektrum van Afrikaner-kultuurorganisasies tot ’n hoë mate ingebind in die staatsbestel, en oor die volgende dekades sou die FAK eerder ’n verlenging van die staat as ’n platform van die gemeenskap word. Die lewenskragtigheid wat die FAK in sy eerste twee dekades gekenmerk het, sou toenemend taan en teen die vroeë 1990’s was die FAK grootliks afhanklik van staatsondersteuning om staande te bly.

      Dié onwenslike toedrag van sake is veral vanaf die laat 1990’s stelselmatig verander. Waar die FAK-direksie in ’n stadium uit bykans 30 lede bestaan het, is die FAK omgeskakel in ’n sogenaamde Artikel 21-maatskappy sonder winsbejag en die direksie verklein tot net meer as 10 lede.

      Dié rasionalisasie van die FAK het ook neerslag gevind in die afskaling van eiendomme gebruik deur of in besit of bestuur van die FAK. Terreine soos die Krugermuseum in Switserland en die Trap der Jeugd-sentrum in Vrededorp, Johannesburg is oorhandig aan ander instansies, ofskoon die FAK nie sy betrokkenheid by hierdie historiese terreine volkome opgesê het nie. Ook is die FAK hervestig in ’n historiese kliphuis op die terrein van die Voortrekkermonument.

      Benewens die administratiewe hersiening van die FAK, is daar ook begin met ’n proses van inhoudelike en finansiële hersiening. In die geval van simboliese organisasies soos die FAK word die aanname dikwels gemaak dat hersiening eerder finansieel of bestuursmatig moet wees, maar die FAK het vanuit die standpunt vertrek dat inhoudelike hersiening die voorwaarde vir ander vorme van hersiening is, of minstens hand aan hand daarmee gaan.

      Dié inhoudelike hersiening het uitgeloop op die besluit dat die FAK se inhoudelike vernuwing sou geskied deur in ’n sekere sin terug te keer na sy oudste wortels as metapolitieke of ideeforum wat ’n brug tussen intellektuele en die breër gemeenskap slaan. Die FAK vertrek vanuit die standpunt dat Afrikaners nie aan hulle eie gemeenskapslewe, aan die breër land of aan hulle vasteland kan deelneem as dit nie kan geskied aan die hand van bepaalde idees wat deel van ’n samehangende visie vorm nie. Hierdie visie is dié van ’n Afrika van selfrespekterende gemeenskappe waarin Afrikaners as demokratiese gemeenskap tussen ander gemeenskappe in goeie buurskap kan leef en werk vir ’n ander wêreld as een oorheers deur die mark en kulturele imperialisme.

      Die verwesenliking van hierdie visie impliseer simboliese en materiële kapitaal, asook ’n bepaalde verhouding met ander simboliese organisasies onder Afrikaners, die Afrikaanse wêreld en die breër Suid-Afrikaanse samelewing.

      Wat simboliese kapitaal betref, spits die FAK hom veral toe daarop om in gesprek met die voorste Afrikaanse intellektuele aan ’n demokratiese visie vir Afrikaners te help bou. Uiteraard word hierdie visie in voortdurende gesprek met die breër gemeenskap ontwikkel.

      Wat materiële kapitaal betref, handhaaf die FAK steeds goeie verhoudinge met groter Afrikaanse ondernemings en ’n verskeidenheid trustfondse. Hierbenewens het die FAK in die onlangse verlede hom begin toespits op klein- en middelslagsakelui wat sake vanuit ’n gemeenskapsetos doen en reeds heelwat sukses behaal.

      Wat ander simboliese organisasies betref, vertrek die FAK vanuit die standpunt dat verskillende organisasies elk hulle bepaalde fokusareas en sterkpunte het, en sien die FAK homself in ’n dialogiese verhouding met hierdie organisasies. Organisasies in die breër Suid-Afrikaanse samelewing wat met ander ideologiese benaderings werk, word gereeld in gesprekke betrek, aangesien die FAK nie glo dat ’n eie visie in isolasie gevorm kan word nie.

                Dit alles word beliggaam in spesifieke deurlopende projekte. Dié projekte sluit in: die uitgee van Die Vrye Afrikaan as ontledings- en meningsblad van gehalte; gereelde gesprekke met leidende Suid-Afrikaanse intellektuele en simboliese organisasies; die FAK-onderwysprojek gemik op die bestendiging en uitbreiding van Afrikaans in die onderwys asook moedertaalonderrig vir alle Suid-Afrikaanse kinders; deelname aan prosesse om groter samewerking onder Afrikaners te versterk; en die skepping van klimaat by wyse van standpunte en studiestukke wat van tyd tot tyd in die media bekendgestel word.

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=653
Artikel nagegaan:
    -