|
||||
Ignacio Ramonet
*Redakteur, Le Monde diplomatique. Uit die Frans vertaal deur Johann Rossouw, [email protected]
’n Massiewe bedrogspul. Onteenseglik. Mnr. José Manuel Barroso, President van die Europese Kommissie het dit erken. Die 25 Ministers van Buitelandse Sake van die Europese Unie het hul “ernstige besorgdheid” verklaar. “Dit is belangrik dat ons die kommer van die Europese Unie en al sy lidlande oor die uitslag van die presidentsverkiesing op die duidelikste moontlike manier oordra,” het die Nederlandse Minister van Buitelandse Sake gesê. Joernaliste Sonder Grense herinner ons daaraan dat “hierdie verkiesing plaasvind na vier jaar van aaneenlopende en ongekende agteruitgang van hierdie land se pers.” In Washington het mense soos mnre. Colin Powell, Henry Kissinger en Zbigniew Brzenski verklaar dat die Verenigde State nie die amptelike uitslae kan erken nie. Die Nasionale Demokratiese Instituut (NDI) onder voorsitterskap van die voormalige Amerikaanse Minister van Buitelandse Sake, me. Madeleine Albright; Freedom House onder leiding van die voormalige CIA-baas, mnr. James Woolsey; die American Enterprise Institute gestig deur oud-president Gerald Ford; asook mnr. George Soros se Open Society Institute het “massiewe manipulasies” afgewys en gevra vir “ekonomiese sanksies”. Senator Richard Lugan, voorsitter van die Amerikaanse Senaat se Kommissie vir Buitelandse Sake en afgesant van president George W. Bush, het nie geskroom om openlik te praat van “bedrog” nie: “Dit is duidelik dat daar ’n omvattende, doelgerigte bedrogaksie op die dag van die verkiesing was, óf onder leiding van die owerhede, óf met hulle medepligtigheid.” Kan u nie u oë glo nie? Vra u uself af hoe sulke uitsprake oor die onlangse Mexikaanse presidentsverkiesing u kon ontgaan het? U het rede om dronkgeslaan te wees. Nie een van die persone of instellings hierbo aangehaal het kritiek gelewer op wat pas in Mexiko gebeur het nie. Al die gerapporteerde kommentaar hierbo – alles eg – hou verband met die presidentsverkiesing van 23 November 2004… in Oekraïne (1). Die “internasionale gemeenskap” en die gebruiklike “organisasies wat vryheid verdedig” wat ons geken het as so aktief in Serwië, Georgië, Oekraïne en weer onlangs in Belo-Rusland, bly stil in die aangesig van die “verkiesingstaatsgreep” wat voor ons oë in Mexiko uitgevoer is (2). ’n Mens kan jou die planetêre verontwaardiging voorstel as hierdie selfde verkiesing, daarenteen, byvoorbeeld plaasgevind het in Venezuela en as die wenner – met ’n verskil van skaars 0,56% van die stemme – president Hugo Chávez was. Die Mexikaanse verkiesing van 2 Julie het twee hoofkandidate teenoor mekaar gestel: mnr. Felipe Calderon van die Nasionale Aksieparty (PAN, regs-Katoliek, aan bewind) wat (voorlopig) as wenner van die verkiesing verklaar is deur die Federale Verkiesingsinstituut (FVI), en mnr. Andrés Manuel López Obrador, van die Rewolusionêre Demokratiese Party (PRD, gematig links). Lank voor die verkiesingsveldtog was dit duidelik vir president Vicente Fox (PAN) en die owerhede aan bewind dat mnr. López Obrador met sy program van stryd teen armoede die kandidaat was om te klop. Met alle middele. Vanaf 2004 het ’n maneuver by wyse van klandestiene videobande versprei met die vriendelike medepligtigheid van die TV-kanale Televisa en TV Azteca – simpatiek teenoor die destydse bewind – probeer om mnr. López Obrador te diskrediteer. Verniet. Die volgende jaar is hy onder die vergesogte voorwendsel van minagting van wetlike norme by die bou van ’n toegangspad na ’n hospitaal veroordeel, opgesluit en gestroop van die reg om hom verkiesbaar te stel. Massiewe betogings het uiteindelik die owerhede gedwing om sy regte te herstel. Sedertdien het die slopingspoging voortgeduur. En ’n duiselingwekkende graad bereik in die loop van die verkiesingsveldtog (3). Des te meer omdat ’n vlaag van paniek posgevat het onder die Latyns-Amerikaanse oligargieë (en by die Amerikaanse administrasie) sedert die linkervleuel (byna) oral wen: in Venezuela, Brasilië, Uruguay, Argentinië… en die nuwe alliansies Kuba nie langer uitsluit nie (4). In so ’n konteks sou die oorwinning van mnr. López Obrador (die Verkiesingshof beslis op 6 September) te belangrike geopolitiese gevolge hê. Wat nóg die base nóg die Mexikaanse hoofstroommedia wil hê. Nóg Washington. Ten alle koste. Selfs al moet die demokrasie opgeoffer word. Maar mnr. López Obrador en die Mexikaanse volk het nog nie hul laaste woord gespreek nie.
___________ (1) Die idee om die reaksies op die Oekraïnse en Mexikaanse vergelykings te vergelyk kom van James K. Galbraith in “Doing Maths in Mexico”, The Guardian, Londen, 17 Julie 2006. (2) Oor die werklike omvang van die bedrog lees byvoorbeeld die verslag van 17 Julie 2006 van die Centro de derechos humanos Fray Bartolomé de Las Casas (www.sipaz.org/documentos/obsddcp/elec0606_s.html). (3) Lees oor die geweld van die aanvalle John Ross, “All against Lopéz Obrador”, Counterpunch, 6 April 2006. (4) Lees Bernard Cassen, “Une nouvelle Amérique latine à Vienne”, Le Monde diplomatique, Junie 2006. |