|
||||
Breyten Breytenbach en Yabadah Shamah
Onderstaande gedigte, waaronder Breyten Breytenbach se eerste gepubliseerde Afrikaanse gedig in etlike jare, is geneem uit ’n bloemlesing van jong Afrikaanse digters onder redaksie van Charl-Pierre Naudé, My ousie is ’n blom (uitgegee deur Snail Press). Die bundel verskyn in Septembermaand
belydenis Breyten Breytenbach
ek het nog nooit ’n vliegtuig geloods al vlieg ek gereeld die wêreld vol, ek het wel vir die skuifstonde van ’n wolk in die buik van ’n skip oor die ewenaar gedobber maar was nooit die matroos wat teen takelwerk uitklouter om die son aan te sien vir ’n vasteland nie
Sophia Loren het eens ’n bak dampende pasta vir my gekook met olie soos deursigtige semen besprinkel en haar borste was bleek soos swanger ooie sonder wol maar ek het nie met haar gevry nie
ek het nooit voor die volk gestaan om die koers deur die woestyn aan te dui met ’n staf wat bewe van woede en wraak nie al het ek ook waarskuwings onder my tong gestotter totdat my kiesvleise flenters was van bitter woorde kou
ek het nooit ’n huis-op-die-see met tien slaapkamers en ’n swembad vir naakte gaste besit nie maar wel ’n dakkamer in Parys met muise en motte en die neersif van jare se fyn swart besoedeling
ek het hoog en laag probeer preek teen armoede en onreg maar op die ou einde was ook dit slegs selfbevlekkende romantisme en niemand wou aanvaar ek is ’n Afrikaan nie
die olifant vir wie ek in die sirkus gewuif het het my tien jaar later nie meer herken nie
alhoewel ’n man die vrou se buik in kan gaan om daar te snoetel en snotter soos ’n vark in ’n trog sal hy nooit die vrou se verstand kan penetreer nie en buitenste duisternis sal hom verblind
ek het God nooit geken die hemelse vaandels nie sien wapper op die wind nog enige van sy of haar klone al het ek op my tone op die tafel mog kyk na die dolosse en die repe vlees van kadawers
my verstand het versand in begrippe van orde en niks het uiteindelik sin gemaak en daar was geen verskil tussen bo en onder nie en die blêrende skaap buite het vir fokol gevrek
ek was ’n soepel singende stryder om die horison binne te haal: in die spieël staan en buikpronk ’n lelike mens nou
ek het gedog ek sou die jeugdiges se hart met sang en vervoering om kon praat maar my enkele lesers is ou wrakke wat met week en stywe oog die losgetorringde voering van my betoog my toga van klagte tussen vers en kapittel kwytraak
ek het probeer ek het hard probeer om ’n groot gedig te skryf en soms darem dit opgebring wat in die plek daarvan kon staan
o liewe roubetonende biegleser: die reisiger van my aard en kondisie het baie maniere om kak aan te jaag maar die grootste strontspul van alles is om op pad huis toe te sterwe
My ousieYabadah Shamah
My ousie OO! sy is PRAGTIG, MOOI! Daar is ’n duur geskenk van die Hemel af, ja daar ons praat van volle liefde My ousie het ’n goeie verstaan
Luister, haar stem is soet van ver af dit klank musiek my oore kry heuning soet kos as ons gesels, OOI! my ousie maak my voël soos ’n koning rêrig my ousie is my blom en ek sal haar elke môre en naand met ’n haart vol van liefde naat maak
(Dankie vir die liefde asb. bly net ’n bietjie by my) |