blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Na aanleiding van Danie Goosen se “Afrikaners: Tyd vir groter samewerking” in die vorige uitgawe skryf ’n student van die Universiteit van Pretoria, Jan van Zyl 2006-08-16

Die gedagte van ’n “forum van forums” is in teorie beslis ’n rein gedagte. Ons moet egter besef dat daar praktiese implikasies is wat nie misgekyk moet word nie. Die skepping van ’n gesamentlike forum sal noodwendig veroorsaak dat ’n verskeidenheid organisasies oor ’n wye front hul trots in hul sakke sal moet steek, van hul eie mishope afklim, en met ’n oop gemoed gesprekke aanknoop. Een van die eerste uitdagings wat voor ons gaan opkom, is om onsself te definieer. Waar die FAK volgens die AKB (Afrikaner Kultuur Bond) ’n te wye definisie aan die Afrikaner koppel, voel die FAK dalk weer dat die AKB en Radio Pretoria groep ’n te eng defenisie aan Afrikanerskap koppel. Ek is egter daarvan oortuig dat die ou strydrosse van die AKB/Radio Pretoria/TLU SA nie sommer meer weggelaat kan word uit so ’n forum nie. Hulle verteenwoordig ’n magdom Afrikaners, en is die algemene opvatting steeds dat hulle die “kern” van die volk vorm. Maar aan die ander kant, waar sal mens dan die lyn trek? ’n Standpunt wat net te sterk ekstreem is, sal die proses kelder en nie positief ondersteun nie. ’n Standpunt wat weer te los is, en waar persone half skaam oor ons geskiedenis en identiteit is, sal ook nie positief ’n bydrae kan lewer nie. Dat die gevoel van eenwording, of dan ten minste groter samewerking oor ’n wye front besig is om beslag te kry, is inderdaad so. In die begin van 2006 neem die AKB, met heelwat organisasies onder hulle, die besluit om “in gesprek rakende groter samewerking, selfs met die FAK” te tree. Die vereistes wat gestel word, is steeds dat beginsels gehandhaaf word, maar op gemeenskaplike gronde saam ’n positiewe verskil te maak. Die samewerking mag nie onder enige bestaande organisasie se naam of administrasie vestig nie, en dit moet inklusief wees. Hierdie benadering van die AKB is verblydend. Die feit dat ek nou lees dat die FAK ook, onder min of meer dieselfde voorwaardes dieselfde doelwit gestel het, is ook verblydend. Sal ons dalk sien dat die twee hoofstrome in ons volk bymekaar uitkom? Al is dit dan net op sekere gemeenskaplike gronde. Ek doen aan die hand dat die volgende praktiese gedagtes neerslag sal vind in die proses: 1. Ons moet nie haastig wees nie. Niemand moet geforseer word nie. Elkeen moet uit eie wil, en volgens eie behoefte deelneem. Dit moet ’n proses word waar mense wil deelneem, en nie daartoe gedwing voel nie. 2. Kry en omskryf die gemeenskaplike gronde. Maak dit eenvoudig, en los die detail vir later, of vir elkeen se eie onderskeie organisasies. As voorbeeld besluit ons dat ons as Afrikaners saamstem oor die beginsel van Christelikheid. Punt. Nou moet ons nie in die dogma met mekaar begin stry nie, dit versteur net die proses. As iemand streng Calvinistiese beginsels binne sy organisasie wil beoefen, kom ons laat hom dan toe om dit steeds in sy moederorganisasie te doen. Maar gegewe natuurlik dat ons respek vir mekaar se verskille het. 3. Moenie deur eenwording die ontbinding van moederorganisasies soos bv. die FAK probeer bewerkstellig nie. Daardie organisasie gee vir sy lede ’n gevoel van beskerming en is dit die omgewing waarin hy homself kan uitleef. As jy uit ’n gemaklike veilige omgewing praat, sal jy meer bereik as om almal in iets te gooi waar persone kan voel dat hy nie noodwendig met die man langs hom wil saamstem nie. 4. Dit bring ons by respek vir die verskille. Ek verskil van die FAK se algemene benadering, maar gesprekke met bv. prof. Koos Malan wys my die logika agter sekere aspekte. Ek sal bly verskil met sekere FAK-benaderings, maar dit beteken nie dat ek die FAK in die proses wil vernietig nie. Inteendeel, ’n sterker FAK wat saam met my organisasies uit een mond praat is beter as ’n klomp swak organisasies wat mekaar probeer uitwis, en op die kantlyn staan die ANC en lag. Laat ons dan respek ontwikkel vir die verskille, en dan saamwerk op daardie gebied waar ons dieselfde glo. Al is dit vir ´n begin bv. net Afrikaans. 5. Kom ons leer by ons vyand. Die voorbeeld van die UDF in die 1980’s is verstommend. Binne die UDF was daar groot verskille, maar as dit gegaan het om hul stryd, het hulle uit een mond gepraat. En wat ’n kragtige mond was dit nie! Ons kan ook ons verskille hê, maar wat ’n kragtige effek sal dit nie wees as ons uit een mond praat as dit om die minderheidsbelange van die Afrikaner gaan nie? 6. Tereg soos prof. Goosen dit stel, die proses moet inklusief wees, en nie gekoppel word aan enige organisasie of groep nie. En ja, iemand onafhanklik is beslis die voorvereiste. In die woorde van dr. Andries Treurnicht, “Ons moet nie iets wat nog nie ryp is nie probeer ryp druk nie.” Ek glo die tyd is nou reg. So sien ons oor ’n wye front verskeie pogings om groter eenwording, of dan ten minste gesprekvoering onder Afrikaners te bewerkstellig. Met party groepe is die tyd dalk nog nie ryp nie, en ander dalk al lankal. Die tyd sal nog leer dat die FAK vandag die regte besluit neem. Een ding is seker, as ons nie iets op die tafel gaan plaas nie, gaan ons vir altyd by die tafel bly sit. En die nadeel kom ons volk toe. 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=650
Artikel nagegaan:
    -