blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Na aanleiding van Desirée van der Walt, DA-LP se brief in verlede maand se uitgawe skryf Vaughn Stoman uit Engeland 2006-08-16

Carel (iv) Boshoff bevraagteken Tony Leon se lojaliteite teenoor Afrikaners en wonder waarom hulle as groep hom ondersteun. As lojale werknemer verdedig Desirée van der Walt haar baas deur te meen dat hy progressief inpas by ’n moderne demokrasie waar sy party die hefbome in die politieke arena manipuleer, soos dit dan ook volgens haar hoort, want wat anders sou die alternatief wees? Die DA lei presies aan dieselfde illusie as De Klerk deur sy beleid van wigte en teenwigte wat die NP toe stadig tot sy einde laat bloei het omdat dit eenvoudig die demografiese werklikheid, en groepsidentiteite- en dinamika geignoreer het. Op die keper beskou, het ons te doen met botsende beskawings en nie net met verkillende belangegroepe wat in ’n oorkoepelende homogene samelewing skouers skuur nie. Dis ’n “ons-en-hulle stryd”, en nie net omdat dit ’n apartheidsoorgeblewe beskouing is nie, maar omdat dit ’n eeue-oue bloedig gevestigde realiteit is. Bloed is dikker as water, en hierdie liberale Eurosentriese “eenmensheidsteorie” wat die Desirées en hulle Tony-held tesame met sy NP-voorgangers gebring het om ons gedwonge “reënboognasie” te vergestalt is gedoem tot mislukking soos wat die Franse en Hollanders nou met skok besef toe hulle agterkom hulle immigrantebroers het nooit Hollands of Frans geword nie, maar eerder hulle groepsidentiteite gehandhaaf in hulle nuwe milieu. Suid-Afrika is Europa honderde jare vooruit wat betref hierdie botsing van kulturele belewenis en nou wil Van der Walt die verouderde Europese model voorhou as die oplossing! Nou waarom ondersteun die Afrikaner dan die DA? is die vraag. Om presies dieselfde rede dat hulle FW en sy beloftes van ’n beter nuwe SA geglo het, naamlik ’n blinde geloof in wat vir hulle voorgehou is as die meer menslike opsie van “ons is almal dieselfde betreffende normes en waardestelsels, behoeftes, talente en vermoëns - net ons velkleur verskil”. Toe kom die groot toets en ongeveer die helfte van die Afrikaners bokant 20 jaar gaan werk elders in die wêreld, 1800 boere word vermoor - sommige meer gruwelik as ander, alle Afrikaanse Universiteite het tweetalig geword of verengels, met Stellenbosch struikelend op pad om te volg, Afrikaanse skole net ’n fraksie in getal nog oor, Afrikaans wat prakties sy amptelike gebruikstatus verloor het, infrastrukture wat in duie stort en rassekwota-afdankings en diskriminasie, veiligheidswoonbuurtes en.... Nou wil Van der Walt dit hê dat Leon die oplossing het met sy klein fraksieparty? Die DA en trouens geen party behalwe swart Afrikapartye wat hoegenaamd geen Afrikaner-sentiment sal koester nie, kan polities enige wesenlike verskil maak in SA nie. Hiermee ontken ek nie die nuttige bydrae wat individue in die parlement maak met barometerlesings om vroegtydig waarskuwing te gee oor heersende tendense nie, maar sien dit vir wat dit is: ’n hulpmiddel. Wat tans gebeur op grondvlak blyk baie belowender te wees vir Afrikanerbelang as politieke fraksies. Kom ek noem ’n paar betekenisvolle dinge - PRAAG, ATKV, Die Vrye Afrikaan, Solidariteit, TLU, Orania, Kleinfontein, Kunstefeeste, buurtwagte en veiligheidsnetwerke, Amajuba-feeste, Radio Pretoria, onafhanklike banke, buitelandse toere en nuusdekking, buitelandse kapitaal en so kan ’n mens aanhou. Uiteindelik sal hieruit weer ’n politieke arm voortvloei, want praat sal ’n mens altyd moet, maar dit sal dan uit ’n nuwe vars mond wees en nie uit ’n oorgeblewe argaiëse mondstuk van die vorige bedeling soos die DA nie. Dus voorspel ek dat die DA soos tans in politieke realisme gesien, asook soos gesien uit ander Afrika-opposisiepartye se geskiedenis, ’n sukkelende fraksieparty sal bly wat weinig aan die Afrikaner se lot kan verander en soos die mens nou maar is, ontnugtering ’n nuwe inslag sal afdwing ter wille van oorlewing. Die geskiedenis sal uiteindelik bewys of Leon die man was, of soos ek vermoed, dinge meer ingewikkeld is en die oplossing op ’n ander vlak lê. 


 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=649
Artikel nagegaan:
    -