blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Rolmodelle links en regs; “Dis óns woord!” sê treinbouer 2006-08-16
Kleinjan Schietekat

Uit die Koue Bokkeveld skryf een van ons lesers, ’n deeltydse kleinboer, ietwat gebelgd:

“Geagte meneer, hoekom word u nie kwater nie? Hoekom speel u met storietjies en so? Ons mense verstaan dit nie. Ons is boere en ons praat reguit. Het dit u nie al byvoorbeeld opgeval hoe ons deur rolmodelle oorval word nie? Almal moet een hê: die bruines, die vroue, die bruinvroue, die jong bruinvroue, die middeljarige wittes, die kleuters van alle kleure… Dis waansinnig. Wie is so-en-so se rolmodel? T-opsioniste is hulle eie rolmodelle. Jy kan skaars jou koerant oopmaak of jy word deur rolmodelle oorval. Hulle tuimel uit die TV-kassie. Rolmodelle en dopmodelle, diegene uit die rolhemel verban. Party intellektuele is party koerante se slaansakmodelle: wees gewaarsku, bly weg, trap in jou spoor. ‘Waar berg ek my? Waar vlug ek heen?’ kreun die arme jong letterdief, oorweldig deur die boegbeelde van die formidabele digters Teeskyf en Hapboud. Selfs die stille Karoonagte is nie meer soos vroeër nie, ’n mens kan skaars God se firmament sien soos die rolmodelle op jou aftuimel…”

      Ja, geagte leser, die wêreld is ’n speeltoneel, elk kry sy rol en speel sy deel. Die Vrypostige Afrikaan was ook nie links nie (of nie soveel soos gewoonlik nie) en ons het die saak met verskillende rolspelers opgeneem. Eerstens het ons aangedoen by Faffa Schoeman, Springboksenter en rolmodel vir duisende skoolseuns. Hy vertolk ook gereeld die rol van mediaslaansak vir die Springbokspan se vertonings. Die Vrypostige Afrikaan wou van Faffa weet wie sy eie rolmodel is. “Die skrummasjien,” was sy kort en kragtige antwoord. “Die skrummasjien?” het ons verbaas gevra. “Ja, net weer by vanoggend se Springbokoefening het hy my twee keer gesystap om onder die pale te gaan druk.” En Faffa se grootste oomblik tot dusver op die veld? Met ’n veraf kyk in sy oë vertel hy: “Dit was die keer toe ek teen die All Blacks gaan druk het dertig minute na hulle van die veld af is. Dit was ’n beweging vanaf ons doellyn wat die hele span betrek het. Ongelukkig het niemand dit gesien gebeur nie. Daar was ’n doodse stilte op die pawiljoen.”

      Die Vrypostige Afrikaan het ook gaan kers opsteek by die bekende Suid-Afrikaanse model, Candy van Biljon, wat pas ’n rol in Hollywood gekry het. Op die vraag hoe sy voel daaroor om nou ook ’n rolmodel te wees, was sy effens agterdogtig: “Ek het nie geweet ek is ’n rolmodel nie. Ek weet net daar’s ’n hele paar ander modelle uit Suid-Afrika wat baie jaloers op my nuwe rol is. In hierdie besigheid moet ’n mens maar die heeltyd oor jou kaal rug kyk.” Candy sê sy beplan wel om Afrikaans te praat as sy die Oscar kry.

      Maar die woede van die Koue Bokkeveldse boer is by verre oortref deur dié van mnr. Gerbrand van der Spuy, sekretaris van die Suid-Afrikaanse Modeltreinentoesiasvereniging. “Ons mense is woedend oor wat die media met die woord ‘rolmodel’ aanvang!” sê hy. “Rolmodel is ’n pragtige ou Afrikaanse term geskep deur ons vereniging. Die kern van die woord slaan op hoe goed ’n nuutgeboude modeltrein op sy spore rol. As hy mooi rol, noem ons dit ’n rolmodel. En dis nie sommer enige trein wat ’n rolmodel is nie. Per slot van rekening kan klippe ook rol, en soos Mick Jagger gesê het, ‘A rolling stone gathers no moss’. Dit is dan die rol van rolmodelle.”

                Prof. Ilona Steenkamp, bekende letterkundige, sê mense behoort tog die betekenis van die woord te ken. “My eie rolmodel is Marius Weyers wat in Kafka se Report to an Academy die aap deur sy vertolking as rolmodel geneem het. Die aap is inderdaad dié voorbeeld vir alle akademici.”  

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=648
Artikel nagegaan:
    -