|
||||
William Mervin Gumede
*Skrywer van Thabo Mbeki and the Battle for the Soul of the ANC (Kaapstad: Zebra Press, 2004) en navorsingsgenoot by die Skool vir Openbare en Ontwikkelingsbestuur, Universiteit van die Witwatersrand. Hierdie artikel is ’n opsomming en bywerking van ’n seminaar oorspronklik gelewer op 30 Mei 2006 by St.Antony’s College, Oxford
As ’n mens die naelbytwedloop om Thabo Mbeki as leier van die ANC op te volg met ’n marathon vergelyk, het Jacob Zuma heel waarskynlik nou die eerste-derde merk voor die leiergroep bereik. Miskien sal Zuma se onwaarskynlike steungroep van kommuniste, kapitaliste, tradisionaliste en strydlustige jeug by beskouing van die politieke toneel voor hulle held se hofverskyning vir beweerde korrupsie ook heel waarskynlik tot die slotsom kom dat dinge volgens plan verloop. Zuma, die dagloner en Teflon-terugkeerknaap van ANC-politiek lewer ’n sterk vertoning, reken hulle blykbaar. Slegs weke voor die aanvang van sy verhoor in die Pietermaritzburg Hooggeregshof, het die KwaZulu-Natal provinsiale leierskap van die ANC hulle steun vir Zuma se presidensiële kandidatuur aangekondig. In nog een van daardie swaartekragtartende politieke bollemakiesies het Mbeki se nouste bondgenoot tot dusver in dié provinsie, S’bu Ndebele, in ’n wanhopige poging om sy eie politieke loopbaan in KwaZulu-Natal te beveilig, homself onverwags as die hartstogtelikste van Zuma-aanhangers verklaar. Zuma se strateë het hard aan Ndebele gewerk deur ’n mengsel van vermanings, intimidasie en beloftes van ’n patronaat onder ’n Zuma-presidensie te gebruik. Zuma was wanhopig om minstens sy tuisbasis te verseker. Sy idee is klaarblyklik om vanaf ’n beveiligde KwaZulu-Natalse basis sy volgende reeks politieke ekskursies te lanseer. Voorop onder dié sal staan om die meerderheid van die ander ANC-provinsies agter sy presidensiële bod te versamel. Die Oos-Kaap sit stewig op sy radar. Dit was dan ook in Alice in die Oos-Kaap waar Zuma-ondersteuners verlede jaar planne gesmee het om Mbeki te verneder by die ANC se Nasionale Algemene Raadsvergadering in Junie te Pretoria. Kwazulu-Natal en die Oos-Kaap, wat ’n aansienlike deel van die ANC se kieskollege uitmaak, was eerste op sy lys. Ofskoon die Oos-Kaap miskien die mees gegriefde met die ANC-hoofkwartier is, staan nie almal daar in ’n ry om ’n Zuma- presidensiële kandidatuur te steun nie. Om die waarheid te sê, was daar die jongste tyd groeiende gevoelens in die Oos-Kaap, Wes-Kaap en Gauteng vir ’n kompromiskandidaat soos ’n Tokyo Sexwale, Cyril Ramaphosa, of Mosiuoa Lekota. Die Oos-Kaapse LUR vir Landbou, Gugile Mkwinti, het byvoorbeeld aan afgevaardigdes na Cosatu se provinsiale kongres daar in Julie gesê, “afgevaardigdes na die (ANC) nasionale kongres ken die ware ANC en sal die regte leiers kies soos hulle in 2000 Cyril Ramaphosa en Matthews Phosa tot die nasionale uitvoerende komitee herkies het.” Zuma-ondersteuners het die provinsiale leierskappe van die Noordelike Provinsie en Mpumalanga bearbei om soos KwaZulu-Natal met steun vir die ANC se adjunk-president na vore te kom. Die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Vrystaat is harder neute om te kraak: hulle is almal verdeel in hulle steun vir Mbeki en Zuma. Onder die leierskap van Mbhzima Shilowa is Gauteng ’n onverwoesbare Mbeki-fort. Gauteng en die Noordelike Provinsie was die enigste twee provinsies wat onverbiddelik agter Mbeki gestaan het tydens die ANC se Nasionale Algemene Raadsvergadering. Zuma probeer ook hard om soveel moontlik van die SAKP en Cosatu se provinsiale takke en affiliate agter sy veldtog te kry. Zuma gebruik inderwaarheid die huidige seisoen van Drieparty-alliansiekongresse om sy boodskap te versprei, naamlik dat die korrupsieklagtes – wat meer substansieel as die verkragtingsaanklag is – alles versin is om sy bod vir die presidensie te dwarsboom. Hierbenewens het Zuma en sy strateë hard probeer om aan te toon dat sy verkragtingsverhoor ook ’n politieke sameswering was. Die deurlopende boodskap van die Zuma-kamp is dat die beweerde verkragtingslagoffer deur politieke opponente as instrument gebruik is hom te diskrediteer. Dít is ooglopend nie net baie sinies nie, maar toon ook min agting vir die trauma van die beweerde verkragtingslagoffer. Dan werp Zuma se ondersteuners ook nog alles in die stryd om die korrupsieverhoor te probeer delegitimeer. As sodanig het baie van Zuma se ondersteunersgroepe daarop aangedring dat, omdat die staat einde Julie ’n aansoek sou indien om Zuma en die Franse wapenvervaardigingsmaatskappy se korrupsieverhoor uit te stel, dit beteken dat die staat nie ’n sterk saak het nie en dat die klagtes teruggetrek moet word. Een provinsiale tak van Cosatu het selfs gevra om ’n staking as die saak nie spoedig verhoor word nie. Bowendien werk Zuma se strateë hard aan die choreografie van die feit dat hulle man oorweldigende steun op straat geniet. Vandaar die reeks gebeure georganiseer deur sy ondersteuningspan ten einde te verseker dat duisende mense opdaag op die trappe van die hof tydens elk van sy verskynings. Deur dit alles te doen, is die strategie om aan te toon dat Zuma se presidensiële kandidatuur ’n “onstuitbare tsoenami” is soos Cosatu se Sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, in 2004 beweer het. Sodoende sal alle potensiële uitdagers lugtig wees om selfs te oorweeg om die wedloop te betree, ingeval hulle deur die Zuma-gevaarte uit die pad gevee gaan word. Sedert die verkragtingsverhoor probeer hy om aan te toon dat daar ’n sameswering is wat bestaan uit Mbeki, wit en swart kapitaliste en die swart en wit middelklasse – kortom, van die establishment – teen sy presidensie. ANC-lede is lief vir die beeld van die klein mensie teen die mag van die leierskap of vyandige ‘establishment’. Terror Lekota het die nasionale voorsitter van die ANC geword op grond van juis sodanige sentiment. Om die waarheid te sê, is Zuma se ongehoorde lastersaak teen die media bedoel om te wys dat hy die establishment trompop loop. Zuma dink sy grootste troefkaart is dat hy sy verhoor in ’n verhoor van die ANC kan omswaai. Om die waarheid te sê, het Zuma al dikwels gedreig om die korrupsiedetail wat ander ANC-leiers impliseer, te onthul – in die hoop dat minstens diegene wat waarskynlik geïmpliseer sal word, tot sy verdediging sal kom of dat die ANC-leierskap self sal ingryp om die verhoor stop te sit en sigself so van groot verleentheid te red. In sy hofaansoek het Zuma byvoorbeeld verklaar dat hy Mbeki na die sentrum van sy verdediging sou trek, terwyl hy beweer dat Mbeki “baie betrokke was by die wapentransaksieproses” en die sentrale figuur was wat met die verskillende rolspelers in die transaksie gehandel het – ofskoon hy toegegee het dat Mbeki nie self onbehoorlik in die proses opgetree het nie. Tot dusver het Mbeki egter deur Zuma se blufspel gekyk en is hy vasberade dat, as die ANC dan op verhoor gaan, dit dan nou maar so moet wees as dit die beweging kan ‘reinig’. Die sorgsame, gelyke en maatskaplik regverdige samelewing wat dit na dekades van stryd teen apartheid wou instel, is besig om te verander in ’n nagmerrie van waansinnige najaag van individuele verwerwing van rykdom, en ten alle koste ‘te maai’ met die armoede van jou naaste. Baie ondersteuners van die ANC kan nie die ANC se ongevoelige houding teenoor byvoorbeeld Vigs verstaan nie, of partyleiers se aandrang daarop dat ’n basiese inkomstetoelaag “inpalming sal verhoog”, of die afwysing van hoë misdaadkoerse as ’n versinsel van kermkouse. Dit terwyl baie senior ANC-leiers daarenteen nou danksy swart ekonomiese bemagtiging stinkryk is, die wit middelklas wat onder apartheid goed gevaar het nou nog beter vaar danksy vaardighede tydens apartheid verwerf, en baie ANC-leiers beskerm is teen maatskaplike euwels danksy hul gemaklike nuwe poste in die regering. Bowendien lyk dit dikwels of baie min ANC-leiers aktief daartoe verbind is om armoede, ongelykheid en werkloosheid te verminder buiten die mooi openbare retoriek en gemeenplase. Dit alles bied vrugbare grond vir ’n gevestigde ANC-leier met populistiese retoriek om iets aan hierdie euwels te doen – iets waarvan Zuma deeglik bewus is. Daarom het Zuma die beeld van iemand in voeling met die sorge van die armes nougeset gekultiveer. Maar van die halfdosyn of wat potensiële ANC presidensiële kandidate is Zuma waarskynlik die kwesbaarste. Om mee te begin, wys selfs ’n vlugtige oorsig oor sy eie rekord in regering en sy optrede in die openbaar sowel as privaat dat sy verbintenis tot die regstelling van Suid-Afrika se maatskaplike euwels papierdun is. Hy het sy pro-arme-boodskap opgeneem eers na hy deur Mbeki afgedank is. Voor dit was hy Mbeki se leidende ondersteuner en die luidrugtigste verdediger van die regerende ANC se rekord in regering. Zuma se ander swakhede is dat hy nie ’n rekord as bevoegde administrateur het nie, en hy sal ook nie in staat wees om die ANC of die nasie te verenig nie – twee vereistes wat dringend nodig is in ’n leier met presidensiële ambisies. Die krisis waarin die ANC en Suid-Afrika hulle tans bevind, beteken dat die ANC deeglike selfondersoek oor sy sending, optrede, beleide, politieke rigting en waardestelsel sal moet ondergaan. ANC-strateë van links sowel as van die Mbeki-sentrum het nou almal tot die gevolgtrekking gekom dat dít dringend noodsaaklik is. Die ANC se linkervleuel het die oplossing foutief gediagnoseer as om die ANC terug te draai na die of daardie mistieke linkse wortels, soos wat hulle aanvoer Zuma se verkiesing sal doen. Mbeki en sy strateë soos Joel Netshitenzhe het ’n beroep om die “modernisering” van die ANC gedoen. Ofskoon albei groepe tot die korrekte insig gekom het, naamlik dat die ANC hom in ’n malaise bevind, het hulle op frustrerende wyse nie met die regte medisyne vir die siekte vorendag gekom nie. Bowendien dreig die wedloop om ’n nuwe hoof vir die ANC te vind om die dringende soektog na ’n geneesmiddel vir die ANC se siekte eenkant toe te stoot. Die ANC benodig sekerlik ’n nuwe kop en ’n gesonde liggaam. Nietemin – om nou dié metafoor verder te gebruik – weet Zuma heel waarskynlik dat daar gewis beter koppe as hyself is: meer bevoeg, in staat om breedweg meer vertroue in te boesem en meer verenigend as potensiële presidensiële kandidate op te tree. Om hiervoor te vergoed, was Zuma se strategie tot dusver om die wedloop vroeg teen ’n spoed te begin en seker te maak dat sy steunveldtog die luidrugtigste, uitbundigste en sigbaarste is. Die bedoeling is om enige potensiële mededinger te oortuig om nie eens die moeite te doen om die wedloop te betree nie omdat dit lyk asof hy – Zuma – sulke “oorweldigende steun” het. Zuma se ondersteuners probeer hard om die verkiesing van die ANC-president vanaf sy 2007-datum te vervroeg ten einde dit agter die rug te kry voor Zuma deur meer teëspoed getref word. As die verkragtingsverhoor Zuma se openbare beeld verrinneweer het, sal onthullings wat waarskynlik uit die korrupsieverhoor na vore sal kom stellig nog skadeliker wees – en moeiliker om af te maak. Dit is geen wonder nie dat Zuma se ondersteuners hard probeer het om die korrupsieverhoor te stop voor dit nog begin. Deur byvoorbeeld te dreig om Mbeki as getuie te dagvaar, stuur Zuma se strateë ’n duidelike boodskap dat as die verhoor nie stopgesit word nie, Zuma die mag het om die modder oor ander ANC-leiers wat waarskynlik aan die lig sal kom, te gooi. Ingevolge die ANC se Grondwet mag ’n spesiale nasionale konferensie met verkiesingsmagte slegs gereël word as daar ’n “krisis” is wat ’n nasionale noodkonferensie nodig maak. In so ’n geval kan die ANC se beplande nasionale beleidskonferensie later vanjaar as so ’n konferensie dien. Mbeki, die ANC se sekretaris-generaal, Kgalema Mothlanthe én die beweging se leierskap het dit duidelik gemaak dat daar tans “geen krisis” is nie. Vir Zuma se potensiële mededingers is die groot vraag in watter stadium van die wedloop daar kop-aan-kop met Zuma gegaan moet word. ’n Te vinnige begin mag potensieel vroeë uitbranding beteken. Om bowendien die wedloop op Zuma se voorwaardes te betree, kan rampspoedig wees. Oënskynlik belas hierdie vraagstuk byvoorbeeld adjunk-president Phumzile Mlambo-Ngcuka. Haar strategie was om te fokus op haar werk as adjunk-president in plaas daarvan om die opvolgingstryd op Zuma se terme te voer. Die nadeel hiervan is dat sy swak voorkom, of asof haar veldtog buite sig verdwyn het. Toe die ANC se sekretaris-generaal, Kgalema Mothlanthe, se naam skielik as vroeë kompromiskandidaat genoem is, het hy die skyf van smeerstories, vuil truuks en insinuasies geword, wat die glans van sy presidensiële aanslag laat vervaag het. Op die oomblik sien die linkervleuel Mothlanthe as ’n moontlike kompromiskandidaat as Zuma sou struikel. Maar Zuma se strateë sal heel waarskynlik ander swaargewig potensiële presidentskandidate probeer uitrook om hulle in ’n vroeë naelloop in te jaag. Dit was die geval met die “aankondiging” van Cyril Ramaphosa se presidensiële veldtog. Desnieteenstaande is die versekering van die steun van provinsiale leierskappe, alliansievennote of komponente van die ANC soos ’n jeugliga nog nie gelykstaande aan ’n gepantserde oorwinning wat omgeskakel sal word in stemme by die ANC se nasionale konferensie in Desember 2007 nie. Wat hier belangrik is, is dat daar sedert 1997 geen blokstemme vir ANC-strukture soos die Jeugliga, of vir die ANC se alliansievennote, is nie. Hierbenewens bepaal nuwe ANC-verkiesingsreëls wat in 2002 aanvaar is dat kiesers by die konferensie, ofskoon gemandateer deur hulle provinsies of takke, volgens hul gewete mag stem. Afgesien hiervan sal 50% van die ANC-Kieskollege wat die nuwe ANC-president verkies, vroue wees. Laastens word baie langafstandwedlope dikwels eers by die laaste-derde merk beslis en nie by die eerste nie. In die lang ANC-geskiedenis is elke presidensiële wedloop eers by die konferensie self gewen, buiten toe Mbeki president geword en Ramaphosa homself op die nippertjie onttrek het om te keer dat die ANC homself uitmekaarskeur. Om die waarheid te sê, het baie min vroeë gunstelinge tot dusver nog gewen. Laastens is die groot vraag wat elke afgevaardigde waarskynlik aan presidensiële kandidate sal stel of hulle in staat sal wees om die verdeelde ANC en ’n angstige Suid-Afrika te verenig en die verteenwoordigende gesig van die land kan wees waarmee die meeste mense kan identifiseer. Dit wil voorkom asof anderkant die getoyi-toyi en luiddrugtigheid van die Zuma-ondersteuners baie gewone ANC-lede toenemend aanvaar dat ’n Zuma-presidensie vernietigende kragte kan losmaak wat die ANC uitmekaar kan skeur en potensieel tot die verbrokkeling van Suid-Afrika se oudste bevrydingsbeweging kan lei. Iets soortgelyks het in 1997 gebeur met Winnie Madikizela-Mandela: sy was gewild, maar voetsoolvlaklede van die ANC het gevrees dat haar opkoms nog meer verdeeldheid kan veroorsaak, en sy het die onderspit gedelf. Te oordeel aan die verdeeldheid wat reeds deur Zuma se presidensiële veldtog veroorsaak word, is dit inderdaad onwaarskynlik dat hy in staat sal wees om die ANC te verenig, laat staan maar om vertroue in Suid-Afrika te bou op ’n tydstip waar die land oplaas ekonomies kan opstyg. Met die aanbreek van die ANC se konferensie in Desember 2007 sal lede waarskynlik wil kies vir ’n kompromiskandidaat wat nie deel was van die venyn, smeerdery en moddergooiery wat Zuma se pogings om sy kleim af te steek, vergesel het nie. Die beste strategie vir mense soos Ramaphosa, Sexwale of Lekota sal gewis wees om te wag vir dié konferensie – die pylvak – om hulle laaste skuiwe te maak.
|