|
||||
Die nuus van prof. Chris Brink, Rektor van die Universiteit Stellenbosch (US), se bedanking was skaars bekend of bespiegelings oor sy moontlike opvolger het ontstaan – ’n volle jaar voor dié waarskynlik by Brink sal oorneem. Opvallend van die bespiegelinge tot dusver was dat dit onderlê is deur die aanname dat een persoon in (selfs ’n gewigtige pos) aan ’n reuse instelling soos die US so ’n groot verskil sal maak – ’n aanname wat so tipies is van die agterhaalde geloof in die individu eerder as die instelling, of die orde waarbinne die instelling moet funksioneer. Daar kan geen twyfel daaroor wees nie dat een mens in ’n gewigtige pos groot skade kan aanrig of die skip verkeerd kan stuur. Soos The Church dan ook op Gold Afternoon Fix gesing het: “One big man with the big connection takes the whole damn ship in the wrong direction.” Maar daarmee het die gesprek nog glad nie begin oor wat eintlik van belang is vir die volgende rektor van die US nie, naamlik by watter wêreldbeskouing hy of sy gaan aansluit. Die voorsitter van die FAK, prof. Danie Goosen, is in Die Burger van Vrydag 28 Julie, 2006 soos volg hieroor aangehaal: “Die rektor van die US sal die kompleksiteit van die taligheidsituasie aan dié universiteit moet verstaan. Daarby moet die persoon besliste akademiese en bestuursvaardighede hê.” Hierby kan egter nog veel meer gevoeg word om aan te dui dat die eerste oorweging nie soseer die rektor as persoon behoort te wees nie, maar eerder wat die nuwe rektor alles in ag moet neem by die uitvoering van die amp. Minstens drie faktore is hier ter sprake, naamlik die US en sy voedingsgemeenskappe; die universiteit as neoliberale of as gemeenskapsinstelling; en die US se verhouding met die huidige staatsbestel. Wat die US en sy voedingsgemeenskappe betref: om redes waarop ons nie hier hoef in te gaan nie is dit alombekend dat die US aanvanklik ontstaan het as ’n sleutelinstelling vanuit en vir Afrikaners, en dat dit miskien dié belangrikste instelling vir die beslaglegging en bevordering van Afrikanernasionalisme naas die Nasionale Party was. Hoe ’n mens nou ook al vandag oor hierdie historiese band tussen Afrikaners en die US wil oordeel, is die feit van die saak dat dit steeds ’n baie sterk tradisie is wat geen rektor van die US kan ignoreer of wegwens nie. Dit is inderdaad ook so dat dit ’n tradisie is wat vir lang tye onverkwiklike staatsonderdanigheid en hovaardigheid gekweek het en dat dit dus, soos enige tradisie, slegs kan voortbestaan as dit deurlopend herdink en vernuwe word. Maar sodanige vernuwing kan nooit geskied deur die tradisie as sodanig te kriminaliseer of histories eenduidig te benader nie. Sou die rektor so ’n benadering volg, sal hy of sy doodgewoon soos die huidige rektor die meerderheid Afrikaners in ’n loopgraaf injaag waar hulle nie regtig wil wees nie en wat ook nie die rektor se taak sal vergemaklik nie. Juis een van die aspekte van die US-tradisie wat dringend om hersiening gevra het, is die kwessie van die uitsluiting van arm, bruin en swart Afrikaanse studente. Dit bly een van die rampe van die huidige rektor se termyn dat die ideologiesgelade werwing van swart en Engelse studente klaarblyklik die swaarste geweeg het by die diversifisering van die US se studenteprofiel. Aan die ander kant het hierdie kortsigtige strategie ’n onvoorsiene dog gelukkige uitkoms in die hand gewerk, naamlik die sterk konsensus wat dit in die breë Afrikaanse wêreld gebaar het dat arm, bruin en swart Afrikaanse studente nou dié groep is op wie alle beskikbare fondse en energie in studentewerwing bestee moet word. Net soos wat daar gewis onder Afrikaners minstens twee duidelike kampe in die huidige rektor se termyn was, net so is dit duidelik dat daar nie eenstemmigheid onder leidende bruin en swart Afrikaanse stemme oor die werwing van studente uit hul eie geledere bo swart en Engelse studente bestaan nie. Die verwagting dat daar sodanige eenstemmigheid moet wees, is wêreldvreemd en dit hoef geen toekomstige rektor af te skrik om die bogenoemde koers vreesloos in te slaan nie. Wat die kwessie van die universiteit as neoliberale of gemeenskapsinstelling betref: Die Vrye Afrikaan het al by talle geleenthede die verskille tussen hierdie twee benaderings uiteengesit. Ons som dit net kortliks weer hier op: die neoliberale opvatting sien die universiteit as instelling in diens van die mark wat “bruikbare kennis” aan studente as verbruikers moet oordra. Ook staan die volgehoue groei – veral wat getalle en inkomste betref – soos by ’n tipiese besigheid hierin voorop. Dié opvatting van die universiteit is maar enkele dekades oud en strook met geen vorige siening van die universiteit sedert Plato se skool nie. Die gemeenskapsopvatting sien die universiteit as instelling waar kennis nie net nuttig moet wees nie, maar dalk selfs van geen onmiddellike nut hoef te wees nie, en wel aangesien studente in die eerste plek gevorm moet word tot volwasse, denkende burgers, nie net van die land nie, maar ook van hul gemeenskap. Volhoubaarheid, kleinskaligheid en voortreflikheid staan hier voorop. Nodeloos om te sê dat hierdie opvatting van die universiteit aansluit by ’n lang historiese tradisie. Soos ’n knap geesteswetenskaplike onlangs van dié benadering opgerig het: “Ook dít lewer uitkomste vir studente: die vraag is watter uitkomste jy wil hê?” toe hy gevra is of sy benadering by “uitkomsgebaseerde onderwys” inskakel. Die brute poging van die huidige rektor om die US vanaf ’n gemeenskapsgerigte instelling tot ’n neoliberale markinstelling te verander, het geensins bygedra tot die goeie harmonie in die US nie. Die eintlike uitdaging hier is hoe die nuwe rektor die US as gemeenskapsinstelling in ’n gemeenskapsvyandige nasionale en wêreldklimaat sal stuur. Hoe dit gedoen kan word, is nie ’n vraag met klinkklare antwoorde nie, maar die gesprek hieroor moet begin word. Laastens: wat van die US se verhouding met die huidige staatsbestel? Die Suid-Afrikaanse staat is gewis ’n sterk instelling, maar dit moet homself handhaaf naas ’n magtige korporatiewe sektor, ’n lewenskragtige burgerlike samelewing en verskeie internasionale magsblokke. Dié staat kan dus nie tans sonder meer as ’n onverwoesbare fort gesien word nie waarvan die guns ten alle koste gesoek moet word – selfs al is dit ten koste van die volhoubaarheid van jou eie instelling én wat dit sterk maak. In hierdie verband is die keuse vir die US nie tussen onderdanigheid aan of vyandigheid teenoor die staat nie, maar eerder op watter maniere die US as gemeenskapsinstelling kan bydra tot die voortgaande demokratiese eksperiment in Suid-Afrika, wat nog allesbehalwe afgehandel is. Indien die US homself in die eerste plek as gemeenskapsinstelling verstaan, kan dit met reg beweer word dat dit waarskynlik die sterkste universiteit vandag in Suid-Afrika is. Enige Suid-Afrikaanse regering sal moet rekening hou met die koste op die lang termyn om in ’n onverkwiklike geveg met die Afrikaanse wêreld via ’n sentimenteel belangrike instelling soos die US te tree. Dit is dan ook waarom die regering die afgelope jare herhaadelik uit sy pad gegaan het om te beklemtoon dat hy geen oogmerk van verengelsing met die Afrikaanse universiteite het nie (al vertel dit nie die volle verhaal nie). Kortom: die beste nuwe rektor van die US sal dié persoon wees wat die historiese en toekomstige Afrikaanse voedingsgemeenskappe kan saamneem, wat die gemeenskapsaard van die US vernuwend hanteer en wat bo alles die ou onverkwiklike US-neiging tot staatsonderdanigheid agterlaat vir ’n verhouding van kritiese lojaliteit. |