blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Choreograaf van die alledaagse 2006-07-19
Amanda du Preez

*Senior lektor in beeldende kunste aan die Universiteit van Pretoria en mederedakteur van South African Visual Culture, Pretoria: Van Schaik, 2005

 

As beeldhouer het Guy du Toit (1958 - ) min bekendstelling nodig. Bekroon en bekend was hy nog nooit bang om te eksperimenteer met sy materiaal nie, beide in terme van dit wat dien as bronmateriaal, asook die materiale waarvan hy sy werke vervaardig. As feeskunstenaar van vanjaar se InniBos-fees (28 Junie tot 3 Julie) sit Du Toit die gees van eksperimentasie voort.

 

Guy du Toit (Foto: Guy du Toit)

 

Dit is duidelik dat Guy du Toit se beeldhouwerk empatie het met die alledaagse en die onopvallende. Hy giet voorwerpe in brons waarna ons andersins nie twee keer sou gekyk het nie en nog minder oor sou gedink het, soos byvoorbeeld ’n stoel, ’n aambeeld of ’n hoenderhaan. Die feit dat hulle in brons gegiet is, verleen aan hulle die status van permanensie. In hul gegote vorm word hulle byna tydloos en onvernietigbaar. Hulle doem by ons op en kondig hulself aan as verteenwoordigers van die alledaagse wat dreig om ernstig opgeneem te word. Die alledaagse verg dus nou ons onverdeelde aandag, soos die stoel wat die kunstenaar tergend “Die bekleër” doop. Die drama kring uit, want alhoewel die stoel nou leeg staan, weet ons dat dit weldra weer “beklee”sal word.

            ’n Stoel is ’n geduldige objek. Dit ontvang sy sitter altyd geduldig. Byna beleefd. Nooit weier die stoel die sitter of bekleër nie. Daarom is ’n stoel soos ’n monument van afwagting. ’n Leë stoel hou altyd die verwagting in dat daar weldra ’n teenwoordigheid sal wees - ’n sitter wat sy plek sal kom vol sit. Hetsy dit die voorsitter se stoel is of die gewone staatsamptenaar se stoel – die stoel wag geduldig – dit lewer geen kommentaar en vel geen oordele nie.

            Dan is daar die rye en rye leë stoele wat wag om gevul te word voor die vertoning en wat amper op hulle eie ’n gehoor van afwagtendes vorm. En wat van die stoele wat in verwarring agtergelaat is na die vergadering, of haastig opsy gestoot is nadat die vertoning verby is? Hulle staan doelloos rond, selfs verleë en tog steeds geduldig, want iemand anders – ’n ander en nuwe bekleër – sal binnekort weer kom sit.

            Dit is moontlik hoe ons die beeldhouer Guy du Toit se gefassineerdheid met die leë stoel en die alledaagse kan verstaan. Want in elke leë stoel is daar beide ’n afwesigheid en die belofte van ’n aanwesigheid. Die stoel in sy gedienstigheid dien as alomteenwoordige herinnering dat sitters of bekleërs in- en uitbeweeg en dat dié wat vandag hier sit, môre dalk elders, of moontlik nooit weer hier sal sit nie. Byna soos die spel van musical chairs word die maghebbers wat eens gesit het, nou afgestamp en die nuwe magbekleërs kan nou hulle plek kom inneem. Dié wat eens nie plek gehad het om te sit nie, kan nou gerieflik sit totdat die musiek weer begin speel en die speletjie weer van voor af begin. Die dans van die lewe beweeg speels by die geduldige en afwagtende stoele verby. So verloop die tyd en draai die wiel in sy stadige gang en sal geen haan weer daarna kraai nie – slegs maar die hoenderhaan wat as getuie op die stoel se rug bly sit. Of sal die klok lui wat aan die een poot van die stoel staangemaak is? Wie sal getuienis lewer van die onregte reeds gepleeg en wat moontlik weer gepleeg gaan word, as dit nie maar die stom en gedweë alledaagse objekte is wat geboë soos biegvaders oor ons (wan)dade waak nie?

 

“Die bekleër” (Foto: Guy du Toit)

 

            Dit is moontlik in die alledaagse en minder opvallende objekte dat Du Toit sy boodskap die mees dramatiese en kragtigste kan oordra. Ons verwag mos nie om een of ander lewenswaarheid of ontmaskering in ’n doodgewone stoel raak te sien nie. Tog konfronteer Du Toit ons met hierdie insig, naamlik dat die alledaagse ’n eiesoortige en unieke blik op die werklikheid kan werp. In die dinge wat ongesiens verbyglip skuil daar dalk ’n betekenisvolle ervaring en insig.

            Dit is egter nie net Du Toit se onderwerp nie, maar ook sy medium wat besonderse vermelding vereis. Die medium van beeldhou bied unieke moontlikhede in die era van vervlugtende beelde en nuwe tegnologieë. Waar ons gewoond geraak het aan immateriële ikone op flitsende skerms bied beeldhouwerk ’n teenvoeter, dit gooi wal teen die drang om alles tot beelde en sigbaarheid te reduseer. Beeldhouwerk soos Du Toit dit aanbied, lewer getuienis van tasbaarheid, materialiteit, duursaamheid en miskien selfs standvastigheid. In ’n wêreld waar alles wat skynbaar bewonderenswaardig is, vloeibaar gemaak word, staan Guy du Toit se beelde van die gewone en die aardse soos bakens.

            Tog moet die kyker gewaarsku word dat Du Toit se gewone objekte altyd met ’n knippie sout aangebied en opgeneem behoort te word. Die kunstenaar het ’n swaar hand met ironie en hy sprinkel dit mildelik oor sy hamers en beitels, tregters en spykers. Die gewone word tasbaar ironies. Hierdie is nie nét die alledaagse ter wille van die alledaagse nie, maar eerder ’n poging van die kunstenaar om ons oë opnuut oop te maak vir die ryke moontlikhede wat in die alledaagse skuil, veral as die gewone objek soms buite konteks en in nuwe verrassende verbande met mekaar aangebied word. Du Toit herskryf dus aan die storie wat gewone objekte vir ons vertel. Hy voeg ’n ekstra lagie by en gee ’n ander wending aan die verhaal. Die alledaagse verkry ’n dramatiese dimensie en word hierdeur in ’n mate in ere herstel. Du Toit kan moontlik ten beste beskryf word as ’n regisseur of choreograaf van die alledaagse.

 

 

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=643
Artikel nagegaan:
    -