blik.co.za   gebeure   meer   byvoeg  
Platforms en Merkers
Hierdie artikel is deel van 'n versameling artikels wat gehuisves word by Blik met die doel om dit digitaal te bewaar en beskikbaar te stel.
* Indeks van artikels


Ekonomierubriek: Regsuitdaging van waterbeleid geloods 2006-08-16
Dale T.McKinley

*Politieke kommentator, gemeenskapsaktivis en onafhanklike navorser. Hierdie artikel het oorspronklik verskyn in Africa News Dimension

 

“Water is lewe!” Dit is die boodskap van graffitikunstenaars op die mure naby die plaaslike kantore van Johannesburg Water in die hart van die arm gemeenskap van Phiri, Soweto. Dit is ’n boodskap wat aanstons onderwerp gaan word aan intensiewe oorweging danksy die loodsing van ’n baanbrekende regsuitdaging wat deur etlike inwoners van Phiri gebring word.

      Volgens ’n verklaring wat onlangs uitgereik is, is ’n aansoek ingedien by die Johannesburgse Hooggeregshof “wat die Hof vra om te verklaar dat die besluit van Johannesburg Water om gratis basiese watervoorsiening te beperk tot 6 kiloliter per huishouding per maand en eensydig voorafbetaalde meters te installeer ongrondwetlik en onwettig is. Die Hof word gevra om Johannesburg Water (Edms.) Bpk. te beveel om ’n gratis basiese waterrvooraad van 50 liter per persoon per dag te voorsien, en die opsie van ’n krediet-gemete voorraad geïnstalleer op die onkoste van die Stad van Johannesburg vir die inwoners van Phiri, Soweto.”

      Die aansoek, wat die eerste van sy soort in Suid-Afrika is, word gebring deur vyf werklose inwoners van Phiri “namens hulself, hul huishoudings en alle inwoners van Phiri in ’n soortgelyke posisie, asook almal in openbare belang”. Dit word geloods onder die beskerming van die Koalisie teen Waterprivatisering (´n versameling gemeenskapsorganisasies en progressiewe NRO’s wat stry teen die negatiewe effekte van huidige waterbeleide op die armes) met die ondersteuning van die Sentrum vir Toegepaste Wetstudies aan die Universiteit van die Witwatersrand en die Vryheid van Spraak-instituut.

      Een van die aansoekers is die 35-jarige Jennifer Makoatsane wat haar hele lewe lank in Phiri woon. Jennifer woon in ’n vierkamerhuis saam met 8 ander familielede. Niemand in die huishouding het werk nie en die enigste ander bron van gereelde inkomste is haar ma se maandelikse pensioentoelaag van R870.

      Jennifer sê dat hulle in die afgelope jare in staat was om te oorleef op die 20 000 liter water per maand verskaf deur die munisipaliteit teen ’n bekostigbare eenvormige tarief. Sedert Augustus 2003, sê sy, het haar lewe egter moeiliker geword aangesien haar oorlede pa geteken het vir ’n voorafbetaalde watermeter (wat die 6 000 liter gratis water verskaf voor dit afsny) om in hulle erf geïnstalleer te word. “Die 6 000 liter is nie genoeg vir ons behoeftes nie. In ons huishouding van 9 is ons water na twee weke op.”

      “Dit het ons soveel geaffekteer… ons moet minder water gebruik omdat ons nie kan bekostig om te betaal nie, en ons gebruik dieselfde water vir verskillende dinge. Jennifer sê dat dit ook konflik oor bestedingsprioriteite in die huishouding veroorsaak het. “Dit is moeilik om te dink oor om water te koop. Jy dink twee keer as jy R5,00 het of jy ’n brood gaan koop of dit gaan spaar om water te koop”. Sy vra waarom diegene wat die meeste water gebruik (“die rykes in die voorstede met hulle swembaddens en baie badkamers en toilette”) nie gevra word om hulle verbruik deur die gebruik van voorafbetaalde meters te verminder nie. Sy noem die instelling van voorafbetaalde meters “niks anders nie as winsmaking”.

      Die voorafbetaalde watermeters het duidelik ’n negatiewe maatskaplike en kulturele impak. Jennifer vertel hoe inwoners nou “twee keer dink voor hulle rituele uitvoer omdat baie van ons kulturele praktyke groot hoeveelhede water benodig… begrafnisse en troues word regtig moeilik vir ons omdat ons nie die groot hoeveelhede water wat nodig is, kan bekostig nie.” Sy sê dat vroeëre praktyke van kommunale waterdeling vervang is deur ’n uitbuitende ‘watermark’ in die buurt en dat bure in sommige gevalle mekaar se water steel – “daar is nie meer ’n gees van ubuntu nie; die meters het oorlog gebring na ons gemeenskap”.

      Dit is teen die agtergrond van sodanig geleefde ervarings in arm gemeenskappe soos Phiri en die openlike vyandigheid van waterdiensentiteite soos Johannesburg Water – naas die nasionale en plaaslike regering – teenoor gemeenskapsopposisie teen die voorafbetaalde meters wat die hofsaak gevoer word. Die uitgebreide en oorwoë argumente vervat in die aansoek sal oënskynlik uiteindelik die grondwetlike bepaling dat “almal die reg op toegang tot voldoende water” het, toets.

      In die aansoek betoog dr. Peter Gleick, ’n wêreldkenner van waterregte, dat die hoeveelheid gratis basiese water verskaf aan die inwoners van Phiri onvoldoende is om die basiese behoeftes te bevredig, “en nie in die minste nie omdat dit gebaseer is op ’n bedrag per huishouding per maand eerder as per persoon per dag”. Gleick sê dat ’n syfer van 50 liter per persoon per dag die minimum “vertrekpunt is om mense in die aansoekers se posisie van toegang tot voldoende water te voorsien”. In ’n ander deel van die aansoek getuig prof. Desmond Martin, president van die MIV-Klinici-vereniging, van die behoefte vir meer water op ’n daaglikse basis vir mense wat met MIV/Vigs saamleef as vir nie-MIV-geïnfekteerde mense, ten einde hul gesondheid, lewenstandaard en waardigheid te verseker.

                Terwyl die Hooggeregshofverhoor nog maande weg is en die uitkoms ver van duidelik, is mense soos Jennifer Makoatsane trots daarop dat dit alreeds nasionale en internasionale aandag op hul stryd gevestig het. “Minstens sal mense kan opstaan en veg vir hulle regte, want water is ’n mensereg… ons sal voortgaan om weerstand te bied teen wat ons weet verkeerd is.”   

 


Oorspronklike Vrye Afrikaan adres: http://www.vryeafrikaan.co.za/lees.php?id=654
Artikel nagegaan:
    -